Wat ons nog heeltyd van die staatsrede vir 2018 weet

Staatsrede-2015-vlug

‘n Verbyvlug net voor 2015 se staatsrede in Kaapstad. Foto: Kopano Tlape/DoC.

Deur Morné Malan

In die Suid-Afrikaanse politieke sfeer is onsekerheid die norm en bestendigheid ʼn besonderse uitsondering. Dinsdag (6 Februarie) se aankondiging dat die staatsrede vir ʼn tans onbepaalde tydperk uitgestel is (oënskynlik nie vir langer as twee weke nie), het dus net die normale toedrag van sake in Suid-Afrika se politiek bevestig. Gegewe die donker wolk wat nou al vir jare oor die huidige president van die land, Jacob Zuma, se kop hang, wonder ons nie net wanneer die staatsrede gaan plaasvind nie, maar ook wie die toespraak gaan lewer. Al is baie van ons al gewoond aan onstuimigheid soos dié vanuit die ANC, is dit dalk steeds sinvol om ʼn samevatting te skryf oor die feite waarvan ons wel seker kan wees:

  1. Ons weet dat die staatsrede aangebied sal word deur ʼn president wat onteiening sonder vergoeding aanhang.
  2. Ons weet dat die president ʼn ongesonde sagte plek vir ideologiese oortuigings kenmerkend van kommunisme sal hê.
  3. Ons weet dat die president ʼn beleid wat grootskaalse herverdeling voorstaan, sal steun.
  4. Ons weet dat die president die nasionalisering van die Reserwebank sal wil bewerkstellig.
  5. Ons weet die president sal die voorstel van enkelmedium Afrikaanse skole onaanvaarbaar vind.
  6. Ons weet die president sal verkondig dat die enorme staatsbeheerde instellings soos die SAL, Eskom, Transnet, Denel, en die sowat 700 ander, noodsaaklik is om dienste te lewer – dienste wat klaarblyklik nie deur die privaat sektor opgeneem kan word nie.
  7. Ons weet die president sal reusagtige regulatoriese ingrepe deur die regering, soos die afdwing van versmorende arbeidswetgewing, steun.
  8. Eenvoudig gestel, die president sal ʼn ANC-lid wees.

Ek kon hierdie lys saamstel sonder om eens eenkeer daaroor te spekuleer. Al hierdie punte vorm die kern van die ANC se beleid en is ook eksplisiet deur elkeen van die potensiële kandidate gepromulgeer. Dit is waansin om te dink dat wie ook al uiteindelik die staatsrede vir 2018 gaan lewer, enigsins iets radikaal anders sal sê as dit wat nou al vir die afgelope dekade jaarliks gesê is. Ongeag of dit nou Jacob Zuma, Cyril Ramaphosa, Zwele Mkize, Nkosazana Dlamini-Zuma of enige van die ander potensiële kandidate is, moenie verwag dat dinge op enige beduidende wyse gaan verbeter nie – ten minste nie in die politieke sfeer nie. Dit is egter geensins so ʼn  pessimistiese uitkyk soos wat dit op die oog af blyk te wees nie, want gelukkig lewe ons nie elke dag in die politieke sfeer nie. Natuurlik word ons deur al hierdie sake geraak, en die skadelike verlinkse beleid waaraan die ANC sedert sy stigting gekoppel is, het ʼn daadwerklik negatiewe impak in die werklike lewe – en met nuwe leierskap sal dit straks in ʼn groot mate verbeter. Dit is egter die mees bemagtigende uitkyk wat ʼn mens moontlik op die huidige situasie in Suid-Afrika kan hê – in plaas daarvan dat ons wag vir redders in die vorm van nuwe ANC-leierskap, is ons in die posisie om self ons drome te verwesenlik. Sodoende ontsnap ons ook van die algemene onsekerheid van Suid-Afrika se politiek, en betree ʼn wêreld van privaat, gemeenskapsgedrewe inisiatiewe wat baie meer onafhanklik is van die onrusbarende uitings en dade van die politici.

Natuurlik moet ons kennis neem van die staatsrede en die begrotingsrede, maar ons hoef nie uitgelewer daaraan te voel nie. Ons kan nie afhanklik wees van die staat nie, want hulle is ten beste onbevoeg en ten slegste aktief vyandig teenoor die belange van minderhede in Suid-Afrika. Daarom moet ons na onsself en diegene rondom ons kyk om ʼn werklikheid te bou wat vir ons en die volgende generasies ʼn skans sal bied sodat ons op ʼn punt kan kom waar ons so onafhanklik van die ANC is dat ons nie eens meer hoef kennis te neem of te wonder wat tussen hulle aan die gang is nie. Wat van ʼn praktiese illustrasie van hierdie konsep?

Met verwysing na punt nommer 5 bo, daar is ʼn derde belangrike gebeurtenis wat in Februarie plaasvind, naamlik Internasionale Moedertaaldag (21 Februarie), en dít in ʼn tydperk waar moedertaalonderrig by instansies soos die Universiteit van die Vrystaat en Hoërskool Overvaal grootliks bedreig word. Daar is drie maniere om jouself besig te hou op hierdie dag: Eerstens kan jy apaties die belang daarvan ignoreer, maar om sulke sake te ignoreer beteken nie dat die politieke sfeer jou nie sal raak nie; tweedens, jy kan al jou energie bestee aan veg en baklei en probeer om die studente en leerders van hierdie instansies se reg op onderrig in die taal van hul keuse te red, maar ongelukkig is dit ʼn geveg wat jy waarskynlik gaan verloor; derdens kan jy aktief betrokke raak by die skepping van ʼn nuwe, onafhanklike werklikheid – koppel jouself aan ʼn privaat instelling wat moedertaalonderrig bevorder en wat tot ʼn baie groter mate buite die bereik van die staat is.

Ten slotte, daar is geen rede om vandag nog hulpeloos in Suid-Afrika te voel nie. ʼn Mens mag dalk moedeloos raak, maar dit is net omdat ons steeds wil staatmaak op die regering se vermoë om hul eie gemors op te ruim. Gelukkig hoef ons dit nie te doen nie. In plaas daarvan dat ons verleë is oor ʼn nuwe politieke leier, kom ons bemagtig eerder onsself om besluite oor ons eie toekoms te kan neem, en om nuwe strukture te bou sodat ons nie hoef te wag dat die staat die oues herstel nie. Dit is ook my hoop dat deur onsself toe te laat om ons ligte helder te laat skyn, dit ook vir almal in Suid-Afrika die vrymoedigheid en nodige inspirasie sal gee om hul eie ligte te laat skyn sodat niemand in Suid-Afrika meer totaal afhanklik van en kragteloos is teen die tragiese wanbestuur van die ANC nie.

Ons hoef dus nie langer te vra wat die president se staatsrede vir my persoonlik gaan beteken nie. Vra veel eerder hoe jy in jou gemeenskap betrokke kan raak om strukture op te rig wat die teenwoordigheid van enige president kan weerstaan.

  • Malan is ʼn navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

11 Kommentare

Koos1 ·

Daar was gister ‘n sprankel van hoop vir Afrikaans. CR het in Afrikaans gepraat in die Kaap. Hy is net 1 van 2 politikuste, wie se moedertaal nie Afrikaans is nie, wat ek nog gehoor het wat in Afrikaans praat. Kom ons hoop dat hy daardeur ook die grondwet eerbiedig en ons taal eerbiedig, en dat dit nie net ‘n front was om mense na hom te lok nie!

Jerry ·

Morne, jy het die situasie mooi opgesom en ek deel jou hoop met jou dat Solidariteit se inisiatiewe om die Afrikaner se lig te laat skyn ander Suid-Afrikaners sal inspireer om ook met inisiatiewe te begin wat hulle lig laat skyn. Ek reken CR is so n Suid-Afrikaner wat deur Solidariteit inisiatiewe geinspireer sal word om inisiatiewe van stapel te stuur wat eerstens die ekonomie n hupstoot te gee met politieke stabiliteit en anti-korrupsie aksies vir buitelandse investering. Tweedens werkskepping mbt voedselsekerheid, waterwese, mynbou, staatsentiteite en staatsdepartemente. Derdens opleiding en onderrig ens. Die verskil egter tussen Solidariteit en CR is dat CR dit vir alle Suid-Afrikaners wil doen en sal doen omrede hy die waarde besef van versoenende optrede. Deur ander uit te sluit en te dink jy kan hulle inspireer is n wanpersepsie wat jy skep Morne. Hierdie is die nuwe Suid-Afrika, deel van Afrika se sosialistiese ideologie, hier werk dinge n bietjie anders. Jy inspireer nie die wat jy uitsluit nie, jy maak hulle net nog meer jaloers as wat hulle alreeds is, maar soos ek aflei uit Solidariteit kommentare tov die onderwerp het julle planne in plek om enige situasie te hanteer, selfs konflik, want deur ander uit te sluit is konflik n gegewe wat wag om te gebeur.

Eish ·

Jerry,
Kan jy asb verduidelik wat jy bedoel met die insluiting van die ANC in Solidariteit se inisiatiewe? Jy besef natuurlik dat die inisiatiewe van Solidariteit gedryf word deur lede wat bydraes maak, wat die aksies finansier. Elke organisasie het n visie en n missie. Dié organisasie sin is duidelik gedefinieër. Hul mandaat voer hul dan ook volgens die riglyne uit.
Niemand is uitgesluit op enige grond hoegenaamd wat hulself met die visie en missie kan vereenselwig nie.
Byvoorbeeld, die Christelike geloof word openlik erken en vorm die hoeksteen van die Burgerregte organisasies. As jy van n ander geloof is, sal jy baie moeilik jou hiermee kan vereenselwig.
Net so voel diegene oor hul taal ensovoorts. Hul het bestaansreg kragtens die die grondwet en poog om die grondwetlike regte uit te leef ooreenkomstig die raamwerk van wetgewing.
Jy kan mos nie die Burgerregte organisasies verantwoordelik hou daarvoor dat hul ander groepe jaloers maak oor hul suksesse nie. Die keuse om enige inisiatief professioneel te bestuur, hang af van die leierskap. In hierdie helhool met sy skelm, kapasiteitsgestremde meerderheidsregering, wil jy waaragtig hê dat dié groepe moet daal na die vlak deur jou voorstel tot ondeurdagte assimilasie. Konflik word bestuur, nie vermy nie.

Johanna Botha ·

Wat ons verseker weet is dat SA in n gemors gedompel is deur die anc en dat daar geen geld is om al die wonderlike planne tot uitvoering te bring … mens kry maar waarvoor jy stem !

Jerry ·

Dit is presies die punt Eish! Solidariteit en Afri-Forum moet dit meer onomwonde en duidellik stel dat hulle inisiatiewe geloods word vir hulle lede se belange, soos jy tereg noem, maar met die klem op lede. Die klem moet nie op die Afrikaner val nie omrede die grootste getal Afrikaners is nie lede nie, vir wat hulle redes ookal mag wees en dus dien julle duidellik nie die belange van die groter groep Afrikaners nie. Julle het n regse agenda wat julle graag verskans agter die woord konserwatiewe waardes en soos jy tereg se, julle bepaal graag self die rigting wat julle seilbootjie vaar. Tans vaar julle suid in plaas van wes. Geniet die seilvaart terwyl die storm bedaar het en maak seker julle seilbootjie is sterk genoeg om die groot storm wat kom, te kan bestuur. Julle strategie om julle mislukte inisiatiewe voor te hou as rede oor hoekom julle selfbeskikking moet he en n volkstaat moet kry gaan nog in julle gesigte ontplof.

Andile ·

Liewe Jerry, n mens kry afrikaners en passievolle ware Afrikaners. Jy is reg, afrikaners so jy is in die meerderheid, omdat dit moed en passie vat om vir jou eie op te staan en nie net by die hoofstroom aan te sluit nie.

Joe Hall ·

Andile
Gelukkig is dit so dat die meerderheid van “hoofstroom” Afrikaners ‘n inklusiewe benadering tov Afrikaner-wees ondersteun.

Ons is byvoorbeeld bereid en gretig, om ander Afrikaners wat lede van organisasies soos Afriforum is, as deel van die Afrikaner gemeenskap te aanvaar. Selfs al sou daar nougesette voorwaardes vir lidmaatskap van sulke groepe/organisasies bestaan. Unieke voorwaardes wat nie met “hoofstroom” Afrikaners se opvattinge ooreenstem nie.

Deur die geskiedenis heen het die meerderheid “hoofstroom” Afrikaners talle duur lesse geleer oor die nadelige gevolge wat allerlei onnodige en irrelevante uitsluitings/voorskrifte op die voortbestaan en welsyn van ons Afrikaner-wees ten gevolg het.

Joe Hall (“hoofstroom” Afrikaner)

Jerry ·

Jy kan dink wat jy wil Andile, dalk is jy reg, dalk verkeerd. Hoeveel keer het die meningsvormers al hul menings gelug wat ek uitgewys het as feitelik verkeerd, net die eenkant van die muntstuk, halwe waarhede. Jou probleem Andile is dat jy niks bevraagteken nie en alles wat deur die meningsvormers opgedis word vir soetkoek op eet. Die meningsvormers het jou duidellik in n greep beet as jy net die heeltyd ja en amen se op alles wat hulle se. Hulle is n klomp slimjanne wat so nou en dan in die bek geruk moet word omrede hulle n tekort aan insig toon ten opsigte van die hantering van inisiatiewe wat konflik kan uitlok. Ek kan inisiatiewe wat konflik uitgelok het en lelik skeef geloop het hier noem, maar ek sal nie, ek hou dit vir later, vir die regte meningsvormer en onderwerp.

Eish ·

Speel die bal jong, nie die man nie! Jy is nou soos n hensopper wat hom trompop loop in n kommando bittereinders. Chill pel, jy kan aansluit waar jy wil en dink wat jy wil.

Jerry ·

Dankie Eish, ek neem kennis dat jy al vir n geruime tyd hard probeer om kommentaar te lewer op my kommentaar waar jy jou uiterste bes doen om die aandag af te trek van die onderwerp. Jy het dit nou gese, speel die bal, nie die man nie. Practise what you preach!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.