Wat op aarde gaan in Saoedi-Arabië aan?

Mohammed-bin-Salman-en-donald-trump

Kroonprins Mohammed bin Salman en pres. Donald Trump vroeër vanjaar. Foto: Die Wit Huis/Commons.wikimedia.org

Daar is groot veranderinge aan die gebeur in Saoedi-Arabië, die uiters konserwatiewe en ryk Moslem-staat. Aan die een kant het die veranderinge die elemente van ʼn rewolusie, maar aan die ander kant is dit ʼn ernstige poging om dié land te moderniseer. In die middelpunt van hierdie groot drama in dié olieryke land is ʼn bloedjong kroonprins genaamd Mohammed bin Salman, ook bekend as MBS.

Die pierewaaier prinse

Saoedi-Arabië is seker een van die konserwatiefste lande ter wêreld. Ten spyte van die oprigting van groot moderne stede en ontsaglike rykdom uit hul ryk olie neerslae, is die land in sekere opsigte steeds vasgevang in die Middeleeue. Vroue het amper geen regte nie, duisende buitelandse huiswerkers word soos slawe deur ryk families aangehou en die bevolking het geen inspraak in hul lot nie.

Ten spyte van die koninklike familie (daar is blykbaar tot soveel as 5 000 familielede wat een of ander status as ʼn prins het) wat in baie gevalle as ryk, flambojante pierewaaiers in buurlande en Westerse state rinkink deur dronk partytjies te hou en deur (nie-Moslem) vroue omring word, is daar die amptelike sy van die Saoedi’s: as puriteinse Moslems. Daar is ʼn godsdienstige polisie wat toeslaan op enigiemand wat volgens streng Islamitiese wette hom- of haarself nie kan gedra nie. Hande van misdadigers word afgekap, moordenaars word in die openbaar teruggestel en die Saoedi’s beheer miljoene Moslems met ʼn ysterhand wat jaarliks die heilige stad Mekka vir ʼn pelgrimstog (die hadj) besoek. Westerse flieks en TV-reekse word nie toegelaat nie en vroue moet hulself (buiten hul gesigte of oë) met ʼn swart kleed (oftewel abaja) bedek.

Dit lyk egter of die 32-jarige kroonprins MBS die appelkar omgekeer het. MBS se pa, koning Salman (81 jaar oud), sit al twee jaar op die troon nadat hy sy broer Abdullah opgevolg het. Salman, wat volgens berigte dalk aan Alzheimer se siekte lei, het volle vertroue in sy jong seun. Nadat hy hom in April 2015 op 28-jarige ouderdom as tweede kroonprins en as minister van verdediging aangestel het, het hy in Julie daardie jaar sy neef as kroonprins uitgeskop en MBS aangestel. MBS het basies die regeerder van Saoedi-Arabië geword met Salman wat hom oënskynlik 100% steun.

MBS se drie doelwitte

Dit blyk dat MBS drie hoof doelwitte het en dit aggressief bevorder. Eerstens wil hy van sy kompetisie ontslae raak wat hom kan teenstaan om die volgende koning te word; tweedens het hy ʼn ambisieuse plan om Saoedi-Arabië te moderniseer en die nuwe eeu in te lei; en derdens om Iran en die Sjiïete Moslems kragdadig teen te staan nadat Iran en die Sjiïete Moslems in die laaste paar jaar heelwat veld in die Midde-Ooste gewen het. (Die Soenni- en Sjiïete-Moslems is eeue lank al in ʼn bitter stryd om heerskappy gewikkel).

MBS het verlede naweek vriend en vyand verras deur honderde Saoedi’s te laat arresteer. Die amptelike rede is om korrupsie vas te vat. Die Saoedi’s is natuurlik uiters korrup weens die groot hoeveelhede geld wat die staat uit olieverkope verdien en die koninklikes se beheer daaroor. Die gewone bevolking is egter nie geneë met die korrupsie op byna alle vlakke nie. MBS het onder meer 11 prinse, vier ministers en tientalle voormalige ministers laat arresteer. In eg Saoedi-styl word die meeste koninklikes en ministers in die luukse Ritz-Carlton Hotel in die hoofstad, Rijad, aangehou.

Nietemin het MBS daarmee ʼn sterk boodskap uitgestuur dat hy in beheer is en geen teenstand gaan duld nie. Nie dat MBS en sy lojaliste nié korrup is nie. Inteendeel, die kroonprins het verlede jaar $550 miljoen op ʼn luukse seiljag spandeer en is bekend as ʼn pierewaaier. Dit is eerder duidelik dat MBS enige moontlike aanspraakmaker op die troon wil elimineer. Tyd sal leer of die opponerende prinse hierdie oorheersing gaan aanvaar of gaan terugveg om MBS se mag te breek.

Tans het MBS egter, ná sy suiweringsveldtogte, beheer oor die weermag, nasionale wag (nog ʼn militêre instelling) en die binnelandse ministerie. Dié drie pilare, wat gewoonlik weens familiefaksies verdeel is, het dekades lank die Saoedi-koningshuis se beheer oor die bevolking vergestalt. Nou is die kroonprins in beheer van al drie.

Oor MBS se ambisieuse plan om Saoedi-Arabië te moderniseer word hy aangehaal dat Saoedi-Arabië moet loskom van sy fokus op olie as inkomstebron en begin diversifiseer. Hy het ʼn plan, genaamd Visie 2030 daargestel met die idee om die ekonomie binne ʼn dekade te diversifiseer. Wat presies gedoen gaan word, is nog nie duidelik nie, maar dat groot veranderinge aan die kom is, is gewis. Hy probeer veral buitelandse investering aanmoedig. Saam met sy visie om die ekonomie te diversifiseer, is daar ook ʼn sterk klem op sosiale hervorming. MBS het reeds gesê dat Saoedi-Arabië vir dekades sosiaal stagnant was en nie wou hervorm nie, gevolglik het dit tot uiting gekom in Islamitiese ekstremisme, wat hy met wortel en tak wil uitroei.

MBS verwerp gevolglik die streng Islamitiese wette wat vroueregte vir baie dekades aan bande lê. Vroue kan nou ook soos mans in verkiesings stem (vir ʼn raadgewende liggaam met min magte), hulle word nou in sportstadions toegelaat en van 2018 mag hulle motors bestuur. Hy het ook reeds aangedui dat die praktyk dat vroue nie alleen op straat mag verskyn nie en deur hul mans of selfs minderjarige, mansfamilielede vergesel moet word, opgeskort gaan word. Hy voorsien ook die oprigting van rolprentteaters om Westerse vermaak aan die massas bekend te stel.

Ook die haatlike godsdienstige polisie, die mutaween, wat vir baie jare mense vir geringe godsdienstige en sosiale oortredings in hegtenis geneem het en aangerand of selfs gemartel het, word nou ontbind en hul arrestasieregte is hulle reeds ontneem. Só is vroue wat (onwettig) alleen buite gestap het of wie se hare te veel by hul hijab (kopdoek) uitgesteek het of wat nie volgens dié polisie “welvoeglik” aangetrek het nie, se lewens versuur en het hulle dikwels in die tronk opgeëindig.

Die derde been van MBS se veranderinge is om Iran die stryd aan te sê as die leier van die Islamitiese wêreld. Iran het in die laaste dekade of wat heelwat reggekry nadat die Sjiïete eers net septer geswaai het in Iran en Sirië (pres. Basjir al-Assad en sy pa voor hom behoort aan ʼn Sjiïete-sekte). ʼn Pro-Iranse regering het in Irak tot stand gekom en die Islamitiese Staat (Isis of Daesh)-rebelle het dit hotagter gekry, eers in Sirië en later die sentrale dele van Irak. Iran is ook nominaal in beheer van Libanon deur sy vasaal, die Hisbolla-beweging, wat al hoe sterker staan in die land.

MBS het eers as minister van verdediging in 2015 pens en pootjies betrokke geraak in ʼn burgeroorlog in Jemen tussen Soenni- en Sjiïete-groepe, met geen einde in sig vir die konflik nie. Nadat hy as kroonprins aangestel is, het hy Katar probeer isoleer deur saam met ander Golf-state dié klein staatjie te blokkeer, oënskynlik weens dié se ondersteuning vir ekstremisme. In die proses het Katar egter nader beweeg aan Iran. Ook in Libanon het MBS gesorg dat die Sunni- eerste minister onlangs bedank weens Iranse inmenging in hul huishoudelike sake. Die tweestryd tussen die Saoedi Soenni’s en die Iranse Sjiïete is egter nog in die begin stadium en ʼn lang stryd lê nog voor.

Trump is ʼn vennoot

Ironies genoeg het MBS ʼn sterk vennoot in sy stryd teen Iran: Niemand anders nie as die Amerikaanse president Donald Trump. Trump het Saoedi-Arabië in Mei 2017 besoek en onmiddellik aanklank gevind by die jeugdige MBS, wat net ʼn maand of wat later aangestel is as kroonprins. Die VSA en die Trump administrasie het ʼn appeltjie te skil met Iran – saam met Noord-Korea – en dit is seker Trump se grootste buitelandse oogmerk om dié twee regimes te ondermyn en tot ʼn val te bring.

Trump glo dat Saoedi-Arabië ʼn groot rol kan speel om vrede tussen die Israeli’s en die Palestyne teweeg te bring. Hoewel amptelik vyande, blyk dit dat Israel en die Saoedi’s reeds kontak het en dat die tweespalt tussen die Palestynse Bevrydingsorganisasie (PBO) en die Islamitiese Hamas, jare lank ʼn Saoedi-vasaal, verlede maand tot ʼn einde gekom het. Trump gebruik sy skoonseun, Jared Kushner, ʼn Jood, om met MBS ʼn ooreenkoms vir die jarelange Israeli-Palestynse konflik te probeer bewerkstellig.

Die jong kroonprins Mohammed bin Salman het reeds in drie maande meer gedoen om die konserwatiewe Saoedi’s se hok dramaties te skud as in meer as 80 jaar wat die Saoediese koningshuis dié olieryke koninkryk beheer. In die proses is daar groot onsekerheid (die olieprys het tot sy hoogste vlak in jare gestyg), maar ook groot optimisme dat Mohammed bin Salman vir Saoedi-Arabië, daardie staat van kritiese belang in die Midde-Ooste, na ʼn nuwe era gaan lei. Maklik gaan dit egter nie wees nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Nico Stegmann

Nico Stegman is ’n onafhanklike skrywer met 30 jaar ondervinding in navorsing en analise oor diplomatieke en internasionale aangeleenthede.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Anton ·

Dit lyk vir my hierdie kroonprins gaan die Arabiese lente van ‘n jaar of 3 terug na ‘n kinderpiekniek laat lyk

Patrys ·

In ‘n neutedop – baie dankie – baie interessante en goeie artikel

Kannaland ·

Hulle moet nou netnie begin sag raak op misdadigers nie.

Scientia Munit ·

Hierdie artikel toon ooreenkomste met n artikel in die jongste Economist

Kosie Kramer ·

Die amptelike godsdiens van Saudi-Arabie (SA) tans is nie sunni of sjiiet nie, maar wahhabi, wat uiters konserwatief is. SA is die groot gifappeltjie, wat wapens aan die terroriste in Sirie, Katar, en ander lande verskaf. Hulle finansier ook die aljazeera-nuusdiens. SA se probleem is dat die olie begin opraak, en dat Rusland en Iran saam die grootste aardgasreserwes het. So jaar gelede het `n kommentator op aljazeera genoem dat wat SA nodig, `n reformasie is.

Charles ·

Waarom moet al die lande se name altyd so “VER-AFRIKAANS” word?
Dit is tog SAUDI ARABIE, QATAR ens
Groete

Ampie ·

Waarom moet name altyd verengels word? Hier is jou “Saudi Arabia” in ander tale:
Arabic: المملكة العربية السعودية
Brazilian Portuguese: Arábia Saudita
Chinese: 沙特阿拉伯
Croatian: Saudijska Arabija
Czech: Saúdská Arábie
Danish: Saudiarabien
Dutch: Saoedi-Arabië
European Spanish: Arabia Saudí
Finnish: Saudi-Arabia
French: Arabie Saoudite
German: Saudi-Arabien
Greek: Σαουδική Αραβία
Italian: Arabia Saudita
Japanese: サウジアラビア
Korean: 사우디아라비아
Norwegian: Saudi-Arabia
Polish: Arabia Saudyjska
European Portuguese: Arábia Saudita
Romanian: Arabia Saudită
Russian: Саудовская Аравия
Spanish: Arabia Saudí
Swedish: Saudiarabien

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.