Wat sê die ware evangelie?

Ds Koos Kirsten en sy vrou. (Foto: Verskaf.)

Deur ds. Koos Kirsten

Dit wil amper lyk asof daar ’n nuwe evangelie in die wêreld gekom het – ’n evangelie van vrees. Vrees vir die Covid 19-virus. En dié vrees blyk byna die nuwe god van die wêreld te wees.

Nog nooit in die geskiedenis van die wêreld het die mensdom só vinnig só drasties van gedrag verander nie. Eers het almal gaan wegkruip en toe stadig, baie stadig, weer begin uitkruip. Oral het hierdie ding vrees ingeboesem, want dit is hoogs aansteeklik en vir sommige selfs dodelik. Dit tref nie onderskeid tussen mense nie. Dit het nie bepaalde voorkeure nie. Dit saai verwoesting, veral ekonomies, so ver soos dit gaan – verwoesting in mense se gemoedere, verhoudings, lewenswyses en hul godsdiens.

Hierdie skynbaar nuwe god se “hoëpriesters” is die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO). Die wêreld spring as hulle sê, “Spring!”. Regerings vra vir hulle wat gedoen moet word. Húlle aanbevelings is wet. Húlle moet ’n geneesmiddel vind. Húlle sal ons uiteindelik verlos. Hulle moet net ’n entstof ontwikkel. Regerings is hierdie organisasie se grootste ondersteuners en hulle roep uit: “Vrees die virus, vrees die virus!” en almal moet gehoorsaam wees. As hulle nie die nuwe “wette” wil gehoorsaam nie, sal hulle daartoe gedwing word. Sommer met groot geweld as dit nodig is.

Die vrees vir hierdie nuwe siekte begin kwyn. ’n Nuwe vrees begin in die plek daarvan kom – vrees vir honger en armoede. Die algemene bevolking oefen druk op die regering uit om maatreëls te verslap. Die regering voel hulle is stadig maar seker besig om hul greep op die mense te verloor. Teenstrydige en onsinnige maatreëls is aan die orde van die dag.  Mense glo net nie meer hierdie nuwe “evangelie” nie. Tog volhard die regering daarmee!

Hoekom sê ek dat dit soos ’n nuwe evangelie lyk? Kyk wat sê die ware evangelie. Op soveel plekke lees ons dat die Here sê: “Moenie vrees nie”.

Moenie vrees vir hulle wat jou wil doodmaak nie. Moenie vrees vir pessiektes en plae nie.  Moenie vrees as julle vervolg en beledig word ter wille van die evangelie nie. Soveel keer hoor ons dat ons nie moet vrees nie, want vrees werk verlammend op jou in. In Sefanja 3:16 lees ons dat die Here sê dat Israel nie moet vrees en hul hande slap laat hang nie.  Vrees vir God se oordeel het hul hande slap laat hang. Hulle het gevrees, want hulle het geweet wat kom.

Hierdie virus is een van die tekens van die tye en ’n tydelike oordeel van God oor die wêreld. Watter regering het dít al erken en gevra dat die Christene vir hulle moet bid? Nie ’n algemene oproep tot alle soorte godsdienste nie, néé, ’n oproep spesifiek gerig tot die Christene. God is besig met ’n groot ding en bitter min van die wêreld se bevolkings en regerings besef dit. Hulle ken God nie en vrees Hom nie. Daar is geen vrees vir God voor hul oë nie. Hulle ken die ware God nie en baie wíl Hom nie ken nie. Hulle wil self God speel, daarom roep hulle nog steeds: “Vrees, vrees!” Vrees die virus of vrees die regering nóg meer!

Wie moet eintlik gevrees word?  Die Here, die skepper van hemel en aarde. Hy wat alles en almal gemaak het en alles nog steeds onderhou en regeer. Hy wat sy Seun aangestel het om aan die einde van die tye oor almal te oordeel. Hy wat nou vir ons wys hoe klein en nietig ons eintlik is. Hy wat van hierdie regering rekenskap gaan eis. Hy wat ook rekenskap van die kerk gaan eis oor wat hy in hierdie donker uur gedoen het. Hy wat gaan vra na wat die kerk in hierdie donker uur aan die regering verkondig het. Hy wat gaan vra na wat die kerk aan die wêreld verkondig het oor God se oordeel en gerig.

Waar is die stem van die kerk? Kan dit nog in die openbaar gehoor word, of het dit nou ’n stille stem vir die internet geword waar net die “ingelyfdes” op die internet dit kan hoor? Is dit nou net vir sekere mense beskore? Is dit nie nóú geleë om met ’n helder en duidelike stem te sê: “So sê die Here HERE” nie?  Is dit nie nóú die tyd dat die Kerk helder en duidelik moet laat hoor: “Vrees God en nie die regering of die virus nie.”? Of moet ons liewer nie nou te veel geraas maak nie? Netnou neem die regering die paar “voorregte” wat ons nou het, ook nog weg.

Waarmee het ons dan nou hier te doen? ’n Nuwe evangelie? ’n Evangelie van vrees en skrik en verlammende stilswye? Dit mag mos nie so wees nie! Ons vrees vir God moet groter as dit alles wees. Dit moet die ding wees wat ons dryf om dinge te doen. Dit moet vir ons ook wees soos vir die apostel Paulus wat in 2 Korintiërs 5:11 sê: “Omdat ons dan die vrees van die Here ken, probeer ons om die mense te oortuig”.

Die evangelie is nie bedoel om net op die internet verkondig te word nie, maar in die eerste plek in die openbaar. Nie net gewone mense moet dit hoor nie, regerings ook. Almal moet hoor en weet dat slégs God gevrees moet word!

  • Ds. Koos Kirsten is ’n emeritusleraar van die Gereformeerde kerk Mosselbaai. Hy en sy vrou, Rika, en hul kleindogter woon sowat 5 km buite Orania. Hulle ondersteun Orania heelhartig en beplan om later in die dorp te gaan woon. Hy preek nog gereeld in die Gereformeerde kerk Douglas, die Gereformeerde kerk Oranjerivier en die Dordtse Gereformeerde Kerk in Orania. Hy gee ook bybelonderrig aan die graad 10- tot 12-klasse by die Christelik-Volkseie Onderwys (CVO)-skool in Orania.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

OW ·

Uitstekende skrywe ds Kirsten.Absoluut die Waarheid wat u skryf.Ek is baie bekommerd oor kerklike leiersskap in SA.Nie net tydens hierdie pandemie nie maar al sedert die periode na 1994. Mens hoor net nie meer kerklike leierskap se stem nie.Kerklike leierskap sluit alle kerklike groeperinge in wat die liggaam van Christus verteenwoordig.Ek dink die tyd is oorryp vir die kerk om sy stem te gebruik en te laat hoor.

Andries ·

Ja,ek stem saam dat ek nog nie ervaar het dat die Kerklike leierskap ‘n belydenisskrif gegee het nie waarin riglyne gegee word oor wat Christene se reaksie teenoor die pandemie moet wees nie. As daar wel uitsprake was wat ek nie raakgesien het nie , verneem ek graag waar dit gelees kan word.

Fufu ·

Ds. Kirsten jy is n yster. Suid Afrika het manne soos jy nodig. Manne met ruggraat wat nie skroom om dit te se soos dit is nie. Ek het al baie die vraag gevra aan kerk leiers van verskillende denominasies: Wanneer gaan julle wat n stem en n platvorm het om die regering aan te spreek, dit dan doen? Die standaard antwoord wat ek kry is: Hulle gaan nie van ons hou nie. Ons sal dit liewer nie doen nie. Ek dink dan by myself: Hulle is nie veronderstel om van die kerk te hou nie. Regerings en leiers vanaf die tyd van die bybel kon nog nooit die ware kerk wat die evangelie van Jesus verkondig, en hulle foute uitwys, verdra nie. Die dag wanneer leiers en regerings van kerke hou, is daar fout met die kerk. Ds. Kirsten ek salueer jou. Mag God jou seen vir hierdie artikel.

Cheryl ·

Ds Kirsten dankie dat jy opstaan vir Jesus. Ons sien duidelik satan se agenda en dis skrikwekkend om te sien hoe blind mense is. Ek wil nie een dag in ‘n herder se skoene voor Jesus staan nie. Die sg kerk het die knie voor die wêreld gebuig. Die bruid van Christus het nie toestemming vd wêreld nodig nie. Ons moet juis nou, omdat die tyd uitloop, meer as ooit lig en sout wees. Mense het Jesus NOU nodig, en kinders vd Here het die antwoord maar nou bly ons stil. Waar gaan die ongelowiges nou heen. Mense soek antwoorde maar die kerk is stil. Tragies. Herders rig op die slap knieë en soek God se aangesig. Jy gaan eendag voor Hom staan en verantwoordelikheid doen. Maar hierdie is ook ‘n proses waar die bokke vd skape geskei gaan word. Breed is die pad na die verderf en nou na die hemel. Min sal daar in gaan. En dis presies wat ek sien gebeur. Maranatha.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.