Wat sê Zondo-verslag oor stand van demokrasie?

dr-leopold-scholtz-kruispaaie

Dr. Leopold Scholtz. Foto: Reint Dykema.

Wanneer die geskiedenis van ons era geskryf word, kan ek my voorstel dat die Zondo-verslag nogal meer as ’n paragraaf of twee sal beslaan. Eerder ’n hoofstuk, of dalk selfs ’n hele boek.

As historikus weet ek ’n mens moet baie versigtig wees wanneer jy die hede ontleed, want dinge is nog aan die ontwikkel. Jy het nie die luukse van tydsafstand, waar jy kan sien hoe sake verder verloop het nie. Dit is dus moeilik om aan iets soos die Zondo-verslag ’n behoorlike plek in die geskiedenis toe te ken.

Tog … Met ons kennis van die verlede van die ANC/SAKP kan jy wel een ding met veiligheid sê: Dit is die heel eerste keer in dié alliansie se geskiedenis dat hy ’n onafhanklike en eerlike ondersoek van buite verdra het ná die kultuur van korrupsie en magsmisbruik wat hom nou al dekades lank kenmerk – minstens sedert 1961, toe hy in ballingskap gegaan het.

In Maart verskyn my boek Terreur en Bevryding oor die ANC/SAKP se jare van ballingskap, 1961-1990. Daaruit is dit duidelik dat die kenmerke wat die ANC/SAKP-regering sedert 1994 gekenmerk het – korrupsie, magsmisbruik, onbekwaamheid, ondoeltreffendheid, diktatoriale neigings – ’n naatlose voortsetting is van die voorafgaande tyd.

Dit was natuurlik nie altyd ewe erg nie. Die misbruik van die staat ter wille van selfverryking was in wyle Nelson Mandela se tyd relatief beperk, maar het in tempo onder Thabo Mbeki begin toeneem, en onder Jacob Zuma se bewind het dit ’n absolute hoogtepunt (dalk eerder dieptepunt?) bereik.

Dis nie vir my nodig om die hoofpunte van die eerste deel van die Zondo-ondersoek hier uit te stippel nie; dis breedvoerig in die media behandel. Bowendien kom daar nog twee dele van die ondersoek, en veel meer skokkende sake sal ongetwyfeld uit die moreel smerige agterkamertjies na die volle sonlig gebring word.

Die groot vraag is: Wat sê dit alles vir Suid-Afrika en die Suid-Afrikaanse demokrasie?

As jy die saak negatief beoordeel, is dit ’n verwoestende aanklag teen ’n alliansie wat homself altyd as die engel van die lig teenoor die pikdonker apartheid-satan voorgehou het. Dit wys in alle skerp besonderhede presies wat die morele gesag van die Suid-Afrikaanse regering en die regerende alliansie is: ’n ronde nul. En uit my eie navorsing weet ek dat hy dit eintlik nog maar altyd was.

Eintlik sou die ANC/SAKP homself uit pure skaamte moes ontbind. (Nie dat enigiemand wat die alliansie ken dit verwag nie!)

En tog, en tog, en tog … ’n Rasionele mens moet effens verder kyk as dít wat die verslag van die ANC/SAKP sê, hoe belangrik dit ook al is. Die volgende vraag, ewe belangrik, is wat dit alles van die stand van die Suid-Afrikaanse demokrasie sê.

Natuurlik: Enersyds het die ANC/SAKP ons demokrasie diep en tot in sy hart verwond. Laat dáároor geen twyfel hoegenaamd bestaan nie; dit sal haas bomenslike moeite verg om die demokrasie te laat herstel.

Maar: As jy na Afrika kyk – in hoeveel Afrikastate sou iets soos die Zondo-ondersoek hoegenáámd moontlik gewees het? En in hoeveel sou daar toegelaat word dat ’n verslag soos dié van regter Raymond Zondo gepubliseer word?

Ek dink ons almal weet wat die antwoord is: In geen enkele een nie.

Die blote feit dat die regter sy ondersoek klaarblyklik vryelik kon doen én die eerste deel van sy verslag bekend maak, sê vir my iets (onthou dat nog twee dele luidens berigte aan die kom is). Dit sê vir my dat daar ’n sprankie hoop vir die oorlewing en dalk selfs herstel van die Suid-Afrikaanse demokrasie is.

Weliswaar word bitter min van dié hoop deur die ANC/SAKP gegenereer. Ja, van president Cyril Ramaphosa kan gesê word dat hy ’n stuk minder sleg is as die meeste van sy voorgangers, maar ’n mens kan ook nie die redding van hom verwag nie.

Nee, die geskiedenis van die Zondo-ondersoek wys dat die redding van búite die ANC/SAKP moet kom.

Onthou u nog? In 2016 het lede van die Rooms-Katolieke Dominikaanse orde na Thuli Madonsela, destydse openbare beskermer, geskryf om ’n ondersoek na die Gupta-familie se openlike pogings tot staatskaping (en Zuma se aktiewe medewerking aan die kaping) te vra. Mmusi Maimane, DA-leier in daardie stadium, het dadelik sy stem daarby gevoeg.

Madonsela, ’n eerlike vrou, het nie op haar laat wag nie en regter Zondo gevra om die bal aan die rol te sit. Die verslag is die uitvloeisel hiervan. Dit wys dat daar elemente in die Suid-Afrikaanse demokrasie is wat wél werk. Dis elemente wat, ondanks verbete pogings, nie deur die ANC/SAKP ingepalm kon word nie. Dít bied hoop. Vir die regerende alliansie hou dit – moontlik – ’n belangrike les in: Staak jou korrupsie, of jou wandade word oopgevlek.

Natuurlik is dit nie genoeg nie. Naas die oopvlek moet nog iets volg: Geregtelike optrede teen die oortreders, ongeag wié of hoe hoog hulle is, met ander woorde die Gupta-familie en Zuma, om mee te begin. Álmal wat by die saak betrokke was, moet egter aan die pen ry. Maak geen fout nie, dit gaan ongekende spanning in die ANC/SAKP en die kringe rondom hom skep. Dis ’n ope vraag of hy dit gaan toelaat.

Maar die les van die Zondo-ondersoek is dat ’n mens nie sulke sake aan die alliansie moet oorlaat nie.

Allereers moet die burgerlike samelewing – en dit sluit die media in – die twee partye se doen en late nougeset volg, en élke keer as dit lyk of hulle oortree, dit aan die groot klok hang.

Daarnaas moet ook die opposisiepartye wat nie deur onoorkomelike beginselverskille geskei word nie, saamwerk. ’n Mens sluit die EFF uit, maar die ander het genoeg ooreenkomste dat hulle kan saamwerk – eers ad hoc; later selfs meer. Uiteindelik kan selfs samesmelting ’n opsie wees.

Op dié manier kan die ANC/SAKP dalk selfs by die stembus uitgestem word. Moenie dink dat die vernuwing in meer as ’n uiters beperkte mate vanuit dié groep kan kom nie; daarvoor is sy kultuur van korrupsie te diep gewortel.

Op die horison is lig te sien. Maar is dit genoeg? Tyd sal leer.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Hendrik ·

Wel ek kan van my kant, wat net ‘n gewone burger is (wit nogal), dat die demokrasie nie baie goed lyk nie. Meeste mense smag om weg te kom uit die huidige vorm van demokrasie en sal weer aktief deelneem in ‘n Suid-Afrikaanse weergawe van Federale State waar minderhede herken en beskerm word in hul eie gebiede.

Schalk ·

Hendrik jou opsomming is in die kol. Die welvaart en groei sal ontwikkel en ongelooflik baie korrupsie sal gestuit word.

Groen Ghoen ·

Die mees vooruitstrewende Afrikaland in 1994 is nou die globale leier in werkloosheid. Maatskaplike toelaes en dienste wat deur die staat voorsien word hou blykbaar meer werkloses as werkendes aan die lewe. Infrastruktuur is aan flarde, 80% van plaaslike owerhede is bankrot, onderwysgehalte is van die heel swakste…. ‘n Geslag van hopelose mense wat bakhand staan vir aalmoese is na 28 jare die ANC se prestasie. Met alle respek aan dr. Scholtz: Om “Staatskaping” en vir Jacob Zuma vir die ellende te blameer is uiters opportunisties. Aan die wortel van alles is die ANC se Nasionale Demokratiese Rewolusie. Die kaders het maar net gedoen wat daar vir hulle deur die ANC se topleiers voorgeskryf is.

Schalk ·

En die werklike leiers sit agter gordyne en die President is net die spreekbuis.

casper ·

Dit se maar net dat die dae van “demokrasie” in SA is getel en kommunisme is hier in volle swang !!!

Andrew ·

“Uiteindelik kan selfs samesmelting ’n opsie wees”, nee wat dit werk nie. Het dit al probeer.
Mens wil amper sê mense begin binne kulture assimileer hetsy etnies of per gemeene doel soos met opkoms van ActionSA in die gauteng metros , wie se kiesers maar nie eintlik traditioneele bande het met zulu, xhosa ens nie en wat n gesamentlike mengelmoes van almal, en nog ander uit elders in afrika, wat saam op die ou end niks met die ANC en hulle ewige struggle (“struggle to deliver”) deel nie. Selfde geld vir die groter steun aan die DA in die oos Kaap , wat tradisioneel sterk ANC was. Die ANC verbrokkel en sal nie sterk staan na Cyril loop nie, hulle leier kas raak oud en leeg. Die bevel raad is klaar in flarde so verwag maar die klikkie bekke om nou te begin sing. Mense begin ander politiese heenkome soek, nader aan hulle eie beginsel lyne, so kom ons hoop die ANC kiesers is so matig soos die demokrasie apologete dit wil hê en gaan stem nie vir ou juliaas nie.

Vrijburger ·

“In Maart verskyn my boek Terreur en Bevryding oor die ANC/SAKP se jare van ballingskap, 1961-1990.”

As ‘n gegewe koop vriende en familie net boeke as geskenke vir my. Maar die aanhoudende en skaamtelose lokvalbemarking van bg boek irriteer my so dat ek seker maak dat almal weet die boek is nie op my lys nie.

Johannes_64 ·

Vreemd die gebruik van die woord “demokrasie”. “Stand van demokrasie”, Zondo verslag sê niks van demokrasie nie, geen verkiesing het daar plaasgevind nie? Demokrasie is ‘n regeringsvorm gekenmerk deur gereelde en vry verkiesings waaraan meer as een party kan deelneem; verskansde burgerregte en vrye media. Die woord het sy oorsprong uit Grieks, δημοκρατíα wat bestaan uit δημος (die mense), en κρατειν (om te regeer), en die suffiks íα; dit beteken dus “Regering deur die mense”. (Wikipedia)

Hoe bepaal mens die stand van ‘n “demokrasie” uit enige iets anders as dat verkiesings plaasvind, dat almal mag stem en dat daar gereeld gestem moet word? Die Zondo besigheid het met “demokrasie” niks te doen nie.

Demokrasie bepaal GEEN standaard van enige aard nie, net dat die kultuur van die meerderheid ‘n land sal regeer.

Human ·

Voorspoed vir 2022 en mag jou boek verkope rekord hoogtes bereik.

Human ·

Die suurknolle is soos die armes van gees. Die sal altyd met ons wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.