Wat sit agter die massa-stormloop op Ceuta?

(Foto: FADEL SENNA/AFP)

Op 17 Mei het duisende mense vanaf Marokko die Spaanse enklave Ceuta binnegedring. Daar het al verskeie kere in die verlede sogenaamde stormlope plaasgevind, waar honderde mense, meestal jong mans, gesamentlik poog om die veiligheidsheinings wat Ceuta (en die ander Spaanse enklawe Melilla) van Marokko skei, te oorwin.

Dié keer was dit egter selfs meer as 8 000 mense wat veral oor die water Ceuta probeer binnekom het. Die grenspolisie was magteloos en selfs die Spaanse weermag wat ingeroep is, kon net enkele mense weer terugstoot oor die grens. Intussen is daar glo bykans die helfte van die indringers weer gedeporteer, maar dat derduisende (ongewapende) mense deur die blote mag van hul getalle ’n Europese stad (al is dit op Afrika-bodem) kan verswelg as hulle wil, en dat Europa nie die vasberadenheid het om dit te keer nie, het nou skrikwekkend duidelik geword.

Wat hierdie stormloop anders maak as dié van die verlede, is nie net die getalle nie, maar ook die rol wat Marokko daarin speel. Marokko en Spanje het ’n ooreenkoms dat Marokko (teen aansienlike finansiële vergoeding) voornemende immigrante uit Afrika wat Ceuta en Melilla wil binnekom, keer. Meeste van hulle leef dan in informele nedersettings naby die grens en wag tot hulle weer ’n kans het om oor die grens te kom. Marokko speel daarmee dieselfde rol as hekwagter aan die Westelike kant van Europa wat Turkye aan die Oostelike kant speel. Eintlik het Spanje die “vuil werk” van grensbeheer, wat ook hardhandige optrede teen indringers insluit, uitgekontrakteer aan ’n Derdewêreldland wat veel minder terughoudend is as die Spaanse grenspolisie, wat nie eens meer rubberkoeëls mag gebruik nie.

Nou het Marokko egter vir Spanje en Europa gewys wie die hef in die hand het deur sy magte aan te wys om die immigrante nie meer te keer nie (en Turkye het verlede jaar ’n soortgelyke speletjie met Griekeland gespeel). Weens die koronapandemie was die grens in elk geval vir lank gesluit en die mense uit Afrika suid van die Sahara het opgedam. Daarby kom nog massas uit Marokko self wat onder die pandemie-verwante ekonomiese insinking ly en smag na die welsynstate in Europa. Die oorgrote meerderheid gebruik die twee Spaanse enklawes net as toegangspoort tot Europa: as hulle eers binne die enklawes is, is hulle in die Europese Unie en het daarmee saam aanspraak op ’n asielaansoek. Meeste beweeg dan aan na die Spaanse vasteland en van daar af verder na Middel-Europa.

Dat Marokko nou beheer verslaap het en die arm massas as drukmiddel gebruik, het gebeur uit weerwraak daarvoor dat Spanje die leier van die Frente Polisario (die beweging wat vir die onafhanklikheid van Wes-Sahara veg), Brahim Ghali, wat ernstig siek geword het met Covid-19, in Spanje behandel het. Vir Marokko is die Polisario (’n akroniem wat staan vir die bevrydingsfront vir Wes-Sahara en Rio d’Oro) ’n terroristegroep en Spanje moes Ghali eerder in hegtenis geneem en aan Marokko uitgelewer het as om hom te hospitaliseer. Intussen het die Spaanse justisie egter ’n regsaak teen Ghali, wat deur voormalige Polisario-lede van misdade teen die mensdom soos marteling en moord beskuldig word, hervat.

Wes-Sahara is al lankal ’n twisappel tussen Marokko en talle ander state. Wes-Sahara was tot 1975 ’n Spaanse kolonie tot dit deur Marokko (eweneens deur ongewapende massas) oorgeneem is en sedertdien as provinsie van Marokko bestuur word, alhoewel dit volgens die Verenigde Nasies (VN) ’n onafgehandelde dekoloniasievraagstuk is. Die inwoners van die gebied is nooit gevra of hulle deel van Marokko wil wees nie en veg deur middel van die Polisario tot vandag toe onsuksesvol vir onafhanklikheid.

Spanje het reeds lankal afstand gedoen van die gebied en steun ’n referendum oor onafhanklikheid. Marokko het egter lankal feite geskep en ook deur die vestiging van sy mense in die gebied die demografie blywend verander. Die VN en die Afrika-unie steun die onafhanklikheid van Wes-Sahara met lippetaal, maar Marokko as gevestigde staat en streeksmoondheid het natuurlik veel meer mag. ’n Aansienlike hupstoot vir Marokko se posisie was toe die voormalige Amerikaanse president Donald Trump, kort voor die einde van sy bewind, Marokko se soewereiniteit oor Wes-Sahara erken het in ruil vir Marokko se erkenning van Israel.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jack ·

Der Untergang des Abendlandes.

Europa, wat vroeër so vol selfvertroue in hulle eie regsaak gehad het – – beskaafdheid, draers van die christelike boodskap, gewaarbogde eiendomsreg — het gedegenereer in ‘n onsekere landstreek met baie skuldgevoelens en geen morele kompas meer nie. Hulle is weens sekularisasie en multi-kulturisme magteloos om teen anderstaliges, andersgelowiges (ketters, Islamiete), anders etniese mense op te tree wat hulle lande binnedring en aanspraak maak op die goeie lewe wat Europeers vir geslagte lank hard aan gewerk het om dit te bereik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.