Wat weet jy van die NGV?

gesondheid-bloeddruk

Foto: Rawpixel/Unsplash.com

Deur Marius Roodt

Dit lyk asof die regering vasberade is om ʼn beleid van nasionale gesondheidsversekering (NGV) te implementeer.

Teoreties gesproke is dit ’n edele mikpunt aangesien daar gepoog word om alle Suid-Afrikaners toegang tot gratis mediese sorg van gehalte te bied. Die NGV sal as’t ware ʼn reuse-staatsbeheerde mediese fonds wees wat mediese sorg vir almal koop. Maar die feit van die saak is dat Suid-Afrika dit eenvoudig nie kan bekostig nie en daar bestaan reeds ernstige vrae oor die regering se vermoë om so ʼn enorme skema te implementeer.

Vier dinge wat jy van die NGV moet weet:

  1. Die regering kan nie eens die klinieke wat dit reeds beheer, administreer nie

’n Verslag deur die kantoor vir die toepassing van gesondheidstandaarde (OHSC) het ná ʼn ondersoek van 696 staatsbeheerde gesondheidsfasiliteite bevind dat slegs ʼn skrale vyf van die fasiliteite aan die vereiste gesondheidstandaarde voldoen. Dit beteken dat minder as 1% van die gesondheidsfasiliteite wat deur die OHSC ondersoek is, voldoen aan die staat se eie standaarde om ʼn nasionale gesondheidsversekering te wees.

Meer onlangs, in antwoord op ʼn vraag in die Gautengse provinsiale wetgewing, het dr. Bandile Masuku, die LUR vir gesondheid in dié provinsie, gesê nie een Gautengse staatsgesondheidsfasiliteit voldoen aan die Wet op Beroepsgesondheid en Veiligheid nie. Jack Bloom, DA-woordvoerder vir gesondheid in die provinsie, het gesê dat dit ʼn bewys is van hoe totaal onvoorbereid die provinsiale gesondheidsdepartement vir die NGV is. Dit is onwaarskynlik dat die situasie in Gauteng uniek in die land is.

Terselfdertyd was elk van die 11 NGV-proefprojekte ʼn mislukking, aldus die regering.

  1. Niemand weet wat die koste gaan wees nie

Dit is ʼn feit dat niemand weet wat die NGV gaan kos nie. Skattings wissel van tussen R256 miljard per jaar tot byna R500 miljard. (Tans bestee die regering jaarliks sowat R200 miljard aan gesondheid.).

Die regering het self (in ʼn paar witskrifte oor die onderwerp) bereken dat die tekort om die NGV te befonds, ten minste R108 miljard sal beloop – dit met die veronderstelling van ʼn 2% ekonomiese groeikoers wat Suid-Afrika die afgelope jare nie kon bereik nie.

Dr. Johann Serfontein, verbonde aan die vryemarkstigting en senior gesondheidskonsultant by HealthMan, skat die regering se tekort vir gesondheidsorg sal teen 2025 sowat R156 miljard beloop – genoeg om vier Wêreldbeker-rugbytoernooie per jaar te befonds. Dit net ter vergelyking.

Maar die groot vraag bly: Wie gaan daarvoor betaal? Belasting sal verhoog moet word en dit is moontlik dat persoonlike inkomstebelasting sal styg asook belasting op toegevoegde waarde – met ten minste vier persentasiepunte, wat ʼn BTW-koers van 19% tot gevolg sal hê.

Die enigste sekerheid met die NGV is dat dit die regering en gewone belastingbetalers ʼn tamaai klomp geld uit die sak gaan jaag – geld wat nóg die een, nóg die ander sal kan bekostig.

  1. Sal die NGV nie Suid-Afrika se stelsel van rasgegronde gesondheidsorg regstel nie?

’n Paar ondersteuners van die NGV het gesê dat Suid-Afrika se stelsel van rasgegronde gesondheidsorg hiermee reggestel sal word, waar daar gereken word dat die meeste wit Suid-Afrikaners uitstekende private gesondheidsorg geniet en die meeste swart Suid-Afrikaners swak gesondheidsorg ontvang.

Hoe dit ook al sy, dit is ’n feit dat meer swart as wit Suid-Afrikaners aan ʼn mediese fonds behoort. Hoewel ʼn groter gedeelte van die wit bevolking aan ʼn mediese fonds behoort, beteken dit nie dat private gesondheidsorg ʼn wit monopolie is nie.

Dr. Alex van Heerden van Wits se skool vir regeerkunde het aangedui dat byna die helfte van alle lede van mediese skemas inderdaad swart is, met hul wit eweknieë wat slegs 35% van die totaal uitmaak. Sowat 10% van mediesefondslede is bruin Suid-Afrikaners, en die res Indiër-Suid-Afrikaners.

Dit is dus verkeerd om te sê dat Suid-Afrika se gesondheidsorgstelsel rasgegrond is. Deur mense te verhoed om hul eie mediese fondse te hê (dit is die NGV se doel), sal meer swart Suid-Afrikaners as wit mense benadeel word.

  1. Waarom gaan die regering nog voort met sy plan as dit blyk dat dit sal misluk?

Die antwoord hierop is ideologie. Die regerende ANC is toegewyd aan die stryd vir ’n nasionale demokratiese revolusie (NDR). Dit is die proses waarin Suid-Afrika toenemend van die huidige gemengde ekonomiese stelsel na ʼn (aanvanklike) sosialistiese ekonomie sal beweeg en uiteindelik na ʼn kommunistiese ekonomie.

Sommige mense sal beweer dat om hierdie stelling te maak bloot is om onrus te saai, maar die doelwitte van die ANC en die NDR word op die een ANC-konferensie ná die ander bevestig. Prominente ANC-leiers, onder andere pres. Cyril Ramaphosa, gaan voort om hul toegewydheid aan die NDR te bevestig. Dus is dit nie veel van ʼn verrassing dat die regering voortgaan om ʼn stelsel wat gewone Suid-Afrikaners van ʼn keuse en individuele vryheid sal ontneem, wil implementeer nie.

Wat ons natuurlik ook in ag moet neem, is dat die NGV die minister van gesondheid buitengewone mag sal gee oor wie die verskaffers en kontrakteurs van die skema sal wees. Dit beteken dat hy of sy hoë benoemingsmagte sal hê ten opsigte van die uitdeel van kontrakte en tenders.

Ons het reeds gesien wat tans in baie van die staatsbeheerde ondernemings gebeur, waar die kanker van korrupsie menige instelling, wat voorheen onder goeie bestuur was (soos Eskom en Denel), gestroop het. Daar was ook korrupsie by Polmed, die mediese skema vir lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD). Polmed, wat sedert 2015 nog nie weer ʼn algemene jaarvergadering gehad het nie, het na bewering meer as R15 miljoen aan sy trustees oor die afgelope drie jaar toegeken. Daar is niks wat ons sal oortuig dat dit nie ook die geval met die NGV sal wees nie.

  • Marius Roodt is die veldtogbestuurder van die Internasionale Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV) en ʼn liberale denker wat ekonomiese en politieke vryheid bevorder. Besoek die SAIRV se webwerf vir meer inligting oor hulle projekte.

Skakel op 4 September om 11:00 in op Maroela Media se Facebook-blad vir dié paneelbespreking om te sien wat dié kenners oor die NGV sê, en of daar nog hoop is vir Suid-Afrika se gesondheidsorg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

John ·

Baie interessante foto hierby. Die wit pasiènt moet sy eie bloeddruk aanteken en die stetoskoop… wie sal dit moet gebruik?

Kallie ·

Indien jy onder 45 is moet jy uit. Die ouer as 45 moet maar vasbyt, tensy daar georganiseerde hulp is om jou te help om te hervestig..

Positief ·

Ek kan uit, maar wil graag bly. Ek en my hele gesin. Ons is dol gelukkig hier! Hoekom gaan as dit goed gaan? As dit sleg gegaan het was ons ook oppad. Om te vrees vir die toekoms is onnodig – God is reeds daar. My ouers is gebore net na die tweede wereld oorlog. Hulle is nog hier, ongedeerd, en gelukkig. Nee wat, almal wat wil gaan moet nou asb. gaan sodat die res van ons dinge kan regruk.

Kobus ·

Ek is bly om te verneem julle is nog ongedeerd. Nie almal is so gelukkig nie. Baie mense is ook sonder werk weens regeringsbeleid. Ek wens jou voorspoed toe met die regruk planne. Vertel die wat agterbly wat dit gaan behels. Daar gaan in elk geval nie baie van julle wees nie.

Jerry ·

Die ANC staat is besig om alle kolonialistiese stelsels en instansies van bevoorregting vir die bevoorregtes te vervang met sosialistiese stelsels met die doel om alle bevoorregte en minder bevoorregte Suid Afrikaners gelyk te maak. Of die NGV goeie of swak diens gaan lewer en of sommiges meer gelyk gaan wees as anders is nie regtig ter sprake vir die ANC staat nie, solank as wat die ANC elite en kaderstrukture nog n SOE het waarvan hulle die geld beheer, dan is hulle happy! Suid Afrikaners kan hulself maar begin regmaak hiervoor, omrede die opposisiepartye reeds gewys het dat hulle nie oor die vermoe beskik om saam te staan en gemeenskaplik “terug te slaan nie” en die ANC te keer nie! Opposisiepartye is spreekwoordelik soos leierlose gyselaars wat staan en kyk hoe die ANC die land oor die afgrond trek en baie daaroor te se het, maar self nie n vinger kan verroer om dit te keer nie!

Kerneels ·

Ek kry ‘n gevoel dat partye en groepe vanoor die hele spektrum ook ‘n vinger in die appeltert het.

Zombie ·

In die eerste sin word dit as NVG en nie NGV afgekort nie.

Mariné Lourens ·

Dagsê Zombie

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die berig is reeds gewysig.

Groete
Mariné
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.