‘Waterskeiding-saak’ vir godsdiens in skole binnekort in hof

Argieffoto: Don Mcphee/Guardian

Deur Freedom of Religion South Africa (FOR SA) 

Ná lang verwagting word die saak van die Organisasie vir Godsdienste-Onderrig en Demokrasie (Ogod) vs. Laerskool Randhart & andere uiteindelik van 15 tot 17 Mei in die Johannesburgse hooggeregshof aangehoor. Hierdie saak wat al beskryf is as ʼn “waterskeiding-saak” in Suid-Afrika en heel moontlik in die grondwetlike hof mag draai, gaan spesifiek oor die reg van openbare skole om hulself met ’n bepaalde godsdiens (in dié geval Christenskap) te vereenselwig en hulself as ’n skool met ’n bepaalde godsdienstige (in die geval Christelike) etos en/of waardes voor te hou.

Indien Ogod suksesvol is in die hof, kan dit die einde van (selfs vrywillige deelname aan) Skriflesing en gebed, lofprysing en aanbidding, ACSV- en ander Christelike aktiwiteite in openbare skole beteken. Hoewel die uitkomste van die saak nie ’n direkte impak op private skole sal hê nie, mag dit wel ’n impak hê op die vryheid van ander staatsinstellings of staatsondersteunde instellings om godsdienstige praktyke in daardie instellings toe te laat.

Waaroor gaan die saak?

Die eiser is die Organisasie vir Godsdienste-Onderrig en Demokrasie (Ogod), ’n sekulêre organisasie wat beweer dat hulle in die publieke belang en veral in die belang van kinders optree “om hulle te beskerm teen die inbreukmaking van hul grondwetlike regte op die altaar van godsdienstige praktyke en onderrig”.

Die verweerders is ses openbare skole (drie laerskole en drie hoërskole) en word in die saak verteenwoordig deur die “Federation of Governing Bodies of South African Schools” (Fedsas). Die skole het almal ’n Christelike etos en waardes, maar laat leerders van ander geloofsoortuiging toe tot die skool en gee hulle die vryheid om hulself van Christelike aktiwiteite te verskoon. (Ander partye tot die saak sluit in die ministers van basiese onderwys en justisie. Verskeie organisasies het ook tot die saak toegetree as “Vriende van die hof”.)

Ogod se saak teen die skole, in ’n neutedop, is dat dit téén die nasionale beleid op godsdiens en onderrig en/of téén die Suid-Afrikaanse Grondwet is vir enige openbare skool om ’n spesifieke godsdiens te promoveer, of hulself primêr daarmee te vereenselwig of te assosieer. Ogod beweer verder dat dit verbode is om ’n leerder te versoek om die godsdiens (indien enige) waaraan sy/hy behoort, aan die skool bekend te maak; om ’n rekord van leerders se godsdiens/kerkverband (indien enige) te hou;  en om leerders op grond van hul godsdienstige verbintenis van mekaar te skei.

Ogod vra die hof dan verder om ’n bevel (interdik) teen elkeen van die skole afsonderlik uit te reik, wat hulle gelas om sekere godsdienstige praktyke (insluitende die volgende) te beëindig: motto’s en skoolwapens wat geloof (veral geloof in die drie-enige God) erken of simboliseer; godsdienstige sang en ACSV-aktiwiteite as deel van die skool se weeklikse aktiwiteite (selfs tydens pouses); Skriflesing en gebed aan die begin of einde van enige skoolbyeenkoms; die nooi van godsdienstige leiers om leerders toe te spreek; die uitdeel van Bybelmateriaal en/of promovering van Bybelstories; en verwysings na die skeppingsleer (“creationism”) asof dit feitelik is.

Alhoewel Ogod in hul hofstukke benadruk dat die saak nie gesien moet word as ’n “aanval” op Christenskap nie, maar bloot as ’n aansoek om die regte van álle leerders te beskerm, argumenteer Fedsas dat dit presies dit is. Hoekom anders sou Ogod, ’n erkende ateïste-organisasie, slegs openbare skole wat ’n Christelike etos handhaaf, teiken, ten spyte daarvan dat die regshulp wat hulle vra, ’n direkte impak op élke openbare skool in die land met ’n godsdienstige etos (hetsy Christelik, Moslem, Joods, ensovoorts) sal hê? 

Wat sê die reg?

Artikel 15 van die Grondwet, onder die opskrif “Vryheid van godsdiens, oortuiging en mening”, bepaal onder meer die volgende:

(1) Elkeen het die reg op vryheid van gewete, godsdiens, denke, oortuiging en mening.

(2) Godsdiensbeoefening kan by staats- of staatsondersteunde instellings geskied, mits –

(a) daardie beoefening reëls nakom wat deur die tersaaklike openbare gesag gemaak is;

(b) dit op billike grondslag geskied; en

(c) bywoning daarvan vry en vrywillig is

Die betrokke skole in hierdie geval is almal “openbare skole” wat (finansiële en ander) ondersteuning van die staat geniet. As sodanig, en in terme van artikel 15(2) van die Grondwet, word godsdiensbeoefening (“religious observances” – i.e. godsdienstige praktyke soos Skriflesing en gebed, lofprysing, aanbidding, meditasie, oordenking, getuienislewering, vas en ander voedingsverwante praktyke, godsdienstige kleredrag, ensovoorts) in beginsel wél toegelaat, maar slegs indien daar aan die bostaande drie voorwaardes voldoen word.

In dié saak word heelwat regstegniese argumente rondom die betekenis van “tersaaklike openbare gesag” (is dit die minister van onderwys, die skoolbeheerliggame, of albei?) gevoer; “’n billike grondslag” (“equitable basis”) (beteken dit dat alle godsdienste presies dieselfde hanteer moet word, of dat die meerderheidsgodsdiens voorrang mag geniet mits minderheidsgodsdienste redelikerwys geakkommodeer word?); asook “vry en vrywillig” (in omstandighede waar Ogod argumenteer dat daar “indirekte dwang” op leerders van ander godsdienstige oortuigings is om aan Christelike praktyke deel te neem, uit vrees dat hulle geëtiketteer en gemarginaliseer sal word indien hulle nie sou deelneem aan ’n “meerderheidspraktyk” nie.)

Terwyl die Grondwet spesifiek godsdiensbeoefening (“religious observances”) toelaat, sê dit niks oor die bestudering van verskillende godsdienste (“religion education”) en godsdiensonderrig (“religious instruction”) nie. Die nasionale beleid op godsdiens en onderrig (wat weliswaar nie regskrag as wetgewing het nie, maar tóg as riglyn geld) tref egter so ’n onderskeid en sê dat godsdienste-onderwys/studies (“religion education” i.e. die bestudering van verskillende godsdienste as deel van die verpligte kurrikulum) die verantwoordelikheid van skole is; terwyl godsdiensonderrig (“religious instruction” i.e. onderrig/opvoeding in ’n bepaalde godsdiens met die doel om daardie godsdiens se leerstellings, waardes, ensovoorts in leerders te vestig) primêr die verantwoordelikheid van die huis, familie en godsdienstige gemeenskap is. Die beleid moedig skole wel aan om hul fasiliteite vir godsdiensonderrig beskikbaar te stel, mits dit nie met die skool se kern opvoedkundige oogmerke inmeng nie, byvoorbeeld vir vrywillige byeenkomste en ontmoetings van godsdienstige organisasies buite skoolure, of tydens pouses.

In hierdie saak is die bestudering van verskillende godsdienste nie in geskil nie, maar wel godsdiensbeoefening en (in die geval van twee van die skole) godsdiensonderrig. Volgens Ogod behoort álle godsdiensonderrig in skole verbode te wees. Hierteenoor argumenteer Fedsas dat so lank as wat godsdiensonderrig ’n vrywillige vak is (eerder as ’n verpligte vak wat nodig is om na ’n volgende vlak/jaar te vorder), die nasionale beleid dit nie verbied nie.

Waarom is die saak belangrik?

Die saak is belangrik omdat dit die vraag vra: Wat is die plek van godsdiens in openbare skole? Dat daar wél ’n plek vir beoefening van godsdienstige praktyke is (onderhewig egter aan sekere voorwaardes), staan vas (art. 15(2) van die Grondwet). Anders as in die VSA wat ’n streng skeidslyn tussen staat en godsdiens handhaaf, volg Suid-Afrika ’n samewerkende model tussen staat en godsdiens in terme waarvan godsdiens, onderhewig aan sekere voorwaardes, in staats(ondersteunde)-instellings toegelaat of selfs aangemoedig word. Die waarborg van ons Grondwet is duidelik “freedom of religion”, nie “freedom from religion” soos wat Ogod oënskynlik in die saak betoog nie.

Die vraag wat die hof derhalwe moet beslis, is: Wat beteken dit en hoe lyk dit in ’n reënboogland soos Suid-Afrika waar elke persoon en leerder (Christen, Moslem, Jood, ateïs, ensovoorts) daarop aanspraak kan maak dat sy/haar geloof (of nie-geloof) gerespekteer, beskerm en bevorder moet word?

Terwyl sommige, juis as gevolg van die uitdagings en potensiële konflik wat so ’n diverse omgewing meebring, mag argumenteer dat godsdiens liefs in die binnekamer (en uit die skool) gehou moet word, is dit nie so eenvoudig nie. As Bybelgelowige Christene verstaan ons dat ons geloof en ons Christelike oortuigings nie slegs ’n (private) kompartement van ons lewens is nie, maar die kern is waarom alle lewensterreine sentreer. 1 Korintiërs 10:31 sê: Of julle eet en of julle drink of wat julle ook al doen, doen alles tot eer van God. Daarom laat ons nie ons geloofsoortuigings agter, die oomblik wanneer ons ons voete by die huis uit sit nie – ons neem ons geloofsoortuigings met ons sáám na die skool, die werksplek en die markplein.

In die grondwetlike hofsaak van Christian Education South Africa v Minister of Education (2000), het regter Sachs (’n selferkende ateïs) soos volg hieraan erkenning gegee:

There can be no doubt that the right to freedom of religion, belief and opinion in the open and democratic society contemplated by the Constitution is important. The right to believe or not to believe, and to act or not to act according to his/her beliefs or non-beliefs, is one of the key ingredients of any person’s dignity. Yet freedom of religion goes beyond protecting the inviolability of the individual conscience. For many believers, their relationship with God or creation is central to all their activities. It concerns their capacity to relate in an intensely meaningful fashion to their sense of themselves, their community and their universe. For millions in all walks of life, religion provides support and nurture and a framework for individual and social stability and growth. Religious belief has the capacity to awake concepts of self-worth and human dignity which forms the cornerstone of human rights. It affects the believer’s view of society and founds the distinction between right and wrong. It expresses itself in the affirmation and continuity of powerful traditions that frequently have an ancient character transcending historical epochs and national boundaries. (par. 36)

Natuurlik is ’n skool nie ’n kerk (moskee, sinagoge, ensovoorts) nie. Die wyse waarop en die mate waartoe gelowiges uitdrukking aan hul geloof kan (behoort te) gee in ’n skool, verskil daarom (tereg) van ’n godsdienstige konteks. Die vraag wat die hof in hierdie saak sal moet beantwoord, is derhalwe nie óf godsdiens in openbare skole hoort nie (dit hoort), maar wat die grense is – in die konteks van hierdie spesifieke skole (wat almal ’n leerder-samestelling van feitlik 100% Christene het), maar ook in die breër konteks van ’n diverse land soos Suid-Afrika wat behoort aan “almal wat daarin woon, verenig in ons verskeidenheid” (aanhef tot die Grondwet).

Gegewe die impak wat hierdie saak sal hê – nie net op die ses skole wat in die saak betrokke is nie, maar potensieel op álle openbare skole en by implikasie op die miljoene mense (onderwysers en jongmense) in Suid-Afrika wie se diepste oortuiginge en dag-tot-dag lewens direk deur die saak geraak sal word, nie net vir nou nie maar vir geslagte vorentoe – vra ons Christene regoor die land om saam te staan in gebed vir hierdie saak en te vertrou vir ’n uitkoms wat ons vryheid as gelowiges om te glo en ons geloofsoortuigings uit te spreek en ook uit te leef, sal beskerm eerder as om dit aan bande te lê.

*Nota: Hoewel FOR SA nie ’n party tot die geskil is nie, en die organisasie nie direk by die saak betrokke is nie, het ons die volledige hofstukke en betooghoofde in die saak bestudeer. FOR SA se regsverteenwoordiger is ook genader om die Council for the Protection and Promotion of Religious Rights and Freedoms, wat ’n “Vriend van die hof” is, in die saak by te staan. 

Ondersteun FOR SA:

Freedom of Religion South Africa (FOR SA) is ’n nie-winsgewende organisasie wat hom vir die beskerming en bevordering van godsdiensvryheid in Suid-Afrika beywer. Die organisasie het onlangs voorleggings gemaak met betrekking tot die nuwe voorgestelde wetgewing op haatspraak en die ‘CRL’-regtekommissie se voorstelle vir die regulering van godsdiens in Suid-Afrika. Ondersteun FOR SA deur:

  • Gebed;
  • Kosteloos by die organisasie aan te sluit en/of op hul nuusbrief in te teken by forsa.org.za;
  • Die organisasie op Facebook te volg, by “Freedom of Religion SA”; en/of
  • ’n Donasie aan die organisasie te maak, by forsa.org.za/donate.

*Hierdie artikel is oorspronklik op die APK se webwerf gepubliseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

33 Kommentare

Bees ·

Staatskole word onderhou deur alle belastingbetalers se geld. Haal dit heel uit- kan nie alle gelowe en nie-gelowiges akkomodeer nie.

Vreemd ·

Opmerklik dat op soveel kommentaar kolomme (ook in ander tydskrifte en koerante) dit juis die AFRIKANERS is wat se die ouers moet eerder die kinders godsdiens by die huise leer, dit is nie die skool se plig nie. Tog het meeste van ons nog skoolgegaan in Christelike skole waar ons met godsdiens geopen het, ‘n godsdiensperiode gehad waar ons meer van die Bybel geleer het en ook liedjies ter ere van Hom gesing het. Die grootste monde het nie eers tyd om hulle kinders MANIERE te leer nie, wat nog te se godsdiens, hulle koop CD’s en DVD’s en laat die kinders voor die TV daarna sit en luister. Alhoewel ek ook voel dat GODSDIENS die primere plig van die ouers is, weet ons almal dat dit nie in alle huise so lekker gaan nie, en dat dit juis die skole is wat daardie standvastigheid vir kinders gegee het … soveel kinders het tot bekering gekom JUIS by ‘n skool of ‘n kerkkamp en dan hulle ouers ook tot bekering gelei. Lekker om te skreeu uit ‘n ‘privileged’ omgewing uit, nie alle kinders se ouers tel eers ‘n Bybel by die huis op nie, so dit beteken die kind word ook goddeloos groot, maar dis seker maar reg vir julle ne? Snaaks dat niemand nog aan Moslem en Rooms Katolieke skole gekarring het nie ..

Willem ·

Dis juis oor dit in ons Afrikaners se kele afgedruk was dat soveel Afrikaners nou sê haal dit bloot uit skole uit. Dis nie “christen” skole nie – dis staatskole. En islam en al die ander wensdenkery moet ook uit skole bly.

Annatjie Kruger ·

As ons kyk na godsdienste-onderwys in die skole. Wie behaal die inhoud van die onderrig. Hoe korrek gaan die inligting wees wat aan die kinders oorgedra word? Ek weet uit eie ondervinding dat die godsdiensonderrig wat ek op skool ontvang het niks met die Evangelie en die verspreiding daarvan te doen gehad het nie. Ek weet nie eens of al die onderwysers wie godsdiensonderrig aangebied het Christene was nie. As ek terugdink aan sommige onderwydes betwyfel ek dit.

Wil weet ·

Wonder hoe Moslem en Joodse openbare skole ‘n uitspraak ten gunste van ogod sal aanvaar?

Willem ·

Dis net so onding, en islam en die joodse geloof hoort ook tuis

Boerseun ·

Dink nie jy gaan te veel joodse en moslem publieke skole kry nie.

MissDemeanor ·

Dis maklik om te verstaan. As die hof uitspraak tengunste van Ogod is, tengunste van Christelike onderig in Christelike skole is, dan beteken dit dat Moslem of Joodse skole ook hul eie godsdiens in hul eie skole mag beoefen. Wat vir een geloof geld, geld dus vir ‘n ander.

Willem ·

MisssDemeanor,

Dis nie christene se skole nie, dis publieke skole. So, as julle voel julle moet julle geloof in die kinders se kele afdruk, doen dit in privaat skole

Ekke ·

Dit is alles goed en wel om met skriflesing en gebed te open maar direk na die tyd word daar geskinder, geboelie en alles wat gebid is is vergete. As jy ‘n christen is moet jy dit uitleef. Daardeur gaan jy baie meer kinders positief beïnvloed.

Frans C ·

Indien dit waar is dat 80% van die Suid Afrikaanse bevolking een of ander vorm van die Christelike geloof beoefen dan het Ogod geen saak nie.in ‘n demokrasie bepaal meerderhede
wat gangbaar is en nie minderhede nie.

Dus as jy nie wil deelneem nie behoort jy nie verplig te word en toegelaat te word om jouself daarvan te verskoon .Dat ‘n ateïstiese regter oor die waarde van godsdiens so’n mening kan uitspreek is ‘n riem onder die hart.

Willem ·

Waar kom die 80% statistiek daarvan en hoe akkuraat is dit?

Kinders word wel verplig, as hulle nie deelneem nie word hulle geboelie deur die gelowige kinders.

Weet jy hoeveel mense, veral Afrikaners, wat ek teekom glo nie in ‘n god nie maar kan nie eerlik daaroor wees nie? Hulle sal hul werk verloor, hulle kinders sal gedreig word. Kyk wat het met George Classen in die kaap gebeur toe hy godsdiens uit die skole probeer kry.

Karin Saayman ·

Christendom word nog altyd aangeval sedert Bybeldae. Daar is net een weg tot God en dit is deur Jesus . Geen ander manier nie . Geen mens, geen skool, geen instansie, geen land kan floreer of voorspoedig wees sonder die teenwoordigheid van die Heilige Gees en jou dag wat begin met Jesus en eindig met Hom nie. NO compromising. NON-debatable.

Willem ·

Karin, oorreageer jy nie met jou militante kommentaar nie? Sekerlik kan die heilige gees nog steeds teenwoordig wees as jou kind by die huis bid, en nie geforseer word by die skool om te bid nie?

Ywerige Koerantlesertjie ·

Dankie Karin… My way or the highway!! Christendom sal nog tot in die lengte van dae aangeval word, maar dit is nie hoe hard jy omgeslaan word nie, dit is hoe vinnig en hoe sterk jy gaan opstaan.

SkarrelKind ·

Sekulêre lande bewys hulleself as uiters suksesvol. Wet en order word gehandhaaf, geweld is minder aanwesig, ens. Privaatskole kan kies, en ouers kan kies of hulle hulle kinders byvoorbeeld na ‘n Moslemskool or kloosterskool toe wil stuur. Openare skole – doen weg daarmee. Niemand gaan minder gemanierd of slegter af wees nie. Beoefen godsdiens by die huis en bring gewone, nie-godsdiengebasseerde dissipline terug skool toe.

Avokado ·

Skool is waar kinders onderrig moet word. Huis is waar kinders opgevoed moet word. Kerk is vir die wat dit nodig ag. As Jesus Christus in jou hart is sal dit in jou lewe wys. Jy het nie skool of kerk nodig om dit uit te leef nie. Ek ondersteun die skole in hierdie saak, maar ons moet versigtig wees wat ons vir die wereld wys. Is ons gedrag by en om die skool se parkering en sportvelde werklik die van christene? Of huigel ons nou omdat ons gemaksone geskuif/geskud word?

Wesley Coetzee ·

Die Grondwet is nogal omvattend tot regte van godsdienstige praktyke en wanneer dit mag gedoen word in staat instellings, en is nogal heel bilik. Dit is net die ekstreemes aan albei kante van die spektrum wat nie wil kans gee dat dinge gedoen word in “good faith” nie. Dalk is die probleem dat nie almal verstaan of weet wat van hul verwag word as onderwysers, beheerligame ens. Of erger, hul weet van die verwagtinge en pligte, maar gee n vet om of vat kans omdat daar dalk n gaping is in die wetgewing, en druk hul godsdiens af in ander se kele. Dit moet albei kante end kry, laat die hof die Grondwet duidelik maak vir hierdies wat nie weet of verstaan nie, en laat daar nou vrede wees oor die saak (onwaarskynlik, ons gaan hul weer sien appeleer tot doer in die toekoms, maak nie saak watter kant heen dit swaai nie.)

Wepener ·

OGOD, jou yster! Julle maak my trots om ‘n Afrikaner te wees

Jeanette ·

Ek steun OGOD. Godsdiens hoort nie in skole of die werk plek nie. Dis n privaat aangeleentheid.

Ywerige Koerantlesertjie ·

Godsdiens hoort oral, nie net in skole nie, as jy jou Christenskap wegsteek in die openbaar ontken jy God in die openbaar, dit is skynheiligheid en word verafsku! If you know Him in the dark you deserve Him in the light… ja dit is ‘n privaat aangeleentheid maar ook moet jy wat jy in jou binnekamer beoefen in die buite lewe kan ervaar, beleef en uitleef… mens kan nie ‘n klip Christen wees nie…

Willem ·

Nie almal glo in ‘n god nie, nie almal glo in dieselfde god as jy nie. Dis onwerkbaar, nes 11 amptelike landstale, om aan elke godsdiens erkenning te gee. Dus, hou dit by die huis, waar dit hoort!

Wepener ·

M.b.t. diegene wat vra hoekom word christenskap aangevat en nie die moslems of jode nie – geen jood, moslem, ateis of hindoe het al hulle geloof in my of my kind se keel kom afdruk nie – dis die christene wat dit doen

Boerseun ·

Wepener. Geloof word dan in eetplekke in jou keel afgewurg, halaal noem ons dit. Was jy al by burgerking? Spur en wimpey het tot halaal takke vir die met geloofs oortuigings.

Wepener ·

Ja, ek hou ook nie daarvan nie. Maar die verskil is, Boerseun, die restourant word nie met my belastinggeld bevonds om mites te versprei nie

Ywerige Koerantlesertjie ·

Dis eintlik heel eenvoudig, haal jou kind dan uit die skool en sit hom of haar waar jy hom of haar wil hê, en waar jou enkele selfsugtige behoefte nie in dwarsboming met die res van die skool, kinders en ouers verkeer nie… Ek het twee kinders, my geloof is Christenskap. Ek gaan mos nou nie my kinders in ‘n Joodse, Hindu, Moslem of enige ander geloof skool inskryf en dan daardie skool wil hof toe sleep omdat hulle nie my oortuigings akkomodeer nie, Common Sense…Daar is baie ander ouers wat bereid is om die twintig sent te betaal om hulle kinders in daardie skool te sit wat dieselfde geloofsoortuigings het, Jou bydrae tot die skool op die ou einde is tog maar net die geld wat jy betaal en jy kan gerus daardie geldjie in ‘n ander skool gaan instop… En dieselfde gaan vir onderrig tale, praat jy Engels? Gaan dan na ‘n Engelse skool toe… Aangesien die meerdere inligting hier voorsien oor staatskole gaan, moet jy maar dan eerder ‘n plan sien om jou kind dan in ‘n privaat skool te plaas, want beggars cant be choosers jy weet!

Morian ·

En waar is hierdie magiese staatsskole wat sekulêr of godsdiens neutraal is, nogal? Ek bly in ‘n klein dorpie, en my dogter is nie ‘n Christen nie. Dit is ONMOONTLIK om ‘n Afrikaanse skool vir haar te vind wat nie Christenskap op haar afdwing nie.

Boerseun ·

Miriam. Begin dan jou eie skool of doen homeschooling. Christine het daai slole in die eerste plek gebou. Nou moet 99% na 1% se wil dans.

Bees ·

Ywerig dit is wel baie eenvoudig,maar jy sal nie verstaan nie. n Openbare skool waarvoor ALLE belastingbetalers betaal is doodeenvoudig n skool. Dit is nie n plek van aanbidding van (verskeie)spoke nie. Get it?Sug-geweet jy sal nie verstaan nie.

Willie ·

Dit is hoekom ek my kinders by die huis met Godsdiens sal onderig. Ouers skuif deesdae hulle pligte net oor na ander,om ander te kritiseer. Ouers is te besig( om kinders op te voed), of so se’ hulle. Wel, ek sien meer mammas wat meer oor hulle eie status worry, as om vir hulle kinders kos te gee voor n lang skooldag. Ouers, leer jou kind dissipline en Godsdiens by die huis, Dan sal hulle ander leerders en Onderwyser /es met respek behandel .

Pieter ·

Ek wil die volgende stelling maak as ons van christen praat word daar gepraat van hulle wat die Jesus Chistus geloof beoefen.As ons van Godsdiens praat dan word daar gepraat van enige geloof waar daar n god bestaan. Die vraag bly dus die hele wereld het hulle more waardes van n godsdienstige agter grond gekry, jy mag nie steel nie jy mag nie moor nie en selfs ons grondwet is op die waardes gebaseer as ons die kinders dan van weerhou van die waardes dan sal alle morele waardes verval en alles sal in gaoes onstaan. Dis juis dit wat die athis wil he want dan sal hulle se dat as daar n God is waarom laat Hy die gaoes toe of hoelom keer hy dit nie. Weer eens maar net n aanslag op geloof alowel atihisme ook n form van geloof is. Die verweer is die arme kinder maar die groter plan is om atihisme te bevorder en die Christen geloof te probeur te vernietig. Die woord se dat die dood die kerk nie sal oorweldig nie

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.