Deur Fanie Cronje
Die gesprek rakende koalisies het eintlik stimulasie gekry met eerstens die voorbereide kongres om koalisies in wetgewing te formaliseer wanneer dit kom by die bestuur en funksionering van koalisies en toe die DA se inisiatief rondom die sogenaamde “moonshot-samewerkingsmodel”.
Die inisiatief en beduidende werk is eintlik deur dr. Corné Mulder begin rakende koalisie-ooreenkomste in die Johannesburg-, Tshwane- en Ekurhuleni-metro’s, wat aanvanklik daartoe gelei het dat daar koalisie-metrorade in die metro’s aan bewind geplaas is. Inbinding van al die partye het egter skipbreuk gelei, daar was beduidende onderlinge “moddergooiery” en die ANC en EFF het daarin geslaag om met die ondersteuning van die Patriotic Alliance die raad van die belangrikste metro, Johannesburg, oor te neem.
Daar blyk tans drie hoofstrome te bestaan wat deur drie groeperings gevul word in die gesprek rondom koalisieregering.
Die sentrum-radikale groepering
Eerstens die sentrum-radikale groepering van die ANC en die EFF. Hoewel hulle dit tans nie formaliseer nie, sal dit beslis realiseer sou die ANC nie ʼn volstrekte meerderheid nasionaal, maar ook in provinsies soos Gauteng en KwaZulu-Natal, behaal nie. Die ANC, by monde van die sekretarisgeneraal, Fikile Mbalula, reken dit is nie nodig om met die EFF ʼn koalisie-ooreenkoms aan te gaan nie, want die ANC gaan die verkiesing wen.
Die moontlikheid dat die ANC nie ʼn volstrekte meerderheid gaan behaal nie word nie tans oorweeg nie. Die ANC kan dit ook eintlik nie doen nie, want dan gee hulle reeds toe dat hulle nie ʼn volstrekte meerderheid gaan behaal nie. Daar is egter reeds op provinsiale vlak toenadering. Veral in Gauteng waar premier Panyaza Lesufi begerig is om juis reeds bande van samewerking te vorm.
Die ANC beweeg ook in terme van uitsprake oor aangeleenthede soos onteiening sonder vergoeding, die NGV-stelsel, internasionale betrekkinge met China en Rusland (binne en buite Brics-verband) asook die verandering van die Reserwebank se mandaat, nader aan die EFF.
Dan ook die president se uitlatings by die ANC-jeugligakongres, dat daar teruggekeer moet word na die rewolusionêre standpunte en optrede van die sestiger-, en tagtigerjare. Tans waarskynlik om te poog en te hoop om daardie rand-kiesers van die EFF te trek na die ANC en te hoop dat dit voldoende is om die meerderheidsteun nasionaal te bekom. Die feit dat iemand soos Mbalula nie openlik in konfrontasie met Lesufi gaan nie is aanduidend van die ANC se neutraliteit in die provinsies.
Die sentrum-behoudende groepering
Hierdie groepering word hoofsaaklik deur die “moonshot-ooreenkoms” verteenwoordig. Die uitgesproke doelwit is om nog vennote tot die ooreengekome samewerkingsooreenkoms toe te laat en in te bind.
Soos die ANC ook graag sy dominante posisie op nasionale vlak wil handhaaf wil die DA ook hulle dominante posisie binne die ooreenkoms handhaaf. Die grootste struikelblok vir die groepering is juis daarin geleë dat die aangeleentheid behoorlik uitgeklaar en skriftelik bevestig moet word.
Dit het reeds gelei tot onenigheid en oor en weer beskuldigings rondom die verwydering van die ANC-ondersteunde burgemeester in Johannesburg. Die DA wou nie die ActionSA-mosie steun nie en het sy eie metode aangebied as die manier om van die burgemeester ontslae te raak. Sentraal in hierdie verskille staan die PA van Gayton Mckenzie. Die PA bring ʼn beduidende groepering van die “bruin” stem en sal geakkommodeer moet word indien die groepering rêrig ʼn ernstige bedreiging sou word.
Nie die DA of die PA is tans in ʼn gee-en-neem-situasie nie en die standpuntverskille sal tot nadeel van die groepering wees. Daar is nog verskeie partye wat wel betrek kan word by die groepering, soos die Rise Mzanzi, One Movement en ander partye. Heelwat van die partye is relatief nuut en dit word vermoed dat die bestaande partye soos die DA nie te gretig sal wees om daardie partye voortydig in te bind nie en eerder te poog om daardie steun te bekom ten einde hul eie magsposisie bene die groepering te bevestig.
Maar dit kan, soos die ANC-strategie hierbo, ook gevare inhou.
Die radikaal-afrikanistiese groepering
Hierdie groepering word tans deur die Pan African Congress (PAC), African Transformation Movement (ATM), African People’s Convention (APC), en die Land Party gesteun. Hulle het reeds aangedui dat daar ook ʼn voorverkiesingooreenkoms soos die “moonshot-ooreenkoms” sal wees. Daar is natuurlik ook randpartye soos die Carl Niehaus inisiatief (Areta) en die pas gestigte African Congress for Transformation deur voormalige ANC-sekretarisgeneraal Ace Magashule.
Die partye staan hoofsaaklik die sogenaamde Radical Economic Transformation (RET) as beleidsraamwerk voor. Dit is ʼn baie klein groepering en sal slegs dalk ʼn 5%-groepering kan word sou hulle steun by die EFF kan weg rokkel. Die dinamiek en charisma van ʼn Julius Malema ontbreek egter by die groepering. Dit is maar die ou “swart bewussyn”-groepering. Indien oudpresident Jacob Zuma dalk steun aan die groepering verleen, is die 5%-steun beslis ʼn moontlikheid. Dit sal dalk ook ʼn impak op die uitslag van die provinsiale verkiesing in KwaZulu-Natal inhou.
Moontlike tendense voortspruitend uit die dinamiek
Die ANC as die kern van die sentrum-radikale groepering het die meeste om te verloor. Die groepering, binne die ANC, wat nader aan die EFF staan en samewerking voorstel, kan dalk net skuif na die EFF.
Aan die ander kant kan die groepering binne die ANC wat moontlik ingevolge die media se voorstel van ʼn ANC-DA-koalisie na die sentrum-behoudende koalisie skuif. Die geelwortel hier is natuurlik die korporatiewe sakesektor wat sodanige koalisie as die mees wenslike beskou. Indien dit wel slaag, behoort daar steeds relatiewe finansiële voordele vir die rolspelers te wees. Dit word egter betwyfel of die korporatiewe sakesektor tesame met die DA-invloed enige beduidend effek op skadelike ekonomiese beleid sou kon uitoefen. (Tot dusver het hulle nie daarin geslaag om enige beduidende verandering in ekonomiese beleid te bewerkstellig nie.)
Indien die sentrum-behoudende koalisie daarin slaag om argumentshalwe meer as 40-45% steun te bekom en sommige provinsies soos Gauteng, KwaZulu-Natal tesame met die Wes-Kaap te verower, kan dit wel ʼn voorkomende impak vir skadelike wetgewing beteken. Dalk selfs die Noord-Kaap, maar dit sal met die hulp van die PA moet wees.
Dit kan ook dien as voorbereiding vir ʼn 2029-verkiesingoorwinning, veral as dieselfde regeringsukses in voorgemelde provisies as in die Wes-Kaap bereik kan word. Dit sou moontlik ʼn beter uitkoms wees as ʼn nasionale oorwinning, aangesien die kaderontplooiing en -netwerk sodanig diep gevestig is dat dit ʼn “nuwe” regering erg kan benadeel en doeltreffendheid grotendeels kan uitskakel. Dit sal selfs al in die provinsies uiters moeilik wees om die “gemors” van kader-bevoordeling uit te skakel.
- Fanie Cronje is ‘n onafhanklike inhoudskepper en het reeds twee reekse getiteld “Groeiende Federalisme” en “Landbou Allegaartjie” vervaardig en aangebied wat op AfriForumTV beskikbaar is. Hy bied ook programme op Ramkatradio aan.
Die rede waarom ek die laaste paar verkiesing nie gaan stem het nie is omdat ‘n politieke party die VF+ , wat in sy beleid artikel 235 nie die gemeenskappe ondersteun wat in die beleid beskryf word nie. Hulle kan baie stemme kry as hulle betrokke word in ons gemeenskappe. Die VF+ kan 500+ stemme kry in Pretoria as hulle regtig betrokke raak by ons gemeenskap. Dit sal nogal help met die hulle proposionele sitplekke of hoe? Die stemmery help nie rerig vir gemeenskappe wat nie self hulself wil help nie.