Watter onderwys gaan die leiers voortbring?

leierskap-span-albasters-pixabay

Foto; Pixabay.com

Deur Leonard van der Dussen – Direkteur: Raslouw Onderwys

In Suid-Afrika is vier soorte skole: Staatskole, wat vir hierdie bespreking na die skole met Model C-wortels verwys, privaatskole, tuisskole en leersentrums.

Afrikaanse staatskole en sommige Engelse staatskole, soos die tradisieryke Boy’s en Girls High-skole, verskaf nog oënskynlik goeie onderwys. Die verswakkende uitwerking van die sosialistiese staatskurrikulum bring verlaagde standaarde, al is die onderwys toegewyd. Daarbenewens is die groot getalle van hierdie skole kenmerkend en is dit massaproduksiefabrieke met oulike tradisies en dikwels goeie dissipline, maar wat massaprodukte lewer.

Privaatskole strek oor ʼn wye spektrum en volg vanweë die regering se opdringerigheid dikwels ook staatskurrikulum in die een of ander vorm, direk of soos IEB, maar met die massa-gerigte kenmerke. Waar privaatskole kleiner klasse en/of meer unieke aanbiedings lewer en soms soos onder Christene ʼn duideliker karakter het as staatskole, is daar meer geleentheid vir individualiteit en kultuurvorming.

Tuisskolers se verskeidenheid is natuurlik so wyd as die individue daarby betrokke en sal dus noodwendig meer individuele verskeidenheid oplewer. ʼn Groter mate van selfstudie as by die skole bring die waarskynlikheid dat die kinders grootmense word met meer eie denke en inisiatief as wat die massaprodukskole lewer.

Suid-Afrika het ʼn tradisie van eenvormige skooldrag wat in staatskole en die meeste privaatskole geld. Dit het voordele vir dissipline, eenheidsgevoel en trots. Die persepsie van leersentrums, waar skoolklere selde gedra word, is dus dat dit minder gedissiplineerd is en vir bedorwe of rebelse kinders ingestel is. Leersentrums is soms in kantoorgeboue of beknopte huise gevestig en doen min vir buitemuurse aktiwiteite. Die waarneming is dat praktyke soos rook en persoonlike slordigheid meer opvallend by leersentrums is.

Daar is ook ʼn verskynsel dat onafhanklike, kleiner privaatskole proporsioneel ʼn groter aantal leerlinge het, wat meer aandag benodig waar sulke skole in die skadu van sterk Model C-skole opkom, vir byvoorbeeld sterker Christelike beklemtoning. Kleiner skole bied egter ook aan die akademies sterker leerling meer direkte kontak met die onderwyser, met geleentheid om individuele vordering te versterk, belangstellings uit te bou en meer te doen as wat in ʼn massaskool moontlik is.

Die vraag is watter onderwysformaat die leiers en mense wat uitstaan gaan voortbring?

Staats- en privaatskole beklemtoon puntebehaling deur eksamenvoorbereiding, pleks van die leerproses, asook prestasies van sportspanne en afrigting word toenemend professioneel aangebied in klaar-gevormde formaat. Lewer die massastelsel met sy oënskynlike krag leiers en inisiatief op, of nabootsers met gemiddelde vaardighede wat nie juis uitstyg nie?

In hierdie lig ontstaan daar ʼn moontlikheid dat die voorlopers en uitstygers dalk eerder in die minder glansryke privaatskooltjie en dalk selfs die leersentrum gekweek word. Sinies beskou, sal dit beteken dat die leierskorps uit die kinders wat harder as ander moet werk om bo uit te kom en andersyds uit die rebelle gaan kom wat weier om in die groot, eenvormige skooldraggeklede en reëlgedrewe instelling skool te gaan.

Is dit net sinies of moet veral Afrikaners, wat nog ʼn baie hoë premie plaas op staatskole, dalk meer aktief begin dink daaraan dat die kleiner skool, waar elkeen tot sy reg kom, noodsaaklik is om die leiers vir sy toekoms te kweek?

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Bouwe van der Eems ·

Een van die belangrikste faktore wat die sukses van onderwys bepaal is ouersbetrokkenheid. Dis hier waar model-C skole en kleiner privaatskole ‘n voordeel het. In die groot en duur privaatskole betaal die ouers baie geld en gee die verantwoordelikheid heeltemal oor aan die skool. Geen ouers nodig nie. Die model-C skole vereis egter dat ouers betrokke moet wees in die beheerliggaam. In kleiner skole is daar nie genoeg geld vir die skool om alles te doen nie, en daarom moet vrywillige ouers dikwels uithelp met sekere take. In tuisonderwys is die ouers nog meer betrokke.

Katryn ·

Regtig ‘n on-wetenskaplike studie wat op niks gebasseer is nie. Leiers kan uit enige area kom.

Disselboom ·

Lyk na ‘n mening gebaseer op waarnemings, waarop die man seker geregtig is? Kom ons bewys hom dan verkeerd as ons kan. Katryn se opmerking lei nou tot die volgende vraag, naamlik waar is die (Afrikaner)-leiers dan?

Kaufman ·

Ek stem met die skrywer saam. Kleiner skooltjies bied baie meer geleentheid vir ontwikkeling want die kind kry meer geleentheid om n groter verskeidenheid rolle te speel. In n groot skool key net die enkeles heel bo baie van hierdie geleenthede.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.