Watter rigting gaan Suid-Afrika in die toekoms inslaan?

dr-leopold-scholtz-kruispaaie

Dr. Leopold Scholtz. Foto: Reint Dykema.

Vir lesers van dié artikel sal daardie vraag op ’n aantal vlakke beantwoord word. Dit gaan oor sake soos (nie noodwendig in volgorde van belangrikheid nie) die bestryding van misdaad en korrupsie, ideologies-rigiede toepassing van regstellende aksie, grondonteiening sonder vergoeding, die onafhanklikheid van die howe en die media, die erkenning van die plek wat Afrikaans en ander minderheidstale in die openbare domein inneem, gesonde staatsbestuur, ekonomiese groei – noem maar op.

Toe Cyril Ramaphosa vyf maande gelede as president van Suid-Afrika ingehuldig is, het sommige mense gemeen (dalk is gehóóp ’n beter woord) dat dit ’n nuwe begin sou beteken ná die nege jaar durende nagmerrie van Jacob Zuma se bewind. Zuma was nie alleen volstrek onbekwaam nie; hy was deurtrek van die korrupsie en het Suid-Afrika aan die hoogste bieërs – in dié geval die familie Gupta – verkoop.

Meer nog, hy het sy eie magsposisie in die ANC probeer beveilig deur aktief na die guns van die Afrikanistiese vleuel van die party te vry. Dat die wildste ekstremiste in die vorm van Julius Malema en die EFF in die proses van die wa afgespring het, was nie aan hom te wyte nie, maar aan die feit dat Malema se magsbelustheid ’n gevaar vir Zuma geword het.

Malema het Zuma om suiwer magspolitieke redes uit die ANC verdryf. Daar was geen prinsipiële verskille tussen die twee nie.

Zuma se skrikbewind het intussen tot ’n einde gekom. Of hét dit?

Ramaphosa se greep op die ANC is steeds flenterdun, iets wat ’n mens jou hart laat vashou. Toe die ANC se kongres hom op 18 Desember verlede jaar as Zuma se opvolger as leier aanwys, was dit met ’n meerderheid van slegs 179 stemme uit ’n totaal van 4 701.

Hy is gedwing om David Mabuza, een van sy ergste mededingers, as visepresident aan te stel. Bowendien het die kongres die Afrikanis Ace Magashule in die sleutelpos van ANC-sekretaris-generaal aangewys.

Reg van die begin af was sy bewind dus wankelrig. Daarna het Zuma luidens berigte met ’n aktiewe veldtog in sy eie tuisprovinsie, KwaZulu-Natal, begin om Ramaphosa te ondermyn.

En in die Vrystaat, waar Ace Magashule as vorige premier groot invloed in die plaaslike ANC het, is ’n inisiatief aan die gang om Ramaphosa se verkiesing ongeldig te laat verklaar. Destyds is 28 Vrystaatse ANC-takke weens beweerde ongereeldhede gekeer om aan die verkiesing deel te neem. Nou word aangevoer dat 15 van die 28 takke onregmatig van die verkiesing uitgesluit is.

Na hul mening moet die nasionale ANC weer oor ’n leier stem. Hulle hoop dat Ramaphosa dan sal verloor en dat ’n Afrikanis – dalk oudmin. Nkosazana Dlamini-Zuma (Jacob Zuma se gewese vrou) – die pyp kan rook.

Ramaphosa het sedert sy bewindsoorname geen ander keuse gehad as om versigtig te trap nie, maar ’n aantal dinge gedoen wat rasionele mense hoop gee.

Enersyds moes hy byvoorbeeld toegee aan die ANC se wens om grondonteiening sonder vergoeding as regeringsbeleid te aanvaar. Aangesien die ANC-kongres dit as beleidspunt aanvaar het, het hy nie veel van ’n keuse gehad nie.

Andersyds het hy ’n voorwaarde gestel: Dit mag nie die ekonomie of voedselvoorsiening benadeel nie. En aangesien enigiemand met ’n greintjie verstand bo alle twyfel weet dít is presies wat gaan gebeur indien dié beleid daadwerklik toegepas word, is dit twyfelagtig of Ramaphosa gaan toelaat dat dit gebeur.

Bowendien verneem ek van ʼn onberispelike bron dat hy onmiddellik agter die skerms regsadvies ingewin het oor hoe om die ANC-wens te ontwyk. Dis ’n sterk aanduiding dat hy, tensy hy gedwing word, die standpunt nie in die praktyk gaan bring nie.

As regsgeleerde en medeskrywer van die Grondwet kan vermoed word (let op die versigtigheid in die woord vermoed) dat Ramaphosa nie so geesdriftig as Zuma die fondamente van die Grondwet sal ondergrawe nie.

En die feit dat hy die moeite gedoen het om die Afrikanerbond – nogal deels in Afrikaans – te gaan toespreek, bied ook ’n sprankie hoop. Dis in elk geval ’n voet in die deur waarvan ’n mens dalk vorentoe met vrug gebruik kan maak.

Tog, soos die Bybel sê, moet op prinse (en ANC-leiers) nie vertrou nie. Eers moet Ramaphosa die politieke magstryd in swart geledere in twee opsigte wen.

In die eerste plek sal hy die voortdurende pogings van die Afrikanistiese vleuel om hom te pootjie, moet fnuik. Dit sal geen maklike taak wees nie, gesien die duidelike krag van dié groep.

Wat dit des te meer sal bemoeilik, is die feit dat die Afrikaniste in die praktyk min of meer saamval met die korrupte groep, dié wat meen dis nou húl beurt om te “eet”. Daarmee stem hulle ooreen met wat in talle ander Afrikalande gebeur het, waar die bewindhebbers meen die staat bestaan om (deur húlle, natuurlik) gemelk te word, eerder as instrument om die bevolking te ontwikkel.

Dis nie te sê dat álle Afrikaniste noodwendig korrup is nie. My waarneming is ewenwel dat die twee groepe breedweg saamval.

Dit plaas Ramaphosa in ’n nadeel teenoor mense soos Zuma, Mabuza en Magashule. Van laasgenoemdes kan diegene wat die ANC bloot as ’n voertuig sien om by die trog uit te kom meer voordele verwag as van die Ramaphosa-kamp wat korrupsie juis wil beveg.

Maar daar is nog ’n aspek wat in gedagte gehou moet word. Indien Ramaphosa die interne magstryd in die ANC wen, bestaan die moontlikheid dat talle Afrikaniste (korrup al dan nie) na die EFF kan wegbreek.

Tot dusver het Malema se vuurvreterhouding oor grond en sy haat teenoor die nieswartes luidens peilings nie vreeslike wins vir die EFF opgelewer nie. Dieselfde peilings wys egter dat die EFF se gedagtegoed potensieel deur veel meer swartes gedeel word.

Skeur die ANC met ’n beduidende deel wat na die EFF (of ’n ander Afrikanistiese party) oorloop, kan dit Ramaphosa se relatiewe rasionele benadering heeltemal onderploeg.

Let wel: Ek is geen profeet nie. Ek het ook by wyse van spreke geen kristalbal waarmee ek die toekoms feilloos kan voorspel nie.

Wat ek sê, is dat dié soort dinge kán gebeur, en dat ’n mens in ons land maar met een oog oop moet slaap.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Rupert Ashford ·

Die probleem is dit is ‘n Afrika ding. Geen Afrika land het homself nog ooit kon omdraai of regruk as hy eers begin gly het nie. Ons het 25 jaar gelede gedink ons sal nie “nog ‘n Afrika land” word nie maar suksesvol wees.

Paul ·

En Ramaphosa, as hy wel al die aanslae teen hom oorleef en na volgende jaar se verkiesing president bly, daarna ook vir ‘n tweede termyn, gaan, met al die interne gevegte, die tyd genoeg wees om die skip om te draai? Ons moet onthou, met Mabuza en Ace, ook Duarte wat oor hom waak, gaan die taak nie makliker wees as tot op hede nie.Teen daardie tyd het die skip dalk al gestrand en is hy net betyds om die wrakstukke op te tel.

Koos1 ·

Spike daar staan 200 “Malemas” agter hom om sy plek in te neem.
Die probleem is nie Malema as sulks nie, maar wel sy onderbou. Hy is net ‘n spreekbuis vir sy party.

DNS Vlakvark van Wêreldkompetisiewedrenhoop ·

Dr. Scholtz, groot dankie vir u volgehoue insette.
“In South Africa there is never a dull moment.” Al die onsekerhede en intiges in die land mergel die bevolking se energie uit. Dit maak dat Suid-Afrikaners se fokus op ekonomiese wêreldkompeteerbaarheid vir die verdien van buitelandse valuta vir voorspoed, nou gerig word op politieke snert. Daar is net één oplossing: raak ontslae van die ANC-DNS-gene wat ook voorkom in die EFF. Die vraag is “Hoe?” Na my beskeie mening is die ANC en/of die EFF eenvoudig nie in staat om die Suid-Afrikaanse nasie te lei tot ekonomies wêreldkompeteerbaarheid nie. Finish en klaar.

Hendrik ·

Dit is ooglopend dat selfbestuur van homogene gebiede die oplossing is. Ek weet mense skop en skree teen die idee want dit beteken dat die manne hulself moet lig vanaf hul gemakstoele voor die DSTV.

Thinus Erasmus ·

Hendrik daar kan ook ‘n gedeelte DSTV land wees, remotely in SA

Dennis ·

Dit is die enigste oplossing. Mense gaan gedwing word om op te staan uit hulle gemaksone soos hulle eiendom, pensioen en beleggings in direkte gevaar gaan kom en hulle hul werk en inkomste verloor.

Eish ·

Ek is van mening dat die artikel n goeie, realistiese, dog uiters besadigde moontlikheid is. Die werklikheid egter, gaan net meer in “Technicolour” beleef word met moord en doodslag sentraal, verarming wesenlik en tweedeklasburgerskap wat verswak na derdeklas uitgeworpenheid. Die feit dat Ramaphosa met die Afrikaner Bond gaan gesels het, is niksseggend.
Hul is tien keer kleiner as Afriforum, dus meer as twintig keer kleiner as Solidariteit, met n gemiddelde lede ouderdom van duskant 80. Verder is hul invloed beperk tot die ouetehuis se voordeur. Ek is van mening dit was slegs n welwillendheidsbesoek aan paar eertydse boedelberederaars.

Gerhard ·

Suid-Afrika gaan net die selfde rigting inslaan as wat dit al vir 25 jaar inslaan, onbevoegdheid, rasstellende aksie, BEE, blanke verdrukking. Grond onteiening kom al sou C.R. dit probeer stop, wat debatteerbaar is, sal hy ten beste dit kan uitstel. As Afrikaners nie gou ‘n manier vind om homself ten volle te regeer nie sterf hy uit.

Willem ·

En die ergste van als is, Cyril Ramaphosa en sy ANC vee hulle aan die ekomoniese aanwysers af.

Jerry ·

SA is stadig maar seker oppad na n kapitalistiese sosialistiese staat. CR het met al die ondermyning uit eie en opposisie geledere nou n “laat Gods water oor Gods akker loop” houding ingeneem, bedoelende dat dit hom meer gaan baat deur nie in te meng by die verloop van sake soos met die grondonteiening proses. Die proses toon reeds die potensiaal om op sy eie die kwessie rondom die onreg van die verlede reg te stel en om ook sommer terselftertyd die Afrikaners wat nie versoenend opgetree het nie en nie sosiale samewerking gegee het nie vir eens en vir altyd op hulle plek te sit. Dit is waarheen SA oppad is en dit gaan sonder die Afrikaner geskied wat op sy eie en sonder grond gaan wees. Ek het gewaarsku dat as ons vir CR ondermyn en hy misluk dan gaan SA misluk en die Afrikaner gaan die groot verloorder wees. Ons moet hoop en bid dat CR nie misluk nie en dat hy dit iewers in sy hart sal vind om die Afrikaner te vergewe vir hulle leiers se ondermynende gedrag.

Johanna ·

Dr. Scholtz, dankie vir u objektiewe en gebalanseerde kommentaar. Ons kan maar net hoop en bid dat hier ‘n positiewe uitkoms gaan wees, want die spanning, frustrasie en moedeloosheid in die land loop hoog. My kleinkinders is tans op universiteit en ek hoop van harte dat hulle sal emigreer sodra hulle gekwalifiseer is, want ek glo nie dat omstandighede in ons land gaan verbeter nie.

Mark ·

Dr. Scholtz, dit sal fantasties wees as u n YOUTUBE kanaal oopmaak. Bring jou stem in, so ook internasionaal.

Lukie Carelsen ·

Nou praat jy! Dit sal ‘n wenner wees en soveel meer mense sal Leopold Scholtz se wyse woorde kan hoor.
Asseblief Dr Scholtz, oorweeg dit sterk, u het baie waardevolle en betekenisvolle menings om met die wêreld te deel,

Jan ·

Afrika rigting. Suid-Afrika lyk al klaar soos al die ander Afrika lande. En so gaan dit bly….mits die witman nie opstaan en homself ‘n onafhanklike land verklaar nie. Tot dan, geniet Afrika soos hoe dit is.

Lou ·

Suid Afrika kan in een van twee rigtings beweeg, en niemand weet watter rigting dit gaan wees tot na die verkiesing nie. CR het op die oomblik nie ‘n ander keuse as om die idee van onteiening van grond te ondersteun nie, en selfs te laat blyk dat hy aan die voorpunt daarvan is nie. Die algehele meerderheid van die kiesers sien dit as die enigste faktor wat gaan bepaal wie hulle as leier wil hê, en Malema het ‘n groot kans om genoeg stemme te werf as CR dit nie doen nie. Ons hoop dat CR die algehele oorwinnaar sal wees, sonder die moontlikheid van ‘n koalisie met die EFF, en dan regtig dié skip kan omdraai. Kan ons hoop dat CR die regte besluit sal neem, en ‘n einde te bring aan dié chaos waarrin SA gedompel is, of word hy voorgeskryf deur Sjina om uit te verkoop…..dit lyk of daar meer as twee rigtings is…,Die ander rigting is natuurlik dié een waarop Zimbabwe is….

Gerhard ·

Daar is net een moontlike rigting waarin SA kan beweeg, die selfde rigting waarin dit al van 94 beweeg. Agteruit.

Paul ·

Dr Leopold, jy het tienteeneen die nuus al in die media gelees; Betreffende grondonteiening het Koning Goodwill vanmiddag gesê, dat as grond van die Ingonyama Trus sonder vergoeding geneem word, onderneem hy dat Kwazulu Natal van SA sal wegbreek en sal hy daar vir die Zulus ‘n nuwe tuisland stig.

Thinus Erasmus ·

Paul ja, solank die Koning net onthou dat sy voorvader Dingaan ‘n ooreenkoms met Piet Retief geteken het waarin ‘n stuk van daardie grond van hom aan die Voortrekkers verkoop is, al het hy hul daarna amper uitgewis! So ‘n deel van KwaZulu Natal is wettig Boere grond.
Nietemin sal ons die nasate nie die sondes van hul vaders aan mense toereken nie, solank hul dieselfde gesindheid teenoor ons huldig!
O ek verneem hy het reeds ons herrinner dat ons slegs besoekers is, seker ook die Indiers, en sekerlik dit wat ek noem nie in berekening bring nie: HY kyk net na homself en SY mense.
Dus al sou ons dieselfde doelstelling het beteken dit nie dat die Zulus of hul Koning ons sal steun nie, is versoening moontlik?

JAN ·

Kwessie is of die Afrikaner as volk sy fatale koers en rigting gaan verander nadat John en Koot Vorster begin het met bate beslaglegging van tuislande en kulturele onteiening van Afrikaners. – waarmee oorlede Johan Heyns et al tot sy einde besig was?
Dis presies Trump se oorlewing stryd .
Buitelandse en binnelandse selfbeskikking is ons enigste hoop vir voorbestaan as volk.

James ·

Met respek Leopoldt – die vraag is nie soos per die opskrif: “Watter rigting gaan Suid-Afrika in die toekoms inslaan: nie.

Die rigting is REEDS ingeslaan: Marxisme, vermeng met Fascisme.

Die enigste vraag wat oorbly is: ” Hoe gaan dit uitspeel?”

Ek voorspel uitgebreide anargie. En nie net tussen wit en swart nie, maar etnies.

Die antwoord WAS: Selfbeskikking.

Daardie deur is egter dekades gelede al toegemaak…

Roelf ·

Goeie artikel. Ons land is voorwaar in ‘n gemors maar vir almal wat in selfbeskikking glo as oplossing verduidelik asseblief wat daarmee bedoel word. Watter area in Suid-Afrika behoort afgesonder te word vir “selfbeskikking” wat deur wie geregeer gaan word? Sal net wit Afrikaanssprekendes in die regering mag dien? Wat sal die grondwetlike regte wees van inwoners wat nie deel wil wees van die selfgeregeerde staat nie? Sal hulle die gebied dan gedwonge moet verlaat? Wie gaan dan die koeie melk en die trekkers dryf? Wat sal die geografiese grense van so ‘n gebied wees? In kort: Hoe gaan dit in die praktyk werk? Het julle ‘n mega-Orania in gedagte?

JAN ·

Ons eie arbeid sal ons vry maak. dit sal ons tuiste bepaal.
Selfbeskikking is werk nie bedel nie.
Net soos oorlog baseer is op eie arbeid en nie huurtroepe nie.
Vreemde trekarbeid is ‘Globalisasie ‘ wat nou besig is om te sterf.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.