Watter rigting gaan Suid-Afrika in die toekoms inslaan?

dr-leopold-scholtz-kruispaaie

Dr. Leopold Scholtz. Foto: Reint Dykema.

Vir lesers van dié artikel sal daardie vraag op ’n aantal vlakke beantwoord word. Dit gaan oor sake soos (nie noodwendig in volgorde van belangrikheid nie) die bestryding van misdaad en korrupsie, ideologies-rigiede toepassing van regstellende aksie, grondonteiening sonder vergoeding, die onafhanklikheid van die howe en die media, die erkenning van die plek wat Afrikaans en ander minderheidstale in die openbare domein inneem, gesonde staatsbestuur, ekonomiese groei – noem maar op.

Toe Cyril Ramaphosa vyf maande gelede as president van Suid-Afrika ingehuldig is, het sommige mense gemeen (dalk is gehóóp ’n beter woord) dat dit ’n nuwe begin sou beteken ná die nege jaar durende nagmerrie van Jacob Zuma se bewind. Zuma was nie alleen volstrek onbekwaam nie; hy was deurtrek van die korrupsie en het Suid-Afrika aan die hoogste bieërs – in dié geval die familie Gupta – verkoop.

Meer nog, hy het sy eie magsposisie in die ANC probeer beveilig deur aktief na die guns van die Afrikanistiese vleuel van die party te vry. Dat die wildste ekstremiste in die vorm van Julius Malema en die EFF in die proses van die wa afgespring het, was nie aan hom te wyte nie, maar aan die feit dat Malema se magsbelustheid ’n gevaar vir Zuma geword het.

Malema het Zuma om suiwer magspolitieke redes uit die ANC verdryf. Daar was geen prinsipiële verskille tussen die twee nie.

Zuma se skrikbewind het intussen tot ’n einde gekom. Of hét dit?

Ramaphosa se greep op die ANC is steeds flenterdun, iets wat ’n mens jou hart laat vashou. Toe die ANC se kongres hom op 18 Desember verlede jaar as Zuma se opvolger as leier aanwys, was dit met ’n meerderheid van slegs 179 stemme uit ’n totaal van 4 701.

Hy is gedwing om David Mabuza, een van sy ergste mededingers, as visepresident aan te stel. Bowendien het die kongres die Afrikanis Ace Magashule in die sleutelpos van ANC-sekretaris-generaal aangewys.

Reg van die begin af was sy bewind dus wankelrig. Daarna het Zuma luidens berigte met ’n aktiewe veldtog in sy eie tuisprovinsie, KwaZulu-Natal, begin om Ramaphosa te ondermyn.

En in die Vrystaat, waar Ace Magashule as vorige premier groot invloed in die plaaslike ANC het, is ’n inisiatief aan die gang om Ramaphosa se verkiesing ongeldig te laat verklaar. Destyds is 28 Vrystaatse ANC-takke weens beweerde ongereeldhede gekeer om aan die verkiesing deel te neem. Nou word aangevoer dat 15 van die 28 takke onregmatig van die verkiesing uitgesluit is.

Na hul mening moet die nasionale ANC weer oor ’n leier stem. Hulle hoop dat Ramaphosa dan sal verloor en dat ’n Afrikanis – dalk oudmin. Nkosazana Dlamini-Zuma (Jacob Zuma se gewese vrou) – die pyp kan rook.

Ramaphosa het sedert sy bewindsoorname geen ander keuse gehad as om versigtig te trap nie, maar ’n aantal dinge gedoen wat rasionele mense hoop gee.

Enersyds moes hy byvoorbeeld toegee aan die ANC se wens om grondonteiening sonder vergoeding as regeringsbeleid te aanvaar. Aangesien die ANC-kongres dit as beleidspunt aanvaar het, het hy nie veel van ’n keuse gehad nie.

Andersyds het hy ’n voorwaarde gestel: Dit mag nie die ekonomie of voedselvoorsiening benadeel nie. En aangesien enigiemand met ’n greintjie verstand bo alle twyfel weet dít is presies wat gaan gebeur indien dié beleid daadwerklik toegepas word, is dit twyfelagtig of Ramaphosa gaan toelaat dat dit gebeur.

Bowendien verneem ek van ʼn onberispelike bron dat hy onmiddellik agter die skerms regsadvies ingewin het oor hoe om die ANC-wens te ontwyk. Dis ’n sterk aanduiding dat hy, tensy hy gedwing word, die standpunt nie in die praktyk gaan bring nie.

As regsgeleerde en medeskrywer van die Grondwet kan vermoed word (let op die versigtigheid in die woord vermoed) dat Ramaphosa nie so geesdriftig as Zuma die fondamente van die Grondwet sal ondergrawe nie.

En die feit dat hy die moeite gedoen het om die Afrikanerbond – nogal deels in Afrikaans – te gaan toespreek, bied ook ’n sprankie hoop. Dis in elk geval ’n voet in die deur waarvan ’n mens dalk vorentoe met vrug gebruik kan maak.

Tog, soos die Bybel sê, moet op prinse (en ANC-leiers) nie vertrou nie. Eers moet Ramaphosa die politieke magstryd in swart geledere in twee opsigte wen.

In die eerste plek sal hy die voortdurende pogings van die Afrikanistiese vleuel om hom te pootjie, moet fnuik. Dit sal geen maklike taak wees nie, gesien die duidelike krag van dié groep.

Wat dit des te meer sal bemoeilik, is die feit dat die Afrikaniste in die praktyk min of meer saamval met die korrupte groep, dié wat meen dis nou húl beurt om te “eet”. Daarmee stem hulle ooreen met wat in talle ander Afrikalande gebeur het, waar die bewindhebbers meen die staat bestaan om (deur húlle, natuurlik) gemelk te word, eerder as instrument om die bevolking te ontwikkel.

Dis nie te sê dat álle Afrikaniste noodwendig korrup is nie. My waarneming is ewenwel dat die twee groepe breedweg saamval.

Dit plaas Ramaphosa in ’n nadeel teenoor mense soos Zuma, Mabuza en Magashule. Van laasgenoemdes kan diegene wat die ANC bloot as ’n voertuig sien om by die trog uit te kom meer voordele verwag as van die Ramaphosa-kamp wat korrupsie juis wil beveg.

Maar daar is nog ’n aspek wat in gedagte gehou moet word. Indien Ramaphosa die interne magstryd in die ANC wen, bestaan die moontlikheid dat talle Afrikaniste (korrup al dan nie) na die EFF kan wegbreek.

Tot dusver het Malema se vuurvreterhouding oor grond en sy haat teenoor die nieswartes luidens peilings nie vreeslike wins vir die EFF opgelewer nie. Dieselfde peilings wys egter dat die EFF se gedagtegoed potensieel deur veel meer swartes gedeel word.

Skeur die ANC met ’n beduidende deel wat na die EFF (of ’n ander Afrikanistiese party) oorloop, kan dit Ramaphosa se relatiewe rasionele benadering heeltemal onderploeg.

Let wel: Ek is geen profeet nie. Ek het ook by wyse van spreke geen kristalbal waarmee ek die toekoms feilloos kan voorspel nie.

Wat ek sê, is dat dié soort dinge kán gebeur, en dat ’n mens in ons land maar met een oog oop moet slaap.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

25 Kommentare

jongste oudste gewildste
Rupert Ashford

Die probleem is dit is ‘n Afrika ding. Geen Afrika land het homself nog ooit kon omdraai of regruk as hy eers begin gly het nie. Ons het 25 jaar gelede gedink ons sal nie “nog ‘n Afrika land” word nie maar suksesvol wees.

Spike

Daar moet op ñ manier van malema ontslae geraak word

DNS Vlakvark van Wêreldkompetisiewedrenhoop

Dr. Scholtz, groot dankie vir u volgehoue insette. “In South Africa there is never a dull moment.” Al die onsekerhede en intiges in die land mergel die bevolking se energie uit. Dit maak dat Suid-Afrikaners se fokus op ekonomiese wêreldkompeteerbaarheid vir die verdien van buitelandse valuta vir voorspoed, nou gerig word op politieke snert. Daar is net één oplossing: raak ontslae van die ANC-DNS-gene wat ook voorkom in die EFF. Die vraag is “Hoe?” Na my beskeie mening is die ANC en/of die EFF eenvoudig nie in staat om die Suid-Afrikaanse nasie te lei tot ekonomies wêreldkompeteerbaarheid nie. Finish en… Lees meer »

Hendrik

Dit is ooglopend dat selfbestuur van homogene gebiede die oplossing is. Ek weet mense skop en skree teen die idee want dit beteken dat die manne hulself moet lig vanaf hul gemakstoele voor die DSTV.

Eish

Ek is van mening dat die artikel n goeie, realistiese, dog uiters besadigde moontlikheid is. Die werklikheid egter, gaan net meer in “Technicolour” beleef word met moord en doodslag sentraal, verarming wesenlik en tweedeklasburgerskap wat verswak na derdeklas uitgeworpenheid. Die feit dat Ramaphosa met die Afrikaner Bond gaan gesels het, is niksseggend.
Hul is tien keer kleiner as Afriforum, dus meer as twintig keer kleiner as Solidariteit, met n gemiddelde lede ouderdom van duskant 80. Verder is hul invloed beperk tot die ouetehuis se voordeur. Ek is van mening dit was slegs n welwillendheidsbesoek aan paar eertydse boedelberederaars.