Watter rol moet Afrikaners in SA speel?

afrikaner vraagteken

Die ontwikkelingspotensiaal wat in Afrikaners opgesluit sit, is enorm.

Een van die sentrale temas in die huidige Suid-Afrikaanse politiek is die vraag wat die rol is wat die Afrikaners in die land moet speel. Onder Afrikaners wissel dit van diegene wat ’n eie, aparte volkstaat wil hê tot dié wat meen die volk moet weens sy aandeel aan die onreg van apartheid beskeie wees as hy aan die nasionale politiek wil deelneem.

Op 15 Mei 1917 het genl. Jan Smuts ’n merkwaardige toespraak gehou by ’n banket wat die Britse Laerhuis en Hoërhuis ter ere van hom aangebied het en hier behoorlik relevant is vir vandag. Smuts het vroeër dié jaar in Londen aangekom om Suid-Afrika by die Rykskonferensie van 1917 te verteenwoordig, en hy is toe ook tot lid van die “Imperial War Cabinet” en die Britse oorlogskabinet benoem.

Voordat ons na die inhoud van die toespraak kyk, is dit nodig om die historiese konteks te vermeld. Een van Smuts se basiese doelstellings in die twee en ’n half jaar dat hy in Europa deurgebring het, was om Suid-Afrika se onderhorige posisie in die Britse Ryk af te skud en hom – weliswaar binne Ryksverband – ’n gelyke status met Brittanje te laat kry. “Ik kan niet en zal nooit vergeten dat wij vrije republieken waren,” skryf hy in April 1917 aan sy vrou.

Teen dié agtergrond het Smuts die heuningkwas in sy toespraak kwistig gebruik en die Britte min of meer die hemel in geprys. Die Britse Empire is eintlik geen Empire nie, het hy gesê, en vervolg in woorde wat ook in die huidige Suid-Afrika moet weerklink:

“All the empires that we have known in the past and that exist today are founded on the idea of assimilation, of trying to force different human material through one mould so as to form one nation. Your whole idea and basis is entirely different. You do not want to standardize the nations of the British empire. You want to develop them into greater nationhood…

“And even nations who have fought against you, like my own, must feel that they and their interests, their language, their traditions, and all their cultural interests are as safe and secure under the British flag as those of the children of your household and your own blood.”

Streng gesproke, was dit natuurlik ’n ongenuanseerde stelling. Langs Smuts aan die tafel het lord Milner gesit, die man wat anderhalf dekade tevore sy bes gedoen het om die Afrikaners “through one mould” saam met die Engelse te dwing (einde 1916 het Smuts nog minagtend na hom verwys as “daardie half-Duitser Milner”).

Maar Smuts wou die Britte beweeg om die Britse Empire om te skep van die eenvormige Milner-keurslyf tot ’n Statebond van gelyke, onafhanklike lande, elkeen met sy eie tradisies, wat vrywillig weens gedeelde belange saamwerk. En dus het hy ’n hoogs idealistiese, selfs onrealistiese beeld van die Empire geskep.

Smuts het wel in sy doel geslaag. By die Rykskonferensie van 1917 is die Dominiums “as autonomous regions of an Imperial Commonwealth” erken. Toe die Vredeskonferensie van Parys vroeg in 1919 begin, het Suid-Afrika en die ander dominiums (nes ander, kleiner lande) sy eie twee verteenwoordigers – Smuts en genl. Louis Botha – daar gehad. En toe die vrede op 28 Junie 1919 in die Spieëlsaal van die paleis te Versailles geteken word, het die handtekeninge van Botha en Smuts as verteenwoordigers van die Unie van Suid-Afrika naas dié van ander lande verskyn.

Hiervandaan was dit ’n reguit pad na die Balfour-Deklarasie van 1926 en die Statuut van Westminster van 1931, waar die praktyk wat te Versailles toegepas is, ook staatsregtelik en volkeregtelik in beton gegiet is. Weliswaar is dié vrug deur genl. J.B.M. Hertzog se Nasionale Party-regering gepluk, maar die boom is deur Smuts geplant.

Op ’n eiesoortige manier geld die oorwegings van destyds tans ook. As ’n mens aanvaar dat ’n soewerein onafhanklike Afrikaner-volkstaat prakties onhaalbaar is, bly daar min of meer twee alternatiewe oor.

Die een is die ideaal wat die ANC in die praktyk volg, naamlik dat die Afrikaners dankbaar moet wees dat hulle nie in 1994 in die see gedryf is nie en dat hulle nie op hul eie kulturele ruimte moet aandring nie. Dat Suid-Afrika gekenmerk word deur ’n Afrika-identiteit, waar die Afrikaners hoogstens geduld word – en dit bowendien met ’n wisselende mate van ongeduld.

Die ander is min of meer die pad wat Smuts in 1917 vir die Britse Ryk in gedagte gehad het: Erkenning vir die feit dat Suid-Afrika ’n etnies diverse land is met verskillende kulturele identiteite, en dat dié erkenning deur die praktiese regeringsbeleid gereflekteer moet word.

Met ander woorde, hou op om Afrikaans se regte (wat trouens deur die Grondwet verleen word; dis geen voorreg nie) in die praktyk te beperk. Hou op met die druk om Afrikaanse skole, kolleges en universiteite te verengels.

Soos ander “bevrydingsbewegings” in Afrika, betuig die ANC trouens slegs teoretiese lippediens aan die ideaal van Afrikatale. Of dit nou Engels, Portugees of Frans is, in die praktyk word die gewese koloniale taal ten koste van die inheemse tale bevorder.

’n Sekere logika is weliswaar onderliggend daaraan. Die meeste Afrikastate is etnies só divers dat die koloniale tale as ’n oorkoepelende, verenigende faktor beskou word – wat terselfdertyd die regerende party se mag versterk. Om ruimte vir aparte identiteite en tale te laat word gesien as die opening vir middelpuntvliedende kragte wat die state uitmekaar kan skeur en ’n bedreiging vir die regerende party se mag kan vorm.

Maar dis kortsigtig. Waarom bestaan die Statebond ’n eeu later steeds? Omdat daar geen dwang is nie. Die lidlande geniet maksimum vryheid en werk vrywillig en in hul eie belang saam.

Dit kan ook vir Suid-Afrika as sodanig geld. Die Afrikaners is deur hul werkkrag en kundigheid ’n bate vir die land. Die ontwikkelingspotensiaal wat in dié mense opgesluit sit, is enorm.

Maar jy ontsluit dit nie deur hulle om elke draai in die tande te skop nie. Inteendeel, deur aan hulle die ruimte te gun om hulself te wees, bind jy hulle juis aan die gemeenskaplike vaderland.

Maar só ’n beleid verg insig – wat die ANC helaas te min het.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 19:30 en 05:30.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.

10 Kommentare

Hein ·

Selfbeskiking gebiede soos Kleinfontein, Orania en ander is ‘n natuurlike bevolking verskuiwing wat gebeur. Mense wat in die gebiede woon ervaar alreeds die voordeel in terme van veiligheid en werkskepping. Dit gebiede groei stadig maar seker. Ek het in die laaste vyfjaar ‘n groei gesien en ook die verjonging van die bevolking in hierdie gebiede. Rol wat die Afrikaner moet speel? Bly in die arbeidsmag so lank as moontlik en groei hierdie gebiede.

Stephan ·

Hein, ek stem volkome saam met jou. Ek het die laaste paar jaar ‘n studie gemaak van die Joodse volk en hulle kapasiteit om as volk voort te bestaan ten spyte van vervolgings en diaspora en tot die slotsom gekom dat die enkel grootste en belangrikste faktor die behoud van volksidentiteit is. Daarom se ek dat: die belangrikste faset in ‘n afrikanervoortbestaans strategie die behoud van jou identiteit is. As die assimilasie proses gevolg word, sal die hele karakter van die Afrikaner verdwyn en die omgewing se waardes geabsorbeer word.In ons geval derde wereld Afrika. Soos dit nou lyk, blyk dit miskien die waarskynlikste uitweg te wees om ‘n konsentrasie van Afrikaners te vorm deur ons eie tuislande.

Bert ·

Die een enkele belangrikste terrein waar ons assimilasie kan teenwerk is in enkelmedium skole. As Lesufi slaag is dit ‘game over’.

Disselboom ·

Bert, skole met moedertaalonderrig en eie kultuur kan ‘n belangrike rol speel, maar die manier wat dit tans as een van die reddingsmiddels voorgehou word, is inherent sosialisties en verskuil ‘n groot probleem in ons huidige Afrikanerwese, naamlik dat die gesin (die ouerhuis, en dus die ouers) se verantwoordelikheid ontduik word om kinders se lewens- en wêreldbeskouing te vorm, kinders op te voed en om ten eerste die plek te wees waar kinders die geskiedenis en die wese van die volk waarvan hulle deel is, te leer.

Die kind (en die volk) kan baie skoolgaan en indoktrinasie oorleef as hy sy geloof en volkstrots by die huis leer.

Solank ons maar net teen Lesufi en kie is (oftewel teen die ANC, teen Zuma en wie ook al), is ons nog nie regtig besig met ‘n heropbou van volksbewussyn nie, en solank ons opvoeding aan die skool wil oorlaat, is ons nog nie by die punt om self verantwoordelikheid te neem nie.

Kom ons maak ‘n begin deur hierdie jaar self te gaan lees oor Paul Kruger, en 10 Oktober vir onsself en ons kinders te belig; en dan doen ons dit as voorbereiding vir Geloftedag, om 16 Desember meer ingelig en gefokus op God se werk in te rig, as maar net nog ‘n opruirerige geleentheid om bietjie oor Afrikanerwees te gesels nie; en dan volg ons dit volgende jaar op met ‘n huis vir huis, man vir man (pa vir pa) veldtog om elkeen weer 6 April se feite en die betekenis daarvan op te haal en oor te dra.

Gert Petzer ·

Ek stem volkome saam met jou. My huidige plan is om industrie te ontwikkel in die gebiede om werk te skep. Ek beoog om dit te begin in die loop van volgende jaar in Orania.
Groete.

Bert ·

Ek is vas oortuig dat ‘n vorm van
selfstandigheid en mate van onafhanklikheid die enigste langtermyn opsie is. Die Afrikaner wat dié konsep prakties kan ontwikkel én verkoop aan ander Afrikaners sal sekerlik die grootste Afrikaner van alle tye wees.

Dewald Alberts ·

Jan Smuts was `n man met groot visie, wat vir my interessant is hoekom dit wil voorkom of hy half vergete is, dit is lankal tyd dat hy meer erkenning kry na die geleke van Gandhi, òf Mandela.

PJ ·

Gehoor, Dewald. Maar hoeveel van sy eie mense het Gandhi onwillig teen voormalige vriende ‘n oorlog in gestuur? Dit is dus nie heeltemal eenders nie.

Juan Olivier ·

Die linkses Afrikaners moet maar asimileer met die res van die RSA se mense. Vir die res van ons ons moet werk om plekke soos Kleinfontein te ontwikkel tot ‘n Boere Republiek.

Peet ·

Die Afrikaner het ‘n keuse gehad tussen ‘n burgerstaat en ‘n volkstaat terwyl die Nasionale party aan bewind was Dit het egter nie gerialiseer nie vir een of ander rede maar nou is dit hopeloos te laat

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 19:30 en 05:30.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.