Watter rol wil China in die wêreld speel?

china-vlag

Foto: PPPSDavid/Pixabay.com

Die meeste Chinese glo vandag nog in die gesegde dat jy eerder die sneeu voor jou eie deur moet wegvee, voordat jy bekommerd raak oor die ryp op jou buurman se dak.

Terwyl die wêreld onseker is oor wat ʼn Trump-administrasie vir hulle gaan inhou, hoe die talle oorloë in die Midde-Ooste en Afrika gaan uitspeel en hoe die invloed van die immigrasiekrisis, Brexit en die verval van die politieke konsensus wat na die Tweede Wêreldoorlog ontstaan het, Europa gaan verander, moet die opkoms van China nie misgekyk word nie.

Slegs ʼn paar eeue gelede was China nog die grootste ekonomiese ryk in die wêreld. Dié magtige ryk het egter tydens industrialisasie in die Weste stelselmatig agteruit begin boer. Die aanslag op die ryk Chinese kultuur, wat met Mao se opkoms in 1949 ʼn hoogtepunt bereik het, was die finale spyker in die eens magtige Chinese ryk se doodskis.

Dekades van verval en agteruitgang het tot grootskaalse armoede en agterstande in China aanleiding gegee. Die afgelope twee dekades het dinge in China egter begin verander. Die land se kommunistiese regering het talle vryemarkbeginsels sy eie begin maak en die kombinasie van goedkoop, ongereguleerde arbeid en ʼn groot internasionale mark vir goedkoop produkte, het meegebring dat Chinese nywerhede teen ʼn vinnige tempo onwikkel het en dat honderde miljoene mense binne enkele jare uit armoede gelig is.

Die media berig gereeld oor China se betrokkenheid in Afrika en hoe Chinese maatskappye eiendomme in die VSA, Europa en ander wêrelddele opkoop. Kommer oor Chinese imperialisme, of selfs ʼn soort Chinese kolonialisme, word gereeld geopper. Wil die Chinese regtig die wêreld oorneem soos wat mense soms vir mekaar langs die braaivleisvuur probeer oortuig?

Die realiteit vandag is dat die Chinese steeds ʼn volk op soek na ʼn nuwe identiteit is. Die huidige regering het wesenlike binnelandse kwessies wat hy moet hanteer en beskou internasionale deelname steeds as ʼn luukse. Die sterk Chinese selfbeeld van drie of vier eeue gelede bestaan nie meer nie en in die Chinese regering se poging om daardie selfbeeld te herwin, sien ons toenemend streeksagressie en ʼn vertoon van militêre mag soos wat die onlangse krisis in die Suid-Chinese-see bewys het.

Die Chinese regering probeer alles in sy vermoë doen om te verhoed dat ongelykhede, korrupsie en die steeds ernstige armoedekrisis in groot dele van China tot opstande onder die burgery lei. Terselfdertyd probeer die regering nasionalisme aanblaas deur in die Verre Ooste sy spiere te bult.

Of China egter werklik ʼn bedreiging vir ander lande inhou, is onseker. Professor Shi Yinhong van die Renmin Universiteit in Beijing, sê hy het vyf jaar gelede nog gedink Chinese aggressie is geen bedreiging nie, maar vandag is hy onseker daaroor.

Terwyl binnelandse uitdagings die Chinese regering nog vir lank gaan besig hou, sal een van die belangrikste internasionale vraagstukke van 2017 moet handel oor die toekomstige rol van China in vrede en in konflik en tot watter mate veral Westerse lande nou reeds daarvoor moet voorberei.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Jakobus ·

En “hul” ‘eilande’ in die Chinese see? Dis mos nou erge agressie, en kyk hoe grom hulle vir ons as ons hulle nie ter wille is nie.

scientia Munit ·

Jakobus : stem saam met jou. Die skrywer noem glad die belangrikste huidige bewys van Chinese aggressie – hul poging om beslag te le op die eilande naby Japan. Die hoogtepunt van Mao se vernietingswerk was ook nie in 1949 – dit was die jaar wat hy aanbewind gekom het. Sy vernietigings- werk het eers in die dekade daarna gevolg toe honderde duisende mense aan hongersnood gesterf het.

jaco ·

Dis n land met wet en orde en met die doodstraf. Daars ook nie iets soos amerika se 30 jaar death row nie. Dit kom sommer hulle vinnig. Meer as 1000 terregstelllings per jaar. Ek wens die ANC wat so vry na China wil net dít by China leer en in SA toepas.

Justice ·

Ek stem saam met jou Jaco – hulle tronke is ook nie sterk op menseregte nie. Hulle polisiemag is autokraties en pas die wet tot op die letter toe. Hulle polisiemag is oral sigbaar en daar is veiligheids kameras oral op straat. Jy kry daar `n definitiewe gevoel dat jy nie aan die verkeerde kant van die reg wil beland nie – sonder om geintimideerd te voel. Die mense is vriendelik en staar jou nie aan omdat jy `n Westerling is nie. Bedelaars is daar ook ongekend wat `n groot invloed tov misdaad op straat het. Ramaphosa kan gerus verby Zimbabwe kyk vir leiding.

MaWei ·

Justice, ongelukkig moet ek veskil met van jou stellings. (a) Tiwntig (20) jaar gelede het almal na jou gestaar indien jy Westers was. Vrouens het aan hul klein kinder gese: kyk die Westeling (laowai = foreigner). Nou is dit nie meer die geval nie. (b) Vyftien, en langer terug, was daar nie baie bedelaars nie. Nou krioel of wemel dit van die bedelaars. Gaan kyk maar na bv. Ninjin Nan Lu en die moltreine in Shnaghai. Vrouens bedel met babas in die arms (80% van die babas is nie die vrou se kind nie, word “gehuur”. (c) Die polise swaai die septer, MAAR korrupsie is baie hoog. Ook by die immigrasie. Byvoorbeeld, wou ek my 5 jaar visum hernu, maar het van werk verander en nie binne die voorgeskrewe 10 dae na die immigrasie gegaan en dit verklaar nie. Die hoof immigrasie beampte se toe vir my dat ek ‘n “boete” van RMB2000 betaal (hy steek toe die geld in sy sak, voor my) en reik my visum uit vir die volgende 5 jaar.
Hoe weet ek dit? Ek bly vir 22 jaar in China (Shanghai, SanLin)

Ho

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.