Watter veranderinge wil die DA nou aanbring?

Argieffoto: DA/Facebook.

Dit is werklik moeilik om altoos uit te maak hoe die DA oor enige gegewe onderwerp voel.

Onlangs is daar juis weer eens oor swart ekonomiese bemagtiging (SEB) koppe gestamp. Hul nuwe jong en belowende beleidshoof, Gwen Ngwenya, het in ’n artikel in Business Day verklaar dat die party SEB vaarwel geroep het op ’n vergadering van hul federale raad omdat dit misluk het. Liberale LP’s soos Michael Cardo en Gavin Davis – en ’n groot segment van die party se steunbasis – het hul steun aan Ngwenya en “die besluit” toegesê.

James Selfe, die party se federale raad se voorsitter, het daarna inderhaas Ngwenya se verklaring betwis en hernieude steun vir SEB uitgespreek.

“Die DA se posisie oor breëbasis-SEB is duidelik. Ons glo dat ras ’n aanduider is van wie voorheen benadeel is. Ons ondersteun – ten volle – die bedoeling en gees van SEB.”

Zwakele Mncwango, die DA se provinsiale leier in KwaZulu-Natal, het ook gesê die verwerping van SEB is onwaar.

Insgelyks kan mens talle kwessies opnoem waaroor daar hard koppe in die party gestamp word – en waaroor die party met ander rolspelers koppe stamp. Daar was byvoorbeeld Helen Zille teen Lindiwe Mazibuko oor regstellende aksie. Die nuutste een is adv. Glynis Breytenbach, Phumzile van Damme en ander leiers in die DA wat teen AfriForum en, meer spesifiek, dié burgerregte-organisasie se adjunkhoof, Ernst Roets, se standpunte oor onteiening sonder vergoeding gekant is en te velde getrek het.

Ná ’n uitmuntende verdediging van eiendomsreg, ’n deeglike en feitelik-onberispelike geskiedenisles en verwerping van die ANC se Nasionaal Demokratiese Rewolusie (NDR) deur Roets het Breytenbach gesê sy kon met niks saamstem wat hy gesê het nie. Níks nie. Van Damme het uitgesproke aanvalle op AfriForum geloods. Sommige DA-leierfigure lê feitlik uitsluitlike klem op wat Roets nié gesê het nie of ignoreer die kwessie en die ANC en EFF se klakkelose kritiek op Roets, eerder as om onteiening sonder vergoeding – die eintlike kwessie – te veroordeel.

En soos ons nou sien, is hierdie kwessies en gevegte ver van afgehandel – beide binne die DA en ook tussen die DA en ander rolspelers.

Tewens, een van die mees problematiese aspekte van die hedendaagse DA is sy noue verbintenis met die EFF. Dit was van meet af naïef om te dink die EFF gaan die korrupsievegtende krygers wees wat die DA gaan help om sukkelende munisipaliteite reg te ruk. Hoe kon ’n klomp dweepsieke, Marxistiese rassiste met hul politieke wortels in die ANC ooit werklike ten gunste van goeie regering wees? Getuig hoegenaamd enigiets daarvan dat hulle ooit harmonie in koalisieregerings sou nastreef?

Mens hoef net een keer na hul webwerf te kyk om te weet hul verderflike (en onsamehangende) ideologie is die wortel van die kwaad. Art. 26 van hul Akte van Oprigting lui soos volg: “The EFF is a radical, leftist, anti-capitalist movement.”

In Art. 29 word daar ’n paar pilare vir ekonomiese emansipasie uiteen gesit. Dit sluit, onder meer, die onteiening van grond sonder vergoeding in en die nasionalisering van die myne, banke en ander strategiese sektore van die ekonomie. Die EFF-leier en voormalige ANC-jeugleier, Julius Malema, het al telkens growwe haatspraak teen wit mense gepleeg en AfriForum se private vervolgingseenheid gaan hom oor korrupsie en bedrog vervolg. Hy het in die verlede na die afsetting van Atholl Trollip as burgemeester van die Nelson Mandelabaai Metro verwys as die “afsny van die keel van witheid”.

Tog bly die DA se leiers verdeeld en tog grootliks verknog aan die EFF. Nadat die EFF gehelp het dat Trollip verwyder is, het Maimane in ’n nuusbrief op die DA se webwerf na die “koalisie van korrupsie” tussen die EFF en ANC verwys. Die vraag is hoekom die EFF se korrupsie oorgesien is toe hulle die DA bygestaan het, maar nou onaanvaarbaar is as hulle in die ANC se kraal is. Klaarblyklik is hulle ook nie te korrup vir Solly Msimanga, uitvoerende DA-burgemeester van die Stad Tshwane (Pretoria en omstreke), nie. Nadat die EFF deur middel van ’n mislukte mosie van wantroue van hom wou ontslae raak, het hy nietemin beteuterd jeens die media erken dat hy steeds na hulle wil uitreik. Volgens hom is dit waansinnig om te dink dat die DA sonder die EFF kan regeer. In reaksie het die EFF aangevoer dat niks hulle van stryk sal bring om van hom ontslae te raak nie. Als dui daarop dat Herman Mashaba, Msimanga se DA-eweknie in Johannesburg, ewe verknog is aan die EFF en dat die stert as’t ware die hond rondswaai.

Ek as kieser en talle ander goeie mense in die DA en die land kan hulle nie met die EFF of hul ideologie vereenselwig nie. Dis tyd dat ons ons voet hieroor en ander sake begin neersit. Die vraag is hoe lank die DA nog die EFF gaan paai aangesien laasgenoemde die DA se tradisionele kiesers, gewone lede en hul raadslede weens hul ras verfoei en uitgesproke antiwit rassiste is. En ook omdat die EFF ewe korrup, of selfs meer korrup, is as die ANC en elke plek destabiliseer waar hulle skynbaar help regeer.

Iewers moet jy besluit wie jy wil wees en wie jou vriende en vennote gaan wees sodat die kiesers en jou eie lede weet waar hulle met jou staan.

Die DA gaan glo op 22 September ’n groot aankondiging maak. Hul webwerf lui dat verandering kom. Mens wonder net watter soort aankondiging dit gaan wees en welke veranderinge dit gaan meebring. Kom ons wag en vind uit, want die party is eerlikwaar by ’n kruispad en moet weldra vele keuses begin maak – soos hoe lank hulle nog met die EFF gaan saamwerk – of geleidelik sal wegkwyn.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is ʼn entrepreneur, sake-konsultant en onafhanklike politieke kommentator.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Gert ·

Uitstekende uitleg! Natuurlik weet almal dat die groot probleem van die DA hulle pogings is om alles vir almal te wees en sodoende nooit enige onregte wil uitwys nie aangesien dit een of ander groep kiesers mag vervreem. Daarom kon ek nog nooit verstaan hoekom enige groep vir hulle stem nie, hulle doen nooit aktief iets oor enige kwessie nie.

Gerhard ·

Die probleem met die DA is dat dit nog altyd bestaan uit mense wat teveel van mekaar verskil om oor enigiets saam te stem, wel enigiets van belang in elk geval.

Onnodig ·

Met die volgende verkiesing sal COPE my stem he. Die DA stel teleur

Andre ·

Die DA kan loop vlieg, onder MM gaan hulle vining sink. Hy doen niks as dit kom by wit mense beskerm en sal altyd iets se om swart mense te probeer maak of hy hulle wil help.

Lerato ·

Ek het aandagtig na Ernst Roets se voorlegging geluister.

Drie dinge het vir my duidelik geword.
1 Roets is ‘n intelegente jong man.
2 Hy het deeglik navorsing gedoen en sy feite is korrek
3 Hy is so moedswillig en probeer verdeelde skep en emosies opjaag deur ander telkens as “drunk” te beskryf.

Melanie Verwoerd se artikel oor Roets in News24 is nogal insig gewend.

Breytenbach ·

Wel dan kan ek nie vir die DA stem nie. BBBEE het misluk en hoe kan ek persoonlik as ‘n wit Suid Afrikaner daarvoor stem dat kaders werk en besigheid mag kry en nie ek of my kinders nie?

Jerry ·

Die enigste verskil tussen die DA en ANC is dat die klein groepie liberale denkers nog in beheer is van Maimane. En dan gun ek Melanie Verwoerd haar opinie en stem ek saam met Lerato oor alles wat sy se van Roets, plus natuurlik my opinie dat hy die bravade benadering volg sodat die ANC, EFF, BLF, UDM inteendeel, sodat die hele spul die Afrikaner se belange moet teiken in die breer Suid Afrikaanse gemeenskap sodat slegs Afri-Forum en Solidariteit n heenkome bied aan die Afrikaner. So bou Roets, Kriel, Hermann en Buys n fenominale sakeryk op met die geelwortel van n onrealistiese Afrikaner eie grondgebied, maar met selfbeskikking as die meer realistiese Afrikaner alternatief! Dit is strategies n uitstekende besigheidsplan met selfbeskikking Afrikaners ter beskerming van die plan, maar allermins sal dit genoeg wees en lewensvatbaar wees om tydens die worst case scenario, wat Virseker le en wink, alles wat nou opgebou word te beskerm en te behou, wat nog te se, te oorleef!

Breytenbach ·

Jerry/Max,

Ek verstaan nie jou kommentaar so lekker nie, wat is die probleem en watse oplsossing probeer jy aanbied.

Vissie ·

Die DA is net ‘n resultaat van die liberale westerse Demokratiese systeem van “Een man een stem” waar partye die massas oningeligte kiesers moet vertel wat hulle wil hoor, sodat hulle deur die verkiesingsproses die sleutels tot die mag en staatskas aan die kulkunstenaar en sy party gee wat hulle die meeste omkoopgeskenke belowe.

Die boervolkie het sy reg op selfbeskikking verloor toe hy FW de Klerk in die 1993 referendum toestemming gegee het om SA weg te gee sonder om eers ‘n ou stukkie met selfbeskikking terug te hou toe ons nog mag gehad het om dit te kon doen.

Enige iemand met Standerd 5 kon uitwerk dat daar geen kans was vir die NP of Afrikaners om ooit weer te regeer na 1994 verkiesing nie, asook dat daar ander motiewe moes wees soos om deel te word van die komende nuwe wereldorde en dat SA sy bydrae as die “reenboognasie” experiment daarvoor sou word.

Die verloorders is die werkers en belastingbetalende burgers van Suid Afrika wat nou die rekeninge moet betaal vir ‘n klomp kleptomane wat “Poppekas” in die parlementsgebou speel.

Die eintlike wenners is die ouens wat nou SA se minerale kan koop teen $0.06 vir elke R1 se goud waarvoor hulle $2 moes betaal gedurende daar “bose” apartheidsregering se bewind 30+ jaar gelede.

In die nuwe wereldorde sal die Boervolkie nooit weer selfbeskikking toegelaat word nie en die faling van die reenboognasie sal ontken word deur CNN. Tot ons dalk ook ‘n “Trump” verkies kan kry.

Marais ·

Die party wat selfbeskikking as enigste hoop erken sal my stem kry.

Celtis Africana ·

Dié klomp wat so met kleinbob in alliansie is, is soos n tolbos in Augustus, waai en saai die wêreld vol tot hy hom te pletter waai in die doringdraad.

Afrikaan ·

Insiggewend en ongelukkig waar. Daarom is dit jammer dat mense (soos Jerry hierbo) probeer om Afriforum (wat minstens probeer om vir Afrikaners te beding) in swak lig te stel om die aandag van die vêr-linkse liberalisering van die DA af te trek en op onsinnige twak te probeer vestig. Dit gaan nie werk nie; Afrikaners se oë begin oopgaan en die DA gaan dit voel in 2019. Nie dat dit ons veel gaan help nie maar minstens gaan hierdie ANC meelopers ‘n paar setels verloor.

gert ·

Mense,
Ons moet terugkeer na GOD, ons Skepper en HERE, ons sondes bely en streef om GOD te eer en te verheerlik. As GOD in die verlede na sy kinders se smeekgebede geluister het en ingetree het, hoekom nie nou nie. Soek allereers die koninkryk van GOD, en al die ander dinge sal vir julle bygevoeg word. Waar is ons geloof? Ons volkie het ook ons gelofte van 16Desember, vergeet en onteer. Maak eerder nie n belofte aan GOD as wat jy n belofte aan GOD maak en dit nie eer nie.

Ons ABBA VADER het geensins verander nie, ons het afgedwaal en begin om op mense te vertrou. n Groot fout!!! Lees Ps 118:8, Volkie.

Eish ·

Dit bly maar die crux van ons bestaan. Soos ons afgodjies een na die ander kantel, keer die skapies een vir een terug kraal toe, na die trop toe, waar die Herder is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.