Watter volke regeer hulleself?

Piet Joubert, die Boeregeneraal wat die nasionalistiese Transvaalse onafhanklikheidoorlog teen Brittanje vanaf 1880 tot 1881 aangevoer het.

Haas geen week gaan verby sonder nuus oor vurige groepe wat hulle teen oorheersing verset en vir groter selfbeskikking beywer nie, so uiteenlopend soos Tibetane, Koerde en Palestyne.  Om hierdie ywer en die samehangende historiese en eietydse tendense op verskeie vastelande noukeuriger te volg, kan ons vlugtig ‘n paar kenmerke van die verskynsel bekend as nasionalisme bekyk en loer na ‘n paar maniere waarop volke selfbeskikking in die verre en korte verlede verwerf het.  Dit mag moontlik blyk dat geografiese konsentrasie van volksgenote van spesiale belang is.

Wie ervaar nasionalisme?

Die historiese faktor nasionalisme hou verband met die bestaan van volke.  ‘n Volk (in Engels a people) is gewoonlik lede van ‘n gemeenskap met dieselfde kenmerke op lewensterreine soos herkoms, land, taal, kultuur, instellings, media, godsdiens, gebruike, voorkeure en afkeure:  soos Japanese, Dene en Tswanas.  Lede van een volk deel nie noodwendig ál hierdie kenmerke nie en kan dus byvoorbeeld verskillende godsdienste huldig.  Die een wesenskenmerk wat lede egter byna altyd saambind, is taal.  Byna elke volk is terselfdertyd ‘n taalgroep.  Die verwante begrip nasie verwys gewoonlik na ‘n volk wat homself graag eendag wíl regeer of wat homself tans rééds regeer.

In aansluiting hierby is nasionalisme enersyds die geloof dat volksgenote bymekaar hoort en hulleself móét regeer en andersyds ook die praktyk van sulke selfregering.  ‘n Nasionalis vertrou veral sy eie volksgenote, wil met hulle assosieer en glo ‘n nasie kan sy identiteit net bevorder as hy ook tot op die hoogste vlak homself beheer.  Dus:  as hy sy eie staat het, onafhanklik van ander state.

Omdat verskillende nasionaliste verskillende ander ideologieë soos kapitalisme en sosialisme bevorder, en uiteenlopende ekonomiese stelsels en staatsvorms ondersteun, is daar uiteenlopende tipes nasionalisme.  Selfbeskikking is egter almal se sleuteldryfveer.

Die uitsluitingskarakter word onderstreep deur DJ Kotzé, jare lange Geskiedenisprofessor in Stellenbosch en ‘n gesaghebbende ontleder van volke se strewe na selfbeskikking:

“Nasionalisme is altyd in ‘n sekere mate eksklusief; dit konsentreer die goeie wil in eerste instansie op die eie nasie en is hom terdeë bewus van die andersheid van ander nasies.  Die ideaal is altyd:  Die eie nasie eerste!”

(DJ Kotzé, Nasionalisme – ‘n Vergelykende Studie, Tafelberg, Kaapstad, 1969: 24.  Kyk Kotzé se verskeie baanbrekerswerke in Afrikaans vir tendense en voorbeelde uit die geskiedenis.)

Die uitsluitingskarakter word ook beklemtoon deur die invloedryke politikoloog Karl Deutsch, wat aanvoer dat burgers hulleself noodwendig eerder vereenselwig met ‘n owerheid wat húlle taal praat en wat beman word deur volksgenote.  Dié word beskou as voorspelbaar en toeganklik.  (Karl W Deutsch, Politics and Government – How People Decide their Fate, Houghton Mifflin, Boston, 1980: 121-122)

Van die 193 state wat in 2012 lede is van die Verenigde Nasies, is sommige etnies meer en ander minder eenvormig.  Oor die algemeen waak die bevolkings van al dié state jaloers oor hulle selfbeskikking.  Die volkstaat, ook genoem nasiestaat, is aan die begin van die een en twintigste eeu (tans) steeds die magtigste soort organisasie ter wêreld.

Hoe verkry volke selfbeskikking?

Terwyl volke wêreldwyd deur die loop van eeue ontwikkel het, het hulle hulleself uit groter samelewings uit losgewikkel om hulle eie state te vorm.  Sommige, soos die Pole, is egter herhaaldelik deur ander onderwerp voor hulle hulleself later weer bevry het.

Camillo di Cavour, die nasionalistiese staatsman wat in die middel van die negentiende eeu ‘n hoofdryfkrag was om teen 1870 een staat vir alle Italianers te skep.

Enersyds het volke onafhanklikheid verkry met trekbewegings, soos die Israeliete uit Egipte uit en die Voortrekkers uit die Kaapkolonie uit tussen 1835 en 1838, en soms met vreedsame metodes soos politieke hervormings.  Andersyds egter het volke die vreedsame aandrang op vryheid aangevul met aktivisme en gewapende verset.  In vrede én oorlog is bevrydingingsbewegings gewoonlik deur simpatieke buitelandse bondgenote ondersteun.

Nasionalistiese strewes het al dikwels tot konflik gelei.  Onder die geweldadige stryd waarmee onderhorige volke hulle van vreemde owerhede bevry het, val byvoorbeeld die Russiese verset, veral in die vyftiende eeu, teen die Mongoolse oorheersing; die Amerikaanse Onafhanklikheidsoorlog teen Brittanje vanaf 1775 tot 1783; die opstand van die Balkangebiede teen die Turke in die negentiende eeu; en die Iere se bevrydingsbeweging teen die Britte in die negentiende en twintigste eeu.  (Kyk Kotzé: 109-110)

Aan die einde van die agtiende eeu kom Italianers in opstand teen Spaanse heerskappy, voordat hulle in die middel van die negentiende eeu, onder leiding van Victor Emmanuel II, Camillo di Cavour en Garibaldi onafhanklikheidsoorloë teen onder meer Oostenryk voer en in 1870 in een staat verenig word.

Otto von Bismarck, die Pruisiese nasionalistiese staatsman wat sedert die 1860s ‘n sleutelrol gespeel het om die Duitse volk in een staat te verenig.

Duitsers kon eers hulle staat, onder leiding van Otto von Bismarck, tussen 1864 en 1871 tot stand bring tydens die Pruisiese oorloë teen Denemarke, Oostenryk en Frankryk.  Die Boere noord van die Vaal kon eers weer vry word deur die Transvaalse Onafhanklikheidsoorlog in 1880 en 1881 teen Brittanje, onder aanvoering van die genl Piet Joubert.

In die middel van die twintigste eeu het militante nasionalistiese bewegings in verskeie lande ‘n rol gespeel in die proses van antikoloniale bevryding, soos die Mau-Mau-beweging in Kenia tussen 1952 en 1955, en soos die Viëtnamese wat antikoloniale oorloë gevoer het – eers teen die Franse en toe teen die Amerikaners.

Die Jode, wat oor eeue gesmag het om weer in beheer te wees van hulle eie lotgevalle, is besiel deur die nasionalistiese visie van die skrywer Theodor Herzl.  Hy het in 1896 in Parys die versiende oproep Die Jodestaat gepubliseer.  Sedert die vestiging van Israel in 1948 het die Jode herhaalde selfverdedigingsoorloë teen omringende Arabiese state gevoer.

Ná die instorting van die kommunistiese Sowjetunie in 1990 het ‘n lang reeks volke uiteindelik selfbeskikking verkry.  Onder die nuwe state suid van Rusland val Georgië, Azerbeidjan, Oesbekistan, Kirgistan en Kazakstan, en in die weste lê onder meer Estland, Letland, Litoue, Belo-Rusland en die Oekraïne.  Ook in die middel van Europa het volke die afgelope dekades nuwe state gevestig, soos Tjeggië en Slowakye, Slowenië en Kroasië.

In Oos-Afrika kon Eritrea in 1994 uit Ethiopië wegbreek, en is Suid-Soedan in die tweede dekade van die een en twintigste eeu (tans) in die proses om volledig onafhanklik te word.

Theodor Herzl, die nasionalistiese intellektueel en skrywer van die versiende pamflet Die Jodestaat in 1896, wat die visie verskaf het vir die moderne Israel.

In elkeen van hierdie en talle ander ongenoemde gevalle lê ‘n fassinerende geskiedenis van nasionalistiese hartstog, sweet en bloed verskuil.  En naas dié uit die verlede, gaan die bevrydingstryd van volke tans onverpoosd voort.

In sy feitryke en insiggewende artikelreeks oor minderhede, meld Sebastiaan Biehl (in sy samevatting op 25 Mei 2012) ‘n kernvoorwaarde vir suksesvolle bevryding:

“Vir ‘n minderheid om te vorder op pad na selfbeskikking is ‘n getallekonsentrasie in een gebied ‘n voorvereiste…”

Met Biehl se geldige voorwaarde as uitgangspunt, kan ons vervolgens enkele historiese en eietydse voorbeelde effens noukeuriger ontrafel, waaronder die stryd van huidige nasionalistiese minderhede.

Watter rol speel geografiese konsentrasie?

State wissel op ‘n lang glyskaal vanaf dié wat hoofsaaklik beman en gelei word deur een volk, genoem volkstate of nasiestate, soos Japan waar die etniese Japanese 98 persent van die bevolking uitmaak, tot dié met ‘n wye verskeidenheid kultuurgroepe, beskryf as veelvolkige state, soos Indonesië met honderde tale.

Binnelandse spanning bereik ‘n breekpunt wanneer een volk ‘n veelvolkige samelewing oorheers, en die verskille tussen die regeerders en die onderskiktes nie net etnies nie, maar terselfdertyd ook ekonomies van aard is, met ander woorde nie net dié van volk nie, maar ook van klas.  Een volk is dus meer welvarend.  Byvoorbeeld:

  • In die Oostenryk-Hongaarse Ryk was 80 persent van die sosio-ekonomiese elite in Boheme Duitsers en 20 persent was Tjegge.
  • Voor die onafhanklikheid van Algerië in die 1960s was 90 persent van die elite Franse en 10 persent Arabiere.  Verskille in klas het dus verskille in volk versterk.
  • Die konflikpotensiaal word des te groter as regeringsmag ook met rasverskille saamval, soos tussen wit en swart in die Verenigde State veral in die 1960s en 1970s, en in Suid-Afrika vóór 1994, asook weer – maar op ‘n ander manier – ná 1994.

Wie die uiteindelike lot van onderhorige minderheidsvolke wêreldwyd wil volg, moet noodwendig aandag gee aan die faktor van grade van geografiese konsentrasie.  Die vraag is:  Woon volksgenote tussen lede van ander volke of vorm hulle ‘n betreklik eenvormige eenheid?  Antwoorde op hierdie eenvoudige vraag is vir staatvorming van wesenlike betekenis.

In die veelvolkige samelewing van Suid-Afrika is meeste volksgroepe in bepaalde gebiede gekonsentreer.  Byvoorbeeld:  Waar Afrikaanssprekendes, in verhouding tot ander volksgroepe, maar 13 persent van die bevolking van Suid-Afrika uitmaak, woon hulle in twee provinsies gekonsentreerd genoeg om ‘n meerderheid te vorm:  in die Wes-Kaap 55 persent en die Noord-Kaap 68 persent.

Die feit is:  Al kan volke, wat tussen ander groepe oor ‘n wye area versprei woon, hulleself laat hoor, worstel hulle dikwels om hulle belange te artikuleer, en lê daar enorme struikelblokke op die pad van staatvorming.  Nasionalisme bly onvervuld.  Aan die ander kant:  Wanneer ‘n volk geografies gekonsentreer woon, is staatvorming ‘n realistiese visie, selfs al lei dit tot die soort militêre konflik waarvan die voorbeelde in die vorige seksie getuig.  Nasionalisme kan dus slaag.

Die ouer volke wat lankal as onafhanklike nasies gevestig is en waarna hierbo verwys is, soos die Russe, Italianers en Duitsers, sowel as van die jongstes, soos die Este, Oekraïners, Tsjegge en Slowene, woon op ‘n betreklik maklik omlynbare grondgebied.

As vermenging ‘n meerderheidsvolk egter tot ‘n minderheidsvolk in sy land kan omskep, wek dit maklik weerstand met ander volke, soos die byna permanent gelade Joodse nasionalisme in die Midde-Ooste illustreer.  Van die huidige bevolking van 7 800 000 in Israel is tans ongeveer 75 persent Jode, gesteun deur miljoene ander Jode wat in ander lande woon.  Een van die redes hoekom die Jode so verbete weerstand bied daarteen om hulle republikeinse grense te verander deur Palestynse gebiede soos die Wesoewer en Gaza in te lyf, is omdat hulle dan ‘n minderheid in hulle eie land sal word en hulle staat aan nie-Jode sal afstaan.

Waar trek minderhede nuwe grense?

Deon Geldenhuys dui tereg aan dat die Verenigde Nasies simpatiek staan teenoor talle minderhede wat kulturele en politieke miskenning ervaar.  (Kyk sy artikel Mobiliseer rondom kulturele vryheid van 20 Oktober 2012.)  Biehl se waarneming dat minderheidsvolke wat tans worstel om selfbeskikking te verkry, deur getallekonsentrasie bevoordeel word, word wêreldwyd bevestig.  Dat hulle gekonsentreerd saam woon, maak eensgesinde optrede makliker vir byvoorbeeld die Mongole in Noord-Sjina en die Tibetane in Wes-Sjina.  Ook vir die Tamile in Sri Lanka, wat anders as ander eilandgenote ‘n Dravidiese taal praat, en onderhandel én veg vir selfbeskikking in die noordoostelike gebied van Sri Lanka waar hulle gekonsentreerd woon.  So ook het die Koerde in die Midde-Ooste reeds ‘n halfoutonome streek in Irak bekom van waar af hulle kontak maak met die Koerdiese minderhede in Iran en Turkye.  Leiers van ‘n minderheid wil instinktief stappe neem om internasionale grense heraftebaken sodat hulle, as ‘n meerderheid op hulle grond, sélf oor hulle eie wel en weë kan beslis.

Konflik kom nie onafwendbaar voor nie, aangesien minderhede hulle belange soms met vreedsame metodes kan bevorder.  Danksy ‘n hoë vlak van diep gewortelde beskawing en burgerlike verdraagsaamheid, kom Europese state kleiner kultuurgroepe tegemoet, onder meer kragtens die Raamwerkkonvensie vir die Beskerming van Nasionale Minderhede wat eie tale, skole, organisasies en selfs parlementêre verteenwoordiging voorstaan.  (Vergelyk Herman Toerien se onderskeidings in Nuuskommentaar: Die inhoudelike van minderheidsregte van 12 Maart 2012.)  Die Europese handhawing van dié regte word vergemaklik deur ‘n hoë mate van konsentrasie – van byvoorbeeld Hongare in Roemenië en Slowakye; van Baske in Noord-Spanje, en Katelane in Oos-Spanje; en van Duitsers in Suid-Tirool in Noord-Italië.  In België vorm die Vlaamssprekendes in Vlaandere vir praktiese doeleindes reeds ‘n eie staat.

Verskeie volke wat worstel vir meer selfbeskikking, het in 1991 ONVO gestig.  Die Onverteenwoordigde Nasies en Volke Organisasie (UNPO – Unrepresented Nations and Peoples Organisation) bevorder die belange van meer as vyftig minderhede, wat tans meer as honderd miljoen mense tel.  Saam met ander volke, soos die Tibetane en Koerde, is die Afrikaners hier verteenwoordig.

Dis betekenisvol dat sommige van ONVO se stigterlede reeds onafhanklik geword het, soos die volke van Armenië, Estland en Georgië.  Dit was egter alleen moontlik omdat elke volk geografies gekonsentreerd was:  ‘n minderheid in die groter samelewing het ‘n meerderheid in sy gebied gevorm en kon dus uiteindelik sy eie staat skep.  Waar dit in vorige eras nog soms moontlik was om ‘n meerderheid in sy eie streek te oorheers, maak die wêreldwye vestiging van ‘n demokratiese politieke kiesstelsel – van een mens, een stem – dit onmoontlik:  op die ou end sál nasionalisme ‘n meerderheid in sy eie gebied tot selfbeskikking dryf.  Deutsch (p 98) meen selfs hierdie proses werk met die krag van ‘n soort sosiale wet (ek vertaal):

“Ons weet nou dat daar waarskynlik ‘n wet is van kulturele, nasionale en politieke vertakking wat in die algemeen waar is.”

Die nut van konsentrasie spreek ook uit wat met lede van dieselfde volk onder verskillende omstandighede gebeur.  Ondanks minderhede tussen hulle, soos Arabiere, vorm die Franse steeds ‘n getalsterk en toonaangewende meerderheid in hulle land en is Frankryk ‘n trots onafhanklike volkstaat – trouens, een van die oudstes.  Waar Franse binne ander state ‘n gekonsentreerde minderheid vorm, handhaaf hulle egter steeds ‘n hoë graad van ekonomiese en kulturele selfbeskikking, soos in Switserland; in Wallonië binne België; en in Quebec binne Kanada.

Franse wat hulle elders in die wêreld in klein groepies of selfs net as gesinne vestig, het egter ‘n geringe bedingingsvermoë.  Meeste Afrikaners het byvoorbeeld meer as een voorouer onder die Franse Hugenote wat aan die einde van die sewentiende eeu Kaap toe migreer het en oor tyd deur die groter nie-Franssprekende samelewing geabsorbeer is.  Daarom praat die nasate van die Hugenote nie Frans nie, maar meestal Afrikaans.  Verspreide minderhede verdwyn oor tyd – soos melk in koffie.

Vir ‘n volk om oor die lang termyn vry te word, is geografiese konsentrasie ‘n onmisbare voorwaarde.

Slotsom

Selfbeskikking, soos oorwinning in ‘n veldslag, verg konsentrasie van mannekrag en vuurkrag.  Watter volke kan vry wees en hulleself regeer?  Dié wat geografies konsentreer!

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Louis du Plessis

Meer oor die skrywer: Louis du Plessis

Louis du Plessis is 'n redaksielid van die Nuwerwetse Politieke Woordeboek, mederedakteur van verskeie werke oor konflikbestuur, en voormalige professor in die Fakulteit Krygskunde, Universiteit van Stellenbosch. Sy moedereenheid is 1 Valskermbataljon.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

chris ·

Word hier nou voorspraak gemaak vir Orania? Wat gaan die kleurling as nasate van die ‘First Nations’ (Khoi/San) se as die grond gebied waarop hulle eerste aanspraak het, weg gevat word en aan Afrikaners oorhandig word. En hoeveel Afrikaners gaan in die Noordkaap se vlaktes kom plak in dien dit n werklikheid word.
Nee, selfbeskikking moet geskied in die gebied wat Afrikaners n historiese vebintenis het en dit is in n area waar Afrikaners reeds vantevore soewreniteit geniet het: Die ou Afrikaner/Boere Republieke van Transvaal, Vrystaat, Vryheid en Utrecht.

Gemsbok ·

Gawe idee, maar daar is meer swartes wat hul voete gaan dwars sit oor die ZAR en OVS as die Khoi en San wat in elk geval Afrikaans praat.

Mike ·

Chris ek reken dat die afrikaner volgens OASE se plan hoogstens ‘n mate van kulturele selfbeskikking in die voorgestelde gebied kan opeis en dit sal in elk geval wees volgens art.185 van die grondwet soos taal, godsdiens, onderwys, vrye assosiasie ens.

Territoriale selfbeskikking in die OASE gebied sal nie realiseer nie, dit is nie eers te betwyfel nie. Hier is vir jou nog ‘n voorbeeld waar Gemsbok en Louis ook die Wes Kaap voorstel as die beste opsie waar daar minder swart weerstand sal wees teen selfbeskikking in die gebied.

Daar word op die oomblik daaraan gewerk om meer afrikaners na die Wes-Kaap gebied te lok met besigheids en werksgeleenthede. Alhoewel nog op klein skaal kan dit net groei soos wat dit in die ander provinsies die afrikaner ontneem word.

Louis du Plessis ·

Naand  Mike ~
 
WAAR IS DIE OASE?
 
1       Dankie vir die verwysings na Oase – die Onafhanklike Afrikanerselfbeskikkingsekspedisie.  Op sy webwerf skets Oase die tendense in Suid-Afrika heel verstandig en formuleer sy strewe na Afrikanerselfbeskikking in verskeie opsigte sinvol.
 
2       Maar dan kom die oomblik van waarheid en eis Oase ‘n ruimte vir selfbeskikking waarin Afrikaanssprekendes ‘n verre minderheid vorm en wat die voorstede van Pretoria en Bloemfontein verbind aan Noord-Natal.  Sy leier Cor Ehlers skryf onder meer:
 
“The territory which OASE has identified, based on anthropoligical, archaeological, historical and economic research formed integral parts of the former Boer Republics and is commonly known as the Highveld region of South Africa, linked with a corridor to the Northern Natal coast to include the harbour of Richards Bay and the World Heritage coastal enclave of St Lucia Bay.”
 
Ehlers vervolg:  “The area which we have identified was tamed by Afrikaners who settled there in large numbers since the Great Trek in 1836 and which will include the Afrikaner suburbs of the two predominantly Afrikaner cities of Bloemfontein and Pretoria as well as several other Afrikaner towns of cultural and historical value to Afrikaners.”
 
3       En as die ANC-regering sy rug op hierdie skema draai? 
 
Ehlers waarsku:  “Should negotiations with the ANC fail, we shall have no alternative but to declare unilateral independence and this may result in the ANC referring the case to the UN who will in turn refer it to the ICJ – as Serbia did in the case of Kosovo. Afrikaners will have to make sure that they have a watertight case if the process ends up in The Hague.”
 
4       Vir sulke bouers van lugkastele sou mens kon sê:  Gaan leer by Solidariteit en sy menige kreatiewe strukture, of by die Oraniabeweging, hoe om ‘n reis van ‘n duisend kilometer af te lê – tree vir tree!
 
5       Dankie vir jou opmerkings Mike.

Gemsbok ·

Dankie vir ‘n prikkelende bydrae.

Indien meerderheidsbesetting die belangrikste voorvereiste vir ‘n selfbeskikkingseis is, waarom is daar geen beweging om groter outonomiteit vir die Wes- en Noord-Kaap as Afrikaanse gebied op te eis nie?

Word dit veroorsaak deur die persepsie van rassisme onder Afrikaners wat selfbeskikking eis, of deur die gewaande mindere status van Afrikaans by die akademiese en politieke elite van die gebied?

Louis du Plessis ·

Chris en Gemsbok ~
 
VAN KONINGBERG NA TAFELBERG
 
1       Chris, die strekking van my artikel, in aansluiting by perspektiewe van talle kundiges soos Kotzé, Deutsch, Biehl en Geldenhuys is dat dit nie maklik is om ‘n staat te vestig nie.  Voorts is ‘n meerderheid op ‘n bepaalde grondgebied een van die deurslaggewendste vereistes vir staatvorming.
 
2       In die omgewing waar die Boererepublieke ‘n eeu gelede gedy het, vorm Afrikaanssprekendes tans ‘n klein deel van die bevolking.  In Gauteng praat minder as 15 uit elke honderd inwoners Afrikaans, in die Vrystaat minder as 12 persent, en in Noordwes minder as 8 persent.  In die ander twee provinsies wat tot die Zuid-Afrikaanse Republiek behoort het, Mpumalanga en Limpopo, woon daar tans só min Afrikaanssprekendes dat die persentasie Afrikaanssprekendes dikwels nie eers in jaarboeke gelys word nie.  Hierdie syfers spreek ook uit die verkiesingsuitslae waar die nie-Afrikaanse ANC groot meerderhede behaal.
 
3       Aangesien ek voel dit word deesdae geïnoreer, of verkeerdelik net aan swart selfbeskikking gekoppel, het ek in my bydrae juis die historiese faktor van nasionalisme na vore gebring.  Gegee die vereiste van meerderheidsbesetting, wat die artikel met talle voorbeeld illustreer, kan ‘n volk op die lang termyn homself slegs dáár regeer waar hy die meerderheid is.  Waar ook al ‘n etniese groep ‘n minderheid vorm, daar sal hy met die volgende demokratiese verkiesing uitgestem word.  Hierdie waarheid geld wêreldwyd.
 
4       Chris, Afrikanernasionaliste sal baie graag al die gebiede waar Afrikaners woon, of in die verlede gewoon het, in ‘n eie staat wil vestig.  Sal dit nie heerlik wees nie!  Maar dis onhaalbaar.  Selfs die name van sommige van die eens florerende Afrikanerdorpe soos Louis Trichardt of Pietersburg is uitfaseer!  Afrikaners wat hoop om op sulke plekke ‘n staat te vestig, is soos die Duitsers – en daar is nog enkele van hulle – wat hoop dat die destydse Oos-Pruise, uit die Bismarck-era, deel van die Duitse Bondsrepubliek moet word.  Königsberg (Koningsberg), waar die eerste Pruisiese koning Frederik 1 gekroon is en waar die metodiese en geniale Duitse wetenskapdenker Immanuel Kant gewoon het, is van 1946 af die Russiese stad Kaliningrad.  En boonop is dié gebied nie meer naby Duitsland nie.  Die moderne welvarende staat Pole skei dié Russiese gebied van Duitsland.  Daar’s nog net ‘n handjievol Duitsers daar.
 
5       Gemsbok, ook oor jóú vraag het ek al gewonder:  Hoekom eis die Afrikaanse meerderheid in die Wes-Kaap nie groter selfbeskikking nie?  Jy raak aan ‘n kernsaak:  naas meerderheidsbesetting moet ‘n taalgroep, of volk, natuurlik ‘n dryfkrag ervaar om heeltemaal onafhanklik te wees. 
 
6       In die Wes-Kaap is Afrika met al sy onsmaaklike probleme van wanbestuur en korrupsie heelwat verder as elders in die land.  ‘n Kwellende vraagstuk is wel die instroming, soos die DA-premier tong in die kies opgemerk het, van “vlugtelinge uit die disintegrerende Oos-Kaap”.  Gemsbok, ek dink wel as die ANC-wanbestuur die Wes-Kaap toenemend dwarsboom, soos met die verval van die nasionale department van openbare werke, soos met die afdwing van rassekwotas deur die nasionale departement van korrektiewe dienste, of soos met die aantasting van die grense en magte van provinsies, kan weerstand groei.  Pasop veral op vir die woede van ‘n geduldige man!
 
7       Intussen is my aanvoeling:  die Wes-Kaap voel nie intens bedreig nie.  Vanaf Tafelberg verby die Swartberge deel ligter en donkerder Afrikaanssprekendes ‘n gevestigde kultuur.  Die provinsie is in bekwame hande.  Die verkeersligte werk.  Die sypaadjies is skoon.  Die stadsrade is meestal onder beheer van Afrikaanssprekendes.  Vergeleke by ‘n ANC-stadsraad voel ‘n DA-stadsraad soos hemel op aarde.  Die matriekuitslae is jare reeds die hoogste van alle provinsies.  Almal lees Die Burger en dit gaan goed met die Stormers.
 
8       Maar soos julle weet Chris en Gemsbok:  Wat ook al diegene sê wat net belangstel in die jongste soort kar, die behoefte aan selfbeskikking kan nie onderskat word nie.  Dit sluimer onopmerk.  Tot ‘n storm eendag aanbreek en die son opkom.

Louis du Plessis ·

Dag Constant ~
 
IS DIE DRUIWE SUUR?
 
1  Dis goed as jy van die brokkies inligting leersaam en nuttig vind.  Historici en politikoloë het al hoogs insiggewende studies oor die strewe na en verwerkliking van nasieskap gedoen.
 
2  Terwyl nasionalisme en al die verwante aktiwiteite ‘n kragtige dryfveer in die historiese ontwikkeling op aarde is, is talle mense daarvan onbewus.  Een rede is omdat hulle nie van wêreldgeskiedenis kennis neem nie, maar ‘n ander rede is bloot omdat hulle die krag daarvan vrees en nie weet hoe om die rivier te kanaliseer nie. 
 
3  Ons kan inderwaarheid begrip hê vir élke nasionalisme – vanaf die nasionalistiese opwinding van die Spanjaarde toe hulle laasweek die Europese sokkerbeker gewen het, tot die aggressiewe swart nasionalisme van die ANC, vanaf die Oekraïners en Kroate wat tans so trots is om hulleself te regeer tot die diep hunkering van Afrikaners na ‘n eie staat.  Ons moenie vir ‘n oomblik reken alle hAfrikaners is tevrede om deur ander regeer fe word nie! Om begrip te hê vir alle volke se nasionalisme, beteken tog nie om dit in elke opsig te ondersteun nie.
 
4  Maar as mens soos sommige jou ore vir nasionalisme toedruk, sal dit jou in die nag wegspoel!  Ons sien inderdaad sommige kollegas wat hulle ore toedruk – selfs in die Groot Debat – en links en regs die waarde van nasies en state bevraagteken.  Hoekom?  Moontlik omdat die Afrikaners nie hulle eie staat kan kry nie.  Of omdat die Suid-Afrikaanse ANC-staat in duie stort.  Hieroor maak hulle dan ongeldige veralgemenings.

5 Sulke anti-staat-ideoloë en anti-nasionalisme-ideoloë is jakkalse wat eintlik smag na druiwe, maar omdat hulle – soos Esopus vertel – nie hoog genoeg kan spring nie, maar elke keer op hulle rug val, gee hulle met ‘n jakkalsdraffie pad van nasionalisme af, met ‘n stukkie selfregverdiging:  “Die druiwe is suur.”
 
Met agting

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.