Wees debatvoerders, nie apologete nie

kill-the-boer-james-kemp

James Kemp, hoofredakteur van Pretoria FM se Klankkoerant, tydens ‘n bekendstelling van die boek ‘Kill the boer’. Foto: Reint Dykema/AfriForum.

Een van 2018 se belangrikste kenmerke was die ontstaan van twee groepe Afrikaners en hul uiteenlopende benaderings wanneer dit by die hantering van Suid-Afrika se uitdagings kom. Dit sluit in hul benadering tot die hoë voorkoms van plaasmoorde, die bedreiging van onteiening sonder vergoeding en Afrikaners se plek in die land.

Die eerste groep, kom ons noem hulle die apologete, is nie bereid om te erken dat boere disproporsioneel tot mense in ander beroepe vermoor word nie. Ook nie dat die wyse waarop die moorde gepleeg word, uiters wreed is nie.

Die apologete sal nie erken dat eiendomsreg bedreig word nie en diegene wat oorsee daaroor alarm maak, verguis en as roekeloos en onpatrioties uitkryt. Hulle sal ook nie hardop sê dat Afrikaners ʼn plek in Suid-Afrika het nie. Dit is vir hulle veel belangriker om verskonings aan te bied vir gebeure in die verlede waaroor hulle weinig kennis het.

Die feite skets ʼn heel ander prentjie. Meer boere word vermoor as persone in enige ander beroep, eiendomsreg word bedreig en Afrikaners het ʼn plek in Suid-Afrika. En nie net het Afrikaners ʼn plek in Suid-Afrika nie, hulle mag trots wees op die bydrae wat hul voorouers gelewer het, hulle mag eienaarskap neem van hul geskiedenis en hulle mag sê: “Hier het ons help bou.”

Die jaar 2019 gaan nie noodwendig makliker wees. Die Nelson Mandela-stigting wil die hof nader om die voormalige Republiekvlag te verban. Selfs diegene wat nie ten gunste van die openbare vertoon van die vlag is nie, moet sekerlik erken dat sodra die regering begin om simbole te verbied, jy ʼn baie gevaarlike terrein betree. Een van sensuur. Daardie debat moet gevoer word.

Dis ook in 2019 waarin ons duidelikheid gaan kry oor hoe onteiening sonder vergoeding toegepas gaan word. Dit is ʼn belangrike jaar vir eiendomsreg. Daardie debat moet gevoer word.

Hierdie jaar is ook ʼn verkiesingsjaar. ʼn Jaar waarin minderhede gewoonlik beledig word vir politieke gewin. Dit gaan ʼn jaar wees waarin daar standpunt ingeneem moet word oor Afrikaners se plek in Suid-Afrika. Daardie debat moet gevoer word.

Wees in 2019 ʼn debatvoerder – iemand wat roekelose uitlatings uitdaag en bevraagteken en dit nie klakkeloos navolg nie. En wees iemand wat bereid is om die ongewilde standpunt in te neem en verwerp politieke korrektheid – veral wanneer dit teenstrydig is met die waarheid.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: James Kemp

James is die hoofredakteur van Klankkoerant, ʼn nuus en aktualiteitsprogram wat ook op Pretoria FM uitgesaai word.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Gemaskerde Sopbeen ·

Jip. Nes Piet Retief…..ook gedink alles kan met gesprekvoering opgelos word…Shame man.

B ·

Ja jy is reg James! :)

En (on)gelukkig sal sommige wit Afrikaanse persone moet leer dat uitskel, swak taal gebruik, platvloerse kommentaar (op bv sosiale platforms) ens net teenproduktief is, en dat hulle hulle vaardigheid om rasioneel debat te voer sal moet verskerp!

(Dis ‘n BAIE groot verleentheid is dat ons as ‘n nasie nou gedaal het om op so ‘n onopgevoede vlak ‘kommunikeer’)

Gert ·

Uitstekende artikel. DIt laat my dink aan VSA waar die bevolking in twee gedeel is, die sosialistiese globaliste wat Demokratiese party ondersteun, en kapitalistiese nasionaliste wat Republikeins stem, twee absoluut teenoorgestelde lewensuitkyke wat lyk asof dit onversoenbaar is. Ek wonder altyd hoe kan mense by twee sulke teenoorgestelde pole opeindig met dieselfde feite.

Jerry ·

Die voer van sinvolle debat is ongelukkig nie moontlik wanneer media platforms sensuur toepas buite hulle eie mandaat en by elke geleentheid wanneer kommentaar die skrywers se uitgangspunte troef. So word niemand iets meer wys nie en word dit n spel van misleiding en een groot subjektiewe klugspul! Dit is ongelooflik eenogig, kinderagtig en lafhartig om agter sensuur te skuil wanneer jy nie jou man kan staan wanneer jou uitgangspunte getroef word. Watse hoop het jy op sukses om debat te voer teen ander ideologiee as jy nie eers debat op die kommentaar kan voer van jou eie mede Afrikaners nie! Die Afrikaner is nie verdeel in twee groepe nie, die Afrikaner is as gevolg van verskeie faktore waarvan, danksy hierdie tipe sensuur een is, verdeel in nie minder nie as vyf groepe! Laat jou babbel reeds eerder op hierdie platform bars as wat dit bars op nasionale en internasionale platforms! Laat 2019 die jaar wees waartydens sensuur op hierdie platform volwassenheid bereik sodat uitgangspunte wat getroef word, verbeter kan word ten einde slegs die beste werkbare idees te laat inslag vind by die Afrikaner en so ook by Suid Afrikaners!

Henry ·

Uitstekend gestel Jerry.
Hierdie werf se sensuurbeleid herinner mens aan vervloë dae se politieke en geestelike boelies wat geen teëspraak – hoe beskaaf ookal – geduld het nie.
Hoe meer dinge verander, hoe meer bly alles dieselfde…
:-)

Boer ·

Ja, jy is reg B – geen argument kan met platvoerse gesindhede of taalgebruik gevoer word nie, vergeet nog daarvan om te oortuig. Of om ‘n beginsel te bevorder. Ek kry skaam vir mense wat wat oorlewing onderskat en die Afrikaner en -kultuur uiters negatief oordra.

Vaalseun ·

En die tweede groep, James? En daar is nie dalk ook ‘n derde groep nie?

Se maar net ·

Aan al die bogenoemde geleerde here. Praat is maklik maar soos tereg ook opgemerk ons is lankal reeds verby daardie fase en moet ons nou planmakers en uitvoerders begin genereer. Julle almal besef dat daar nie n platform of geleentheid vir die waarheid in ons land meer is nie. Hierdie leiers is geskool in propoganda en glo my ons gaan nie hulle of hulle magsbasis oortuig van die waarheid nie al praat elke afrikaner uit dieselfde mond.

Vaalseun ·

Sê maar net, propaganda en verdraaiing van die waarheid is ouer as die Bybel, en kom voor in elke land waar daar mense is. So, dalk nuut vir jou, maar dit bestaan reeds eeue in Suid-Afrika ook. Saam dink en beplan vir oorlewing is niks nuuts nie. Dis die taak van elke geslag.

John ·

… ja daardie lieflike klapsoen… die ver soen en die naby soen… Debatte dui verskille aan dws teenpole. Op watter debat word daar teen die einde van die aand aangekondig dat die een groep plegtig onderneem om af te sien van hul standpunt en die oppossie met ‘n klapsoen groet…

Leonard van der Dussen ·

Dis dringend noodsaaklik dat ons ook binne Afrikanergeledere die vermoë opbou om hard en duidelik te kan debatteer sonder om kleinserig te wees. Standpunte sal noodwendig verskil, maar om te verskil beteken nie noodwendig mens is nie aan dieselfde kant in die breër stryd nie. Die onvermoë van Afrikaners om onder mekaar te kan debatteer met helder standpunte sonder kleinserigheid en jou net op te ruk en dan te weier om verder te praat, benadeel die gesprek wat soek na oplossings en ‘n toekoms.

Henry ·

Dankie.
Die kleinseriggeite wat met ‘n verslawing aan ou dogma’s gepaard gaan, is een van die struikelblokke in die weg van beskaafde debattering.

lewies ·

Om ‘n apologeet te wees is deel van die Chritenknd se opvoeding. Die HAT konstateer dat die woord apologete “‘, Verdediger is van ‘n geloof, ‘n saak – veral die Christendom”. Ons kinders word geleer om ook die regter wang te gee as jy op die linkerwang geslaan word. Hulle is geleer dat as jy weet jy is skuldig erken jy dit en jy wag nie vir ‘n hof om jou skuldig te bevind nie. Humanisme was nog altyd strydig met die Christelike geloof en strydig met die Afrikaner se opvoedingsfilosofie.

Cornelia ·

Mnr. Kemp, die verskynsel van verdeeldheid te midde van volkseenheid is ‘n onvermydelike. Dit kom wêreldwyd voor. Mag ek vandag net maar een ligstraal hier ten gunste van ons Afrikanervolk stipuleer. Waar soveel volke gru verhale vertel van hoedat hulle deur hulle eie volk tot die dood toe vervolg word vanweë hulle geloof in Christus, het my volk nog nooit teen die Kruis van Christus en Sy Liggaam ‘n skrikbewind gevoer nie. Dit opsigself is vir my genoeg. Voorwaarts. Bly getrou en wen elke terrein met u oog na Bowe gerig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.