Wees ’n goeie burger – dis nóú meer as ooit ook in jou belang

Deur Barend Uys

Barend Uys. Foto: Verskaf.

Jy kan jou eie verantwoordelikhede nie uitkontrakteer nie. Om ’n goeie burger van jou gemeenskap en die breër samelewing te wees, veral in tye van ’n ramp, is een van dié verantwoordelikhede.

As ’n virus – wat veral ’n bedreiging vir kwesbare mense is – van mens tot mens oorgedra word, is dit elkeen se besluite en optrede wat die grootste verskil maak. Let wel, nie dié van die regering, politieke partye of ander organisasies nie; hulle kan aanbevelings en planne maak, maar hoe dit op voetsoolvlak uitspeel, hang van elke mens af.

In ’n land waar die regering oor die algemeen nie goed met wetstoepassing slaag nie, moet burgers nou meer as ooit kies om te doen wat reg is. Oor die verspreiding van die koronaviruskrisis (wat die siekte Covid-19 veroorsaak) kan elkeen van ons ook besluit om meer te doen as net gehoor gee aan die regering se maatreëls. Dink daaroor en doen die nodige stappe: Wat is beter vir jou, jou gesin, die mense vir wie jy omgee en veral vir kwesbares? Of jy besluit om slegs te doen wat die regering vra, of om nog méér stappe te doen, hang geheel en al van jou af.

Roberto Burioni, ’n viroloog by die San Raffaele-universiteitshospitaal in Milaan, Italië, verduidelik die noodsaaklike handhawing van sosiale afstand (social distancing) deur aan te voer dat die koronaviruskrisis nie ’n skielike gebeurtenis soos die val van ’n meteoriet is nie. Hy sê dis eerder soos om in ’n voertuig te wees wat teen ’n muur vasry: Trap bloot die rem en almal is veilig. Maar dié pedaal moet hulle almal – al 60 miljoen Italianers – sáám trap. Dit is ’n uitstekende verduideliking van die praktiese betekenis van burgerlike verantwoordelikheid. As burgerlike instellings soos skole of kerke, of die regering vra dat die rem getrap word, gebeur dit nie vanself nie. Slegs wanneer elke burger sy deel doen, word die voertuig nie teen die muur opgefrommel nie.

Die prioriteit van elke burger is om die tempo te vertraag waarteen die virus versprei. ’n Laer verspreidingstempo veroorsaak dat minder mense op ’n slag mediese hulp benodig, wat noodsaaklik is vir ons gesondheidstelsel om die pandemie te kan hanteer. Moenie selfsugtig wees nie en handhaaf sosiale distansiëring – dit gaan veral oor die beskerming van ons kwesbaarste mense.

Burgerskap behels ook verantwoordelikheid wat uitkring. Jy is eerstens verantwoordelik vir jouself (jy was immers jou eie hande) en jou gesin (ouers besluit oor kinders en die higiëne in ’n huis). Maar jy het ook burgerskap van jou buurt, jou skool en gemeente. Dáár moet jy dus ook jou deel doen. Dit gaan oor saamstaan en behulpsaam wees – veral wanneer korrekte inligting baie belangrik is, handhaaf die dissipline om die verspreiding van fopnuus te stuit deur sélf ingelig te wees.

Is daar dalk ’n kwesbare mens in jou straat of buurt, of iemand wat jy persoonlik ken wat hulp met inkopies benodig? Is daar dalk ’n bejaarde wat hulp benodig, maar geen kinders naby het nie? Natuurlik moet hierdie hulp op só ’n manier gebied word dat dit die risiko verlaag en nie verhoog nie. ’n Mens word bewus van gemeenskapslede wat hulp benodig wanneer jy by ’n georganiseerde gemeenskapstruktuur soos ’n plaaslike gemeente, AfriForum- of Solidariteit Helpende Hand-tak inskakel. As lid van só ’n georganiseerde gemeenskap kan jy nie net ander help nie, maar ander lede wat inskakel, is ook daar vir jóú. Die waarde van die morele ondersteuning wat ’n groep gemeenskapslede bied wat op WhatsApp kommunikeer – veral in ’n tyd van sosiale distansiëring – moenie onderskat word nie.

Hoe bepaal ’n mens of dit waarmee jy besig is “goeie burgerlike gedrag” is? Vra jouself af: “Wat sal gebeur as almal doen wat ek nou doen?” As almal fopnuus versprei, kan dit massahisterie veroorsaak. As almal hulself vir die koronavirus laat toets “sommer net om seker te wees”, gaan laboratoriums oorval word en sal daar groot druk op die beskikbaarheid van toetse wees. (Laat ek net hier sê: Dit is uiters belangrik om jouself te laat toets volgens die riglyne wat deur die Wêreldgesondheidsorganisasie bekendgemaak is!).

As almal maande lange voorrade kos en toiletpapier op een dag aankoop, ontstaan daar druk op verspreidingskettings wat tot chroniese tekorte kan lei. Onthou: Daar is baie mense wat nie die geld het om vooruit te koop nie. Wat gaan gebeur as dié mense by ’n winkel opdaag en nie die noodsaaklikhede wat hulle kan bekostig wel daar kry nie?

Pres. Jan Brand (1823–1888) het gesê: “Alles sal regkom as elkeen sy deel doen.” Dit is in 2020 tydens die huidige pandemie nog nét so waar. Handhaaf sosiale afstand; was jou hande; versterk jou immuniteit; ondersteun kleinsakeondernemings; doen jóú deel – dan sal ons saam ook hierdeur kom.

  • Barend Uys is hoof van navorsing en ontwikkeling by AfriForum.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae