Wees verantwoordelik met grondbestuur

land-veld-lug-deur-pixabay-op-pexel

Foto: Pixabay/Pexels.com

Tydens ʼn onlangse toespraak op die Afrikanerbond se Eeufeesviering sê president Ramaphosa, onder meer, dat as grondhervorming goed bestuur word, dit sal help om die land saam te bind en voordele vir almal te bied. As dit swak bestuur word, sal dit net lei tot groter bitterheid, die ekonomie benadeel en brose vrede vernietig. As dit glad nie onderneem word nie, sal die land in sy hart verdeel word.

Die Afrikaanse vertaling sê dalk nie alles nie, maar dit is belangrik om te wys op die verreikende implikasies wat opgesluit is in die woorde van die president. Op 15 Junie 2018 sluit die proses op die openbare deelname proses van die gesamentlike grondwetlike hersieningskomitee van die parlement vir die hersiening van artikel 25 van die Grondwet. Duisende besware is ingedien en die komitee het nou die onbenydenswaardige taak om deur die kommentare te sif en sin te probeer maak uit alles wat gesê is. Die Afrikanerbond is van mening dat die SA Grondwet in sy bestaande formaat wel voldoende mag aan die regering gee om, tesame met die vryemark, wel verantwoordelik om te gaan met grondbesit en transformasie van grond.

Die groter probleem is om die prentjie te probeer verbeel van ʼn regering wat met al die instrumente tot sy beskikking oor jare jammerlik gefaal het met grondoordrag. Miljarde rande is vermors op prosesse wat slegs ʼn paar bevoordeel het, maar grotendeels werkbare en suksesvolle boerderyeenhede omskep het in kolossale mislukkings. Dit is dieselfde regering wat met dieselfde instrumente tot sy beskikking die grondwet wil wysig om grond te onteien sonder vergoeding.

Om te wat? wil mens amper vra. Wat gaan die staat doen met al die hektare onteiende grond as hy doodeenvoudig nie die kapasiteit het om dit tans te bestuur nie. Dit is ʼn ramp wat wag om te gebeur.

Meeste Suid-Afrikaners glo dat grondhervorming nodig is, maar glo dat die proses eerlik, opreg en openlik moet geskied.  Die Grondwet moet voorop gestel word, waarby ingesluit die beginsel van eiendomsreg en die vryemark, soos lankal reeds ooreengekom.

Die eerste stap, na ons mening in die hele proses, moet wees om ’n gemeenskaplike vertrekpunt te bepaal oor wie wat besit. Daar is te veel politieke retoriek oor dié kwessie en dit het op sigself reeds geweldige emosies ontlok. Diefstal van grond is die gonswoorde maar die blote aantyging het net soos die Ashwin Willemse SuperSport-sage emosionele sigwaarde, maar sonder enige substansie.

Die president is dus reg dat, as grondhervorming goed bestuur word, dit sal help om die land saam te bind en voordele vir almal te bied. Baie gewillige hulp is al aangebied om dit reg te kry en sinvolle voorstelle oor etlike jare vergader stof by die Departemente van Grondsake en Landbou.

Die waarskuwing is dat as grondhervorming swak bestuur word, dit net sal lei tot groter bitterheid, die ekonomie benadeel en brose vrede vernietig. Dít  moet dus direk spreek tot diegene in die verantwoordelike staatsdepartemente en die politieke leiers wat die proses tot dusver moes bestuur.

Dit is nie die skuld van Afrikaners, witmense, Indiërs, wit monopolie-kapitaal, wit bevoorregting of enige strooipop wat opgestel word nie. Tyd sal egter leer of daar ʼn wil is om die land “saam te bind en voordele vir almal te bied “ deur te luister na voorstelle en waarskuwings van oor ʼn breë spektrum van Suid-Afrikaners.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

HEVW ·

Dit is juis weer die geskiedenis van Afrika wat bevestig dat die reg bestuur van grondhervorming n hersinsskim bly. Tyd van goedgelowigheid behoort iets van die verlede te wees.

Eish ·

Hier is die moeder van alle rampe in sy beplanningstadium.
Gedagtig aan 24 jaar se geskiedenis, het ek geen vertroue in die regering se kankerbestuur nie en gaan verrotting ook endemies aan grondhervorming wees.

julius ·

Hulle soek nie die grond om iets daarmee te doen nie, hulle wil die blankes van hulle grond ontneem om hulle te verarm.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.