Weg met Gewetensbeswaar-klousule, weg met grondwetlike regte

Deur adv. Nadene Badenhorst en Daniela Ellerbeck

Adv. Nadene Badenhorst en Daniela Ellerbeck.

Die parlement se onlangse aanvaarding van die Wysigingswetsontwerp op die Wet op Burgerlike Verbintenisse, is as ’n oorwinning vir dieselfdegeslagpaartjies beskryf. Die effek van hierdie Wetsontwerp is om alle huweliksamptenare in diens van die staat regtens te verplig om dieselfdegeslaghuwelike te voltrek – selfs indien hulle ’n geloofs- of gewetensbeswaar in die verband sou hê.

Die Wetsontwerp, wat artikel 6 van die Wet op Burgerlike Verbintenisse (naamlik die Gewetensbeswaar-klousule) herroep, affekteer alle staatshuweliksamptenare, onder meer huweliksamptenare in diens van die departement van binnelandse sake (die departement) asook landdroste en ander staatsamptenare wat as gevolg van hul amp outomaties huweliksamptenare is. Godsdienstige huweliksbevestigers word nie geaffekteer nie. Al wat nou oorbly, is vir die president om die Wetsontwerp te onderteken.

Verskeie menseregte- en geloofsorganisasies het hul kommer uitgespreek dat die Wysigingswetsontwerp ongrondwetlik is. Freedom of Religion South Africa (FOR SA) was onder die organisasies wat onlangs versoekskrifte aan president Cyril Ramaphosa gerig het om hom te vra om nié die Wysigingswetsontwerp te onderteken nie, maar om dit eerder terug te stuur aan die parlement vir heroorweging.

Die reg tot vryheid van gewete, godsdiens, denke, oortuiging en mening (artikel 15 van ons Grondwet) is ’n fundamentele reg waarop almal, insluitende staats-huweliksamptenare, kan aanspraak maak. Verder het almal, insluitende staatshuweliksamptenare, ook die reg tot vryheid van onbillike diskriminasie op grond van godsdiens, gewete en oortuiging (artikel 9 van ons Grondwet). Niemand laat hul menseregte by die huis agter wanneer hulle in die oggend werk toe gaan nie. Almal se fundamentele regte heg vas (en behoort) aan hulle as persoon, en verdwyn nie net afhangende van wie hulle werkgewer of wat hulle beroep is nie.

Die redes vir die Gewetensbeswaar-klousule

Die vraag of staatshuweliksamptenare gedwing kan word om dieselfdegeslaghuwelike te voltrek, het reeds in die Fourie-saak (waarin die konstitusionele hof dieselfdegeslaghuwelike in Suid-Afrika gewettig het) in 2005, onder die loep gekom. In hierdie saak, het regter Sachs uitdruklik gesê dat die staat voorsiening moet maak vir die regte van staatshuweliksamptenare wat geloofsbesware daarteen het om dieselfdegeslaghuwelike te voltrek.

Die Gewetensbeswaar-klousule in die Wet op Burgerlike Verbintenisse (wat gevolg het op die Fourie-saak), was spesifiek deur die parlement in die Wet ingeskryf op grond van hierdie aanbeveling. Dit is dus totaal verkeerd om te sê dat die klousule neerkom op onbillike diskriminasie teen dieselfdegeslagpaartjies en daarom ongrondwetlik is – die klousule was juis ’n aanbeveling van die konstitusionele hof as ’n wyse om die grondwetlike regte van staatshuweliksamptenare tegemoet te kom.

Die Wysigingswetsontwerp plaas nou egter staatshuweliksamptenare in die onbenydenswaardige posisie om tussen hul geloof, en hul werk, te kies. Dit forseer hulle om te kies óf om dieselfdegeslaghuwelike te voltrek selfs al sou dit teenstrydig wees met hul gewete of geloof, óf om alternatiewe werk te vind.

Die ongrondwetlikheid van die Wetsontwerp

Een van die hoofredes hoekom die Wysigingswetsontwerp as ongrondwetlik beskou word, is omdat dit direk teen die konstitusionele hof se aanbeveling gaan. Dit verwyder die Gewetensbeswaar-klousule, maar vervang dit nie met enige ander meganisme wat staatshuweliksamptenare se menseregte in ag neem of daarvoor voorsiening maak nie.

Niemand moet gedwing word om te kies tussen gehoorsaamheid aan hul geloof (met moontlike ewigheidsgevolge indien hul nie aan hul geloofs- of gewetensoortuiging getrou is nie), of gehoorsaamheid aan die Wet (met moontlike regsgevolge indien hul nie die Wet sou nakom) nie. Die konstitusionele hof het tog al self (in sake soos die Christian Education South Africa v Minister of Education, 2000 en ander) gesê het dat die staat dit sover moontlik moet vermy om gelowiges in hierdie pynlik moeilike posisie te plaas. Verder het die hof ook al op verskeie geleenthede (in sake soos The Citizen 1978 (Pty) Ltd v McBride) bevestig dat daar geen hiërargie van menseregte is nie, en dat die wetgewer dus maniere moet vind om álle fundamentele regte te respekteer en te beskerm.

’n Ander belangrike rede hoekom die Wysigingswetsontwerp ongrondwetlik is, is omdat dit nie die Grondwet se beperkingstoets slaag nie. Dié toets (in artikel 36) vereis, onder meer, dat wanneer die staat ’n fundamentele reg beperk, dit op die minste beperkende wyse gedoen moet word. Dit is nié die geval met die Wysigingswetsontwerp nie, omdat daar vele praktiese alternatiewe oplossings is wat nié die fundamentele regte van staatshuweliksamptenare sou uitwis nie. Hierdie alternatiewe oplossings is, sonder rede, deur die parlement geïgnoreer en van die hand gewys.

Van die praktiese oplossings was, onder meer, dat die departement spesifiek huweliksamptenare in diens neem wat geen gewetensbesware het nie, of dat dit “rondreisende huweliksamptenare” ontplooi in dieselfde manier as wat daar rondreisende howe bestaan, om seker te maak dat daar in alle gebiede huweliksamptenare is wat dieselfdegeslaghuwelike kan voltrek. Daar is ook niks wat die departement verhoed om te oorweeg om huweliksamptenare wat geen gewetensbesware het, oor te plaas na areas waar daar ’n tekort is aan geskikte huweliksamptenare nie.

Enige een van dié oplossings sou vermy het dat die staat die grondwetlike regte van sy werknemers skend, terwyl dit terselfdertyd ook tot ‘n wen-wen-situasie vir alle betrokke partye sou lei. Die Wysigingswetsontwerp is dus totaal onnodig.

Die gevaarlike afdraande pad

Dit is belangrik om te verstaan dat die Wysigingswetsontwerp nie net ‘n beperking op die regte van staatshuweliksamptenare is nie, maar ‘n beperking op álmal se grondwetlike reg om volgens hul godsdiens, gewete en geloofsoortuigings te lewe.

As staatshuweliksamptenare nie geregtig is op hul menseregte nie, dan is ander persone in diens van die staat ook nie daarop geregtig nie. Byvoorbeeld, as staatshuweliksamptenare geforseer kan word om teen hul gewete en geloof op te tree, beteken dit dat dokters wat vir die staat werk, ook geforseer kan word om aborsies of genadedood uit te voer. Die gevaarlike afdraande pad is dat mense wat tot sekere godsdienstige of geloofsoortuigings hou, nie langer vir die staat sal kan werk nie en nie langer, byvoorbeeld, landdroste of staatsdokters sal kan word nie.

Die uiteinde is ook dat, as ons die staat die mag gee om te besluit wie op die beskerming van hul menseregte geregtig is (en wie nie), die staat se posisie maklik kan verander na gelang van die ideologie van die regerende party. Gegewe ons land se verlede waar die apartheidsregering bekend was daarvoor om almal in die samelewing se gedrag en oortuigings te beheer, is die situasie waarin ons onsself nou bevind, totaal teenstrydig met alles waarvoor soveel mense vir so lank geveg het. Dit gaan ook direk teen die gees van ons Grondwet, wat ‘n samelewing in die vooruitsig stel waar ons almal verenig is in ons verskeidenheid, en diversiteit (ook van godsdiens, gewete en oortuiging) gevier eerder as veroordeel word.

  • Nadene Badenhorst is ‘n heeltydse advokaat in diens van die Freedom of Religion South Africa (FOR SA), en het ’n BA- en LLB-graad aan die Universiteit Stellenbosch, en ook ’n LLM-graad (Internasionale Menseregte) graad aan die Universiteit van Essex, verwerf.
  • Daniela Ellerbeck is ‘n heeltydse prokureur in diens van Freedom of Religion South Africa (FOR SA), en het ‘n B.Com- en LL.B.-graad van Rhodes Universiteit verwerf.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Drikus ·

Baie goeie artikel, ons vryheid is onder bedreiging op baie fronte. Dit sluit in – ouers se reg tot lyfstraf, vryheid om ons moedertaal te gebruik en te bevorder en op die ou einde godsdiens vryhied.

Riaan ·

Dit wil my voorkom ons is sterk oppad na ‘n distopiese toekoms. Dit is amper ‘n mengsel van die boeke van George Orwell se 1984 en Aldous Huxley se Brave New World. As Big Brother sê 2+2=5, dan is dit buig of bars, 2+2=5. Die sosiale geregtigheid wat die regering najaag is niks meer as die demoralisasie van die gemeenskap, en die sistamties erodasie van hulle regte om sodoende meer mag eensydig toe te eien.

pokkel ·

party mense sukkel maar net om te aanvaar dat alle mense deesdae regte het, nie net hulself nie

Cheryl ·

Of ons nou daarvan hou of nie. Hierdie goed gaan al hoe meer gebeur hoe nader ons aan die eindtyd beweeg. Ons gaan almal moet kies. God of satan. Ek kies eerder Jesus as om voor satan te buig. Die eindresultaat maak alles die moeite werd.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.