‘Welcome to the NWU open day 2038’

NWU deur Media Club (Flickr)

Deur Paul Maritz

Die oomblik toe die wekker lui, weet ek alreeds iets is anders as gewoonlik.

Vir ‘n oomblik of twee is ek deurmekaar, en dan besef ek dat ek vanoggend halfvyf moet opstaan, sodat ek vyfuur reeds op die snelweg kan klim om seweuur in Potchefstroom te kan wees – ná sewe is daar nie meer parkeerplek op die kampus beskikbaar nie – dit is tog nog al die jare so.

Soos ek in die gang afloop, sien ek dat my dogter reeds aangetrek is. Sy sien al vir maande lank uit na vandag – die NWU-opedag, haar kans om op kampus te gaan rondloop, en te sien waaroor ma en pa al die jare om die braaivleisvure praat, haar kans om in Lovers’ Lane te gaan loop, ‘n ontbytpita te eet en na ‘n paar koshuise te gaan kyk. Ja-nee, kyk, die opgewondenheid loop hoog!

Toe ek in die kombuis kom, herinner my slimhorlosie my dat vandag Saterdag 8 Mei 2038 is. My dogter het maande terug al die hele dag uitgeboek vir my en haar. Opedag in Potch, het sy dit genoem.

Ons pak ‘n paar vrugte en ‘n waterbottel vir ons elkeen, klim in die voertuig, en vertrek. Ek het gedink sy sal op pad wil slaap, maar nee, heeltemal te opgewonde oor dié dag begin sy my uitvra oor my jare van studentwees. Gelukkig bestuur die motor homself en ek kan my volle aandag gee aan die stories van deurnagbraai by die vlei, karre aan die brand stoot buite die Draak, duikwegliedjies, en serenade buite dameskoshuise.

Die pad vlieg verby, en toe ek my kon kry is ons in Hofmanstraat, oftewel, ‘n straat wat in ‘n stadium Hofmanstraat was. Hier gaan ons, dink ek. Haar tienervoetjies gaan nou onder haar uitgeslaan word! By die hoofhek sal sy deur ‘n netjies aangetrekte student begroet word, en ‘n sakkie met lekker geskenkies, ‘n kaart van die kampus en ‘n program kry. Dan sal ons sukkel om parkeerplek te kry, maar deur een van die vriendelike beskermingsdienstepersoneel gehelp word, en tog regkom. Van daar sal ons ‘n drafstappie amfiteater toe neem, net om plek te kan kry – plek wat die wag werd sal wees. Ná ‘n opening met Skriflesing en gebed sal ons dan vermaak (en verstom) word, een kwinkslag ná die ander, totdat ons verdeel word in die verskillende fakulteite se groepe. Dan sal sy by ‘n paar fakulteite verwelkom word, terwyl ons oral langs die pad groepe studente teëkom wat hul koshuise op die een of ander kreatiewe manier bemark. Ja-nee, Sussie, ná vandag sal jy verstaan waarom ek en al my vriende nagte om kan praat oor hierdie stukkie aarde – wag jy maar net!

Soos wat ons by die hek intrek, besef ek dat dit effens stiller is as wat ek verwag het, maar ons is seker maar net effens vroeg! Ons kry redelik maklik parkeerplek, sommer voor die ouditorium – nou ja, hoe gelukkig kan mens wees! Ons drafstap amfiteater toe, maar besef, toe ons nader kom, dat ons maar rustig kan wees, hier is nie veel mense nie – miskien skakel almal maar net deesdae elektronies in op die beeldsendingskanaal? Dit moet wees, maar, nou dat ek rondkyk, sien ek dan nie ‘n kamera nie? Ons gaan sit nietemin en wag vir die verrigtinge om te begin. Ek sien hoe my dogter om haar kyk, so klein bietjie minder borrelend as vroeër, maar steeds opgewonde en gereed om verstom te word. Nie meer lank nie, dan is dit agtuur, dan kan die verrigtinge begin!

So sit ons, en ons sit, en ons sit. So ʼn paar minute ná agt kom ‘n personeellid opgestap, sy groet ons met die rewolusionêre groet wat in die vorige eeu bekend was in Suid-Afrika, en herinner ons vlugtig, en slegs in Engels, dat ons almal welkom is by die amptelike opedag wat weer in Oktober gehou sal word vir studente wat nie by ander universiteite plek kon kry nie. Sy bedank ons dat ons wel gekom het, en loof en prys die NWU vir die wonderlike transformasie van die afgelope 25 jaar. Sy sê egter niks van akademiese uitmuntendheid nie, sy sê niks van die koshuis- of studentelewe nie, en ook niks van die uitsonderlike vorming van mense nie.

My dogter haal haar slimfoon uit en begin om ander goed op sosiale media te lees.

Ná nog transformasiegetalle en lof en eer vir die agente van radikale transformasie noem die dame agter die mikrofoon dat sy gou iets oor taal wil sê. Sy wys ons daarop dat hierdie universiteit altyd ruimte vir meertaligheid sal maak, en dat hulle daarop trots is. Dan spreek sy nog dankbaarheid uit teenoor die transformasieagente wat seker gemaak het dat klasse, vir twee dekades al, slegs in Engels aangebied word op die Potchefstroom “learning site” van die NWU. Nou kan almal deel voel, sê sy heel spoggerig.

In ‘n stadium sê sy ons kan nou maar na die fakulteite toe gaan wat ons wil. Ons sal op die kaart sien waarheen mense moet gaan. Geen studenteleiers wat ons na fakulteite neem nie, geen koshuise wat oop is vir toere nie – fakulteit toe en huis toe. Dankie, sluit sy af, en los ons weer met die rewolusionêre kraggroet.

Ons begin maar stap na ‘n paar fakulteite toe. Steeds oorbluf deur hoe anders alles is as wat ons albei verwag het, bly ek en my dogter maar stil. Voel sy miskien dat ek vir haar gejok het oor my studentelewe? Dalk sien sy die pyn in my oë, die pyn van iemand wat iets opgebou het en dit toe moes afstaan aan ander, ander wat dit nie waardeer het nie, dit beledig het. En dit afgebreek het.

Nadat ons deur ‘n paar fakulteite gedrentel het, en eintlik maar net na die webblad toe verwys is, besluit ek om een laaste poging aan te wend – ek sal vir haar gaan wys waar die studentelewe afgespeel het, die studentelewe waarvan ek so gereeld praat. Gretig neem ek haar na die studenteraadskantore toe, daar is mos altyd lewe!

Daar aangekom, besef ek dat die radikale transformasie hier byna voltrek is. Waar daar altyd studenteleiers gesit het, is daar nou net store, die bestuur het die kantore by studenteleiers weggeneem nadat die studenteraad, wat sedert ‘n dekade terug polities verkies is, die kantore in protes oor koshuispryse aan die brand gesteek het. Die name en foto’s van my vriende en kollegas wat ‘n groot deel van hul lewens en baie van hulle tyd vir hierdie kampus en sy studente gegee het, is op daardie selfde dag afgeruk en in die vuur gegooi. Name uit die ou regime, name wat moes #fall.

Verstom deur wat ek om my sien, kry ek nie veel meer uit as “Kom, ons gaan” nie. Op pad kar toe onthou ek die woorde van die bestuurslede in 2018, hoe hulle geglo het dat taal die laaste stryd is. Hulle het nie besef dat dit die eerste stryd is nie. Dat taal nie die einde is nie, maar die begin. As ek maar net daardie tyd minder naïef was, as ek maar net opgestaan het en vir hulle gesê het ek weier. Maar ek het myself laat paai deur bestuurslede wat korttermynvrede bo langtermynvoorspoed geplaas het – nou sit die volgende geslag met die gevolge.

  • Paul Maritz is verantwoordelik vir interne bemarking by die vakbond Solidariteit. Die artikel is oorspronklik op Solidariteit se webwerf geplaas en met hul vergunning hergebruik.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

13 Kommentare

Alta Enslin ·

Dankie, Paul! Dis ‘n vrees wat ek in my hart ronddra vir wanneer my Gr 9 seun oor slegs ‘n paar jaar hierdie treë moet gee. Wat van dit wat ek, my man en dogter van hierdie kampus ervaar het, gaan, selfs oor 3 of 4 jaar nog oor wees….

John ·

… en toe ons op die plek kom waar ons kar gestaan het… Is jy seker ons het hier parkeer?… Ja Pa…. Nou waar?… Alweer.?…

Stef PApendorf ·

Ja Swaer,

My Pa het in 1974 gekeer dat die Senaat stem om al die bome wat nou “lovers-lane’ is uit te haal. ‘n Ou se wortels skud maar in hierdie dae.

Stef Papendorf

Casper Labuschagne ·

Ek het al ‘n ruk gelede opgehou om sulke tong in die kies voorspellings oor die toekoms in Suid Afrika te maak omdat dit sonder uitsondering altyd waar word.

Helana Terblanche ·

Dis wat by RAU gebeur het, ek het self nie daar (by UJ) geswot nie, my man het wel en praat met heimwee oor sy daghuis dae, wat sekerlik nie meer so is nie. Ek hoor nie lank terug nie dat Oppierif se koekepan verlate eenkant iewers by die Universiteit gestaan het en n groep van in die 70’s wat daar geswot het reunie gehou het en die univetsiteit die koekepan vir hulle gegee het want dit is van die “outyd”, en is net te bly hul is ontslae van die ding. Kan net dink hoe dit oor 15jaar gaan wees wanneer my oudste Universiteit toe gaan, wonder of sy ooit gaan Univetsiteit toe gaan…

Selfbeskikking ·

Ons moet met die regering onderhandel dat Potch deel vorm van ons eie land, dan kan ons hierdie tragedie keer.

Johan Strydom ·

Die bevolking samestelling maak dit onmoontlik. Ons moet nuwe Afrikaner nedersetings stig, verkieslik in yl bevolkde gebiede.

Eish ·

Genadiglik het die skrywer nie uitgebrei oor die fakulteite nie. Afrika intellektuele tradisie soos die geleerde mense dit noem, of verafrikanisering.
Thepartment of medicine – Sangomaskap oor 5 jaar. Dolosse en weerligleiding as hoofvakke. Vanweë die feit dat geen landbou meer bestaan nie, is dolosse van plastiek gemaak.
Thepartment of figures – Uitveërs en sompompies word gratis verskaf.
Thepartment of natural hiestorie – in die Jacob Zuma saal. Hoofvak Apartheid.
Thepartment of mobility – Hoe om n draadkameel te maak.
Thepartment of Communikasion – Hoofvak, skeletklets.
Ons is besig om afskeid te neem van n onvervangbare kultuurskat. Hartseer.

John ·

I have jus one quesion: Why eat so so much meat before going to bed… bad dreams….

Koos ·

Al studeer julle kinders ook in Afrikaans, wonder ek net oor 1 ding: gaan hulle werk kry met hulle grade? Weet hulle van die nare werklikhede van regstellende aksie en BEE? Weet hulle dat duur verhuising na Australië en ander lande nie die “oplossing” is vir almal nie?
Ek het my 2 grade uit die ou SA later afgehaal van my CV af. Anders was ek seker nou nog werkloos.

Henko ·

Wat ’n fantastiese stuk. Dit gee my skoon hoendervleis. Trotse PUKKIE. Baie dankie vir die herinneringe.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.