Welkomswoord van die Redakteur

Vriende, saamgeselsers, teëpraters, waarnemers

Welkom by Die Groot Debat – waar voorste menings in Afrikaans getoets en aangevul word; waar daar daagliks nuwe skrywes van bekendes en bekwames (sien hieronder) in Afrikaans verskyn; waar die stand van die samelewing en aktuele sake in ywerige oënskou geneem word uit ʼn kenmerkende hoek.

Ek praat van ʼn kenmerkende hoek, omdat Die Groot Debat ʼn bepaalde karakter het. Wat is hierdie karakter en hoe gaan ons ons laat lei?

Die Groot Debat word geposisioneer as ʼn aanlyn, Afrikaanse meningsruimte oor hoe die samelewing ingerig is, met ʼn oriëntering op vryheid en gemeenskap. Dit het aktuele sowel as tydlose inhoud en vra bydraes van ʼn kerngroep voorste Afrikaanse meningsvormers. Dit vergelyk met die rubriekruimtes van koerante, maar is aangepas vir ʼn aanlyn-omgewing.

One het vyf waardes geformuleer waaraan ons ons bedrywighede gaan meet:

  1. Christelike waarderaamwerk: Die Groot Debat vind binne ʼn Christelike raamwerk plaas en die styl en inhoud van debatvoering sal daardeur beïnvloed word.
  2. Individuele vryheid: dat elke mens in die eerste plek vir homself verantwoordelik is en vry van dwang behoort te wees om sy/haar roeping na te streef.
  3. Vrye gemeenskapsvorming: dat elke mens homself in gemeenskapsverband uitleef – die hoekstene van die beskawing en ʼn sinvolle lewe.
  4. Respek aan die gesag van die tradisie: dat die bewyslas vir die verwerping van ʼn gebruik of tradisie by die verwerper lê.
  5. Balans tussen probleem en oplossing: Die Groot Debat sal altyd daarna streef om ʼn balans tussen probleem en oplossing te vind. Die Debat sal nie bloot ʼn kritiekforum wees nie, maar sal poog om oplossings vir probleme wat gestel word, te soek.

Hoef ons skrywers en lesers noodwendig self hierdie waardes aan te neem; en publiseer ons slegs inhoud wat hiermee in ooreenstemming is? Allermins – die posisionering en waardes is ʼn beskrywing van die algemene karakter wat ons op Die Groot Debat probeer handhaaf en nie ʼn persoonlike voorskrif aan ons deelnemers of lesers nie. ʼn Bepaalde voorkeur aan ʼn sekere denkraamwerk is natuurlik ook allermins uniek aan Die Groot Debat – dink maar aan enige koerant, blog, tydskrif, televisiekanaal en dies meer. Lees gerus meer by ons volledige waardes en redaksionele beleid.

Juis om seker te maak dat menings geweeg en getel word – ter wille van die verdieping van die gesprek – publiseer ons ook van tyd tot tyd menings wat van buite Die Groot Debat se waarderaamwerk kom.

Met die tyd sal ons die karakter van Die Groot Debat in samewerking met ons skrywers en lesers ontwikkel en opbou.

Ons het sowat 50 mense genooi om as maandelikse skrywers aan Die Groot Debat deel te neem. (Oor die volgende paar maande sal ons hierdie lys waarskynlik deurlopend aanvul.) Hulle is: Alana Bailey; André Alkema; André Duvenhage; Bennie van Zyl; Cerneels Lourens; Charl-Pierre Naudé; Chris Klopper; Danie Goosen; Danie Langner; Danny Titus; Dave Steward; Dawie Roodt; Deon Geldenhuys; Deon Opperman; Dirk Hermann; Ernst Roets; Flip Buys; Frans de Klerk; Freek Robinson; Heinrich Matthee; Henk Schalekamp; Ina Wilken; Isak Burger; Jaco Kleynhans; Jacques van der Elst; Jan Bosman; Kallie Kriel; Koos Malan; Lawrence Schlemmer; Louis du Plessis; Maretha Maartens; Michael le Cordeur; Petrus Kriel; Piet Strauss; Polla Roux; Rhoda Kadalie; Sean Else; Steve Hofmeyr; Theo de Jager; Wannie Carstens; Wikus Buys; Willie Spies.

Welkom by Die Groot Debat – lekker gesels.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Piet le Roux

Piet le Roux is die uitvoerende hoof en direkteur van die sakeregte-organisasie Sakeliga.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.