Wenners? Ek sien net verloorders

Deur Louis Bothma

Hierdie artikel is oorspronklik in Beeld gepubliseer op 3 November 2011.

“Daar was nie wenners in die Grensoorlog nie. Hy sien net verloorders,” skryf Louis Bothma, oudsoldaat van die berugte 32 Bataljon. Bothma reageer op die boek Ons was daar – Wenners van die oorlog om Suider-Afrika, wat deur genl. Jannie Geldenhuys saamgestel is.

Ek was óók dáár. Op die grens. Nie oral en altyd nie, maar ek was daar.

Só sê die T-hemp wat die dankie-tannies my een Krismis gegee het. Die goedige tannies met die oop harte wat geglo het ons gaan die kommuniste en terroriste ver van hulle af hou. Vandag is hulle swak, oud en agter tralies ingehok. Die loopgrawe op die grens het tronke by die huis geword.

Swapo sit in Windhoek, die ANC in Pretoria. Apartheid is dood. Lank lewe apartheid. Die wit grensvegters en hul families is nou tweedeklas-burgers in Suid-Afrika.

Maar die generaals sê ons het die oorlog gewen. Duskant Cuito. By die Lombarivier. Daar was trouens geen Slag van Cuito Cuanavale nie. Dit is Kubaanse propaganda. Ons het maar net ’n paar maande lank met ons G5-kanonne op Cuito Cuanavale geskiet, die brug opgeblaas en aanvalle in die omgewing uitgevoer.

Wat is die waarheid oor die Grensoorlog?

Cuito Cuanavale is al met Stalingrad vergelyk. Maar dit rek die verbeelding net te ver. Miskien is Magersfontein meer gepas?

Die Boere het die Engelse op 11 Desember 1899 vernederend verslaan, waarna die Tommies na die samevloeiing van die Modder- en die Rietrivier teruggetrek en hulle ingegrawe het. Toe volg twee maande se oor-en-weer-skietery met kanonne en ’n flou poging om die Engelse se logistieke lyne anderkant die Modderrivier te ontwrig. Genl. Piet Cronjé het hardnekkig bly glo die Engelse sal aanhou om met die spoorlyn langs by Kimberley uit te kom.

Intussen het duisende Engelse by die kamp by die Modderrivier aangekom. Lord Roberts van Kandahar, ’n nuwe generaal met ’n groot reputasie, het die bevel oorgeneem. En toe Cronjé op ’n oggend sy oë uitvee, trek Roberts se kavallerie in die vlakte regsom verby en ontset Kimberley. Skielik was Magersfontein irrelevant. Dit was die begin van die einde van Cronjé en uiteindelik die Boererepublieke.

Het die geskiedenis hom nie maar weer in ’n mate by Cuito Cuanavale herhaal nie?

’n Vyand wat op pad was na Jamba, toe gestuit is en verslane moes omdraai om hom by ’n klein dorpie by die samevloeiing van die Cuito- en die Cuanavalerivier te gaan ingrawe. Maar toe kom die gesoute Ochoa Sanchez, ’n nuwe generaal, met ’n groot oormag. En ’n paar maande later trek hy onverwags doer ver met sy tenks regsom – reg op Ovamboland af. Skielik was die oorwinning by die Lombarivier irrelevant. Uit die nuwe situasie het ’n wapenstilstand gekom.

Die ou Suid-Afrika, nes die Boere-republieke, is ongedaan gemaak en ’n nuwe Suid-Afrika het verrys.

Het ons die Grensoorlog gewen?

Ná die vredesonderhandelinge moes die Kubane teruggaan na hul eiland-staat. Geen staatkundige veranderinge het in Kuba plaasgevind nie. Ons moes padgee, nie net uit Angola nie, maar ook uit Suidwes-Afrika/Namibië. Afstandsgewys moes die Kubane verder terugtrek as ons: 11 000 km teenoor 2 500 kilometer. Maar die verskil lê daarin dat ons moes teruggaan waarvandaan ons in 1915 gekom het, toe Suid-Afrikaanse soldate Duits-Suidwes-Afrika op versoek van Brittanje verower en beset het.

Maar die politici in die Unie-parlement wat hierdie besluit sonder oorleg met die kiesers geneem het, moes eers ’n opstand deur die wit Afrikaanssprekende bevolking onderdruk voordat hulle ’n Duitse kolonie vir Engeland kon gaan roof. In die proses het kmdt.genl. Christiaan Frederik Beyers, hoof van die Unie se burgermag, uit protes bedank en saam met die room van die ou Boeregeneraals gerebelleer. Die Boere wou nie grens toe gaan nie.

Skielik lyk die Grensoorlog heel anders wanneer mens anderkant Cuito, buite die parameters van die Koue Oorlog, begin dink. Dan was die eerste operasie op die grens nie in 1966 nie, maar in 1917, toe ’n sterk Suid-Afrikaanse mag die Ovakwanyama-stam gaan aanval en Mandume ya Ndemufayo, hul koning, doodgeskiet het.

Nes Paul Kruger het Mandume in die pad van die mynbase gestaan, wat agter Ovamboland se arbeid aan was.

Elke jaar op 16 Desember word ons daaraan herinner dat koning Dingaan Piet Retief vermoor het. Waarom sal die Ovambo’s vergeet dat Suid-Afrikaanse troepe hul koning doodgemaak het?

Die grafte van tien Suid-Afrikaners by St. Mary’s Mission in Ovamboland wat in die “eerste Grensoorlog” in 1917 daar gesneuwel het. Foto: Louis Bothma

Onder ’n maroelaboom by St. Mary’s Mission, skaars ’n kilometer van die Angola-grens, is die grafstene van tien Suid-Afrikaanse soldate. Een is dood aan malaria. Die ander nege het op 6 Februarie 1917 anderkant die grens, by koning Mandume se kraal op Oihole, gesneuwel. Die storie wil dit hê dat Mandume se lyk onthoof en sy kop Windhoek toe geneem is.

“Die Ovambo’s hou nie van hierdie grafte nie. Hulle weet hierdie mense het gekom om hul koning dood te maak,” vertel Nancy Robson, wat byna ’n leeftyd by St. Mary’s woon.

Stene des aanstoots, in plaas van laaste rusplekkies vir soldate wat maar net politici se planne uitgevoer het.

Nancy vertel Swapo se groot name het by St. Mary’s skoolgegaan: Hifikepunye Pohamba, huidige president van Namibië; Charles “Ho Chi Minh” Namoloh, minister van verdediging en destyds stafhoof van die Peoples’ Liberation Army of Namibia (PLAN); Martin Shalli, voormalige Namibiese weermaghoof, toe die PLAN se hoof van operasies…

“Dit is hartseer dat hier nou boompies op die grafte groei,” sê Nancy toe ons in die bakkie klim. Maar ek hoor haar skaars. Vir die eerste keer verstaan ek hoekom St. Mary’s Mission in die Grensoorlog ’n “terroristenes” was. Geen wonder ons kon nie die hearts and minds van Ovamboland se mense wen nie. In die eerste “vry en regverdige” verkiesing het die Ovambo’s in ’n blok vir Swapo gestem.

Dit was ’n oorlog wat ons nie kon wen nie. Ons het die stryd lank voor die Koue Oorlog al verloor.

Maar was daar wenners?

Ek sien net verloorders. Kinders wat wees gelaat is; kinders wat in die oorlogsrumoer verwek en hul ouers nooit sal ken nie; burgerlikes wat ledemate verloor het; ander wie se geliefdes gemartel en vermoor is; gemeenskappe wat ontwortel en ontwrig is; ma’s wat nooit sal weet hoe hulle seuns gesterf het nie; en soldate – aan albei kante – wat die pad byster geraak het. Die lysie word net altyd langer. Albei kante het bloed aan hul hande. Die volle waarheid oor die Grensoorlog moet nog uitkom.

Oorlog is soos ’n longdrop. Hoe dieper en langer jy grawe, hoe meer stink dit ondertoe. Wat maak die Grensoorlog anders as ander oorloë?

Vir ons was dit ’n grens- of bosoorlog, vir Swapo ’n bevrydingsoorlog. Miskien moet die debat nie gaan oor wie gewen het nie, maar wie bevry is?

“Ons het met ’n groot geraas in Windhoek aangekom. By die stasie het ons elkeen R10 gekry. En toe moes ons huis toe gaan en begin werk soek. Maar hier is nie vir almal werk in Namibië nie. Vandag word die Chinese voorgetrek,” vertel een van Swapo se ou PLAN-vegters my in Windhoek.

Soldate aan albei kante voel in die steek gelaat deur die politici.

Solank die volle waarheid nie uitkom nie, politici en generaals vir ons dink, sal ons duskant Cuito gestrand bly.

Duisende van ons wat daar was, het maar net bevele uitgevoer wat van bo af gekom het. Nou kan ons self kies waar ons wil wees.

Ek verkies die morele hoë grond, anderkant Cuito.

Bothma is nou ’n historikus en skrywer. Sy jongste boek is Anderkant Cuito – ’n Reisverhaal van die Grensoorlog

Klik nou hier om Johan Kruger se reaksie op hierdie artikel te lees en klik hier om Marius (Mo) Oelschig se reaksie op hierdie artikel te lees.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae