Ná die aanvalle op Saoedi-Arabië se olieraffinaderye deur (na bewering) die Jemenitiese Houthi-rebelle het die olieprys die hoogte ingeskiet. Dit het aanvanklik met 20% gestyg (van sowat $60 na $69), maar later weer teruggesak nadat die VSA en ander lande aangekondig het dat hulle hul oliereserwes op die mark gaan gooi om vir die produksieverlies op te maak. Die olieprys is egter nog steeds omtrent 10% hoër as voor die aanvalle en staan tans by sowat $65. Die hommeltuigaanvalle, wat blykbaar ook deur missiele ondersteun was, was presies gerig en het sowat die helfte van Saoedi-Arabië se olieproduksie uitgeskakel, wat neerkom op 5% van die wêreldproduksie.
Saoedi-Arabië het wel aangekondig dat die skade so spoedig moontlik en met internasionale hulp herstel sal word, maar elke dag van verlore produksie kos die land baie geld en het ’n impak op die wêreldekonomie. Al word die skade gou herstel en keer die produksie terug na normaal, het die aanval die kwesbarheid van die land gewys en is ’n herhaling waarskynlik.
Iran, Saoedi-Arabië se vyand in die streek, is ’n bondgenoot van die Houthi-rebelle, wat intussen die grootste deel van Jemen beheer. Daar bestaan twyfel of die rebelle uit ’n agterlike land soos Jemen in staat kon gewees het om so ’n gesofistikeerde aanval sonder hulp van buite te begin. Ook die rigting waaruit die aanvalswapens gekom het, wys eerder na Iran of Irak as na Jemen.
Saoedi-Arabië is die derde grootste olieprodusent in die wêreld met ’n kortkop agter die VSA en Rusland, maar beskik oor die naasgrootste reserwes en is die grootste uitvoerder van olie. Meer nog, die land is die leier binne Opul, (Organisasie van Petroleumuitvoerlande) en het ’n buitengewone invloed in die bepaling van die olieproduksie van Opul, die olieprys en daarmee saam die lot van die wêreldekonomie.
’n Vlak van onder $50 per vat ruolie geld as voordelig vir die wêreldekonomie, bo $80 het dit ’n erg remmende effek, en bo $100 raak dit krities. Alles is direk of indirek van die olieprys afhanklik. Daar is amper geen nywerheidsproduk wat nie olie bevat nie, en omdat feitlik alle vervoer deur middel van brandstofaangedrewe voertuie (insluitende vliegtuie en skepe) geskied, bepaal die olieprys direk of indirek elke produk en diens se prys.
Die wêreldekonomie is reeds nie in ’n goeie toestand nie en ’n relatief lae olieprys was eintlik een van die min hoopgewende faktore. Indien Saoedi-Arabië en sy bondgenote, by name die VSA, nou as vergelding Iran se olieraffinaderye aanval, sal dit die olieprys verder onder druk plaas. Iran het nou al verskeie kere die VSA, Brittanje en Saoedi-Arabië uitgedaag, maar omdat almal ’n eskalasie vrees, was daar geen vergelding nie. As die VSA egter niks doen behalwe om te dreig nie, gaan hulle gesien word as ’n hond wat blaf, maar nie byt nie. Sanksies teen Iran bestaan reeds en kan nog verder verskerp word, maar dit sal ook die land se uitvoer van olie raak en daarmee die olieprys verder laat styg.
Gewoonlik is die olieprys nooit baie lank hoog nie, omdat ’n hoër prys ook weer eksplorasie aanmoedig. Olieontginning het ná merkwaardige ontdekkings in verskeie wêrelddele buite die Midde-Ooste soos die VSA, Kanada en China toegeneem. Nog steeds is egter die meeste olie in die state van die Arabiese Golf gekonsentreerd. Deurdat Saoedi-Arabië se kwesbaarheid nou vir almal duidelik is (ten spyte van militêre teenwoordigheid van die VSA en teenaanvalsmissiele het die verrassingsaanval geslaag), sal ’n risiko-opslag by die olieprys nou ingeprys moet word.
Op die kort termyn neig die olieprys nou opwaarts. Daar bestaan wel hoop dat op die lang termyn die Midde-Oosterse kruitvat nie meer die wêreldekonomie sal kan bepaal soos in die verlede nie: die ontdekking van olie in ander en meer stabiele streke asook die tegnologiese ontwikkeling, wat alternatiewe energiebronne meer doeltreffend maak en die navraag na olie laat daal, maak die wêreld minder afhanklik van die Midde-Oosterse kruitvat met sy oorloë en diktators.