Wêreldwye Paastradisies en -gebruike

kruis Christus

Argieffoto (Foto: geralt, Pixabay)

Paasfees is seker die belangrikste Christelike fees. Anders as Kersfees, wat eintlik ʼn heidense oorsprong het, het die Paasfees sy ontstaan in die Ou Testament oftewel by die Jode. Dit herinner aan die slag van lammers en die bestryk van die deure met die bloed voor die uittog uit Egipte. Die doodsengel het die Jode wie se huise so gemerk was, gespaar. Jesus het later die offerlam vir die wêreld geword en deur sy bloed kom verlossing vir almal wat in Hom glo.

Die Jode eet op Paasfees ongesuurde brood en ander kos in rituele volgorde, en as die belangrikste, ʼn geroosterde lamsboud. Dus maak die tradisie om ʼn lam op Paasfees te eet heeltemal sin vir Christene. Ook in Sentraal-Europa het die gebruiklike tradisie van die Paaswandeling ná ete op die Paassondag, ʼn Christelike oorsprong, naamlik die herinnering aan die Emmausgangers wat Christus kort na sy opstanding ontmoet het. Soms vind ook ritte te perd plaas, wat die verspreiding van die boodskap van Christus na alle dele van die wêreld simboliseer.

Die Afrikaanse term Paasfees asook die variasies in die Romaanse tale (“Pasca”, “Pascues”, “Paque”) is nader aan die oorspronklike Joods-Christelike fees “pesjag” as die Engelse “Easter” of die Duitse “Ostern”. Die oorsprong van die Germaanse woord “Ostern” en sy Engelse variasie is nie heeltemal duidelik nie, maar het moontlik ʼn heidense oorsprong, vernoem na ’n fees ter ere van Ostara, die Germaanse godin van die lente.

Ook die bekendste simbool van Paasfees, die paashaas wat die eiers bring, is nie van Christelike oorsprong nie, maar is later deur die Rooms-Katolieke Kerk herinterpreteer om in te pas by die Christelike Paasfees. Paasfees val in die Noordelike Halfrond saam met die begin van die lente, en die haas het reeds sedert antieke tye as simbool van nuwe lewe bekend gestaan. Ook die eiers staan vir begin van nuwe lewe. Die kerk kon die tema van nuwe lewe en opstanding van die natuur in die lente, gesimboliseer deur die haas en die eiers, wel laat aansluit by die opstanding en die nuwe lewe wat ons in Christus het. Gebak speel ook in talle lande op Paasfees ʼn belangrike rol. Moontlik herinner dit aan die ongesuurde brode wat die Jode voor hulle uittog uit Egipte gebak het.

(Foto: Markus Schreiber, AP)

Die tradisie om eiers bont te verf is eweneens baie oud, en Christene, wat hulle ook maar nie altyd kon losmaak van die gebruike in hulle omgewing nie, het die eiers aanvanklik rooi geverf om daarmee aan die bloed van Christus te herinner. Die tradisie om geverfde, hardgekookte eiers op Paassondag vir kinders in die huis of tuin weg te steek is veral in Sentraal-Europa wyd verspreid en vind sy eggo in lande waar mense uit Europa gevestig het, soos in Suid-Afrika, al is dit daar eerder sjokolade-eiers. Australië het wel die plaaslike variasie van die paashaas in die vorm van die buideldier, die Easter Bilby.

Daar is egter nog heelwat variasies op die Paastradisies en -gebruike in verskillende lande.

In die ortodokse Rusland word die vastydperk streng gehou en op die Paassondag trek die gemeente voor die erediens in ʼn optog met kruise en kerse om die kerk. Ná die diens word dan uitbundig gekuier en geëet om die einde van die vastydperk te vier. Paasfees is in Rusland, anders as in die Westerse wêreld, ’n groter fees as Kersfees.

In die sterk Rooms-Katolieke Spanje en ook in Latyns-Amerika is die week voor Paassondag die “Semana santa” (heilige week), waartydens Christus se lyding en sterwe herdenk word met optogte en tonele en beelde van die kruisinging wat deur die strate gedra word. Die hoogtepunt is daarby die optog op Goeie Vrydag en die klem lê op boetedoening. Ook Italië het sulke optogte.

Die boetedoening en lyding word nog ʼn paar trappe verder gevoer in die Filippyne waar sekere mans die kruisiging naboots, selfs met ʼn egte vasspyker aan die kruis.

ʼn Heel ander soort optog vind in die VSA plaas, die vrolike “Easter parades” waar mense soos die paashaas aantrek en luidrugtig op sierwaens ry, iets wat in Europa gewoonlik tydens karnaval gedoen word.

In die Skandinawiese lande slaan mense mekaar (liggies) met boomtakke op Palmsondag, wat aan die palmtakke wat ter ere van Christus se intog in Jerusalem voor Hom uitgesprei is, herinner. Blykbaar bring dit jou ook geluk.

In Pole en Hongarye word op Paasmaandag veral vroue deur mans met water natgegooi, blykbaar as teken van waardering. Dikwels vind ook ’n behoorlike watergooiery op straat plaas.

In die Karibiese streek is Paasfees die tyd om vlieërs te laat vlieg, wat die kinders weke lank vervaardig en waar elkeen probeer om die mooiste een te maak.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae