Werk saam aan hierdie ‘magtige dreuning’

Toekomsberaad-algemeen

Die Toekomsberaad wat op 10 Oktober deur die Solidariteit Beweging aangebied is, is deur 2 770 mense bygewoon. Foto: Forumnuus.co.za

Een van die kriteria wat politieke wetenskaplikes gebruik om state te klassifiseer, is na gelang van hul doeltreffendheid. Vier kategorieë kan onderskei word, en daardie klassifikasie is relevant wanneer ’n mens die Solidariteit Beweging se pas bekendgemaakte Helpmekaarplan wil beoordeel.

Aan die een kant van die spektrum kry jy eerstens hiper-doeltreffende state soos die Skandinawiese lande, Duitsland, Nederland en Singapoer, waar alles by wyse van spreke netjies vierkantig geknip en spieëlblink gepoets is, die treine (meestal) betyds is en die staat oor die algemeen goed funksioneer.

Tweedens, aan die keerkant kry jy lande waar die staat heeltemal in duie gestort het, en waar gewapende bendes, dikwels in oorlog met mekaar, die septer swaai. Voorbeelde hiervan is Somalië, Sirië, die DRK, en Jemen. ’n Mens kan hulle mislukte state noem.

Verreweg die meeste lande op aarde lê êrens in die middel. Soms neig hulle, in die derde plek, na die doeltreffende kant, soos Italië, Griekeland, Argentinië, Botswana en Namibië, maar nie genoeg om onder die werklik suksesvolles gereken te word nie.

Vierdens neig ander weer na die keerkant, soos Zimbabwe, Egipte, Thailand en Indonesië. Hulle is nie regtig mislukte state nie, maar dalk kan ’n mens hulle eerder mislukkende state noem.

Waar pas Suid-Afrika op die spektrum in?

Wel, toe die ANC die bewind in 1994 oorneem, het hy geen hiper-doeltreffende staat geërf nie, veral nie wat dienste aan die swart en bruin bevolking betref nie. Selfs vir die wit bevolking was Suid-Afrika nie in die eerste kategorie nie.

Maar die land kon destyds wel in die tweede kategorie geplaas word. En selfs al neem jy in aanmerking dat die staat aansienlik beter dienste vir die wittes as die res gelewer het, sou jy die land ook vir dié groepe – net-net – in die tweede kategorie kon klassifiseer.

Verskeie akademiese studies het byvoorbeeld bevind dat die onderwys vir die swartes in die apartheidsjare (dalk ondanks apartheid?) aansienlik verbeter het. En in die afgelope dekade of twee voor 1994 is honderdduisende huise gebou, elektrisiteit en water aangelê, paaie gebou, noem maar op.

Korrupsie en onbekwaamheid het voorgekom, maar dis stewig aangepak. Meer as een kabinetsminister van die NP-regering is tronk toe oor korrupsie.

Daarmee wil ’n mens nie sê dat die situasie vir die swartes ideaal was nie. Ver daarvandaan. Maar vir ’n groeiende aantal was dit beslis aan die verbeter. (En die polities korrektes wat my nou hieroor wil looi, moet dit maar doen; dit verander niks aan die historiese feite nie.)

Wat het in die 21 jaar sedert 1994 gebeur?

Ek oordryf nie as ek sê onder ANC-bewind het Suid-Afrika van die tweede tot die derde kategorie gesak nie. Ja, meer huise is inderdaad gebou. En meer township-inwoners het water en elektrisiteit gekry.

Maar die onderwys het van kwaad na erger gegaan en die aantal disfunksionele skole het enorm toegeneem. Korrupsie het ’n alledaagse verskynsel geword.

Immers, so redeneer mense, as die Nommer Een van korrupsie verdink word en niks gebeur met hóm nie, hoekom sal ek eerlik bly en myself benadeel?

Dienslewering het in duie gestort. Al die gewelddadige betogings die afgelope jare oor gebrekkige dienslewering val immers nie wonderbaarlik uit die hemel uit nie.

En só kan ’n mens voortgaan. Vir Afrikaanssprekendes in die algemeen en Afrikaners in die besonder is dit ook van groot belang dat hul reg op moedertaalonderwys op al drie vlakke steeds meer ingekort word, wat die oorlewing van die taal, ten minste wat sy hoër funksies betref, ernstig in die gedrang bring.

Die groot vraag is: Wat doen ons daaraan? Gaan sit jy en aanvaar dat Gods water nou maar oor Gods akker moet loop? ’n Afgestigte Afrikaner-volkstaat klink mooi, maar is nie prakties haalbaar nie. En die prys wat vir ’n gewelddadige opstand betaal sal word, is honderde kere groter as die voordeel wat daaruit behaal word.

Die alternatief is die plan wat Flip Buys die naweek voorgestel het. Dis om jou moue op te rol en sélf in te spring.

Die Afrikaners is ’n aanpasbare volk met groot energie en vindingrykheid. As ’n mens die geskiedenis van ’n eeu gelede bestudeer, hoe ons mense hulle kollektief uit die as van die Vernedering van Vereeniging uitgeworstel het, hoe hulle – in die woorde van Jaap Steyn – “’n taal gemaak” het, hoe hulle uit die moeras van armoede opgestaan het, dan kan ons die huidige probleme ook oorwin.

Al gaan dit bloedsweet en baie trane kos.

Flip Buys se plan het nog ’n voordeel. In verskeie artikels en in laas Saterdag se toespraak het hy daarop gewys dat baie van die probleme wat Suid-Afrika tans ondervind, nie tot die Afrikaners beperk is nie.

Dinge soos beurtkrag en misdaad tref nie net Afrikaners nie, maar die hele bevolking. Daar bestaan nie so ’n ding soos ’n Afrikaner-slaggat in die pad nie; hy hinder élkeen wat daarby verby wil kom.

As jy gaan sit en wag dat die ANC dinge regmaak, gaan jy lánk wag. Daardie mense stel in elk geval oorwegend nie belang in die oplos van probleme nie, maar hoofsaaklik in selfverryking.

Laat die Afrikaners dan die voortou neem. Laat Solidariteit ons mense aktiveer om sáám die probleme vindingryk aan te pak en die korrupsie en ondoeltreffendheid van die owerheid as ’t ware te ontwyk.

Die probleme wat só opgelos word, kom ook die res van die bevolking ten goede. En namate jy ’n momentum skep, behoort die ander agter te kom dat hier iets aan die gebeur is wat werk, en sal jy heel waarskynlik steun uit hul geledere ook begin kry.

Só kan dit die begin van ’n magtige dreuning word wat die ANC en die owerheid by wyse van spreke – streng binne die wet – eenkant toe skuif om dinge self aan te pak en op te los.

Dit sal geen towerstaffie wees waarmee alle probleme binne ’n ommesientjie uit die weg geruim word nie. Vanuit ANC-geledere (en selfs van sommige Afrikaners!) moet aktiewe teenwerking verwag word.

Dis waarom dit noodsaaklik is dat die inisiatief nie voorgestel word as iets wat tot wit Afrikaners beperk word nie. Ons mág as Afrikaners optree. Maar as ons optrede tot almal se voordeel is, sal dit ook onsself bevoordeel.

Komaan, mense. Daar’s werk!

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

11 Kommentare

Wicus ·

Uitstekende nugtere denke, dankie!

(En hoor jy die magtige dreuning………)

Arno ·

Leopold, ek is so bly en dankbaar dat iemand uiteindelik iets positiefs oor Solidariteit se plan sê. Ek het gewonder of ek die enigste een is wat dink dis ‘n briljante idee en tot voordeel van ALLE Suid-Afrikaners. Ek was so absoluut siek toe ek hoor hoe iemand soos Piet Croucamp die hele idee aan flarde skeur op RSG: Solidariteit afmaak as ver regs en sinspeel dat die idee “eksklusief” vir Afrikaners is (wat op sig self ‘n vloekwoord in sy woordeskat is!). Ek is oppad uit hierdie land uit — tensy iets soos hierdie plan binnekort gebeur. Ek wil nie die land verlaat nie en ek is NIE rassisties nie! Maar ek is ‘n Afrikaner en dit is my land ook – en ek is nie bereid om in ‘n derde- of vierde-kategorieland te ontaard nie. Dis soos om na ‘n blou muur te kyk en te sê die muur is blou, maar almal om jou sê: “Jy is verkeerd! Die muur is geel”. Hemel, is die nuwe politieke korrektheid nou ons ondergang? Dankie, dankie, dankie vir jou insig en motivering wat my as jongmens help om te besef dat daar NIKS fout is om te wil trots wees op my land en hier te bly nie!

Johan 2 ·

Het ook so gevoel oor ou Piet Kroukramp! So ons is nou “verregs” ondat ons onself Afrikaans noem, is dit wat hy bedoel het? Ek is baie positief oor die beraad en voel ek kan my kinders nou help in hul eie land om weer trots te wees op iets.

Mike ·

Onvoorwaardelikke selfbeskikking is die enigste oplossing, hoekom dit nou verwerp terwyl dit ooglopend deur ‘n toenemende aantal Afrikaners as die enigste oplossing gesien word?

Johan 2 ·

Baie goeie skrywe deur Deon! Ek wet julle hy bly nie meer in SA nie.

Pieter Engelbrecht ·

Baie dankie Leopold dat jy ook iets positiefs se en veral “Laat die afrikaners die voortou neem. Laat Solidariteit ons mense aktiveer om saaam die probleme…. ” Dit is hierdie tipe denke en dan die aksies wat mens moed gee vir die toekoms in SA

Oom Piet ·

Goeie deurdagte artikel.
Wie is Piet Aucamp?
Ek is oom Piet, het sy sogenaamde menings nou eweskielik meer waarde en waarheid as myne en ander nugter denkenda mense?
Sy onderrok hang uit vir almal om te sien.
Piet is ‘n Afrikaner, ek hoof nie saam met hom te stem nie, maar ek luister wat hy sê, en siedaar die vele menings van ons ou Volkie.
Nee wat ons almal mag maar twak ook praat, solank dit in my taal is.
Dit is wat onse mense so interresant maak, Piet en al.

Disselboom ·

As mense moue wil oprol en iets doen, is die beste reaksie om saam te doen en te help. Selfs al is daar rede vir kritiek op die volhoubaarheid en die langtermynsinvolheid,

Die Afrikaner is reeds ‘n soort slaaf van Suid-Afrika bv deur eintlik al die werk te doen maar die BEE-hoof trek die titel en die groot salaris. Ons is reeds verslaaf deur ‘n onderwyskurrikulum waardeur ons nuwe geslag vreemde waardes en skewe belydenisse as reg aanvaar. Kyk maar byvoorbeeld hoe mooi die landsvlae deur jong Afrikaners in Atterburyweg vervang is, en hoe pragtig in veelstemmigheid ‘n groep van Affies (ja, Afrikaans Hoër Seunskool: AHS) Nkosi by die geleentheid gesing het.

‘n Oulike staaltjie oor die destydse “PD Korps” (personeeldienste) hier in Voortrekkerhoogte, toe diensplig hoogty gevier het en dele van die (blanke) bevolking gesorg het dat hulle in die slapste korps inkom. Wie wil nou 80km vasbyt gaan stap met infanterie-opleiding as jy kantoorwerk vir twee jaar lank as personeelbeampte in Pretoria kan sit en doen?

Soos die lewe nou maar werk, het die “PD Korps” ‘n buitenverhouding groot persentasie jongmanne van (ryk) Joodse, Griekse en die Houghton-Engelse afkoms gehad; terwyl die Afrikanerseuns wat daar beland het, meestal daar was as gevolg van besering of permanente kwaal wat hulle uit infanterie of ander dele van die weermag gehou het. Die punt vir hierdie bespreking oor Afrikaners wat die land wil herstel, is dit: die groepe in “PD Korps” se byname was die “Jew Boys”, “Greek men”, die Rooinekke en die “crunchies”. Die Afrikanerseuns was die “crunchies”, want dit is ruiterlik erken dat dit hulle was wat al die werk in “PD Korps” moes doen, aangesien die ander groepe wel deeglik geweet het hoe om hulleself uit die werk te verskoon en lekker te lewe.

Om iets te doen aan die land, vir onsself en soos nou beklemtoon word, tot almal se voordeel omdat werkende dienste almal help, is goed. Moet net nie dat die Afrikaner almal se “crunchies” word nie. Ons is niemand se slawe nie. Of altans, dis hoe ons ons volksliedere van vryheid en oorwinning vroeër gesê het.

Theo ·

Ek glo dat die plan wat Soldariteit hier voorstel, ook sosalistiese denke of eff denke in die kiem sal smoor.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.