Werksverliese weens ideologie en ‘gras’ wat in die slag bly

myn staking mynhoed

Argieffoto.

Die kwartaallikse arbeidsmarkstatistieke, wat onlangs deur Statistieke Suid-Afrika vrygestel is, toon dat die werkloosheidskoers in Suid-Afrika tot bo 27% gestyg het. Dit beteken dat nagenoeg 9 miljoen Suid-Afrikaners werkloos is.

Die syfers het Cosatu warm onder die kraag, want dit is ʼn terugslag vir die driepartyalliansie se sogenaamde drievoudige uitdaging van armoede, ongelykheid en werkloosheid. Cosatu het besighede ook geroskam oor hul “beleggingstaking” in die land.

Te midde van die toenemende werksverliese het die vakbond Amcu pas ʼn 20%-salaris-verhoging vir intreevlakwerkers in die wankelende platinumsektor beding. (Later meer hieroor.)

Gevallestudie in die mynbedryf

Om die verskynsel van werkloosheid in oënskou te neem, word die mynbedryf – wat in 2015 ʼn gesamentlike verlies van R37 miljard gely het – as gevallestudie gebruik.

Die sukkelende bedryf het oor die afgelope 12 maande nagenoeg 60 000 direkte poste verloor. Volgens die Kamer van Mynwese se jongste bevindinge gaan drie indirekte werksgeleenthede verlore vir elke hoofstroompos wat afgeskaf word – die getal word bereken volgens die impak wat afskalings op mynkontrakteurs, subkontrakteurs, diensverskaffers, tydelike werkers en besighede in die omgewing van die myne en in die werkers se dorp van afkoms het.

Die impak van populistiese vakbonde op werksverliese

Nagenoeg 30 000 van die direkte poste wat verlore gegaan het, is nagevolge van Amcu-lede se vyf maande lange platinumstaking in 2014 – dié staking het maatskappye se kontant-reserwes uitgewis en groot verliese tot gevolg gehad.

Amcu het sedert Marikana ʼn minimum loon van R12 500 aan die oorwegend ongeskoolde werkmag belowe en so het Amcu se ledetal vanaf 30 000 tot 190 000 toegeneem. Dié loon het ná die vyf maande lange staking in 2014 en na afloop van die 2016-onderhandelinge steeds nie werklikheid geword nie. So byvoorbeeld is die 22%-verhoging, wat ná die 2014-staking ingestel is, ongedaan gemaak deur die beginsel van geen werk, geen betaling wat gedurende ʼn staking geld. Amcu het destyds die ongeskoolde werkers wysgemaak dat die vakbond se sukses gemeet word aan die verhoging in die syfer wat onderaan werkers se betaalstrokie verskyn. Werkers het egter die teendeel beleef en weens ʼn verlies aan inkomste skuld aangegaan om te oorleef. Anglo American het in 2015 ʼn ondersoek onder hul intreevlak- en halfgeskoolde werkers gedoen en bevind dat 83% van die werkers in die groepering erge skuldprobleme ondervind.

Dit was veral banke soos Capitec en kleinhandelaars soos Lewis (werklik bose kapitaliste) wat werkers “uitgebuit” en lenings en krediet onverskillig aan hulle toegestaan het. Die skuldstrik het sommige werkers genoop om uit hul werk te bedank om só toegang tot hul voorsorgfondsgeld te kry.

Ongeletterdheid en veral finansiële onkunde onder mynwerkers is ʼn reuseprobleem. Bheki Ntshalintshali, Cosatu se hoofsekretaris, het tydens ʼn onlangse debat oor die uitbuiting van ongeletterde werkers verwys na die anekdote oor ʼn program oor finansiële geletterdheid wat op werkers gemik is en wat hy bygewoon het. Ntshalintshali vertel die aanbieder het aan die werkers gevra wat 3 + 3 is. Ná ʼn verduideliking het almal by die antwoord “6” uitgekom. Toe vra die aanbieder wat 4 + 2 is. Daar was geen reaksie nie, maar toe die aanbieder verklaar dat die antwoord 6 is, het die werkers hom onmiddellik gekorrigeer en gesê dit kan nie so wees nie, want hy het pas genoem dat 3 + 3 vir jou 6 gee. Ntshalintshali het die voorval as voorbeeld gebruik om te illustreer hoe ver die ongeletterdheid strek van werkers wat van afgeleë plattelandse gebiede af kom en hoe min begrip hulle het vir die berekenings wat tydens loononderhandelinge gemaak word.

Soos wat die geval in talle loononderhandelinge is, speel werkers se hoë skuldvlakke weens uitbuiting en vakbondgulsigheid (ledegeld beloop 1% van lede se basiese salaris) ʼn groot rol in die hoë looneise wat gemaak word, soos wat dit tydens 2016-platinumonderhandelinge ook die geval was. Om ʼn staking te vermy en ʼn positiewe boodskap aan graderingsagentskappe te stuur, het platinummynhuise vanjaar ʼn bogemiddelde verhoging toegestaan. Die hoof van een van die betrokke mynhuise se mensehulpbronafdelings het egter aan my genoem dat hy opdrag gekry het om nou hul werkmag met 2 000 werknemers te verminder. So staak en onderhandel sekere vakbonde hul lede uit ʼn werk uit en word die situasie vererger weens gewelddadige vakbondwedywering. Hierdie arbeidsonstabiliteit het ʼn negatiewe uitwerking op produksie en op ʼn maatskappy se volhoubaarheid. Uiteindelik gee dit daartoe aanleiding dat mynboureuse soos BHP Billiton, AngloGold Ashanti en Anglo American die handdoek ingooi en desinvesteer.

Impak van regulatoriese raamwerk op werksverliese

Saam met swak arbeidsverhoudinge is die onsekere en onvriendelike regulatoriese omgewing ’n verdere dryfveer vir onttrekking en afskaling deur maatskappye wat uiteindelik desinvesteer.

Die regerende party se vernietigende mynbouregulasies kan teruggevoer word na die verwysing in die ANC se Vryheidsmanifes dat die minerale onder die grond aan die “mense” behoort en dié sosialistiese retoriek word deur die verwronge populistiese slagspreuk dat mynhuise “wit monopolistiese kapitaal” verteenwoordig, ondersteun. Dit het tot gevolg dat die regering die bedryf deur die Wet op die Ontwikkeling van Minerale- en Petroleumhulpbronne en die mynbouhandves (swart ekonomiese bemagtigingraamwerk) oorreguleer sonder enige insig dat die wet en handves werksgeleenthede vernietig.

Hierdie regulasies en beleidsdokumente skep geweldige onsekerheid onder mynhuise en beleggers omdat dit vir ’n geruime tyd al in konsepvorm bestaan. Die “nuwe belastings” wat daarin vervat is en mynhuise en beleggers se eienaarskap wat daardeur bedreig word, skrik mynhuise en beleggers voorts af.

As beleidmakers en populistiese vakbonde hul ideologiese bril afhaal, sal hulle besef dat stakings, hoë loonskikkings, ongrondwetlike en beleggeronvriendelike wetgewing tot gevolg het dat intreevlakwerkers, wat tipies hul vakbondlede en kieserskorps is, die nadeligste geraak word.

So byvoorbeeld bepaal die mynbouhandves dat werkgewers en internasionale diensverskaffers 1% van hul omset (nie wins nie) aan óf ʼn gemeenskapsontwikkelingsfonds óf ’n mynboutransformasiefonds moet betaal. Die handves gaan mynhuise gesamentlik ʼn bykomende R4,1 miljard uit die sak jaag. Dit bring mee dat kapitaalprojekte wat meer werksgeleenthede sou skep, gesny word. As maatskappye eerder verplig sou word om hul eie tegniese opleidingsentrums met dié geld op te rig en werkers te bemagtig deur hulle met skaars vaardighede toe te rus, sal dit die werkers se kanse op bevordering verhoog en kanse op aflegging verlaag.

Dan maak die handves ook daarvoor voorsiening dat werkgewers, afgesien van die huidige statutêre werkgewerbydrae tot die vaardigheidsontwikkelingsfonds, ʼn bykomende 5% van hul betaalstaat aan ʼn eksterne opleidingsinisiatief moet betaal – weereens ʼn werksvernietigingsklousule. As ʼn werkgewer eerder dié geld kon aanwend om ongeletterde werkers te help om ʼn matriekkwalifikasie te laat behaal, sal dié geletterdheid werkers in staat stel om beter besluite by die werk en wat hul eie finansies betref, te kan neem.

Die handves bepaal voorts dat 50% van die poste op topbestuursvlak; 60% op senior bestuursvlak; 80% op middelvlakbestuur; en 88% van die poste op junior bestuursvlak deur swart werknemers gevul moet word. Daar bestaan eenvoudig nie genoeg vaardige swart werknemers om daardie poste te vul nie. Dit het tot gevolg dat mynhuise werkers oor en weer van mekaar gaan afrokkel deur groter salarisaanbiedings aan hulle te maak, wat winsgewendheid benadeel. Die gevaar bestaan egter dat nievoldoening aan hierdie klousules tot die opskorting van ʼn mynlisensie kan lei – dít skrik beleggers af en vernietig werk. As myne hul werkers eerder aandeelhouers maak in plaas daarvan dat politieke “vet katte” die aandeelhouers is, en die myne gelyke geleentheid aan alle rassegroepe by die werkplek bied, gaan dit die moreel van die ervare en vaardige werkmag verhoog, wat weer hoër produksie en groter indiensneming tot gevolg sal hê.

Wat die Wet op die Ontwikkeling van Minerale- en Petroleumhulpbronne

betref, is een van die werkvernietigingsbepalings opgesluit in die magte van die minister om mynlisensies na goeddunke toe te ken. Dit beteken dat ʼn mynlisensie aan ʼn maatskappy/vriend toegeken kan word wat nie die oorspronklike aansoek vir ʼn lisensie ingedien het nie – dit skrik groot mynhuise af en vernietig werk. Indien mynhuise sekerheid het oor hul lisensieaansoeke sal hulle nie, soos wat tans die geval is, hul niewinsgewende mynbates tot nadeel van werkers na willekeur aan kleiner rolspelers (lees die Guptas se Oakbay Investments) verkoop nie.

Die lys van wetgewing en regulasies wat werkgewers verlam en reusewerksverliese tot gevolg het, is allesbehalwe uitgeput.

Uitdaging vir die oplossing

ʼn Ideologiese kopskuif en sterk leierskap in die mynbedryf (en in die besigheidswêreld in die algemeen) kan daartoe aanleiding gee dat die drievoudige uitdaging van armoede, ongelykheid en werkloosheid hokgeslaan word.

Benewens hul eie belang is die verwronge denkwyse van ideologies gestremde politici en vakbondpopuliste dat solank die “vyand” se voetspoor en invloed verklein word, die prys wat daarvoor betaal word, geregverdig is. Joseph Matunjwa, Amcu se president, beaam dit deur sy gereelde gebruik van die Swahili-spreuk: “As twee olifantbulle baklei, is dit die gras wat in die slag bly.” Die “gras” hier is 9 miljoen werklose mense wat nou die prys betaal, maar uiteindelik gaan die land in die geheel die prys daarvoor betaal en dít terwyl die oplossing binne ons bereik is en diegene wat nie ʼn ideologiese bril dra nie, die oplossing kan sien.

Die vraag is: “Wie is nou eintlik werkers se grootste vyand?”

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Gideon Du Plessis

Meer oor die skrywer: Gideon Du Plessis

Gideon du Plessis is hoofsekretaris van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

9 Kommentare

Jan ·

Daar sal nog baie sulke gevallestudies gedoen moet word, met oor en oor dieselfde bevindinge, dit sal oor en oor aan die mense wat nie die bedryf en die ekonomie verstaan nie gegee word, maar hulle sal net weer terug na hul lessenare gaan en nog meer skadelike regulasies skryf.

Vakbonde, die alliansie vennote, is soos die semi-staatsinstellings, die regering wil deel in die Ekonomie en inspraak/beheer in die privaat sektor hê, die mense, sonder dat hulle die werking van markkragte verstaan. Als gaan vir hulle in die eerste en laaste instansie om beheer, mense moet afhanklik van hulle wees. Kyk maar na Fais wetgewing, wat in hordes gevalle oorregulasie is.

Frans C ·

Iets klink vir my nie lekker nie. Indien ‘n werkloosheidsyfer van 27% beteken dat 9 miljoen mense werkloos is,beteken dit dat Suid Afrika se arbeidsmag ongeveer 33 miljoen is waarvan 24 miljoen werk en 9miljoen werkloos is.Volgens effens verouderde statistiek van 2014 was daar 26.7 miljoen mense tussen die ouderdom 0 tot 24. As daar ongeveer 55 miljoen mense in Suid Afrika is kan die statistieke nie akkuraat wees nie.

Die bevolking van 55 miljoen laat ‘n mens nogal verbaas aangesien daar in 1960 slegs 17.4 miljoen mense in Suid Afrika was. Die bevolking het dus met ongeveer 37.6 miljoen toegeneem die afgelope 56 jaar, dus met ‘n gemiddeld van 670 000 per jaar.Kan enige land met ‘n sukkel ekonomie hoegenaamd so’n toename hanteer sonder dat alles van wieg tot graf in duie stort en blankes alhoemeer statistiekgewys ‘n onbeduidende minderheid word?

Gideon ·

Goeie waarneming. Die 27% werkloosheidsyfer het betrekking op diegene wat amptelik werk soek. Die syfer van nagenoeg 9 miljoen werkers sluit die geskatte aantal mense in wat opgehou het werk soek en dus ontmoedig is.

JC ·

Verskriklik baie dankie vir jou uitstekende insigte Gideon, jy’s ‘n YSTER!!

Nita ·

Dis presies waar die fout le. Die ongeletterde mense se 1plus1 maak enige van 1 tot n horde kinders! So sal daar nooit n punt kom waar daar genoeg werk, geld,huise en skole sal wees nie. En 4 plus 2 sal nooit 6 word nie.

Emile ·

Die banke kan ook nie wen nie. Staan hulle nie lenings toe nie is hulle rassiste. Staan hulle wel lenings toe is hulle kapitaliste.

Gideon ·

Onder normale omstandighede sou ek saamgestem het, maar die kwessie hier is dat die betrokke instansies lenings en krediet toestaan aan mense wat reeds nie hul skuld verpligtinge kan nakom nie en deur alle ander instansies afgekeur is. Tweedens word daar rondom ‘n “loophole” in die wet ‘n lening vir ‘n bepaalde bedrag toegestaan waarop geen perk op die rente van toepassing is nie.

al ·

Danksy ANC wat Zuma nog n jaar wil laat aanbly is ons rand lusteloos wat beleggings kniehalter.

John ·

Die antwoord op die laaste vraag is: Die vyand van die werkers is die hande wat hul telkens gryp wat aan hulle die son, die maan en die sterre beloof. Uiteindelik gaan hulle die werkesels word van vreemde harde base en daar sal niemand wees wat omgee nie en geen pers wat hul klagtes sal mag boekstaaf nie. Hulle stem vir unies wat hierdie pad uitkerf. Kyk hoe ver trek hulle al op hierdie pad van ondergang…

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.