Wes-Europa groet era van sterk, stabiele regerings

europese-unie

Vlae van die Europese Unie. Foto: Pontzi/Pixabay.com

Vir dekades ná die einde van die Tweede Wêreldoorlog is Wes-Europese politiek gekenmerk deur stabiele regerings wat meestal deur een of twee partye net links of regs van die sentrum gevorm is. Europeërs wou sekerheid hê en het dieselfde politieke partye met die een verkiesingsoorwinning na die ander bly beloon.

Die Wes-Europese land waar die drang na sekerheid reeds vir dekades tot die een sterk en stabiele regering na die ander aanleiding gegee het, is Duitsland. Sedert die federale verkiesing op 24 September verlede jaar sukkel die eens magtigste politikus in Europa, Angela Merkel, om ’n regeringskoalisie te vorm. Die Sosiaal-Demokrate se besluit oor die naweek om wel met koalisie-onderhandelings met Merkel voort te gaan, baan die weg vir die vorming van ’n koalisieregering oor die volgende paar maande, maar weens sterk teenkanting teen so ’n koalisie binne beide partye se strukture, maar veral onder die sosialiste, gaan dit ’n swak en baie onstabiele regering wees wat waarskynlik oor die volgende paar jaar die einde van Merkel se politieke loopbaan sal beteken.

In ander Wes-Europese lande het die prentjie selfs meer dramaties begin verander en daar is min rede om te glo dat die tendens van toenemend versplinterende politiek nie in 2018 voortgesit gaan word nie. In lande waar daar nie ’n versplintering van politieke steun na allerhande nuwe partye plaasgevind het nie, sien ons weer regerings met ’n baie beperkte mandaat.

In Brittanje moet die eerste minister Theresa May een van haar land se grootste uitdagings, uittrede uit die Europese Unie, met ’n wankelende meerderheid in die parlement probeer hanteer, terwyl daar binne haar Konserwatiewe Party geen teken van samehorigheid heers nie.

In Nederland het dit verlede jaar meer as sewe maande, die langste ooit in die geskiedenis, geneem om ’n nuwe regeringskoalisie na die verkiesing op 15 Maart saam te stel. Die Rutte 3-regering is uiteindelik ’n koalisie tussen vier redelik uiteenlopende partye wat ’n meerderheid van slegs een setel in die Tweede Kamer het. Die meeste partye nog ooit word tans in die parlement verteenwoordig en dit is duidelik dat Nederlandse kiesers verlede jaar besluit het om geen enkele politieke party van ʼn sterk mandaat te voorsien nie.

In België is die federale regeringskoalisie wat in 2014 ook tussen vier uiteenlopende partye gevorm is, baie wankelend met gereelde interne struweling. In Frankryk het president Emmanuel Macron oor die afgelope twee jaar sy eie politieke revolusie gelei met sy nuutgestigte party La République En Marche wat in Junie 2017 ’n groot oorwinning in parlementsverkiesings aangeteken het en daarmee die ou politieke orde van die sentrumlinkse sosialiste en die sentrumregse republikeine grootliks beëindig het.

Op 4 Maart vanjaar sal Italianers na die stembus gaan. Alle peilings dui daarop dat geen party ’n duidelike regeringsmandaat van kiesers sal kry nie. Ook in Italië sal ’n lang en moeilike stryd om die vorming van ’n nuwe regering voorlê.

Die era van sterk regerings in Wes-Europa is vir eers verby. Kiesers het genoeg gehad van ’n permanente regeerderklas wat die wil van die burgery ignoreer. Die versplintering van partye en verlies aan steun deur die ou groot partye open ’n era van moeilike koalisies en eerlike politieke debat in Europa.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Jaco Kleynhans

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Hendrik ·

Is al ons kiesers maar net nie almal moeg dat regerings hulle ignoreer nie. Trump is tans die enigste leier wat se wat die kiesers regtig dink. Die media is volgens my die grootste oorsaak dat kiesers nie kan se wat hulle dink nie. Een mistap en jou hele toekoms le in skerwe. Vrye Suid-Afrika?

Nico Kruger ·

Die rede vir versplinterde regerings in Europa is baie meer ingewikkeld. Onstabiele regerings daar is eintlik niks nuuts nie. Italië het na die 2de Wêreld oorlog tot 1990 omtrent dertig verskillende regerings gehad. Party regerings het binne 6 maande geval. Die groot rede is die proporsionele kiesstelsel wat in verkiesings gebruik word. Lande waar daar wel stabiele regerings was, soos Duitsland en Switserland, is bloot omdat die kwessies waaroor partye verskil baie min was. Dit was hoofsaaklik ekonomies met sosialisme teenoor kapitalisme die grootste verskil. Ek dink die verskille in politieke kwessies vermeerder en daarmee saam die aantal partye. Dit gekoppel aan die feit dat die meeste lande nie ‘n minimum drempel vir setels na die parlement wil stel nie, maak dat die baie moeilik is vir een party om ‘n meerderheid te kry. (Die ander stelsel soos in die VSA en Brittanje se nadeel is natuurlik dat ‘n party met ‘n minderheid aantal stemme aanbewind kan kom. Soos Trump in die VSA.)

Gerhard ·

Om te se die verskil tussen kapitalisme en sosialisme is klein is ‘n erge oordrywing.

Santie ·

Ek bly in Duitsland en die grootste probleem hier is die vlugtelingspolitiek. Dit is hoekom daar probleme is om ‘n regering tot stand te bring. Te veel mense van Noord Afrika en Oosterse lande wat hier instroom en geen beheer daaroor nie. Nou wil hulle nog al hulle familie en vriende ook hierheen bring en dit is op die oomblik ‘n baie groot probleem vir die normale duitse burger.

Johanna Botha ·

Een ding is wel seker hulle het nie die gemors waarmee ons hier sit nie

Boerseun ·

My volk is jare terug al deur wat nou in Europa aangaan, en dit het nie goed vir ons uit gedraai nie.

Sybrand ·

Europa het groot mooilikheid wat kom , hulle het te veel afrika vlugtelinge daar laat inkom sonder geen beheer oor hulle nie , as hulle wakker skrik is n nigerian duitsland se president !!

Koos1 ·

Die Bybel praat (wel in ‘n heel ander konteks) van “was julle maar warm of koud, maar nou is julle lou”.
Die grootste probleem met kolalisies, en in SA ook, is dat die partye wat dit vorm gewoonlik van weerskante van die huidige regering staan (DA lings EFF regs?), en gemeenskaplike gronde moet kry om saam te werk (ANC/Zuma moet val). As die doel bereik is, waarvoor moet hulle dan nog saam werk as hulle maandaat van hulle kiesers hemels breed verskil? So die uiteinde is dat die koalisie opbreek en die grootste party (ANC) weer bewind oorneem weens die steun wat dat die koalisie partye verloor, weens die feit dat hulle nie hulle mandaad uit wat die kiesers vir hulle gegee het, uitvoer nie en baie keer word die koalisie partye deur die groter partye opeet (ANC het dit met die NP gedoen).

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.