Weste moet ook blaam dra vir Oekraïne-krisis

Deur Gert Grobler

Pres. Wladimir Poetin. (Foto: Alexei Druzhinin/Sputnik/AFP)

Dit is baie jammer dat baie mense in die Weste, ook in Suid-Afrika, geneig is om al die skuld vir die onlangse verwikkelinge in Oekraïne op pres. Wladimir Poetin en Rusland te wil plaas.

Op grond van my eie ervarings met verskeie Russiese regerings (dit wil sê vergaderings met president [Boris] Jeltsin, Poetin en [Dmitri] Medwedef) en mense oor baie jare as deel van die Suid-Afrikaanse afvaardigings van oudpresidente Nelson Mandela en Thabo Mbeki en minister Nkosazana Dlamini-Zuma na Rusland, was dit destyds baie duidelik dat die huidige krisis ‘n lang en ingewikkelde geskiedenis gehad het, vanuit beide ‘n Westerse en Russiese perspektief.

Die krisis is deur ingewikkelde redes veroorsaak, insluitend die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (Navo) se voortgesette aggressiewe uitbreiding wat konkrete veiligheidsbedreigings vir Rusland en ander nie-Navo-lande in die streek veroorsaak het. Dit sou dus uiters onregverdig wees om bloot die een kant te blameer en te beskuldig.

Die Russiese narratief, wat oor ‘n lang tydperk in die nasleep van die ineenstorting van die Sowjetunie deur die Russe aan ons Suid-Afrikaanse afvaardigings oorgedra is, was dat “die Weste hulle mislei het en op ‘n manier opgetree het wat hulle uit ‘n post-Koue Oorlog Europa weggelaat het”. Dit was baie duidelik dat dit moeilik sou wees om hierdie posisie, wat gemoedere hoog laat loop het, te oorbrug gegewe die feit dat Rusland destyds met mening na die Weste uitgereik het, maar dat dit “grof geïgnoreer” is. Die gevolg was dat Russiese hoop meer as 30 jaar gelede om deel van Europa te wees, nie gerealiseer het nie. Die huidige krisis is dus ‘n voortgesette gevolg van die disintegrasie van die Sowjetunie in die vroeë negentigerjare.

(Argieffoto: Jason Lee/Reuters)

Die Suid-Afrikaanse afvaardigings is dikwels tydens samesprekings oor multilaterale aangeleenthede deur die Russe daaraan herinner dat Rusland ná die Koue Oorlog aanvanklike belangstelling getoon het om “verbonde te wees aan en met Navo saam te werk”, maar die versoek is summier deur Navo van die hand gewys. Navo het Rusland boonop belowe dat hy nie sou uitbrei nie, maar nie sy belofte nagekom nie.

Navo se uitbreiding het groot druk op Rusland geplaas, aangesien Navo voortgegaan het om wapens en missielverdedigingstelsels in lande rondom Rusland te ontplooi, en dit het die strategiese kernbalans in Europa ondermyn. Terselfdertyd het dit egter geblyk dat die Amerikaners deurgaans probeer het om die Russe te oortuig dat hul kommer oor Navo gerespekteer sal word.

Jim Baker, destydse Amerikaanse minister van buitelandse sake, het op 18 Mei 1990 in Moskou beloof dat die VSA met die Sowjetunie sal saamwerk in die “ontwikkeling van ‘n nuwe Europa”. In Junie 1990 het pres. George Bush, aldus besprekingspunte wat vir hom voorberei is, aan Sowjet-leiers gesê dat die Verenigde State ‘n “nuwe, inklusiewe Europa” soek.

Boris Jeltsin en Bill Clinton in November 1999 (Foto: Withuis/AFP)

President Jeltsin het in September 1993 in ‘n brief aan president Bill Clinton geskryf “dat dit belangrik is om in ag te neem hoe ons openbare mening op daardie stap kan reageer” (die uitbreiding van Navo).

Jeltsin het ook verwys na versekerings wat aan Sowjet-amptenare gegee is tydens die onderhandelinge oor Duitse eenwording, deur by te voeg dat “die gees van die verdrag oor die finale skikking … die opsie uitsluit om die Navo-sone na die Ooste uit te brei”.

Navo en Rusland het vier jaar later, in ‘n poging om Moskou se bekommernisse te besweer, die Navo-Rusland Stigtingswet onderteken, ‘n politieke ooreenkoms wat onder meer sê dat “Navo en Rusland mekaar nie as teenstanders beskou nie”.

Navo en Rusland het in 2002 ooreengekom om ‘n gesamentlike raadplegende raad op die been te bring, oënskynlik as ‘n meganisme om meningsverskille op te los. Dit is egter betreurenswaardig dat die VSA en Navo nooit ernstig was oor die implementering van sinvolle dialoog nie. Die Stigtingswet van 1997 het goeie bedoelings gehad, net soos die skepping van die Navo-Rusland-raad in 2002, maar hierdie ooreenkomste het “nooit gewerk nie”, omdat Navo dikwels voortgegaan het met aksies wat Russiese of streekveiligheid beïnvloed het sonder om Moskou te raadpleeg.

Navo het trouens ‘n paar jaar later sy grootste uitbreiding in sy geskiedenis ondergaan en nog sewe Oos-Europese lande toegelaat, insluitend die Baltiese state van Estland, Letland en Litaue, wat republieke van die Sowjetunie was. Alhoewel dit nie die eerste keer was dat ‘n Navo-lid aan Rusland of die Sowjetunie gegrens het nie, kon ‘n Navo-lid se troepe nou moontlik net 625 kilometer van Moskou geleë wees.

Russiese troepe marsjeer tydens ’n militêre parade op Oorwinningsdag om 73 jaar sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog asook die nederlaag van Nazi-Duitsland in Moskou, Rusland, te vier. (Foto: Pavel Golovkin, AP)

Rusland se onsekerheid word vererger deur die feit dat sy verdedigingsbegroting net sowat 8% van dié van die VSA beloop, terwyl Navo in sy geheel 20 keer bestee wat Rusland aan sy weermag bestee.

Reeds in 2007 by die München-veiligheidskonferensie, wat ek toevallig bygewoon het, het Poetin hewige kritiek teen Navo, sowel as die Verenigde State, uitgespreek en die alliansie van valsheid beskuldig en dat Rusland gedreig is.

“Ek dink dit is duidelik dat Navo se uitbreiding nie verband hou met die modernisering van die alliansie self of met die versekering van veiligheid in Europa nie; inteendeel, dit verteenwoordig ‘n ernstige uittarting wat die vlak van wedersydse vertroue verminder,” het Poetin destyds gesê.

Poetin wou angstig weet: “Wat het geword van die versekerings wat ons Westerse vennote gemaak het ná die ontbinding van die Warskou-verdrag? Waar is daardie waarborge en verklarings vandag?” Sy opmerking het ‘n bietjie van ʼn kopkrappery veroorsaak omdat die debat amper uitsluitlik gefokus het op opmerkings wat gemaak is voordat die Warskou-verdrag uitmekaar geval het.

Selfs Jack Matlock, laaste Amerikaanse ambassadeur in die Sowjetunie, het herhaaldelik volgehou, beide in kongresgetuienis en later weer, dat Michail Gorbatsjof [voormalige Sowjet-leier] die versekering ontvang het dat as Duitsland sou verenig en in Navo bly, die grense van Navo nie ooswaarts sou beweeg nie.

Gegewe die huidige ernstige krisis in Oekraïne, is dit ‘n feit dat Navo se uitbreiding op ‘n baie meer doeltreffende en eerbare manier “bestuur” kon word om misverstande tot die minimum te beperk. Dit word algemeen deur internasionale kommentators gestel dat dit moontlik was om beide Navo te vergroot en konflik te vermy. Die kans is egter verspeel en vandag sien ons ‘n verergerende konflik met moontlike verwoestende internasionale gevolge.

Joe Biden van die VSA (regs) en Wladimir Poetin (Rusland) skud blad tydens hul ontmoeting by Villa La Grange in Genève, Switserland (16 Junie 2021) (Foto: Saul Loeb/Pool/AFP)

Poetin, met die steun van die grootste deel van die Russiese bevolking, gaan toenemend voort om vir Russiese mense te vertel dat Rusland deur Navo en die VSA mislei is. Trouens, Rusland word voorgehou as die slagoffer van gebroke beloftes. Daar is baie waardevolle boeke oor hierdie onderwerp wat die “trauma, vernedering en gebroke trots” van die Russiese mense in die post-Sowjet-tydperk weerspieël. Ek sal diegene wat geneig is om al die skuld op Rusland te wil plaas, aanraai om Svetlana Alexievich se boek Secondhand Time: The Last of the Soviets, waarvoor sy die Nobelprys vir Letterkunde ontvang het, te lees. Dit bied ‘n fassinerende insig en emosionele begrip van Rusland en sy mense tydens en ná die ineenstorting van die Sowjetunie.

Secondhand Time is ‘n meesterstuk – nie net vir wat dit sê oor die val van die Sowjetunie nie, maar vir wat dit suggereer oor die toekoms van Rusland en sy voormalige satellietstate. As die Weste maar net hierdie boek gelees het!

Alle betrokke partye moet egter met dialoog en konsultasie voortgaan en redelike oplossings vir die Oekraïne-krisis soek, en mekaar se bekommernisse aanspreek op grond van gelykheid en wedersydse respek. Daar is geen ander opsie nie!

* Grobler is ‘n ouddiplomaat en ʼn voormalige Suid-Afrikaanse ambassadeur in Madagaskar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Hennie Biebouw ·

Raakvat analise. Hierdie situasie was totaal en al voorkombaar. Daar is waarskynlik ‘n lobbyist in Washington wie se belange baat uit die huidige situasie. Intussen vertel die regernde elite aan die gepeupel dat ons, die publiek, ‘n prys het om te betaal vir die “demokrasie” in die Oekraïne…..

Treurwilger ·

Insiggewende agtergrond tot die oorlog, wat nooit moes gebeur nie.
Luister ook na prof. John J. Mearsheimer se 2015 toespraak op Youtube:
“The Causes and Consequences of the Ukraine Crisis”. Verstommende gebreke in Westerse ‘diplomasie’.

Verder is dit ook onbegryplik dat enige poging om die redes vir hierdie reusekrisis objektief te probeer verstaan, as vergoeiliking van die oorlog geïnterpreteer word.

Anna-marie ·

As die hoofstoommedia eerlik en opjektief was, kon baie van die tragedies verhoed gewees het. Hulle dryf ‘n sekere narratief, mense glo dit en die anderkant van die saak word nooit vir die mense gewys nie.

Porseleintjie ·

As jy nie my maatjie wil wees nie dan maak ek oorlog!

Frank ·

NIKS, maar NIKS regverdig Putin se optrede nie. Nie eers amper nie. Sorry Gert

Andries ·

Wat meer is: Kyk maar na Poetin se loopbaan – hy is beslis geen engeltjie nie.

Vrijburger ·

Dankie vir die deel van jou kennis.
Kon ook genoem het van die rol van die Weste in die 2014 Maidan Revolusie.

Hendrik ·

Nee wat, hierdie simpatie met Rusland is sommer bog. Die Weste, ingesluit Europa, het nog nooit enige ambisie gehad om Rusland binne te val of daarheen uit te brei nie. Poetin het geen verskoning vir hierdie agressie nie. Ukraïne is ‘n trotse, onafhanklike volk soos Afrikaners, behalwe dat hulle ‘n geografiese meerderheid in die Ukraïne het. Hulle het soos die Afrikaner, die reg om te besluit of hulle hul by die uitgediende Russiese bestel wil voeg, of deel van die Westerse norme en standaarde wil wees.

Marthinus W ·

As Gert nog nie n boek geskryf het nie, moet hy dit asseblief doen, want ons wat belangstel daarin het te min bronne, veral in Afrikaans, oor hierdie geskiedenis. Pik en Piet Botha, bv, is albei dood sonder outobiografiee. so verloor ons kosbare inligting en insigte.

John Mearsheimer en wyle Stephen F Cohen het ook bygevoeg dat “American exceptionalism” n baie groot probleem was en nog steeds is. Soos voormalige minister van buitelandse sake, en Tsjeggiese immigrant Madeleine Albright in 1998 oor Irak gese het, “if we have to use force, it is because we are America; we are the indispensible nation. We stand tall and we see further than other countries into the future, and we see the danger…” (Oor Amerika se skade in Irak, waar 500 000 Irakese kinders gesterf het weens die sanksies wat toegepas is. het sy aan joernalis Lesley Stahl van CBS gese, “… we think the price is worth it.”

Hendrik ·

Amerika het nie, het het nog nooit tevore, ‘ n begeerte gehad om Rusland in te val nie. Poetin laat die koue oorlog wat jare gelede verby is, nou ontaard in ‘n warm oorlog, omdat hy die USSR wil laat herleef. Lank lewe Ukraïne en sy vrye burgers.

Marthinus W ·

Jy is reg dat Amerika nie Rusland wil inval nie, dis nie wat ons se nie. Wat wel waar is, is dat Amerika vir Rusland in n blik wil druk, n tegniek wat “containment” genoem word. Lees Zbigniew Brzezinski se boek “The Grand Chessboard”, of Victoria Nuland se neocon-man Robert Kagan se geskryf, waarin Amerika die wereldleier moet wees, en al die ander lande, inlsuitende Rusland en China, moet die knie buig.

Op 28 Mei 2014 het pres Obama by West Point militere akademie gese, “America must always lead on the world stage….The US wil use force unilaterally if necessary, when our core-interests demand it.”

Obama se maatjie, Fareed Zakaria, se op 9 Junie 2014, “…the central task of American foreign policy over the next decade: deterring a great power challenge. … The US is seeking to deter China from expansion, … Even with Russia, the goal is not to force the collapse..but to deter Moscow… [dus: Amerika wil die alleenheerser wees]

Human ·

Daar is skrywers van boeke oor Putin se wandade, teveel om hier op te noem. Kyk en lees wyer as net die inligting wat jou gedagtegang pas. Wat van Sirië wat platgeskiet is en duisende mense is dood en miljoene moes hul land verlaat, omdat Asad met die hulp van Putin, sy land en die inwoners amper gelyk gemaak het met die grond. Deur net sommige skrywers en sprekers te propageer wys net wie en wat jy is.
Is dit nou Amerika se skuld dat Putin die Okraïne binne val, omdat sy eggo gekneus is en hy soos ‘n stoutkind nie sy sin kry. Putin, beste vriende met die ANC en nou is julle skielik blind en doof, vir sy vergrype.

Andre ·

Dankie tog, iemand weet meer as wat die Weste se fopnuus vertel.

Susan ·

Insiggewend, maar regverdig dit Poetin se aggressie teen juis Oekraïne? Wie gaan die land weer opbou wanneer alles platgeskiet is en groot getalle Oekraïners moontlik permanent die land verlaat? Rusland?

Marthinus W ·

Ek dink die EU kan hulself skop dat hulle die magsoorname in Febr 2014 ondersteun het, want daardeur het hulle hulself verbind tot n vorteks wat net geld en wapens insuig, sonder dat hulle iets daarvoor kry.

Gedurende Augustus 2014 het Rusland n konvooi van 280 trokke, wit geverf, met humanitere hulp, verskaf, maar hulle is afgelag en afgekraak. Daar is gese dat dit n trojaanse perd is, of troepe wat Poetin skelm wil instuur. En omdat die konvooi deur n priester geseen is voor hulle vertrek, is hulle nog erger beledig. Toe die konvooi die grens by Oekraine bereik, en die inhoud deurgegaan word, was dit die volgende: 69 kragopwekkerss, 400 ton graankos, 340 ton blikkies vleis, 30 ton sout, 100 ton suiker, 60 ton geblikte melk, 0,8 ton tee, 679,5 ton gebottelde water, 62,4 ton babakos, 54 ton mediese voorraad, 12 300 slaapsakke., ens.

Anel ·

Dis nou alles goed en wel, maar is dit nodig om oorlog te maak en ‘n land sommer net binne te val omdat jy kwaad is en nie jou sin kry nie? Hoekom onskuldoge mense dood maak? Oorlig was nog nooit ‘n oplossing nie. En niu, agv van sy kinderagtigheid, want dit is wat ek dit noem, kry nie net die Okrainiese burgers swasr nie, maar sy rie mense en dan die res van die wêreld! Het die wêreld nie swaar genoeg gekry agv van die vervloekte vurus nie? Nou gedra hy hom soos ‘n stout ku d! Niemand get beplan om Rusland binne te val nie. Maar dis komunisme. Gun niemand niks, veral die wat nie soos jy dink nie.

Anna-marie ·

Duidelik verstaan jy nie die politieke situasie tussen Rusland en die Weste nie. Poetin het vir 8 jaar gepraat en gewaarsku.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.