Weste word onnodig by konflik tussen Rusland en Oekraïne betrek

Honderde vrywilligers, vergesel deur die regse paramilitêre Azof Nasionale Korps, brand fakkels tydens ʼn saamtrek buite die Oekraïense parlement in Kiev, Oekraïne. (Foto: Efrem Lukatsky, AP)

Op 25 November het die besluit van die Oekraïne om drie van hul vlootskepe deur die Kertsj-seestraat te stuur, tot ’n internasionale krisis aanleiding gegee. Die Kertsj-seestraat is ’n smal verbinding tussen die Swartsee en die See van Azof. Sedert Rusland se anneksasie van die Krim-skiereiland in 2014, beheer die Russe die Kertsj-seestraat.

Dié seestraat is geleë tussen die Krim-skiereiland en die Taman-skiereiland wat dit vir Rusland van groot strategiese belang maak. Dit is egter ook vir die Oekraïne van belang omdat dit die enigste verbindingsroete tussen hul hawens in die Swartsee en dié in die See van Azof is.

Rusland se reaksie op die Oekraïne se besluit om die drie skepe deur die seestraat te stuur, was om redelik aggressief op te tree. Die skepe is verhoed om deur die seestraat te beweeg en die Russiese weermag het beheer oor die skepe geneem en bemanningslede in hegtenis geneem.

Sedertdien het veral Westerse media en politieke leiers Rusland se optrede veroordeel en is die indruk geskep dat Rusland die enkele skuldige party in hierdie insident was. Die waarheid is egter heelwat ingewikkelder.

Die president van die Oekraïne, Petro Poroshenko speel reeds sedert Rusland se anneksasie van die Krim-skiereiland in 2014 ’n politieke spel waarin hy Westerse lande in die voortslepende konflik tussen sy land en Rusland probeer betrek.

Poroshenko se politieke oorlewing hang af van die mate waartoe hy die gesig van patriotisme in die Oekraïne kan word. Dit is nie sommer toevallig dat hy twee dae ná die insident in die Kertsj-skiereiland die datum vir volgende jaar se presidentsverkiesing aangekondig het nie. Poroshenko is tans baie ongewild in sy land en slegs tussen 8% en 15% van kiesers beplan om, volgens peilings, op 31 Maart 2019 vir hom te stem. Indien hy egter die krisis met Rusland kan eskaleer, staan hy ’n kans om sy eie gewildheid te verhoog.

Poroshenko het sedert 2014 voortdurende druk op lidlande van die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie geplaas om die Oekraïne militêr te ondersteun. Terwyl die media die indruk skep dat die Trump-administrasie in Amerika sagter met Rusland omgaan, is die teendeel waar. Die Trump-administrasie het al twee keer gesofistikeerde wapentuig aan die Oekraïne verkoop. Amerika is ook betrokke by die opleiding van soldate in die Oekraïne. Ander Navo-lidlande moedig weer ’n onderhandelde skikking aan.

Om die spore van die konflik tussen Rusland en die Oekraïne te verstaan, moet ’n mens verder kyk as net blote Russiese aggressie. Hoewel Rusland se optrede in 2014 onaanvaarbaar was, is daar groter en ingewikkelder historiese vraagstukke wat begryp moet word. Voeg daarby ’n lang geskiedenis van ingewikkelde demografiese en geografiese kwessies, en ’n mens besef vinnig dat die huidige konflik deel is van ’n baie ouer konfliksituasie.

Aan die een kant het die Oekraïne die reg gehad om hul skepe deur die Kertsj-seestraat te stuur en aan die ander kant het Rusland die reg gehad om die skepe voor te keer. Westerse lande moet verhoed dat die Oekraïne hul betrek by ’n konflik waarin hulle baie min belang het. Anders kan dit tot grootskaalse konflik tussen Navo-lande en Rusland aanleiding gee.

Dit is ’n scenario wat niemand wil sien gebeur nie.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jerry ·

Net soos die weste moet verhoed dat hulle betrek word by konflik wat nie in hulle beste belang is nie, wat ek glo hulle sal verhoed, so geld dit ook maar vir Suid Afrikaners wat moet verhoed dat die EFF en radikale ANC faksies hulle betrek by konflik, omrede dit net in belang sal wees van die anargiste!

DewaldS ·

As die burger-oorlog in die Oekraïne ‘n spontane, interne geleentheid was, dan is die meeste van die gevolgtrekkings in die artikel redelik logies. Maar as dit ‘n befondse en ge-orkestreerde destabilisasie-aksie deur die Westerse wêreld was, dan lyk die prentjie heeltemal anders. Die motivering vir so ‘n destabilisie sal natuurlik wees om Rusland se grense verder te ‘encroach’ met Navo basisse. Dan sal die gevolgtrekking wees dat Navo in elk geval ‘n konflik met Rusland aanstook en dat hierdie maar net nog ‘n skuifie op die skaakbord was.

Arak ·

Ek stem, ek glo ook nie die Oekraïne burger-oorlog was spontaan nie. Met Rusland, wat na die afskiet van die Russiese vliegtuig, basies die lugruim van Sirië oorgeneem het plaas dit Israel/Amerika in ‘n moeilike posisie wat konstant vir Sirië/Iran wil aanval. Nou dat die S-400 missiele in Sirië is kan hulle niks doen teen Sirië/Iran nie. Wat Israel/Amerika kort is ‘n oorlog teen Rusland sodat 1) Europa, Amerika se olie/gas ten duurste kan koop en om 2) Poetin forseer word om uit Sirië te onttrek. Ek glo hierdie is maar net die nuutste poging om die doele te bereik.

Marius ·

Arak – Die VSA/Israel kan baie beslis die S-400 Triumf anti-lugafweer missiele neutraliseer. Geen lugafweer missiel nie eers die VSA se THAAD of PAC-3 is 100% gewaarborg nie. Die Israeli’s het baie beslis die tegnologie, die radiasie lug-tot grond missiele om dit te doen en sal dit in elk geval gebruik as hul nasionale veiligheid en terrotoriale integriteit bedreig word. Die probleem is egter dat die spesifiele S-400 Triumf missiele deur die Russe se strategiese missiel mag self beman word en nie deur die Siriers of Iranese magte of hulle surrogate in Sirie nie. Die word so gedoen deur die Russe om as buffer te dien teen wat gesien word as Amerikaanse inmenging. Ek dink ook dat daar aan beide kante veral Rusland en Amerika asook Israel nugter denke gebruik word om te verhoed dat die Siriese burgeroorlog in ‘n grootskaalse streeks-oorlog ontaard en die groot moondhede direk in konflik met mekaar sal kom. U moet ook onthou dat Israel en Sirie tradisioneel gegroepeer word in Amerika of Rusland se kraal. Die groot probleem is egter Iran, wat uit-en uit daartoe optree om deur Hezbollah in Libanon, Israel in die konflik te trek deur aan hulle op allerhande maniere van grond- tot grond missiele te voorsien. Israel het dan ook verskeie kere die voorsiening van die missiele onderskep en vernietig.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.