Westerse demokrasie in krisis weens ekonomiese probleme

Grafika: Maroela Media

Grafika: Maroela Media

Die ekonomiese krisis wat in 2008 begin het duur nou al sewe jaar. Wat begin het as ‘n Westerse krisis, het destyds wêreldwyd uitgekring. Kenners beskryf dit reeds as ‘n geskiedkundige keerpunt wat die Tweede Wêreldoorlog gaan vervang as die belangrikste historiese verwysingspunt. Die vraag is of hierdie krisis nou verby is. Oppervlakkig beskou, is daar redes vir optimisme, veral as gekyk word na ekonomiese prestasie in die VSA wat verbeter. Maar as daar na die massiewe omvang van staatskuld gekyk word, kan die werklike probleem nog voorlê.  Daar is verskeie redes vir die krisis, maar die onbekostigbare Westerse welsynstelsels lê aan die wortel van die probleem.

Oorsaak of gevolg

Sommige linkse en veral nie-Westerse denkers, glo dat die ekonomiese krisis die gevolg is  van ‘n krisis in die Liberale Kapitalisme. Hulle sien die krisis as bewys daarvan dat die Westerse model nou misluk het en vervang moet word deur die suksesvolle staatsgerigte model van China. Hulle glo dat die Westerse liberale politieke en kapitalistiese ekonomiese stelsel die oorsaak van die probleem is en dat daar weer na links en na groter staatsinmenging in die ekonomie te beweeg moet word. Dis ook ‘n gewilde siening in ons regerende elite. Maar hierdie linkses hou nie daarmee rekening dat die Chinese opkoms juis gespruit het uit ‘n grondverskuiwing na ‘n vryer ekonomie nie. Bykans 500 miljoen Chinese het hul groter vryheid reeds gebruik om hulself uit armoede op te hef.

Maar selfs aan die ekonomiese regterkant is daar ‘n groeiende siening dat die huidige Westerse politieke en ekonomiese stelsel wel aan die wortel van die probleem lê. Hiervolgens het die duur welsynstelsels en -staatsburokrasieë ‘n groot rol in die krisis gespeel. Dit het tot sulke berge staatskuld gelei dat finansiële ineenstortings onafwendbaar was en ‘n groter krisis lê nog voor. Hul oplossing is dat terugbeweeg moet word na die markekonomie en persoonlike verantwoordelikheid as die uiteindelike oplossing.

Welsyn-skuldkrisis

Die omvang van die Westerse welsyn- skuldkrisis blyk duidelik as die Duitse staatskuld as voorbeeld geneem word. Duitsland is immers die top presterende Westerse welsynstaat. Met die eerste oogopslag lyk die Duitse skuldlas op 83% van sy bruto nasionale produk (BNP) erg, maar nie onoorkomelik nie. Maar as die onbefondsde skuld aan sy toekomstige pensioenarisse ook ingereken word, lyk die prentjie beroerd. Dan beloop die Duitse skuld ‘n skrikwekkende 418% van die land se BNP! Die Amerikaners se skuldlas word konserwatief bereken op 480% van hulle BNP, of ‘n verbysterende 72 biljoen dollar as die welsynskuld bygereken word!

Dis nie meer moontlik om hierdie groeiende staatskuld te delg met stygende belasting nie. Die werklikheid is dat die Westerse welsynstaat onbekostigbaar geword het en dat hierdie state besig is om die onvermydelike bankrotskap op hul nageslag af te skuif.

Beloftes maak skuld

Hoewel Bismarck die vader van die welsynstaat was, het die stelsel veral in die goue dekades van vinnige ekonomiese groei na die Tweede Wêreldoorlog vinnig uitgebrei. Die bevolking was jonk, die stelsel nuut en baie meer mense het bygedra vergeleke met die aantal pensioenarisse wat geld ontvang het. Die Weste het die wêreld polities, militêr en ekonomies oorheers, skuldvlakke was laag en tegnologiese vernuwings en ‘n sterk werksetiek het tot ʼn ontploffing in produktiwiteit en ekonomiese groei gelei. Boonop moes die Weste ook ideologies meeding met die eertydse Oos-blok se beloftes van sosialistiese werkersparadyse. Maar feitlik al hierdie bestaansvoorwaardes vir die moderne welsynstaat het nou weggeval.

Die belangrikste dryfkrag agter die feitlik onbeheersde groei van die stelsel was dat ‘n omvattende welsynstelsel uiters gewild by kiesers is en dat politici wat net meer en groter beloftes maak, verseker is van politieke steun. Die welsynstelsel was oorspronklik bedoel as ‘n versekeringstelsel vir bydraende werkers, om voorsiening te maak in gevalle van werkverlies. Dit moes terselfdertyd dien as maatskaplike veiligheidsnet vir diegene wat nie vir hulself kon sorg nie. Maar in die meeste lande het dit vinnig begin uitbrei na omvattende nie-bydraende én onbefondsde welsynstelsels. Vandag se werkers het vir vandag se pensioenarisse betaal, terwyl die staat belowe het dat die komende geslag werkers eendag vir vandag se werkers se pensioene sal instaan. Die vereistes dat net bydraers uitkerings kon kry is ook laat vaar, reëls is verslap en ruim uitbetalings is aan ‘n breë spektrum van eisers gemaak. Waar mense vroeër hulself teen onsekerhede beskerm het, het hulle nou begin voel hulle is geregtig op staatshulp. Beloftes het letterlik (berge) skuld gemaak.

Liberale grondverskuiwing

Die ongebreidelde uitbreiding van die Westerse welsynstelsel is bemiddel deur ‘n ideologiese grondverskuiwing oor die afgelope dekades in die Liberalisme. Waar die klassieke liberalisme die staat se magte beperk het tot die beskerming van mense se regte en vryhede, is die staat se magte nou uitgebrei om almal te versorg. Die vroeëre wekroep van “vryheid” is nou vervang met ‘n dreunsang vir gelykheid en sekuriteit. Liberaal het links geword. Dit het die staat “genoodsaak” om sy mag te vergroot, en om in die regte en vryhede van die burgery te begin inmeng. In die praktyk het dit hoër en hoër belastings vir die produktiewe deel van die bevolking meegebring saam met ingrypende regeringsinmenging in die ekonomie en in ander dele van mense se lewens. Die burgery se keuse vír sekuriteit was in die praktyk terselfdertyd ‘n keuse vir die inperking van hul eie vryheid.

Demokratiese krisis

Die krisis van die Westerse Welsynstaat is terselfdertyd ‘n krisis vir die Westerse demokrasie. Dit bring die “demokratiese kontrak” in gedrang, waarvolgens mense vir ‘n party stem in ruil vir versorging. Maar die welsynstelsels kreun nou onder die gewig van hul skuld. State kan probeer om dit te hervorm deur belastings nog verder te verhoog of welsynsvoordele skerp te sny. Maar kiesers wil nie hierdie maatreëls aanvaar nie en sulke sterk medisyne kan tot só ‘n vertrouenskok lei dat dit die einde van die Westerse liberale demokrasie kan beteken. Maar die ekonomiese krisis in die Weste sal nie finaal oorgaan voordat die skuldkrisis nie opgelos is nie. Daar kan gevolglik verwag word dat die skuldlas van Westerse state al hoër gaan word, wat hul politieke, ekonomiese en militêre vermoë gaan aantas. Dit kan die geloofwaardigheid van die Westerse liberale kapitalistiese wêreldstandaard in groot dele van die wêreld in gedrang bring. Die probleem word vererger deurdat die groeiende krisis in die Weste saamval met die opkoms van nie-Westerse reuse soos China, wat ‘n globale magsverskuiwing na die Ooste kan beteken. Dit kan groot implikasies hê vir die handhawing van Westerse waardes en stelsels in ‘n wêreld waar die Weste, as gevolg van sy eie stelselkrisis, ‘n al hoe kleiner rol kan speel. Dit kan die toekoms van die liberale demokratiese kapitalisme wêreldwyd in gevaar stel. Daarom sal die Weste uiteindelik hul staatsburokrasieë drasties moet afskaal en begin staatmaak op die burgery se vermoë om selfstandige instellings vir hul gedeelde behoeftes op te rig.

Suid-Afrika kan baie leer uit die Westerse skuldkrisis, waarvan die belangrikste is dat ‘n staatstelsel net volhoubaar is as dit die burgers se regte en vryhede beskerm en nie as die staat vir almal probeer sorg nie. Ons welsynstelsel is ook grootliks onbefonds en nie-bydraend, maar is nog betreklik klein en daar is nog tyd om dit te verander. Suid-Afrika het nog tyd om die regte dinge reg te doen.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Flip Buys

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Leendert van Oostrum ·

“Daarom sal die Weste…moet…begin staatmaak op die burgery se vermoë om selfstandige instellings vir hul gedeelde behoeftes op te rig.”;

“Suid-Afrika kan baie leer uit die Westerse skuldkrisis…”

En Afrikaners ook.

Waarom dring Afrikaners nog steeds daarop aan om te vreet uit die krip van die staatsonderwys, en hofsake te voer om “Afrikaanse skole” te “behou” terwyl die Afrikaanse onderwysers in daardie skole lank reeds die revolusie in die kinders se koppe insmokkel soos Jonathan Jansen beloof het?

En dis nie om Afrikaans te hou skole vir arm Afrikaners nie – dis kwintiel-vyf-skole – die rykstes in die land.

Wanneer gaan Afrikaners lank genoeg die snoet uit die trog van regeringsafhanklikheid oplig om raak te sien waarheen die regering met die kinders op pad is?

Joe64 ·

Jô, nou praat jy! Kon nie meer saamstem nie. Die feit is eenvoudig, ons moet liberaal korrek wees om in te wees met ons blink karre en chinese klere en electroniese foefies.
En dit is ek en jy wat sien die staat wil ons kultuur uitroei, maar die georganiseerde groepe dring aan dat die hof dit sal herstel, nogal snaaks.
Hier is nou die geval van die sprinbok rugby trui as voorbeeld, die ou volkie gaan oor ‘n maand langs die veld sit en voor die TV asof dit nie gebeur het nie, kom nie tot besef dat hulle sodoende hulle self blootstel aan die onderhoud van iemand wat hom wil vernietig nie. .
ONS krisis, ons maak hom self!!

johan ·

Dankie v die mooi bydrae. Ons stelsel is te lomp ons moet kleiner (<<140k mense) eenhede hê wat baie meer outonoom is en verandwoordelik vir hulself. Baie soos die ou Boere republieke wat die Britte so gretig was om te konsolideer…Daardie vryheid sal ons egter net kan bereik as die dollar en Europa sy greep op ons verloor en ons Saxton Engelse elete wat ons oorheers sneuwel. En dis hoogtyd! Ons kan maar beplan soos ons wil maar ons sal nêrens kom solank daai greep op ons bestaan nie.

Therese van Schalkwyk ·

Flip Buys, hierdie artikel is ‘n briljante meesterstuk. Welgedaan!

(As jy maar weet hoe lank my wederhelf, en broodwinner in ons huis, al oor hierdie einste saak gal afgaan, dan sal jy besef hoe ons hierdie stuk waardeer.)

‘n Engelse vertaling behoort aan alle Westerse regerings gestuur te word, maar ek is bevrees dit is reeds te laat in die meeste gevalle. Die kultuur van “entitlement” is so diep gevestig dat die afskaling van staatshulp regerings van die dag beslis tot ‘n val sal bring. Politici koop stemme met beloftes van staatshulp wat op finansiële lenings geskoei is en weer met swaarverdiende belastingbetalersgeld afbetaal moet word. Hoe tragies is dit nie.

Dit is hierdie rojale maar onvolhoubare welsynstelsels in die Weste waarna desperate, asook opportunistiese, vlugtelinge uit ander wêrelddele stroom. Wat ‘n hopelose fiasko is die mensdom besig om op af te stuur, met geen woord oor die ongebreidelde bevolkingsaanwas onder diegene wat dit die minste kan bekostig nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.