Westerse lande hoop Erdoğan verloor verkiesing in Turkye

Pres. Tayyip Erdogan van Turkye. Foto: AP Photo/Kayhan Ozer, Presidential Press Service, Pool

Op 24 Junie sal miljoene Turke na die stembus gaan om in ’n vervroegde presidensiële en parlementêre verkiesing te stem. Sedert die eerste veelpartyverkiesing in Turkye in 1950 het die land nog altyd redelike vrye en regverdige verkiesings gehou. Die afgelope tyd, en in besonder na verlede jaar se omstrede referendum oor grondwetwysigings, bestaan daar al meer twyfel of die demokrasie in Turkye staande gaan bly.

Westerse lande hou daarom die huidige verkiesingsveldtog dop en dit is nie juis veel van ’n geheim dat baie Westerse leiers hoop dat die regerende Geregtigheid-en-Ontwikkelingsparty (AKP) en die huidige president van Turkye, Recep Tayyip Erdoğan, in die verkiesing verslaan word nie. In die mees onlangse peilings lyk dit asof Erdoğan en sy party hul meerderheid in die parlement kan verloor, maar vir so ’n politieke verskuiwing om plaas te vind, sal ’n regverdige verkiesing eers moet plaasvind.

Sedert die val van die Ottomaanse Ryk tydens die Tweede Wêreldoorlog, en in besonder ná die totstandkoming van die moderne Turkse Republiek in 1923, het Turkye nog altyd naby aan die Weste beweeg. Reeds in 1995 het Turkye ’n vryhandelsooreenkoms met die Europese Unie gesluit en op 12 Desember 1999 het Turkye om lidmaatskap van die EU aansoek gedoen.

Turkye is bekend vir sy dertien Wêrelderfenisterreine, insluitende die Bybelse stad, Efese. Turkye is die sewende gewildste toerismebestemming in Europa en Istanboel is die agste gewildste stad in die wêreld, met sowat 12 miljoen besoekers per jaar.

Turkye het die dertiende grootste ekonomie in die wêreld en volgens Credit Suisse het Turkye se weermag die tiende sterkste slaankrag in die wêreld. Reeds sedert 1952 is Turkye ’n lid van die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (Navo) wat hom ’n belangrike bondgenoot van die Weste maak.

Die verhouding tussen Turkye en die Weste verkeer egter onder groot druk. Onder die leierskap van President Erdoğan het Turkye die afgelope jare toenemend ’n rigting wat Westerse leiers ongemaklik gemaak het, begin inslaan. Demokratiese instellings soos die media, howe en universiteite is deur Erdoğan en sy party gekaap en verlede jaar se referendum het die land se politieke stelsel sodanig verander dat die meeste mag nou in die presidensie gesetel is. Die referendum is gekenmerk deur die misbruik van staatsfondse en -vermoëns om die uitslag te beïnvloed. Erdoğan het die mislukte staatsgreeppoging in Julie 2016 gebruik om opposisie teen sy party in regeringsdepartemente uit te wis en ’n heksejag teen onafhanklike media-instellings te voer.

Oor die afgelope paar maande was Erdoğan in bekgevegte met talle Westerse leiers soos die eerste minister van Nederland, Mark Rutte en Angela Merkel van Duitsland gewikkel. ’n Paar dae gelede het hy die kanselier van Oostenryk, Sebastian Kürz, weens die sluiting van moskees in Oostenryk, beledig.

Indien Erdoğan en sy party op 24 Junie die verkiesing wen, sal verhoudinge met die Weste, Turkye se belangrikste handels- en militêre bondgenoot, verder versleg. Intussen is Turkye se ekonomie onder groot druk en hoop Erdoğan om met oordrewe nasionalistiese retoriek en die onderdrukking van opposisiestemme die verkiesing te wen.

Die toenemende verlies van Turkye as bondgenoot is vir Westerse lande ’n groot slag.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Bondgenootbrokkels ·

Die EU bondgenootskap gaan aanhou verbrokkel soos wat die liberale heersers almeer vervreem van die publiek in die straat. Erdogan pas nie by die liberale heersers of by die man op straat in Europa nie, so ook nie die moslemlande nie. Hy isoleer Turkey vir homself, als net oor homself soos ons JZ en die diktator van Venuzuela. Dalk kan hy n bondgenoot in China kry, China kan dalk hierdie pad na Europa via Turkye as n strategiese stap te beskou.

Rupert Ashford ·

Hy sal nie verloor nie. Sal wen soos Bob indien nodig.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.