Westerse lande verloorders in konflik tussen Rusland en VSA

Amerikaanse president Donald Trump en Rusland se president Wladimir Poetin.

President Wladimir Poetin van Rusland het onlangs in sy jaarlikse staatsrede ’n ernstige waarskuwing aan die Verenigde State van Amerika gerig. Sou die VSA mediumafstandmissiele in Oos-Europa installeer, sal Rusland met krag daarop reageer.

Die spanning tussen die VSA en Rusland is reeds vir ’n geruime tyd aan die minder word. President Donald Trump van Amerika het laat verlede jaar aangekondig dat sy land aan ’n verdrag wat in 1987 tussen Rusland en die VSA gesluit is en wat die gebruik van mediumafstandmissiele deur die twee lande beperk, gaan onttrek.

Toe Trump in November 2016 verkies is, was dit duidelik dat die Russe baie tevrede was en dat hulle ’n herskikking van die verhouding tussen Rusland en die VSA in die vooruitsig gestel het. Oor die afgelope twee jaar het die Trump-administrasie egter voortdurend fel kritiek teen Rusland uitgespreek en het die verhouding tussen die twee lande versleg.

Die oorsprong vir die verslegtende verhouding tussen Amerika en Rusland kan op verskeie plekke gevind word. Terwyl van die wantroue en persepsies uit die Koue Oorlog nooit heeltemal uitgewis is nie, het die spanning veral te make met Rusland se aspirasies tot erkenning as ’n belangrike wêreldmag en die VSA se ingewikkelde en soms onkonsekwente rol in Oos-Europa en dele van die Midde-Ooste.

Terwyl Rusland se betrokkenheid by separatiste-groepe in die Oekraïne veroordeel moet word, is dit ook nodig om te erken dat die VSA se rol in dié land oor ’n hele paar jaar met rede die Russe omgekrap het. George W. Bush se planne om ’n moderne missielverdedigingskompleks in Pole te vestig is ook deur die Russe as Amerikaanse aggressie ervaar. Navo se uitbreiding van lidmaatskap na lande in Oos-Europa maak ook Rusland ongemaklik

Rusland het ’n behoefte vir politieke en militêre erkenning. Terwyl die Weste nie bereid is om dit vir hulle te gee nie, kry hulle dit toenemend by lande in die Midde- en Verre Ooste. Dit is een van die redes waarom die Russe toenemend in ingewikkelde konflik in Midde-Oosterse lande betrokke raak en waarom Poetin soveel na China uitreik.

Trump se aanvanklike planne vir ’n herskikking in die verhouding tussen die VSA en Rusland en ’n herbesinning oor die rol van NAVO en Amerikaanse soldate wat in hul duisende op verskeie basisse in Europa gestasioneer is, het grootliks verdwyn.

Rusland bied bykans geen politieke, ekonomiese of militêre bedreiging vir die VSA nie. Die Russiese weermag het groot uitdagings, veral weens verouderde wapentuig en toerusting. Die VSA se grootste uitdaging is ’n duidelike politieke visie vir sy rol in ander wêrelddele. Die Bush-doktrine om Westerse demokrasie na ander wêrelddele te neem, het met duur eksperimente in Irak, Afganistan en Libië misluk.

Dit is van groot internasionale belang dat die VSA en Rusland ’n beter werkverhouding vestig en dat geskille bygelê moet word. Die probleem is egter dat die heersende deur politieke rolspelers in verskeie lande uitgebuit word. Indien spanning met die VSA, die Russe na China laat uitreik, kan dit slegte gevolge vir die Weste inhou. ’n Sterk Russies-Chinese bondgenootskap hou wesenlike ekonomiese en veiligheidsuitdagings vir Westerse lande in. Dit is in almal se belang dat Amerika sy verhouding met Rusland normaliseer.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Gert ·

Uiteindelik, ‘n objektiewe, onpartydige artikel, al word Trump se naam genoem! Baie geluk, Jaco, uitstekende stuk! Dit bevat ook baie interessante feite oor die internasionale situasie.

Jerry ·

Hoe jy ookal na die situasie kyk, of Amerika goeie verhoudinge handhaaf met Rusland oor die se aspirasies vir erkenning as n belangrike wereldmag of nie, soort soek soort, bedoelende dat Rusland en China in elk geval na mekaar uitreik. Huidiglik strewe beide na wereldvrede en ekonomiese oplewing en steur hulle hulself nie regtig aan Amerika met Trump aan die stuur nie. Die groot wereldmoonthede lag vir Amerika, wie hulle weet met die grootste dilema en verleentheid van die eeu, in die withuis sit! My pa het altyd gese dat n volk wat n besigheidsman of n gladdebek prokureur kies as hulle leier, pluk n lat vir hulle eie pakslae!

Therese van Schalkwyk ·

Puik artikel!
Dit is werklik teleurstellend dat daar tot dusver niks van die ‘beter verhoudinge met Rusland’ gekom het nie. Twyfel of dit ‘n gebrek aan entoesiasme by Trump en Putin is; eerder ander faktore soos onversetlike politici in die Washington-‘moeras’ en ‘n paranoïese hoofstroommedia.
Die twee se ontmoeting in Helsinki verlede jaar kon die begin van normale verhoudinge ingelui het, maar die handewringende histerie in die pers is al wat daarvan onthou word.
Hoe pateties/tragies.

Allan ·

@Jaco. Goeie artikel Jaco. Ek wens die Trump haters kan verstaan dat Rusland nog nooit die verkiesing beinvloed het nie en dat dit van kardinale belang is dat die twee moonthede ‘n beter verhouding moet hê. Lees ook Rhonda se artikel. Ek hoop Herman Toerien lees die twee artikels, dalk kan dit sy siening verander en vir ons beter beriggewing gee.

Stephan de S ·

Jerry dis nogal n gewigtige stelling om te maak nl dat die groot moondhede vir die Amerikaanse regering lag. Kry jy jou inligting vanaf die moondhede self of vanaf CNN. CNN is nie een vd groot moondhede nie , dis bloot n bevooroordeelde nuuskanaal

Willie ·

Dit lyk my soos ‘n tipies polities korrekte kommentaar. Waarom is die VSA en sy westerse lakeie, soos die VK , Frankryk en andere heeltyd besig om Rusland en Putin sleg te maak? Hoeveel keer het Putin al die media gevra om die waarheid te publiseer, sonder enige sukses. Die VSA wil van Rusland ‘n gehoorsame slaaf maak sodat hulle sy hulpbronne kan wegdra, soos wat hulle nog altyd gemaak het na die val van die USSR en met lande soos Libië, Iran, Irak en die heroin in Afganistan. Nou is hulle oë weer gerig op Venezuela, want die “fracking” olie in die VSA is besig om vinnig droog te loop.
Rusland, met ‘n weermag begroting wat ongeveer 10% is van die VSA, het nou wapens ontwikkel wat die VSA tweemaal sal laat dink voor hulle aanval. Die wêreld politiek word nie deur politici bepaal, maar deur geldmagnate wat duistere agendas het. Ek glo nie Rusland wil aandag soek nie, hulle wil net oorleef in hulle eie soewereiniteit.

John ·

Vaderland, mens sou amper dink die rubriekeskrywers het Oscars gewen soos almal gelukgewens word… Trump is die boef… en nou is Rusland weer ok. Is dit werklik Trump wat vyandig is jeens Rusland of wil die FBI en die Pentagon en die militère elite in die VSA en Europa nie dalk saam met die Oekraìne eerder graag ‘n inval in Rusland sien nie. Trump word so onderdruk dat hy self gesè het hy kan nie die inligting oor wat in die Midde-Ooste aangaan vertrou nie. Hierdie deurmekaarspul is presies wat rampe en oorloè voorafgaan. Skuus ek het vergeet om te xxx

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.