Wet op Gesinsgeweld: Wat behels dit?

hein-gonzales-2018-04

Hein Gonzales. Foto: Anne Grace Photography/Verskaf.

Deur Hein Gonzales

Egskeidings en onderhoudsake gaan dikwels met moddergooi en selfs gesinsgeweld gepaard. By HFG Prokureurs in die Paarl kry ons dikwels navrae oor wat gesinsgeweld behels en wat jou regte daaromtrent is.

Gestel jou eksman rand jou een aand fisiek aan terwyl hy te veel gedrink het en rig ’n vuurwapen op jou. Hoewel jy hom onmiddellik strafregtelik van aanranding en die rig van ’n vuurwapen kan aankla, is dit ’n algemene vraag hoe jy jouself in die toekoms kan beskerm.

Gesinsgeweld kan verskeie vorme aanneem, onder meer fisieke, seksuele, emosionele, verbale en sielkundige mishandeling. Lees gerus die definisie van gesinsgeweld op die departement van justisie se webblad.

Indien jy ’n slagoffer is van gesinsgeweld, is jy geregtig om vir ’n beskermingsbevel aansoek te doen teen die persoon wat hom/haar hieraan skuldig maak. Jou eerste stap sal wees om ’n prokureur te gaan spreek wat jou met die opstel van die aansoek en die prosesse daarna kan ondersteun. Indien jou hofaansoek suksesvol is, sal jy ’n beskermingsbevel ontvang om jou teen gesinsgeweld te beskerm. Indien die persoon die beskermingsbevel oortree, sal die polisie hom/haar in hegtenis neem en strafregtelik vervolg weens minagting van ’n hofbevel. Dié proses moet verkieslik met die hulp van ’n goeie prokureur, wat in gesinsgeweld spesialiseer, gevolg word.

Gesinsgeweldinterdikte verval nooit nie, – dit bly van krag teen die persoon totdat dit formeel deur ’n hof op aansoek tersyde gestel word. Die toestaan van ’n interdik teen gesinsgeweld kan groot gevolge vir die ander persoon inhou. Die hof kan byvoorbeeld kragtens die wet beveel dat die polisie op die persoon se vuurwapen beslag mag lê en/of beveel dat dit by die plaaslike polisiestasie ingehandig word.

Die Wet op Gesinsgeweld mag egter nie met “kwaadwillige” en “oneerlike” intensies misbruik word nie. Hierdie wet moet slegs gebruik word om jouself, en in sekere gevalle jou kinders, teen gesinsgeweld te beskerm.

Prokureurs in die praktyk en die samelewing besef dat gesinsgeweld ’n groot sosiale euwel is en opgelos moet word. Jy as persoon het immers die reg tot gelykheid, vryheid en veiligheid soos verskans in die Grondwet van Suid-Afrika. Hierdie is die basiese menseregte wat die wetgewer en regering deur middel van die Wet op Gesinsgeweld probeer beskerm en verwesenlik.

  • Indien jy enige navrae oor gesinsgeweld en soortgelyke aangeleenthede het, kan jy ʼn e-pos stuur na [email protected] of ons webwerf vir verdere inligting besoek.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

E.K. die eerste ·

“Jou eerste stap sal wees om ‘n prokureur te gaan spreek….” net daar val alles plat. MEESTE mense van wie ek weet met wie so iets gebeur het, het eenvoudig NIE geld vir prokureurs nie. En gratis regshulp… ek sê liefs niks verder

HRS ·

Hierdie interdikte word dikwel gebruik om n saak te bevorder. Dit plaas die man in n slegte lig mbt tot die kinderhof en ander aangaande sake. Sekere prokureurs misbruik die sisteem. Wat is die gevolg van so n kwaadwillige en oneerlike bevel wat teen n man uitgereik word?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.