Wet wat godsdiens wil reguleer in pyplyn

kruis-03

Foto: Sspiehs3/Pixabay.com

Deur Christoff van Wyk

Die CRL Commission, ’n artikel 9- grondwetlike instelling, het op 15 Oktober 2015, na aanleiding van klagtes wat ontvang is, ’n ondersoek geloods na die kommersialisering van geloof en wanpraktyke binne die groter geloofsgemeenskap. Dagvaardings is op 85 godsdiens- en tradisionele leiers beteken om onder eed voor die komitee te verskyn en terselfdertyd ook verskeie dokumente rakende hul finansies, statute van oprigting, verklarings van geloof, lidmaatgetalle en dies meer bloot te lê. Die bevindinge van dié komitee is in ’n verslag saamgevat wat in Oktober 2016 uitgereik is. Een van die aanbevelings is dat daar dringend aandag geskenk moet word aan die opstel van nuwe wetgewing wat spesifiek alle godsdienstige praktyke in Suid-Afrika sal reguleer. Die aanbevelings wat in die verslag vervat is, grens werklik aan die absurde en is heel moontlik ongrondwetlik. Maar bowenal is dit net nog ’n verdere poging van ’n magsbehepte staat om ons vryhede nog meer in te perk en Suid-Afrikaners sal nou, meer as voorheen, hul stem moet dik maak om hierdie neigings te stop.

Meerderheid gestraf oor klein minderheid

Die afgelope jare is daar in die media oor verskeie insidente berig waar godsdienstige leiers hul volgelinge finansieel ingedoen het of fisiek geskaad het. Die mees onlangse voorval hiervan wat hoofopskrifte gemaak het, was natuurlik die “Doom-profeet”. Dit was na aanleiding van hierdie soort klagtes wat deur die CRL Commission ontvang is wat hulle genoodsaak het om ondersoek in te stel. Die wyse waarop die komitee egter te werk gegaan het, asook hul aanbevelings, gaan alle verstand te bowe.

Een organisasie wat ten nouste betrokke is by die stryd om godsdiensvryheid in Suid-Afrika te behou en wat reeds by verskeie hofsake betrokke was, is Forsa (Freedom of Religion South Africa). Die organisasie het onder meer gesorg dat die tydperk waarin belanghebbendes kommentaar kan lewer op die CRL-verslag verleng is tot vandag. Dit nadat die CRL Commission aanvanklik besluit het om die proses te “fast-track” en sy aanbevelings direk na die parlement te stuur vir bespreking.

Die komitee se aanbeveling stel wetgewing in die vooruitsig wat onder meer:

  • spesifieke vereistes daar stel waaraan enige geloof sal moet voldoen voordat dit amptelik erken kan word as ’n geloof;
  • die oprigting van regulerende instellings wat die uitreiking, maar ook terugtrekking van lisensies om te praktiseer aan godsdienstige instellings en leiers behartig; en
  • die breë regulering en polisiëring van alle godsdienstige instellings en persone.

Forsa het ’n nuttige diagram verskaf wat uiteensit hoe die voorgestelde regulering deur nuwe wetgewing geïmplementeer moet word. In beginsel sal daar ’n raad vir portuurbeoordeling tot stand kom wat die oorhoofse regulerende liggaam sal wees. Hierdie raad sal bestaan uit een verteenwoordiger van elke “erkende” geloof in Suid-Afrika. Die problematiek met hierdie voorstel alleen is eindeloos.

forsa-godsdiensvryheid-grafika

Grafika: Verskaf.

Die volledige verslag met aanbevelings kan van die CRL Commission se webblad afgelaai word.

Steun vir belangegroepe van grootste belang

Soos reeds genoem is die sluitingsdatum vir kommentaar op die verslag reeds vandag op 28 Februarie 2017. In dié verband is dit van die allergrootste belang dat alle kerke en ander organisasies wat godsdiensvryheid voorstaan, hul gewig agter drukgroepe soos Forsa gooi of self insae lewer. Forsa is ’n Christelike organisasie wat reeds die steun van nagenoeg 5 miljoen mense geniet. Hierdie ondersteuning gee aan hulle ’n volwaardige mandaat om op te tree teen hierdie soort vergrype wat tans al hoe meer algemeen raak.

Persone of instansies wat hierby betrokke wil raak, kan amptelik hul steun toesê aan Forsa deur die organisasies waaraan hulle behoort te kontak en aan te moedig om ’n ondersteuningsvorm in te vul. Alternatiewelik het Forsa op sy webblad ’n voorafopgestelde vorm wat ingevul kan word om hierdie aksie te ondersteun.

Dietrich Bonhoeffer, die Lutherse pastoor en anti-Nazi-aktivis, het gesê: “Action springs not from thought, but from a readiness for responsibility.” Bonhoeffer het getrou gelewe aan hierdie oproep tot verantwoordelikheid en dit het hom sy lewe gekos. Skaars ’n maand voor die einde van die Tweede Wêreldoorlog is hy sonder verhoor ter dood veroordeel en gehang. Sy dade spreek egter vandag nog tot ons.

Dit is die taak van elke Christen en verantwoordelike persoon om die bedreiging van ons vryhede deur die staat of enige ander organisasie teen te staan. Indien ons hierdie soort oproepe verontagsaam, lei dit altyd tot dood en verwoesting. Dalk nie vandag nie, maar definitief môre. Wat gaan ons vandag doen?

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: NP van Wyk Louw-sentrum

Die NP van Wyk Louw-sentrum vir Gemeenskapstudies is ‘n toekomsgerigte ideesentrum wat fokus op die voorwaardes vir selfstandige en suksesvolle gemeenskappe.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Kammas ·

Hopelik lei dit tot die uitroei en ontbloting van wanpraktyke soos die aanranding van demone uitdryf wat meer gedoen het vir die erkenning van die duiwel as wat enige satanis loot sou kon

Johan Smal ·

Ek is 100% ten gunste van vryheid van geloof. Maar ek is ook van mening dat kerke, nes enige ander besigheid belastingpligtig behoort te wees. Baie (veral tradisionele 3 susterkerke) word deesdae bedyf as besighede, en berokken dikwels met hulle “kerkbasaars” ernstige skade aan veral klein dorpies se ekonomiee.

Belastingbetaler ·

Johan
Absoluut moet hul belasting en eiendombelasting betaal soos enige ander besigheid

Joh. 3:16 ·

Johan Smal en Belastingbetaler, ek weet nou vir wie moet ek as Christen die versigtigste wees…

Frans C ·

Indien dit waar is dat 80% van die Suid Afrikaanse bevolking Christene is,is die wetgewing
totaal onvanpas.

John ·

Hierdie is die gevaarlikste wetsontwerp wat ons land ooit kan tref! Maar miskien sal dit ware Christene tot orde roep… en ongelukkig en hartseerste is dat baie gaan kaputileer vir ‘oorlewing’. Godsdiensoortuigings le ten grondslag van alle ideologiee. Sou dit vergesog wees om te waarsku dat Christene in ons eie ‘vrye’ land in die tronk gegooi sal kan word vir hul geloof? Dit gaan gebeur. En ons kinders gaan in hul skole erge trauma beleef… en vreemde konsepte moet aanleer. Ons aandag word slinks afgelei deur vrese vir aardse eiendomsvergrype maar ons vergeet van ons kosbaarste eiendom, ons Christelike geloof en ons Bybel vir ons hiernamaalse verblyfreg.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.