Wettelose gemeenskappe bedreig die toekoms van SA

coligny-betoging

Polisiebeamptes wat in Coligny, Noordwes ontplooi is (Mei 2017). Foto: ANA

Deur die Stigting vir Gelykheid voor die Reg

Die afgelope tyd se onluste en verwoesting by Coligny het die kollig opnuut op die uitdagings wat op Suid-Afrika wag laat val. Bo en behalwe dat Suid-Afrika op ekonomiese gebied tot rommelstatus verklaar is, het die verwoesting en plundery van eiendom die vraag laat ontstaan of die owerhede hoegenaamd in staat is om die land te regeer. Dit het ʼn algemene verskynsel geword dat eiendom verwoes en geplunder word, hetsy om uiting aan griewe te gee of onder die voorwendsel dat dit om griewe gaan. Die polisie is oënskynlik magteloos om die slagoffers van die verwoesting en plundery te beskerm.

Wat veral kommerwekkend is, is dat verslaggewing deur sekere mediaplatforms die indruk skep dat dié wettelose optrede oogluikend goedgekeur word. Dit geld ook vir sekere gemeenskapsleiers en kerkleiers wat óf nie die moed van hul oortuiging het om dit te veroordeel nie óf dit andersins oogluikend goedkeur.

Sondagaand het ʼn nuusleser op ʼn televisienuuskanaal doodluiters berig dat die moord op ʼn seun die onluste by Coligny ontketen het. Eerstens bots dit met die feite wat algemeen bekend is en tweedens minag dit die beginsel van ons reg dat ʼn persoon slegs van moord beskuldig kan word indien so ʼn persoon deur die hof skuldig bevind is. Landdros Magaola Fosa, wat die aansoek van die twee beskuldigdes om borgtog moes oorweeg, het hom in ʼn onbenydenswaardige posisie bevind. Enersyds moes hy reg en geregtigheid laat geskied en die aansoek op grond van die vereistes van ons reg oorweeg, en andersyds die gramskap van sekere lede van die gemeenskap trotseer wat hoegenaamd geen agting het vir die reg nie. Die feit dat landdros Fosa wél borgtog toegestaan het, spreek boekdele vir sy integriteit. Dit is uiters jammer dat die media, gemeenskaps- en kerkleiers nie moeite gedoen het om die regsbeginsels waarop borgtog oorweeg moet word te beklemtoon en ʼn beroep op die betrokke gemeenskap te doen om hulle daaraan te onderwerp nie.

Dit is ook opvallend dat onderhoude wat met die betogers gevoer word en op televisie gebeeldsend word, klakkeloos geskied en dat geen poging aangewend word om dit op ʼn ewewigtige wyse te doen sodat alle aspekte van die saak belig kan word nie.

Indien ons Suid-Afrika uit die moeras wil lig waarin die land hom tans bevind, gaan dit ʼn reusespanpoging deur die kerk en samelewing verg. Die media kan in hierdie opsig ʼn belangrike rol speel deur wettelose optrede op ʼn objektiewe en ewewigtige wyse te rapporteer waar die handhawing van wet en orde die grondslag is.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Ek stem ·

Baie goed geskryf en baie waar. Die probleem is die INTEGRITEIT van die oproermakers . en dan moet ek ook ongelukkig die integriteit van die polisie en gemeenskapsleiers en media bevraagteken. Die media is ‘n groot vyand veral van die blanke, en van geregtigheid in SA, hulle skryf ‘n storie soos hulle hom wil he. Aanvanklik was die opstande en oproere oor DIENSLEWERING en daarna het iemand besluit dit gaan oor die seun wie se ouderdom al tweekeer verander het en wie se pa hom nie eers gesoek het voordat dit alles in die media uitgeblaker is nie. Die onskuldige witmense se huise en eiendom wat af en uitgebrand is het nie ‘n kans gehad om iets te se nie .. BAIE EENSYDIG!!

Pieter ·

Dit gaan maar oor samewerking en saam staan. Maar i.p.v samstaan was hier in ‘n ander berig iemand wil net weet waar kan hy sy maatjie brand omdat hy boorwater gebruik – pateties. Tipies suid-afrikaner, wil mekaar uitwis en aangee, maar daardie selfde persoon is natuurlik tjoepstil wanneer ‘n taxi voor hom inry wnat hy is te bang. Ons kan nie saam staan nie en hierdie is maar ‘n klein voorbeeld daarvan (boorgate – rêrig!). Wel die die mense wat so plaasmoorde het dit al lankal gesien en is besig om dit uit te buit. Hulle het stadig begin en gesien dit maak nie saal wat hulle doen nie, boere staan nie saam nie.

dr Sakkie van der Merwe ·

Moet saamstem met Ek Stem dat hierdie ‘n puik kommentaar is van die gebeure in Coligny. Net jammer dat die man op straat dit nie sien of hoor nie. Die linkse media moet deels verantwoordelik gehou word vir toestande en gebeure soos in Coligny.

Hennie Theart ·

Die regering het toegelaat dat dinge handuit ruk en is waar dit nou is. Die leierkorps praat die soort omtrede goed en moedig die mense aan met die haatspraak.
Nou moet die kerk en die res van die samelewing ingryp, en dit met wat?
Hoe kan hulle teen die leierkorps se haatspraak ingryp?
Daar is net een antwoord – wet en orde!! Wet en orde moet afgedwing word deur ‘n wetgewing en dan die nodige polisie (nie die korrupte spul wat nou daar is nie), maar polisie en weermag wat weet hoe om dit te doen.

John ·

Regerings en beswaardes gebruik dikwels om gerieflikheidshalwe profesionele moeilikheidmakers, soos die destydse gehuurde begrafnisgangers vir ‘n snot-en-trane-effek, as voorhoede. Dis veiliger en die ‘base’ se name bly geheim. Hierdie groep, dikwels van elders in die land/buiteland gaan beslis in die toekoms groot skade aanrig en skielik weer in die niet verdwyn… soos IS… maar is die regering bekommerd…? Nee, want die leiers se blouligbendes sorg weer vir die entourage se mannewales.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.