Wettige vuurwapens – ’n 3-stap-plan vir beginners

hein-gonzales-2018-04

Hein Gonzales. Foto: Anne Grace Photography/Verskaf.

Deur Hein Gonzales

Weens die hoë misdaadsyfer in Suid-Afrika het ons, as Suid-Afrikaners, die konstitusionele reg om onsself te beskerm en om vuurwapens wettiglik te besit binne die grense van wetgewing, hofbeslissings en die Grondwet. Dus is dit nie nodig om jou lyf cowboy of kroek te hou nie!

Die vraag wat ons by HFG Prokureurs in assosiasie met Legally Armed Paarl die meeste kry is: “Hoe gaan ek, as gewone burger, te werk om ʼn vuurwapen te kry?”

Stap 1

Die eerste stap sal wees om vuurwapenopleiding by enige SAPD-geakkrediteerde sentrum te ondergaan. Nadat jy jou opleiding suksesvol voltooi het, sal jy ʼn bekwaamheidsertifikaat en bewys van jou resultate van hierdie spesifieke sentrum ontvang. Hierdie twee sertifikate sal jou aansoek om bekwaamheid rugsteun. Maak net doodseker dat die opleidingsentrum deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) asook die professionele vuurwapenopleidingsraad van Suid-Afrika (PFTC) ingevolge die wet geakkrediteer is.

Stap 2

Nadat jy jou opleiding volgens Stap 1 hierbo voltooi het, moet jy om ’n bekwaamheidsertifikaat van die SAPD aansoek doen. Hiervoor het jy die oorspronklike opleidingsertifikate nodig wat jy ná jou kursus ontvang het.

HFG Prokureurs en Legally Armed Paarl sal jou help om jou bekwaamheidsertifikaat te bekom. Let wel, jy sal slegs vir ʼn vuurwapenlisensie kan aansoek doen nadat bogenoemde sertifikaat deur die SAPD aan jou uitgereik is.

Nadat jou aansoek deur Legally Armed Paarl opgestel is, moet jy die aansoeke by jou plaaslike aangewese vuurwapenbeampte (AVB) binne jou jurisdiksiegebied inhandig. Ná inhandiging van die aansoek mag dit tussen drie en ses maande duur voordat jy jou bekwaamheidsertifikaat van die SAPD ontvang, afhangend van die AVB en die duur van die proses van die spesifieke SAPD-tak.

Stap 3

Wanneer jy jou bekwaamheidsertifikaat van die SAPD ontvang het en jy het, byvoorbeeld, reeds ʼn vuurwapen by jou vuurwapenhandelaar gekoop, is jy gereed om jou aansoek om ʼn vuurwapenlisensie by jou plaaslike AVB in te handig, ingevolge die Wet op die Beheer van Vuurwapens (Wet 60 van 2000). Sodra jou aansoek suksesvol is en jy jou wit lisensiekaart van die SAPD ontvang het, mag jy jou vuurwapen by jou vuurwapenhandelaar gaan haal.

Ten slotte

HFG Prokureurs en Legally Armed Paarl sal jou help met jou formele aansoek om jou bekwaamheidsertifikaat te bekom asook met jou aansoek om ʼn vuurwapenlisensie, wat jy by die SAPD moet inhandig.

Dit sal raadsaam wees om jou status betreffende enige vuurwapens vir sport of jag van ʼn geakkrediteerde institusie te verkry. Dit sal verseker dat jy ʼn onbeperkte aantal vuurwapens en ammunisie op jou naam mag hê, solank jy die gebruik van elkeen kan motiveer. Seksie 16-vuurwapens kan ook vir selfverdediging gebruik word. Lees meer hieroor op Legally Armed se webwerf.

(Hierdie artikel dien as inligtingstuk en is nie ʼn formele regsopinie nie. HFG Prokureurs aanvaar geen aanspreeklikheid vir beskadiging wat deur foute en/of weglatings veroorsaak is nie)

  • Hein Gonzales is die eienaar van HFG Prokureurs in die Paarl. Besoek sy webwerf by www.hfglaw.co.za. Indien jy enige navrae het oor die proses, stuur ’n e-pos na [email protected].

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Judge Dredd ·

Die probleem is dat daar soveel bekwaamheid sertifikate deur soveel verskillende bekwame entiteite uitgereik moet word dat ons nie meer weet watter bekwaamheid sertifikaat om te gebruik om ons bekwaamheid te bewys nie.

Tommie ·

Judge, jy laat dit meer ingewikkeld klink as wat dit werklik is. Dis wel ‘n langdradige proses, maar die stappe is baie eenvoudig. Sluit by ‘n vuurwapen vereniging aan, hulle sal jou mooi stap vir stap verduidelik wat om te doen. Wat jy ookal doen, moet tog net nie op sosiale media inligting probeer inwin nie.

Cherokee ·

ag jong nevermaaind Judge, dit is die skrywer van die betrokke artikel wat dit laat klink na ‘n PHD kwalifikasie terwyl dit ‘n eendag proses kan wees. Nie een die belangrikheid van die motivering word uitgewys terwyl dit onderstreep moes wees.

humor ·

Wat baat dit dat meer en meer vuurwapens bekom word en in onverantwoordeloike hande gebeur dit dat misdadigers meer en meer bewapen word.

Jakkalsie ·

Wil my vuurwapen laat oorneem deur my vriendin. Sy het al bg. stappe gevolg. Sy benodig wapen vir selfverdediging. Na maande by SAPS afgewys: rede – no documents! SAPS stuur sms en se hulle sal ‘n brief stuur. Na 6 maande geen brief ontvang? Gaan na SAPS kantoor; hulle druk brief op stelsel maar jy het 6 maande om te appelleer. 6 Maande alreeds verstreke! Sodra jy selfverdediging as rede aanvoer kan jy maar vergeet. Nou moet sy in alle waarskynlikheid die motivering deur ‘n prokureur laat doen wat o.a. behels 20 artikels uit jou plaaslike koerant wat misdaad gerapporteer het ens. ens. Dis alles ‘n geldmakery en die SAPS frustreer almal met onbevoegdheid en uiters swak administrasie. Geen wonder daar is honderdeduisende ongelisensieerde vuurwapens nie: dis grotendeels toe te skryf aan die SAPS se professionele versukkeldheid en onverstaanbare houding dat ‘n vuurwapen vir selfverdediging is geensins ‘n rede om een te mag besit nie maar kriminele kan jou enige plek aanval met ongelisensieerde vuurwapens en jy het geen reg om jouself teen so iets te mag beskerm nie? Enige raad asb?

corne ·

Ek het myne deur hulle laat doen legally armed. Hulle is baie behulpsaam maar moet vertaan die goed vat tyd myne was 9maande en glo my vry LA het elke keer my papierwerk vir die volgende stap binne 3dae reg gehaaat probeer hulle gerus dit die geld werk.

Andries ·

Ek het ‘n ruk gelede my lisensie vir selfverdediging hernu, sonder enige hulp. Minder as ‘n maand later toe het ek my nuwe lisensie. Selfs dit is eintlik nog steeds belaglik lank. Jy as persoon moet eintlik geskik verklaar word om vuurwapens te besit. Dan behoort jy wapens te kan koop totdat jou kredietkaart die gees gee. Lekker om te droom…

Vra maar net. ·

Wat dink julle , wat is die beste ander opsie vir selfverdediging behawe ‘n vuurwapen? Veral om jou huis.

Veritas ·

Groot slange met die nodige waarskuwingsborde, is ‘n baie goeie afskrikmiddel. Skaf ‘n Boa aan. Hulle word mooi groot, is nie giftig nie en goedkoop om te voer. Maak seker dat die waarskuwings van die pad af sigbaar is en hanteer hulle in die buitelig sodat verbygangers kan kennis neem. Die storie versprei vinnig en die waarskuwings daarmee saam.

Peper ·

Pepersprei aan jou, een of twee groot intimiderende honde buite wat nie kos by vreemdes vat, op en wakker klein hondjie binne huis.

Piet ·

Ek het nie n wapen nie, toe kyk ek maar 24 uur in n ry Chuck Norris flieks om “tips” te vang. Dit het gewerk vir my. Toe ek vir so lank nie uit my huis uit kom nie het die aanvallers ongemaklik geraak en ‘n ander teiken gaan soek!

Piet ·

Ek het nie n wapen nie, toe kyk ek maar 24 uur in n ry Chuck Norris flieks om “tips” te vang. Dit het gewerk vir my. Toe ek vir so lank nie uit my huis uit kom nie het die aanvallers ongemaklik geraak en ‘n ander teiken gaan soek!

Cobus ·

Die maklikste is sluit by n skietsport liggaam aan kry skiet opleiding daar. Meeste sport skietliggame verskaf inligting verniet en ondersteun die skut met regs hulp en dit is verniet en volg die proses korrek.
Maak seker dat jou adviseur n skut is en die sport verstaan want as hulle nie is nie dan sukkel dit met die moriverings en dan begin die gemors

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.