Wie bestuur die motor? Leierskapstyle in ’n krisis

dr-pieter-mulder

Dr. Pieter Mulder. (Argieffoto: DoC)

In die jongste regulasies reguleer minister Patel watter klere nou gekoop en watter nie gekoop mag word nie. “Kortmoutruie wat onder ’n ander trui gedra word,” is volgens die regulasies in. “Langmouhemde wat onder ’n ander kledingstuk gedra word,” is ook in.

Hoe gek. Waar wil hy eindig?

In reaksie hierop skryf iemand tereg op sosiale media: “Grootleier Kim Jong-Patel het so pas oor ons nuwe wintermodes besluit. Daar is egter ’n probleem. In sy sosialistiese modevoorskrifte vir hierdie winter het hy nie ’n regulasie uitgevaardig oor watter kleur hy verkies hierdie klere moet wees nie. Moet die klere grys of kakie wees? Ons wag vir die regulasie.”

Terwyl jy die gekhede lees, vergeet jy dat dit eintlik metodes is om die virus te beveg. Die ANC-regering beveg die virus nou met voorskrifte oor kort- of langmouklere.

Ek dink skielik aan die grappie van die man wat motor bestuur. Sy vrou en skoonma gee aanhoudend advies oor hoe hy moet bestuur. Hy vra ergerlik: “Wie bestuur hierdie motor? Jy of jou ma?”

Hoekom dink ek daaraan?

Omdat ek minister Patel se gekhede lees en wonder waar is president Ramaphosa.

Omdat ek na minister Nkosazana Dlamini-Zuma op televisie kyk. Sy verduidelik waarom rook steeds verbode is. Eintlik sê sy Ramaphosa was daaroor verkeerd. Dit ondermyn die president se gesag, is die onmiddellike indruk na buite.

Soos die motorbestuurder hierbo vra Suid-Afrikaners: Wie bestuur hierdie krisis? Minister Nkosazana Zuma of minister Patel of die ondeursigtige geheime bevelsraad? Waar pas Ramaphosa in?

Ná die kritiek op minister Dlamini-Zuma het Ramaphosa haar later ondersteun en verduidelik dat die rookverbod ’n gesamentlike besluit van die bevelsraad is.

Dit is baie lojaal van hom en illustreer ’n demokratiese leierstyl.

Maar weersprekings tussen leiers in ’n krisistyd lei onmiddellik tot gerugte. Gerugte waarmee mense die weersprekings vir hulself probeer verduidelik. Dit is die ideale teelaarde vir samesweringsteorie. Een so ’n verduideliking: “Ek het ’n binnekring-kabinetsbron. Hulle het klaar van Cyril ontslae geraak. Mev. Zuma is nou in beheer. Die aankondiging kom binnekort.”

Hierdie is ’n vals storie wat tans versprei word. Volgens betroubare bronne staan Ramaphosa tans sterker in die ANC binnekring. Na buite lyk dit egter nie so nie.

In ’n krisistyd soek mense ’n leier met gesag. ’n Leier wat in beheer is en wat met hulle oop kaarte speel. Ons het dit te verloor. Ramaphosa het 20 dae laas op die TV Suid-Afrika toegespreek.

’n Goeie leier moet sy leierskapstyl kan aanpas.

In ’n organisasie wat met vrywilligers werk in normale tye, is ’n deelnemende styl goed. So verseker jy almal se deelname. “Sal ons plastiek op die strand gaan optel of bome plant om die omgewing skoner te kry? Wat stel julle voor?” Almal bespreek dit, kry konsensus en pak die taak gesamentlik aan.

In ’n krisis is daar nie tyd vir so ’n deelnemende styl nie. Die gebou brand. Moet die leier nou almal bymekaar roep en vra: “Wat dink julle? Moet ons die brand met emmers vol sand of met water blus? Wat stel julle voor?”

In ’n krisis verstaan mense dat ’n leier sy styl verander, meer outokraties word en bevele gee om die gebou te red.

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: Elmond Jiyane,/GCIS)

Ramaphosa moet alleen, maar meer gereeld, mediakonferensies hou. Tans kry elke minister geleentheid om op televisie sy vermoë, en dikwels onvermoë, uit te stal. Meeste van die gekhede en misverstande kom van hierdie mediakonferensies af. Ministers interpreteer regulasies sommer so in die gesels. Gekookte kos is uit en kinders mag nie tussen geskeide ouers vervoer word nie. Dit staan in geen regulasie nie. Die volgende dag word vinnig regulasies gemaak om die ministers se beeld te red.

Geen regering kan ’n ingewikkelde samelewing en ekonomie op alle vlakke reguleer nie. Volgens my telling het ons reeds sowat 91 dokumente met regulasies wat 1 034 bladsye lank is. Trek die voorblaaie en wit spasies af, dan eindig jy met nog 900 bladsye se regulasies. Geen landsburger of wetstoepasser kan met soveel regulasies tred hou nie. Gee breë riglyne, maar moet nie in kort- en langmouregulasies verval nie.

Ramaphosa moet onthou, ’n krisis kan ’n leier maak of breek. Die geskiedenis bewys dit.

Neville Chamberlain is oor sy hantering van die Tweede Wêreldoorlog as ’n mislukte Britse eerste minister uit die politiek gestoot. Churchill het die krisis gebruik om as ’n held na vore te tree.

Voor die inperkingsmaatreëls het 56% van alle Suid-Afrikaners gedink Ramaphosa doen goeie werk. In die eerste weke ná inperking het dit tot 74% gestyg. Waar trek dit tans? Beslis baie laer.

Ons wil gerusgestel word oor wie die motor in hierdie krisistyd bestuur. Hopelik nie minister Patel of minister Dlamini-Zuma nie wat onlangs met Fidel Castro, haar held, se plakkaat in haar hande duur Kubaanse dokters op die lughawe ingewag het nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Pieter Mulder

Dr Pieter Mulder is ’n voormalige VF Plus-leier, voormalige parlementslid en professor.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

JohanR ·

Cyril praat vannaand Woensdag 13/05 20h30uur. Ek sal nie luister nie maar sal wag vir Donderdag aand 14/05 waaneer Nkosazana Dlamini-Zuma die teen oorgestelde gaan se. Oe terloops welkom terug Cyril. Het jou nie vir 20/21 dae gesien of gehoor nie!

Michael 1 ·

Dit is belaglik verby en n bewys van die onbevoegdheid van mense wat dink hulle kan n land doeltreffend reageer, ons sal net regkom as on n onafhanklike tuis staat kry en van voor af begin.

Michael 1 ·

Soos gisteraand se niksseggende gebabel bewys is hiervan

Lourens CFG ·

Hierdie hele bestuurstyl wat lyk of almal beter deurmekaar voorstelle as die ander kan uitbring kan nou maar entkry.
Stop die “lockdown” nou. Dit dien geen doel behalwe om hul onbeholpenheid en breinloosheid ten toon te stel nie.
Stop die grendeltyd met onmiddellike effek.

Burgermeester ·

Ek is eens met Dr. Mulder dat ‘n goeie leier sy/haar leierskapstyl moet kan aanpas om ondergeskiktes tydens ‘n krisis effektief te kan lei. Daar is nie een persoon in die hele ANC te vinde, wat oor enige leiereienskappe beskik nie. Daarom, pas die ANC mikro-bestuur toe, want hulle weet nie wat dit is om mense te inspireer nie. Hulle het nie ‘n idee hoe om die bevolking saam te bring, om na a gesamentlike doel te werk nie. Al waarin die ANC belang stel, is om die bevolking te verdeel, en om die staatskoffers te plunder. Ons het ‘n leier nodig wat nie kleur sien nie, maar Suid Afrikaners. ‘n Leier wat ‘n volk kan inspireer en saambring, ‘n eerlike leier met integriteit.

PH ·

Een ding is seker: ons het die afgelope tyd die ANC ministers baie beter leer ken en begin verstaan hoekom die land so ver agteruit gegaan het. Ek is geskok oor die mentaliteit en kaliber van mense wat die president aanstel as “ministers”

Michael 1 ·

Hy is self ook nie n skerp potlood as ek so kyk na wat hy sê en doen nie.

minnie muis ·

hy was n myner , het saam met my oom in welkom in een van die myne gewerk en toe join hy die unie en res is geskiedinis, en hy het mos vertel daai jare maklik om wittes te oorreed …..

minnie muis ·

dis nou tipies van om te regeer en ja onthou hulle was huursoldate en toe word hulle n pen gegee in94…..

marius ·

As hy binne twee sekondes kan antwoord waar die virus vandaan kom , sonder ‘ n komissie aan te stel bestuur hy seker ….soms

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.