Wie gaan die held wees?

SAvlag

Suid-Afrikaanse vlag. Argieffoto.

Deur Peet Bothma

Suid-Afrika het die afgelope week grondverskuiwende politieke gebeure ervaar.

Die regerende ANC het oplaas die onafwendbare stap geneem en president Jacob Zuma as staatshoof herroep, die opposisiepartye het verskeie voorwaardes gestel – waaronder die dapper eis dat die parlement ontbind moet word en Zuma self het vasgeskop met ʼn veeleisende versoeke.

Dit is juis wanneer die politieke see waarop ʼn land vaar onstuimig raak dat daar gesoek word na ʼn kaptein wat die stuur kan vasvat. Dis wanneer ʼn land ware staatsmanskap nodig het.

Ongelukkig sal daar in die kantaantekeninge van Suid-Afrika se geskiedenisboek vir hierdie periode woorde soos selfsugtigheid, eie gewin, ydelheid, persoonlike agendas, kleinlike partypolitiek en talle ander begrippe wat nie met staatsmanskap vereenselwig kan word nie, opduik.

Die hoofrolspelers in die tragedie is Zuma en adjunkpresident Cyril Ramaphosa.

Zuma is deur ʼn politieke ontleder beskryf as ʼn selfmoordbomaanvaller wat hom min steur aan die mense wat hy in die ontploffing gaan vernietig, net solank aan sy persoonlike behoeftes voldoen word. En ná die ontploffing sal hy steeds daar sit en met sy laaste asem en kenmerkende laggie uiter: “Maar ek het niks verkeerd gedoen nie.”

Ramaphosa het die begrip “agter die skerms” die week tot nuwe hoogtes geneem. Sy gesig was, behalwe vir die optrede op die Kaapse Parade, nêrens te sien nie. Talle voetgangers kon hom egter opmerk waar hy in die een na die ander kavalkade tussen Zuma se ampswoning en nog ʼn plek waar die ANC ringkoppe byeen was, gejaag het. Ramaphosa sal moet leer dat sy nuwe beroep dit noodsaaklik maak dat hy ʼn positiewe openbare profiel onder die mense van die land handhaaf en nie wegkruip in raadskamers nie.

Die leier van die amptelike DA-opposisie, Mmusi Maimane, het homself oudergewoonte besig gehou met die skryf van briewe en die optrek van hofstukke. Intussen het hy soos ʼn wafferse klaskaptein kleinlike partypolitiek nuwe betekenis gegee deur toe te laat dat daar ʼn mosie van wantroue in sy eie burgemeester, Patricia de Lille, gestel word, terwyl daar soveel ander kanale bestaan om die probleem op te los. Vir hom het demokrasie deur regspraak ʼn aanvaarde deel van sy bestuurstyl geword.

Die EFF-leier Julius Malema was soos gewoonlik baie dapper – veral as hy al die ander opposisieleiers om hom kan skaar op ʼn nuuskonferensie. Sy ondeurdagte uitspraak dat die parlement moet ontbind te midde van ʼn uiters onstuimige periode in die land se bestaan, is onverantwoordelik. Die politieke kruitvat in byvoorbeeld KwaZulu-Natal het net een vonkie nodig in ʼn leierlose land en die geweld voor die verkiesing in 1994 sal soos ʼn Sondagskoolpiekniek lyk. Maar dit is dalk juis wat Malema wil hê. Die rewolusie in ware Afrika-tradisie wat Suid-Afrika nooit beskore was nie.

Dit is verbasend dat partye soos die Vryheidsfront Plus en die Afrika Christen Demokratiese Party hulself by die bende gevoeg het. Die partye is gewoonlik ʼn stem van rede.

In baie opsigte is ons nog nie aan die einde van die hoofstuk in ons geskiedenis nie.

Die vraag is, wie gaan die held in die verhaal wees?

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ekke ·

Beste besluit ooi.! Die man praat duidelik Profesioneel..!! Met HOM gaan SA n beter plek wees !!!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.