Wie gaan die land help om water uit ʼn klip te tap?

Nomvula-mokonyane

Nomvula Mokonyane, mininster van water en sanitasie. Foto: ANA.

Deur Jeannette Gnade

ʼn Waternood staar 30 munisipaliteite in die land in die gesig. Die minister van water en sanitasie, Nomvula Mokonyane, het haar dreigement herhaal dat wanbetalende plaaslike owerhede net tot 8 Desember het om hulle gesamentlike agterstallige skuld van meer as R10 miljard te betaal.

Hulle watertoevoer kan afgesny of gehalveer word. Dit gaan beslis nie help om die geld te kry nie, want water is ʼn belangrike onderafdeling van die ekonomie. Talle sakeondernemings is afhanklik van water en inwoners wat nie hulle dienstegeld kan betaal nie, het ook nie geld om water te koop nie. Watertenks sal dus ten duurste na dié gebiede aangery moet word, want die Grondwet sê almal het die reg op toegang tot water.

Verlede jaar in Oktober het die minister aangekondig dat sy ʼn taakspan aangestel het om bewerings van wanadministrasie in haar departement te ondersoek. Dit sou terugwerkend tot 1 Junie 2014 wees. Dit is nou byna 12 maande later en daar is nog nie ʼn bevinding, ’n verslag óf ʼn aanbeveling nie.

In Augustus verlede jaar het die vorige openbare beskermer, advokaat Thuli Madonsela, die ouditeur-generaal gevra om haar te help met die ondersoek na beweerde nalatigheid en wanbestuur deur die minister wat betref die Lesotho Hoogland-waterskema. Sy het haar vermoedelik aan magsmisbruik skuldig gemaak deur politieke inmenging by tenderprosesse toe te laat en anderpad te kyk toe die koste van projekte kunsmatig opgeskuif is.

Fase 1A van die Hoogland-skema is in 1998 in werking gestel nadat die Katsedam in die Maluti-berge klaar gebou is. Fase 1B bestaan uit die voltooiing van die Mohaledam – ʼn oordragtonnel tussen die Mohale- en Katsedamme. Fase 2 is veronderstel om teen 2020 water aan Suid-Afrika te lewer. Dit is veral Gauteng wat afhanklik van Fase 2 is omdat die provinsie die land se vernaamste nywerheidsprovinsie is.

Intussen word die minister met regstappe gedreig omdat sy niks doen aan die besoedeling van die Vaalrivier nie. Sy wil ʼn watertribunaal op die been bring om oortreders van die Nasionale Waterwet vas te vat, maar daar is 900 vakante poste in haar departement. Nou dreig sy munisipaliteite omdat die departement op die randjie van bankrotskap staan.

Die tesourie is glo gevra om in te gryp, maar die finansminister het sy hande vol om al die gate toe te stop omdat die president politieke ideologieë soos gratis universiteitsopleiding glo op hom afdwing.

Opposisiepartye dring nou daarop aan dat die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, Des van Rooyen, onmiddellik ingevolge artikel 39 van die Grondwet ingryp om die naderende waterkrisis te voorkom. Artikel 39 bepaal dat die betrokke minister ʼn finansiële herstelplan vir munisipaliteite moet ontwikkel of hulle onder administrasie moet plaas. Hoekom het hy nog nie uit eie beweging opgetree nie en hoe is dit moontlik dat die waterminister nie die waterkrisis voorsien het nie?

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Gerhard Bezuidenhout ·

Dit gaan my verstand te bowe dat die ANC regering aandring op kernkrag gepaardgaande met die enorme koste daarvan en een van die mees belangrike lewensmiddele nl. water ignoreer. Hoekom het hulle van 1994 af nog geen dam gebou nie wetende dat die bevolking toeneem en nywerhede wat water gebruik meer word praat nie eers van die onwettiges wat ook ons water mors nie. Die oplossing is dat daar dadelik aan die bou van ekstra damme aandag gegee moet word en dat die storting van riool in ons waterbronne onmiddelik gestaak word en dat die skuldiges in die tronk gegooi moet word.

Adam ·

Gaan die mense wie hul rekeninge betaal het aan die munisipaliteit se krane ook toe gedraai word???

Suuitjies p**p ·

Ek wil graag met jou saamstem. Die betalers is mos n “soft target*, ou boeta, betaal net nie jou munisipale rekeninge stiptelik op die 25 ste van die maand nie en jy kry die volgende dag n hand afgelewerde ” pre termination notice” in jou erf se hek. Met n stewige boete vir laat betaling daarby. Nodeloos om te se jy het by daai tyd nie eers jou munisipale rekening gekry nie. Kla help ook nie, hulle, die nuwe demokrate, vee net hulle (Jy weet wat) aan jou af. Kla? nee ek kla nie, se maar net.

Eish ·

Dinge gaan nou vinnig na n punt toe in dié department se chroniese wanbestuur.
Matjhabeng munisipaliteit in die Vrystaatse Goudveld, wat meer as R1,8 miljard se agterstallige waterskuld het, (Hoogste skuld van al die sondebokke) gaan blykbaar volgens die plaaslike koerant, nie afgesny word nie. Hul het blykbaar reëlings getref. Elke keer wat reëlings getref word, word die skuld eenvoudig meer.
Munisipale bestuur hier is van die swakste in die land en die plek stuur af op algehele verval.

Die tydbom tik al 23 jaar. Die drade kom nou bymekaar en die mutasie wat gebaar word uit die algehele kapasiteitsgestremdheid gaan direkte lewensverlies tot gevolg hê.

B-man ·

Die ou bedeling het mos “…die damme te groot gebou. Kleiner damme is makliker om vol te hou.” En nou bring hulle Kubaanse ingenieurs in om hier te werk wat nie ‘n idee het wat aangaan nie (Kuba se water en sanitasie is mos wêreldklas…) net omdat die staat plaaslike ingenieurs, met kennis en ondervinding, weier a.g.v. regstellende aksie.

Danie ·

Adam. Ongelukkig ja. Want jy betaal mos. Ander wil dit verniet hê en kry dit verniet want hulle moet ja stem.

Behoort jy aan ‘n belastingbetaler vereniging. Indien, nie: Hou op kla.

Herman Goosen ·

Die kultuur van wanbetaling is geskep, en die ANC het ‘n lat vir hulself gepluk. Daar is net nie meer genoeg gewillige betalers oor om die wanbetalers te dra nie. Indien bevoegde bestuur aan beheer was sou wanbetaling vroeg genoeg vasgevat geword het. Nou is dit te laat om ongedisiplineerde stadsrade te dwing om skielik te begin betaal.

Jerry ·

Die minister staan skuldig aan growwe nalatigheid en dit skeel haar nie regtig nie, want sy doen dit met opset. Dit is tog duidellik dat die strategie van staatskaping is om te plunder en alles in die grond in te bestuur tot dat daar niks oor is nie behalwe die geld in hulle sakke. Geen planne om die skade te herstel sal werk nie, want die gekaaptes het net een doel voor oe en dit is anargie. Anargie is al wat hulle aan bewind sal hou. Water wat gebruik word om te myn vir uraan op plase wat eens landbou grond was hoef nie noodwendig onbesoedeld te wees nie. Die myne gaan in elk geval die water besoedel. Dit is die gekaaptes se denkwyse en dit is wat voorle vir ons land. Ek stel voor dat Afrikaners begin bele in gebottelde water.

Jakkalas ·

Kry julle popcorn en slushpuppies reg hier kom iets om te aanskou nog aan. Ek sien hom aankom en dit lyk nie mooi nie maar kan hopenlik mooi “ending” hê……

John ·

Wat het die mense in 1652 geweet wat ons nie weet nie? Wat het die mense in 1752 geweet wat ons nie weet nie, ditto 1852… en 1952.. en raai wat gaan ons weldra agterkom in 2052? Nee, nie dat brandewyn sonder water mens gouer hoenderkop maak nie… iets meer soos…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.