Wie gaan hiérmee kan COPE?

Mosiuoa Lekota, president van Cope. (10 September 2018). Foto: Verskaf

Deur Monica Mynhardt

Die een ding wat alle Suid-Afrikaners van COPE weet hierdie verkiesingseisoen, is dat hulle teen onteiening sonder vergoeding (OSV) gekant is. Vir ’n jaar lank het hulle in alles wat hulle gedoen en gesê het, OSV teengestaan. Die party en sy leier het deurgaans verkondig hoe hulle teen hierdie beleid gekant is en selfs bereid is om dit in die hof te beveg.

COPE se 2019-manifes skets egter ’n heel ander prentjie. Hierin verklaar hulle, in teenstelling met hul verkondigde boodskap, dat hulle OSV in sekere gevalle sal ondersteun. Hierdie skreiende teenstrydigheid opper legio vrae oor die party se ware standpunt hieroor en ook die optrede waarbinne hierdie onsekerheid ontstaan het.

Die Congress of the People (COPE) is in 2008 gebore uit ’n klomp ANC-lede wat besluit het om dié party te verlaat. Die huidige COPE-leier, Mosiuoa Lekota, was een van die stigterslede toe hy ’n “egskeidingsbrief” vir die ANC gegee het. Die 2009- nasionale verkiesing was die eerste waaraan COPE deelgeneem het. Met 7,4% van die stemme het COPE 30 setels in die parlement verwerf – ’n noemenswaardige sukses vir so ’n jong party. Hul sukses was egter van korte duur. In die 2014-verkiesing het hul steun drasties verminder en met slegs 0,67% van die stemme het hulle slegs 3 setels verwerf. Dit was dus duidelik dat die party dringend moes plan maak in vanjaar se verkiesing om selfs net hulle plek in die parlement te kan behou.

OSV was een van die mees kontroversiële en mees besproke kwessies in ons land die afgelope jaar. Dit is een wat sentraal staan tot die ideologiese aard van ’n politieke party en so ook een waaroor alle partye posisie ingeneem het. Ná die voorgestelde artikel 25-wysiging van die Grondwet wat in Februarie 2018 deur die EFF in die parlement geopper is, het die debat begin vlamvat. Partye het hul menings begin uiteensit en posisie ingeneem vir of teen OSV. DA, COPE, ACDP, VF+ en die IVP was almal partye wat in die parlementêre stemming ’n wysiging van artikel 25 van die Grondwet, wat beoog om OSV grondwetlik te akkommodeer, opponeer het.

Buiten dié stemming het COPE ook op verskeie ander manier sterk posisie daarteen ingeneem. In ’n onderhoud op PowerFM op 25 Junie 2018, het einste Lekota COPE se posisie verduidelik. Volgens hom moet mense wat in die verlede met geweld van hul grond verwyder is, na die aktekantoor gaan met bewyse daarvan. Daarna, verduidelik hy, moet die regering, indien daardie grond aan iemand anders behoort, die grond by die huidige eienaars terugkoop, en lê hy ook klem daarop dat daar billike en regverdige vergoeding moet wees. Op 25 Mei 2018 het hy in ’n twiet die volgende oor die openbare deelname proses vir die Grondwetwysiging gesê (eie beklemtoning): “This is a very important process. It is extremely important that you participate in the scheduled hearings near you. We say NO to Expropriation without Compensation.” Lekota het ook met verskeie boeregemeenskappe en organisasies saamgespan om hierdie saak teen te staan.

COPE en Lekota het baie sterk uitgekom teen die wysiging van artikel 25 van die Grondwet. In bogenoemde PowerFM-onderhoud het Lekota verduidelik hoe artikel 25 tans nie OSV insluit nie. Lekota het al herhaaldelik die oppergesag van die Grondwet beklemtoon – enige iets wat strydig met die Grondwet is, is ongeldig. Dit impliseer, met spesifieke verwysing na artikel 25, dat enige addisionele wetgewing nie kan bestaan in soverre dit strydig is met die Grondwet nie. Dus het Lekota al herhaaldelik bevestig hoe COPE ook geen addisionele wetgewing steun wat strydig is met die huidige artikel 25 nie.

Op 9 Maart vanjaar het COPE hul manifes bekendgestel. Hierdie is die dokument wat die mandaat van die party vir die komende verkiesing en vyf jaar uiteensit. Dit verduidelik waarvoor die party staan en wat hulle sal doen wanneer hulle aan bewind kom. Te midde van die deurslaggewendheid van die OSV-debat, het COPE só ook hul posisie rakende dié saak soos volg verduidelik (eie beklemtoning):

“Land expropriation to the extent that is necessary to achieve land reform will take place provided that all such expropriation will fully pass constitutional muster and in keeping with the above the following expropriation with minimal or no compensation will be supported:

  • Properties owned by State Enterprises that have lain idle for ten years or more and giving consideration to the history of how they were acquired so that these could be given over to mixed used development;
  • Land and buildings that have lain unoccupied for many years and for which rates, taxes and service charges were not paid and which, for one or more reasons, have become problem sites and havens for criminals and for which a six months’ notice of “use it or lose it” has been lawfully served;
  • Land that has been kept unreasonably undeveloped for long periods for the purpose of speculation on a 36 months’ notice of “use it or lose it”;
  • Prime land that has been used far below its economic and job creation potential on a 33 months’ notice of “use it or lose it” principle; and
  • Land that has been badly degraded or polluted for the purpose of applying remediation.”

Hier word dit uitdruklik gesê hoe hulle OSV in sekere gevalle sal ondersteun. Bogenoemde voorwaardes stem ook ooreen met die voorwaardes vir OSV wat in die voorgestelde ANC-wetsontwerp uiteengesit word. Hierdie is in skrille kontras met dit wat COPE die afgelope jaar verkondig het. Die enigste twee verduidelikings hiervoor is soos volg:

(1) COPE was van die staanspoor af ten gunste van OSV in sekere gevalle, het vir meer as ’n jaar lank opsetlik mense daaroor mislei en daarop staatgemaak dat hulle sou wegkom daarmee. Indien dít waar is, is hierdie seker die mees afstootlike politieke vuilspel hierdie verkiesingseisoen. Hierdie is nie ’n politikus wat leë en onrealistiese beloftes gemaak het nie. Hierdie is dan ’n leier en party wat vir ’n jaar lank daaraan gewerk het om in alles wat hulle doen en sê, ’n valse narratief te vestig in ’n bedrieglike poging om steun te verwerf. Hierdie is egter onwaarskynlik – die leerstelling van Hanlon se skeermes stel immers die volgende: “Moet nooit dít wat deur onbevoegdheid verduidelik kan word, aan boosheid toeskryf nie.”

(2) Lekota is so onbewus van dit wat in sy party aangaan, dat hy nie eens weet dat hierdie mening in die manifes vervat is nie. Selfs nadat die manifes bekendgestel is, het die party voortgegaan om hulself uit te spreek teen OSV. Indien ’n mens COPE se geskiedenis van interne verwardheid oor veral leierskap en beleidskwessies in ag neem, is hierdie verduideliking die meer waarskynlike een. Lekota en talle ander COPE-lede is waarskynlik nie bewus van die teenstrydigheid wat oor hierdie kritiese kwessie bestaan nie.

Beide hierdie moontlikhede is ewe erg. Die rede wáárom hierdie teenstrydigheid so onaanvaarbaar is, is oor die feit dat dit oor OSV handel en dat dit in hul manifes verskyn. OSV was die afgelope tyd ’n deurslaggewende ideologiese kwessie. ’n Party se posisie hieroor het ’n direkte invloed op die aard van die regering wat hulle sal bedryf. Dit is ’n kwessie wat sentraal staan tot kiesers se oorwegings hierdie verkiesing. Verder is ’n party se manifes nie ’n dokument waarop daar min ag geslaan moet word nie. Hoewel min mense dit lees, is dit steeds die dokument wat die party ideologies posisioneer. Dit is die mandaat wat hulle aan die mense gee vir die volgende vyf jaar.

Hierdie teenstrydigheid is nie een wat ligtelik opgeneem moet word nie. COPE en Lekota het ’n liederlike misstap begaan wat hul OSV-posisionering betref. Hul ondersteuners moet hierdie fout met die erns hanteer wat dit verdien – 8 Mei is minder as ’n maand weg.

Daar is minder as ’n maand oor vir COPE-kiesers om te besluit of hulle hierdie vlak van nalatigheid gaan duld.

  • Monica Mynhardt doen tans ’n internskap by die Solidariteit Navorsingsinstituut.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Gatvol ·

Ek hoop die wat vir die lot wou, stem sien nou die lig. Almal kop in een mus!

Veritas ·

Lees die berig mooi en besluit of jy wel vir COPE sal stem. Ek weet ek gaan.

GIDEON BRITS ·

Lees die artikel weer asb. Dit is om een of ander rede misleidend.

COPE se posisie is GEEN onteiening indien dit nie aan art 25 van die grondwet voldoen nie. Dit staan daar. Hoe is dit ‘n probleem?

Ten spyte daarvan dat die feite weergee word in die artikel word steeds ‘n suggestie gemaak dat COPE grond wil vat soos ANC en EFF.

COPE is vir die navolging van die grondwet en glo almal is gelyk. Staan dus ook vir die onmidddelike afskaffing van AA en BEE.

Melanie ·

Dan wonder mens vir wie ons moet stem as ons nie vir Cope kan stem nie.

Alida ·

Ai Melanie, kom ek help jou. Logika sê vir my om vir die DA te stem want hulle is die grootste opposisie en staan die beste kans om te wen.

Loeis ·

Ai Alida. Kom ek help jou reg. Logika sê vir my dat die DA nie naby 50% gaan kom nie, en om van “wen” te praat is dus heeltemaal onsin.

Die DA steun ook swart ekonomiese bemagtiging, so logika sê vir my om eerder vir VF+ te stem.

Ander Gert ·

Is jy bewus daarvan dat vir die DA om te wen, hulle meer stemme as die ANC moet kry, Alida?

Opnames toon dat die DA ongeveer 20% van die totaal kan trek, en die ANC tussen 55% – 60%. Of ons daarvan hou of nie, gaan die ANC weer wen, maak nie saak vir wie die res stem nie.

Anton Alberts ·

Stem vir ‘n party wat opstaan vir jou belange en wat volgens peilings gaan groei, naamlik die VF Plus. Dieselfde peilings dui aan die DA gaan krimp.

Logika ·

@Loeis

Non sequitur.

Moet asseblief nie jou swak redeneringsvermoë aan my toeskryf nie. Ek het jou nie aangesê om vir die DA te stem nie.

Logika ·

@Loeis @Alida

Regstelling: my vorige kommentaar was vir Alida bedoel, nie Loeis nie.

John ·

Lekota het sy ware ‘ek’ geopenbaar… Hy is ‘n stoere vryheidsvegter tot op die been. Sodra een plaas gegryp is, sal die duiwel ingryp en geen noodtoestand die grypery kan stop nie. Almal sal een wil hè… en die buitelandse pers sal heerlike nuusflitse vertoon sonder dat iemand ‘n toon roer om in te gryp. Cyril weet dit. Mother Theresa 2 ook. Nobody cares… dis die ergste… Die EU is opgewonde want nou kan al hul swak produkte diekant toe rubberboot… When a plan comes together…

Judge Dredd ·

@ Alida – verstaan jy nogsteeds nie hoe koalisies werk nie?
O gaats – nou onthou ek – die DA probeer aspris die mense mislei.

Vanita ·

COPE staan steeds sterk en onbeskaamd teen onteining van grond sonder vergoeding

Dit is vervat in COPE se beleids dokumente

Lees Dit gerus op http://www.congressofthepeople.org.za

COPE staan ten Volle vir beskerming van die grondwet soos vervat in Artikel 25

dewald ·

Jy stem nie vir n party omdat hy groot is dalk kan wen nie. Jy stem vir n party met jou mense en jou waardes. DA is net so korup soos die ander. Stem vir jou mense. As jy maroela media lees se dit vir my jy is Afrikaans en trots daar op. DA is afrikaans wanneer dit hulle pas. Stem vir jou mense!!

Alida ·

Julle is reg ek het geen grysstof tussen die ore nie. Stem vir wie julle wil en maak julself gelukkig.

Judge Dredd ·

Ongelukkig het die Ja stemmers klaar die land weggegooi – so daar is geen gelukkige einde.
En nou wil dieselfde mense boonop he ons moet onsself, ons taal, kultuur en mede Afrikaner verloen deur vir die DA te stem.
Die DA doen niks vir Minderhede, NIKS !!!

Jerry ·

Julle kan stem vir wie julle wil, dit gaan regtig nie n verskil maak nie omrede die ANC die hele staatsdiens gekaap het, wat wetstoepassing insluit. Opposisiepartye kan baie praat en baie doen, maar opposisiepartye “COPE” glad nie en daarom is alles wat hulle doen en se soos niks nie, want dit val doodeenvoudig op dowe ore en daar is niks, maar niks wat die magtelose opposisiepartye tans tafel toe bring wat die ANC staat kan stop nie, nie eers die grondwet nie! Opposisiepartye kon nie kaderontplooiing, staatskaping, BEE, regstellende aksie, dubbele standaarde ens keer nie, so wat bring hulle nou na die tafel toe wat ANC staatsmislukkings gaan keer, absoluut niks! Die opposisiepartye het die ANC tot magtige status verhef en hulself tot magtelose status gedoem agv swak leierskapvisie en die afwesigheid van effektiewe lewensvatbare teenrevolusionere strategiee! Hierdie verkiesing en opposisiepartye se manifestos gaan niks verander nie, inteendeel kan en gaan die ANC na die verkiesing veranderinge maak en breek soos hulle wil, net soos hulle voor die verkiesing gemaak het, dit gaan net n bietjie eskaleer!

Wonder nog ·

Ek self nog nie seker vir wie om te stem nie, maar dis of Cope, DA of VF+. Ek dink wel daar is plek vir grondoneiening in sekere ekstreme gevalle, maar daardie gevalle sal uiters min wees, indien enige. Op die oomblik staan my kop nog Cope toe – stem meeste saam met hulle sieninge!

GIDEON BRITS ·

Lees die artikel weer asb. Dit is om een of ander rede misleidend.

DMC de Koker ·

Spesifiseer? Want sover ek weet bly Cope maar ‘n linkerspektrum wegbreek faksie van die ANC en dis die beleid wat linkerspektrum partye maar altyd sal ondersteun.

Henry ·

Lees die skryfsel weer.
Die vertolking wat deur die opsteller verskaf word, hou nie verband met die werklikheid nie.

Rudolf ·

Ek is nou totaal oorbluf…

Ek het haar denkparoon en uiteensetting daarvan, verwysende spesifiek na tye en periodes asook relevante datums soos van toepassing en kon presies begryp wat sy sê.

Ek stem derhalwe heelhartig met haar analise saam dit dit neerkom op klassieke “Boereverneukery”.

Let wel dat sy dit nié eksplisiet gestel het dat Artikel 25 gewysig gaan word en dit heel waarskynlik die toekomsrealiteit sal wees nie.

Vergeet jy en andere hier dat die “ANC” en “EFF” gesamentlik die getalle opmaak om so ‘n wysiging te kan forseer sou hulle wou…?

Hierdie heersende debatperiode rondom die wysiging is slegs gemik om die internsionale gemeenskap te paai dat demokratiese prosesse in working is en gevolg word.

Onthou jy hoe CR self vroeër publiek aan “sy mense” bevestig het dat dit wel gewysig sal word om dus aan dit legitimiteit te bied, aangesien dit dan dit wil van die meerderheid ís.

Merk gerus my woorde hier…

Henry ·

Agge nee wat Rudolf
Deursigtige voor-verkiesingspoging om COPE se beeld by kiesers met allerlei slimmighede en wanvoorstellings af te breek.
Probeer weer…
;-)

Boerboel ·

Die Ja en Nee stem was die laaste verkiesing vir die blanke, De Klerk het die mense om die neus gelei, ANC sal weer die verkiesing wen, Die DA is net die herstigte ANC party,
Stem eerder vir VF.

Skuilnaam ·

@Veritas en Gideon Brits. Die artikel verskaf onstandighede waar Cope onteiening sonder vergoeding ondersteun uit hul eie manifes.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.