Wie het die trein in 1990 sien aankom?

Louis du Plessis reageer op Die Groot Debat se uitnodiging aan die gesprekreeks, 1990 tot 2012: Die Nuwe Suid-Afrika se verlede en toekoms in oënskou.

Die motoriste wat met oop oë bestuur het, begrawe vandag dié wat siende blind was en nou in die swart kiste lê, diegene wie se oë nooit weer sal oopgaan nie.  Die motoriste vra hulleself af:  “Hoe is dit moontlik dat die ander die spoor probeer oorsteek het sonder om die reuse trein te sien aankom?  Sonder om eers die lokomotief te hoor fluit?”

Op die redakteur se interessante vrae oor die aard van gebeure in Suid-Afrika sedert 1990, het verskeie bydraers dieselfde dilemmas toegelig.  Daar is egter een opvallende verskil, en wel tussen diegene wat blindelings die spoor wou oorsteek en andersyds diegene wat die trein van ver af sien kom het.  En wat ‘n verskil!

Om te fokus op gebeure sedert 1990 is dit nodig om die bome te verken waarheen Flip Buys ons gelei het, om op enkele van hulle wortels te wys, en om te vra:  “Kon ons destyds voorsien wat gaan gebeur?”  Die antwoord is ondubbelsinnig:  “Ja!”

Hoe sien Buys Suid-Afrika ná 1990?

In sy bydrae “Van Eerste na Derde Wêreld – Suid-Afrika onder die ANC” illustreer Flip Buys op 2 Februarie 2012 in sewe kategorieë hoe Suid-Afrika in skaars twee dekades getransformeer is.  Dis noodsaaklik om die betekenisvolle Buys-paradigma in ‘n neutedop saam te vat en verder te voer.

Buys open deur te wys hoe die regeringsparty ideologies kant kies vir sosialisme, selfs vir harde marxisme. Wat ek wil byvoeg, is dat dié eensydige keuse inderdaad onafwendbaar was. Die menslike geskiedenis ryg honderde voorbeelde aaneen van die stryd wat massas voer om gelyk te probeer kom met die kreatiewe presteerders in ‘n samelewing.

Plutargus skets byvoorbeeld die konflik in antieke Atene, 594 jaar voor Christus.  Elke jaar word die armes armer en bedreig hulle die rykes sóveel dat dié hulle voorberei om hulle eiendom selfs met geweld te verdedig.  Die Grieke hou egter kop deur die sakeman Solon as leier te verkies.  Hy staak tronkstraf vir skuld, kanselleer agterstallige belastings, stel ‘n progressiewe belastingstelsel in waarin die rykes soms tot twaalf keer meer betaal as die armes, maak die howe meer toeganklik en stel gratis onderwys in vir die kinders van pa’s wat in operasionele diens gesterf het.

En die reaksies?  Die radikale voorbokke van die massa protesteer steeds, onder meer omdat Solon nie grond onder die massa verdeel het nie.  Andersyds beskryf die welgesteldes Solon se maatreëls as onverdunde konfiskering van hulle inkomste.  ‘n Geslag later word Solon egter gehuldig as een van die wyse manne in die geskiedenis van Atene.

Die rede hoekom ek hierdie voorbeeld noem, is om aan te toon dat eietydse vraagstukke so oud is soos die berge.  Kreatiewe minderhede sal altyd vryheid benadruk om te kan doen wat hulle wil en die arm massas sal altyd gelykheid benadruk en die staat gebruik om hulle te help, op elke moontlike manier.

Voorts, deur op politieke gebied aan te voer dat “diepte” van vaardigheid ontbreek het om die land te bestuur, sluit Buys aan by die harde realiteite van ‘n onderonderwikkelde massa, tipies van meeste huidige Afrikasamelewings.

Die swart meerderheid oorheers die regerende party. (Foto geneem op Kerkplein, Pretoria.)

Met verwysing na verkiesings, beweer hy:  “In die werklikheid het swart mense, soos elders in die wêreld, vir groepsidentiteit eerder as beleid gestem.”  Buys slaan die spyker op sy kop.  Hoe kon wensdenkers dié feit nie voorsien het nie?  Dis ‘n fundamentele waarheid van stemgedrag, waarop die politikologies afgeronde Buys ons aandag tereg vestig.  Terwyl etniese minderhede oor alle grense teen ‘n tirannieke bewind sal saamstaan, neig etniese meerderhede daarenteen om aan hulle eie leiers voorkeur te gee.  Waarom?  Want hulle het die minderhede nie nodig om te regeer nie.  ‘n Naby voorbeeld:  Deur sy hele geskiedenis van bewind – 1924 tot 1933, en weer 1948 tot 1994 – is die Nasionale Party ondersteun deur die Afrikaners, wat die meerderheid van kiesers gevorm het.  Selfs die wegbreekpartye wat gehoop het om aan bewind te kom, soos die HNP en die Konserwatiewe Party, was hoofsaaklik Afrikanerpartye.  Soort soek soort.

Buys se derde insig, oor die grondwet, onderstreep hoe het “die magsbalans dramaties en permanent na die ANC geswaai”.  Dit sluit aan by die genoemde minderheid-meerderheid-teenstelling:  swart Suid-Afrikaners was en is oorweldigend in die meerderheid, tans 80 persent van die bevolking.  Daarom oorheers hulle nie net die regerende party nie maar speel ook ‘n al hoe invloedryker rol in die amptelike opposisie, die DA (kyk die twee foto’s).

My siening, met die genoemde Griekse voorbeeld hierbo, oor die ewigdurende stryd van massas, onderskryf heelhartig Buys se (vierde) ekonomiese argument dat sosialisme “‘n volboed alternatiewe lewensbeskouing is”.  Die worstelende massas, wat die marxiste as die “onderdrukte arbeidersklas” tipeer, eis gelykheid en staatshulp so natuurlik soos wat hulle asemhaal.  Hulle sal die hande van die skeppende minderheid noodwendig soveel moontlik vasbind, en daarmee die demokrasie beperk.  Daarom verbind Buys tereg ekonomiese aan politieke vryheid: “sosialisme en demokrasie is net tydelike bedmaats”.

Die swart meerderheid speel ook 'n al hoe invloedryker rol in die amptelike opposisie, die DA (Foto geneem by Grondwetheuwel, Braamfontein.)

Dis nie eers nodig om in Johannesburg se middestad met Simmondsstraat af te stap nie, dis net nodig om om jou rond te kyk, om op jou skouers die gewig te voel van Buys se (vyfde) demografiese feit, wat hy noem “die werklikheid van bevolkingsgetalle”.  Die groot rassemeerderheid is gerig op Engels as ampstaal, deels omdat hulle – soos helaas ook sommige van ons mede-Afrikaners – nie genoeg yster in die bloed het om hulle eie tale te handhaaf nie.  As dié neiging, van die rasgerigte ANC-bewind, verbind word aan Buys se voorafgaande waarneming van ‘n gebrek aan “diepte” van leierskap, is dit duidelik dat hulle die kulture en tale van minderhede (die sesde faktor) nie sal beskerm nie, trouens nie kán beskerm nie.

In sy sewende stelling, oor die staat, trap Buys weer in die voetspore van sy eerste waarneming, naamlik oor die ideologie van rewolusionêre sosialisme.  As ‘n onderontwikkelde massa die staat vir homself mobiliseer, wat anders kan verwag word as verval?  Dit leer ons inderdaad van samelewings so uiteenlopend Kuba en Noord-Korea.

Ons kan die gevolgtrekking maak dat die elemente van die Buys-paradigma waarheidsgetrou is asook onderling samehangend.

Op watter wortels groei die verandering?

Terwyl ons die bome in Buys se woud verken – oor verandering in Suid-Afrika – moet ons die taaiste wortels probeer ontdek.  Hoe vreemd dit ook al mag klink:  As hulle onpartydig redeneer, behoort denkende kapitaliste én denkende sosialiste, denkende lede van Solidariteit en denkendes in Cosatu, almal hierdie selfde wortels te eien.

Ek wil voorstel:  Objektief gesproke, en gefokus op kernfaktore, gee Buys te kenne:  In Suid-Afrika is vóór en ná 1990 ‘n rassies en etnies eiesoortige (spesifiek westerse) ontwikkelde (dus vryheidsliewende) minderheid gekonfronteer deur ‘n rassies en etnies anderssoortige (spesifiek swart) minder ontwikkelde (dus sosialisties geneigde) meerderheid.

Dit beteken:  As hierdie drie wortels of kernfaktore – ras en etnisiteit, ontwikkelingspeil, en bevolkingsgetalle – in ‘n ander verhouding tot mekaar gestaan het, sou ons Suid-Afrika skaars herken het!

  • Die Suid-Afrikaanse geskiedenis sou anders verloop het as almal in die land westerlinge was, van een ras en volk, soos Wes-Duitsers en Oos-Duitsers.
  • Die geskiedenis sou ook verskillend verloop het as daar ‘n numeries meer gelyke verspreiding van prestasievermoë en inkomste was, soos in die Verenigde State, Japan of Nieu-Seeland, eerder as die opvallende verdeling tussen ‘n minderheid en meerderheid soos hier.
  • En hoe totaal anders sou die prosesse gelyk het as almal nie slegs eiesoortig en numeries meer gebalanseer was nie, maar min of meer dieselfde ontwikkelingpeil gedeel het, soos die Skandinawiese volke van Denemarke, Swede en Noorweë, wat dikwels beskryf word as een skeppende middelklas!

Worstelende massas vra noodwendig staatshulp. (Foto geneem by Diepsloot.)

In sy argumente op die politieke gebied, maak Buys se bydrae ‘n opmerking met wye implikasies:  “Die aard en omvang van die veranderinge in die land is totaal onderskat.”  Hiermee sal analiste volledig akkoord gaan.  Sommige verkenners in die woud het die wortels geëien; ander het daaroor geval.

Anders as die meer versiende Buys, het talle politieke leiers geen benul gehad van hoe die wind van rigting sal verander nie.  Spraaksame voorbokke, soos Pik Botha, Roelf Meyer en Marthinus van Schalkwyk, het hulle mantels na die wind gedraai:  Maandag was al drie super-Afrikaners; Vrydag was al drie lede van die ANC.  Antwoorde op die redakteur se vraag: “Wat was jou verwagtinge van ‘n nuwe Suid-Afrika in 1990?” wys hoe ons Afrikaners van mekaar verskil het – en uiteraard steeds verskil.

Hoe het denkers die toekoms destyds voorsien?

Daar is min verskoning vir die wensdenkers.  Verskeie egte denkers het aspekte van die Buys-paradigma, sowel as die wortels wat ek hierbo kortliks geëien het, reeds lank vantevore glashelder onderskei.  Kom ons kyk net vlugtig na drie scenarios van destyds:  van ‘n span ekonome en twee geskiedkundiges.

Die dinkskrum van Leon Kok, die besturende redakteur van die Prescongroep, het in 1992 – twee dekades gelede en twee jaar voor die eerste een-mens-een-stem-verkiesing – die scenario gepubliseer:  Living in the new South Africa – the next 20 years (Prescon Publishers, Greenside, 1992).  Die scenario-ontleding vir 1992 tot 2012 bevat veelseggende hoofstukke soos: “Population projections: frightening figures“, “Crime: South Africa’s fastest growing industry“, en “Zimbabwe and Namibia: Pointers to South Africa’s future“.

Oor hoe aanstellings dalk gedoen sal word, skryf een kommentator in 1992 (bladsy 162; ek vertaal):

“Die hoofprobleem met regstelaksie is dít:  terwyl dit historiese onregverdighede probeer oorkom, skep dit nuwes, kweek dit gevaarlike wraakgevoelens onder blankes, en ondermyn dit die prestasies van swartes.”

In Living in the new South Africa – the next 20 years skryf die Britse internasionale belegger David Fuller, wat teen 1992 Suid-Afrika reeds vyf keer besoek het, oor die ekonomiese uitdagings (bladsy 12; ek vertaal)

“As die Verenigde State, met sy enorme rykdom, of die Verenigde Koninkryk, nie in staat is om hulle onderklasprobleme op te los nie, watter kans is daar vir Suid-Afrika waar die groot, arm, swart bevolking die blanke getalle oortref met meer as vier teen een?”

Onder die faktore wat dié probleme vererger, noem Fuller onder meer (bladsy 12) “rasse- en stamvyandighede, politieke geweld, militante retoriek, onrealistiese verwagtings en die feit dat helfte van die swart bevolking onder die ouderdom van sestien is.

Langer as ‘n dekade voor 1990, skryf die historikus FA van Jaarsveld, oor hoe ‘n nuwe swart regering spesifiek teenoor ‘n Afrikanerminderheid sal optree.  In Omsingelde Afrikanerdom (HAUM, Kaapstad, 1978) voorsien Van Jaarsveld (bladsy 254):

Tans gaan dit om ‘n finale oorlog waarin die Afrikaners, sou hulle ‘n nederlaag ly, nie weer sal kan opstaan of ‘n toekoms sal kan hê nie, want dit sal onder ‘n swart meerderheidsregering wees.  Die ervaring in swart Afrika het geleer dat swart nasionalisme eksklusief is.  Blankes sal hier as volk nie geduld word nie behalwe misken indiwiduele tegnici en bestuursadviseurs.

In dieselfde jaar beredeneer die historikus GD Scholtz in Afrikaner, Waarheen? (Perskor, Johannesburg, 1978) die wyse waarop blanke ondernemers binne die Suid-Afrikaanse ekonomie toenemend afhanklik word van swart werkers.  Hy beweer dat die feit dat selfbeskikking selfwerksaamheid verg nog selde tot die Afrikaner deurgedring het.  Onder die talryke teenstrydighede noem hy dat reeds in 1925 het die boere in Kroonstad hulle steun aan die Nasionale Party-leier en eerste minister, genl JBM Hertzog, se beleid van skeiding toegesê, maar in dieselfde asem versoek dat die owerheid meer plaaswerkers aan hulle beskikbaar sal stel!

Die blanke ondernemer, skryf Scholtz (bladsy 169), “het sy ekonomie gaan bou op die arbeid wat die swart man kan verrig.” En (bladsy 163) “Tot sy grootste ontnugtering moet hy nou ontdek dat hy sy huis op sand gebou het.”  Vroeër of later sal die meerderheid die politieke stelsel oorneem.  Scholtz waarsku hierteen (bladsy 165) “‘n Swart meerderheidsregering in Suid-Afrika sal nie net vir die blankes ‘n katastrofe wees nie maar ook vir die Kleurlinge en Indiërs.”

Om sy waarskuwing te benadruk, haal Scholtz (op bladsy 167) die Amerikaanse kundige William A Rusher aan (uit dié se artikel in To the Point, 24/11/1976; ek vertaal):

Vir die groot meerderheid van Suid-Afrikaanse blankes, sal die lewe in ‘n swart Suid-Afrika dieselfde verlore stryd wees as wat bewys is in Kenia, Zambië of elke ander Afrika-nasie wat oorgegaan het in swart beheer:  ‘n stryd om te oorleef in ‘n voortdurend vervalende ekonomiese en sosiale omgewing, uitgelewer aan die genade van hebsugtige swart politici wat daarop ingestel is om blanke huise en sake in ‘n oogwink oor te neem.

Reeds dertig jaar voor die 1994-verkiesing het GD Scholtz hierdie diepliggende historiese tendense ontrafel in sy profetiese werk:  ‘n Swart Suid-Afrika? (Nasionale Boekhandel, Kaapstad, 1964)

Slotsom

Aan die wortel van die Suid-Afrikaanse hooftendense ná 1990, wat die Buys-paradigma so skerp uitwys, sou ek wou aanvoer, lê drie kernfaktore in ons land, wat baie help om die kompleksiteite intellektueel te konsentreer:  verskille in ras en etnisiteit, verskille in ontwikkelingspeil, en verskille in bevolkingsgetalle.

By Buys se helder waarneming dat die verwagte “aard en omvang van die veranderinge in die land” in bepaalde kringe vooraf “totaal onderskat” is, voeg ek graag by:  die wensdenkers, waarvan daar baie steeds soos slaapwandelaars tussen ons ronddwaal, het net hulle eie liggelowigheid om te blameer.  Vooraanstaande denkers, waarvan enkeles hierbo vlugtig aangehaal is, het vir ons reeds dekades lank gewys wat op die pad van Suid-Afrika voorlê.

Antwoorde op die redakteur se vraag: “Wat was jou verwagtinge van ‘n nuwe Suid-Afrika in 1990?” wys duidelik op die kloof tussen diegene wat in die vlak water spartel en diegene wat ver swem.  Tussen die kortsigtiges en die versiendes.  Tussen die jellievisse en die walvisse.

Lees ook Christo van der Rheede, Charl-Pierre Naudé en Isak Burger se bydraes tot dié gesprekreeks.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Louis du Plessis

Meer oor die skrywer: Louis du Plessis

Louis du Plessis is 'n redaksielid van die Nuwerwetse Politieke Woordeboek, mederedakteur van verskeie werke oor konflikbestuur, en voormalige professor in die Fakulteit Krygskunde, Universiteit van Stellenbosch. Sy moedereenheid is 1 Valskermbataljon.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

boerinballingskap ·

Louis, hierdie is werklik ‘n uitstekende stuk kommentaar! Ongelukkig was naiewe goedgelowigheid nog altyd een van die Afrikaner se swakpunte.

Ebert ·

Baie goeie skrywe Louis.

Ek wonder soms wat dit is wat mense so verblind dat hulle nie die werklikheid wil herken vir wat dit is nie?

Daar moet wysheid in die spreuk steek dat mense nie die werklikheid waarneem nie, maar eerder hul persepsies van die werklikheid.

Daar is al baie geskryf en gesê oor hoe Afrikaners hul welvaart op die rue van swart arbeid gebou het, hoe onvolhoubaar dit is, hoe uitbuitend dit is en hoe daar ‘n weersin in gekoester word deur die arbeiders.

Die anderkant van die munt is egter min bekyk. Hoewel Afrikaners graag goedkoop swart arbeid gebruik het, het hulle ook ‘n lojaliteit jeens swart arbeid gekweek en gekoester. Ek onthou hoe my pa by geleentheid op die plaas gesê het dat ‘n slegte Afrikaner (werker) slegter is as ‘n slegte swarte.

Behalwe vir die sogenaamde bywonerstelsel wat aan die begin van die vorige eeu op plase gebruik is, waar Afrikaners gratis arbeid aan die plaaseienaar verskaf het in ruil vir behuising en ‘n stuk grond om self te bewerk of te bewei (my oupa-grootjie was as jongman so ‘n bywoner), was daar nie ‘n sterk, algemene Afrikanertradisie rondom basiese werk nie. Myn-, Spoorweg-, Yskor- en Evkomwerkers was hoofsaaklik gekonsentreer by daardie bedrywe en grootliks onsigbaar vir die res van die volk, of het in elk geval spoedig verdwyn sedert die 1960’s.

Ek het vanaand na ‘n dokumentêr van Andre P Brink gekyk waarin hy sy emosie beskryf wat hy as student in Frankryk ervaar het rondom die nuus wat hulle ontvang het van sogenaamde vergrype deur die NP regering. Hy sê “dit is verskriklik om deel te wees van ‘n volk wat bedreig word deur uitsterwing, maar dit is hel om te voel dat jou volk besig is om uitsterwing te verdien.”

Hierdie sin van Andre Brink vat ook my huidige sentiment rondom Afrikaners saam.

Die deur is oop vir ons om onsself vry te werk tot volhoubare voorspoed, veiligheid en medemenslikheid. Die sukses wat Orania behaal met sy voortdurende groei en die ongetapte potensiaal wat die Noord- en Weskaap bied is ‘n bron van hoop.

Maar so min Afrikaners sien werklik wat Orania poog om te bied, en so min word geroer daardeur, dat ek soms wonder of ons ooit werklik ‘n volk was en nie dalk wel koloniste van ‘n spesiale soort soos pres. Mbeki ons beskryf het nie? Kon ‘n groep wat nooit hul eie werk gedoen het nie werklik ‘n volk wees?

Wat ek egter by beide jouself en Flip Buys se artikels onder hierdie besprekingspunt mis, is ‘n kyk in julle blik op die toekoms. Indien ek wou hekel kon ek noem dat julle maklik praat oor die verlede maar min sê oor die toekoms.

At Nel ·

1990 het baie nie die trein gesien nie omdat dit sedert die sestigerjare mode gewees het om verlig te wees (die nuwe woord vir Liberaal) alles wat konserwatief en tradisie was, is afgemaak is as verkramp.
in 1990 was die FAK ATKV Voortrekkers volkspele, Afrikaanse liedjies skrywer outyds
Die probleem is dat die lig vir hulle te skerp was en hulle was heeltemal verblind. nou moet on die trein stop sonder ons ankers Selfs die kerke het die verligte stryd verloor.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.