Wie is baas van die ANC-plaas?

Argieffoto

Die huidige interne burgeroorlog in die ANC kan uit verskillende oogpunte, almal geldig, beskou word. Dit, na aanleiding van die rusies rondom die vraag of oudpres. Jacob Zuma aangekla moet word oor sy weiering om voor die Zondo-kommissie te getuig en of Ace Magashule sy amp as sekretaris-generaal van die ANC moet neerlê na aanleiding van die formele korrupsieklagte teen hom.

As ’n mens enigsins poëties of hoogdrawend wil wees, kan jy ten eerste sê dis ’n stryd om die siel van die ANC.

Watse soort party wil die ANC ten diepste wees? ’n Party wat die voorbeeld van soveel ander partye in Afrika en die Derde Wêreld volg, of een wat hom hou aan die voorskrifte van die liberale demokrasie en die regstaat?

Dit gaan gepaard met ’n tweede vlak, naamlik ’n ideologiese stryd. In die een hoek van die kryt staan diegene wat nader aan die mentaliteit van die ANC in ballingskap is, naamlik korrup, ondoeltreffend, outoritêr – ja, selfs totalitêr.

’n Derde, verwante vlak waarop die stryd benader kan word, is op dié van ’n brute stryd om die magsmonopolie. Wie is baas van die ANC-plaas – Cyril Ramaphosa of Jacob Zuma/Ace Magashule? Wie slaan die kitaar?

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Saamgevat, kom dit neer op die vraag of die ANC die liberale demokrasie en die Grondwet aanhang of nie. ’n Beduidende deel van die party – die Zuma/Magashule-faksie – is duidelik op die beste lou daaroor; op die slegste, vyandig.

Verskeie ANC-leiers in dié hoek het immers al reguit gesê die ANC is vir hulle belangriker as die Grondwet. Ander, weer – die Ramaphosa-faksie – is bereid om binne die beperkings wat die liberale demokrasie aan hulle oplê, te werk.

Die verklaring hiervan is tweërlei, en albei is in die geskiedenis van die ANC/SAKP in ballingskap te vinde. Die leiding van die alliansie is destyds aan twee invloede blootgestel.

Die mins belangrike was die politieke kultuur van die tipiese Afrika-regime van die tyd. Hulle is gekenmerk deur ’n vae soort sosialisme, wat hoofsaaklik gedien het as rookskerm vir korrupsie, diktatuur, magsmisbruik en ’n uiterste onbekwaamheid – ’n dodelike kombinasie.

Voorbeelde hiervan was in mindere of meerdere mate te vinde in byvoorbeeld Zaïre, Kenia, Tanzanië, die Kongo-Brazzaville, Uganda, Angola, Mosambiek, Zimbabwe en talle ander Afrikastate.

Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC. (Foto: Twitter)

Aangesien die ANC/SAKP destyds uitstekende betrekkinge met al dié regimes onderhou het, is dit vanselfsprekend dat dit ’n invloed moes gehad het.

Die belangrikste faktor was egter die groot mate waarin hulle deur die Sowjet-weergawe van die Marxisme-Leninisme beïnvloed is.

Ek vorder goed met die skryf van ’n boek oor die ANC/SAKP in ballingskap, en die een gevolgtrekking wat bo al die ander uittroon, is die wyse waarop die Sowjetunie se ideologiese oortuigings deur die leiding van die alliansie oorgeneem is. In feitlik alle denkbare opsigte het die alliansie betreffende sy interne politieke kultuur en ideologiese oortuigings ’n kloon van die Sowjetunie geword.

Dit is die één aspek van die destydse Suid-Afrikaanse regering se propaganda wat hoofsaaklik op waarheid berus het.

Sedert die jare sestig van die vorige eeu het die SAKP steeds meer daarin geslaag om die ANC te kaap. Teen die jare tagtig het die leiding van die ANC byna volledig uit lede van die SAKP bestaan.

Neem terselfdertyd in ag dat die SAKP een van die mees Moskou-getroue kommunistiese partye ter wêreld was, en dit word duidelik dat die alliansie gereduseer is tot ’n buitelandse werktuig van die Kremlin.

Die punt is dat die belangrikste ideologiese invloed op die ANC/SAKP in die struggle-tyd aktief vyandig was teenoor die liberale veelparty-demokrasie soos hy in die Weste bedryf word. En die eggo daarvan hoor ’n mens steeds in die huidige ANC.

Let wel: Hiermee word nie gesê dat die huidige ANC steeds ’n kommunistiese party is nie. Maar die momentum van die destydse totalitêre politieke kultuur is steeds merkbaar.

Oudpres. Jacob Zuma. (Foto: Sandile Ndlovu/Pool)

Intussen het die regstreekse invloed van die Marxisme-Leninisme in die ANC duidelik afgeneem. Dit het egter gepaard gegaan met ’n toename van die Afrika-kultuur wat hierbo behandel is. Daarnaas is daar ook ’n beduidende element wat die voordele van die liberale demokrasie insien – indien dalk nie emosioneel nie, dan tog wel rasioneel.

Dit beteken dat die huidige ANC voor ’n kruispunt staan. Welke pad gaan hy inslaan – die pad van ons huidige liberale grondwet, of die pad van Afrika, jou tipiese vaag-sosialistiese, korrupte en outoritêre regime?

Overgezet zijnde (simplisties gestel), die pad van Ramaphosa of dié van Zuma/Magashule? Van dié keuse hang geweldig veel af.

Die liberale rigting hou in beperkings op owerheidsgesag, die nakoming van die regstaat en oppergesag van die reg, gehoorsaamheid aan die Grondwet, ’n stryd teen korrupsie en willekeurige magsmisbruik. Die ander rigting hou in die tipiese dodelike Afrika-mengeldrankie van korrupsie, selfverryking, ondoeltreffendheid, onbekwaamheid en onverdraagsaamheid teenoor andersdenkendes.

Die tweede rigting hou onmiddellike voordele in vir die maghebbers, mense wat dikwels nie verder as net dit kyk nie. Dis egter die laaste dekades male sonder tal bewys dat dié pad na die afgrond lei.

Die liberale rigting is geen waarborg vir sukses nie. Nie alle liberale demokrasieë werp vrugte af nie.

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Elmond Jiyane, GCIS

Maar dit gee jou minstens ’n realistiese kans op sukses. Deur die beperkings op staatsmag – verskillende politieke partye wat om die mag meeding, die onafhanklike regbank, vrye media, vryheid van spraak, noem maar op – word die misbruik daarvan aansienlik moeiliker gemaak.

Laat my dit presies formuleer: Deurdat die misbruik van mag moeiliker word, is die kans dat ons ’n mislukte staat meemaak, kleiner. Nie afwesig nie, maar kleiner.

Wat ons tans in Suid-Afrika meemaak, is ’n staat wat gevaarlik onderweg is na mislukking. Gereelde kragonderbrekings. Munisipale dienste wat plek-plek in duie stort. Ek hoef hulle nie almal te noem nie, die lesers weet waarvan ek praat.

Dit is die rede waarom die burgeroorlog in die ANC van soveel belang is.

As die Zuma/Magashule-faksie wen, is dit feitlik ’n waarborg dat Suid-Afrika net nóg ’n mislukte Afrikastaat word. Die feit dat ons land ’n lewendige burgerlike samelewing het, kan die tempo van die beweging daarheen vertraag, maar waarskynlik nie stuit nie.

Intussen het die gemeenskap van die dorp Koster in Noordwes die rigting aangedui deur munisipale dienste dan maar self oor te neem. Luidens berigte is skoon watervoorsiening binne enkele dae herstel, gate in die paaie is herstel, noem maar op.

Dis die soort assuransie wat die land op groter skaal nodig sal hê as Ramaphosa die magstryd verloor.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Philip

Ek dink ons skrywer het n defnitiewe fout begaan KOSTER is in Noordwes of Wes TVL en nie in die Vrystaat nie.

Jaco

Het die ANC dan niks tydens hulle jare van exile geleer nie? Daardie lande was sonder keierstryd en faksiegevegte. Die kommunistiese partye was eendragtig en party en staat was een. En alles het gewerk: daardie lande was SONDER beurtkrag, swak staatshospitale, swak onderwys, slaggate in paaie ens ens. Selfs Nkandla-styl verryking was, behalwe vir Roemenië, relatief onbekend. Die lewenstandaard was nie baie hoog nie, maar almal het ordentlike blyplekke gehad en werkloosheid was TOTAAL onbekend. Die ANC karring egter aan met nonsens. Hulle national democratic revolution gaan al vir 27 jaar aan en is nou nog nie klaar nie; in… Lees meer »

annie

Leopold toon duidelik sy afstand van ‘ons’ land met sy outsider look oor wat hier aangaan. Sou ek in die koerante lees wat Nasa op Mars aanvang en dan eerstehands ‘n beriggie saamflans en sommer ook raad gee oor ‘ons’ probleme met ‘ons’ projekkie, sal my bydrae koppe laat skud. Hoe lyk dit met nuus oor die stoute kinders in Nederland?