Wie is die Afrikaner? Steve lewer repliek

Steve1Met die uitnodiging tot hierdie skrywe was my eerste reaksie: “Nee, dankie”. Mense wat hierdie vraag vra ly gewoonlik aan ʼn identiteitskrisis.

My tweede reaksie was “don’t go there”. Ons ken die vraag as ’n ou turksvy en die Afrikaner is reeds iets tussen ʼn turksvy en ʼn tameletjie. My derde reaksie was: “Google AFRIKANER”. Indien jou soekenjin niks oplewer nie, bestaan jy moontlik nie.

Steeds nie nader aan ʼn kort antwoord nie het ek my gewend na die geselskap om my. Ek is gepeper met idees.

Wat van genetika? Maar die bloedtoets is te blerrie duur en wys nie die DNA van verraaiers, hensoppers, joiners en smelters aan nie.
Wat van godsdiens? Probeer dit self. Loods ʼn knertsie teologie tussen twee Afrikaners en sien die vonke spat. Ek noem dit Afstigresep Nommer Een.
Gays is nie Afrikaners nie! Dan is Afrikaners uitsluitlik mense wat nie skulpvis eet nie (lees jou Levitikus!)
Afrikaners is Europeërs? Hulle was, ja. Wat van nou en oormôre?
Afrikaners is wit! Hoeveel wit en hoe ver terug? Volgens ene professor Heese is Afrikaners net 92% wit.
Afrikaners is Afrikaans!
Afrikaners bly in Orania!
Afrikaners is Afrikane!
Afrikaners is Boere!
Afrikaners is nie Boere nie!

En so het dit aangegaan. Toe ek noem dat Afrikaners net twee foute gemaak het: Ons het 1.) gedink Apartheid is lewensvatbaar tot in ewigheid en toe 2. gee ons alles weg. ʼn konserwatiewe makker het amper my kop af gebyt. Duidelik moes ek by my tweede reaksie gebly het. Don’t go there. ʼn Goeie en welkom demper op die debat was uiteindelik die drieledige vraag: En wat as jy weet? Wat wil jy daarmee maak? Wie vra?

Ek het nie ʼn antwoord gehad nie, maar was verlig dat dit darem ook beteken het dat ek bietjie subjektief mag wees. Hierdie is dan net een Boerekind se opinie. Indien jy doodseker is wie Afrikaners is, of wie Amerikaners en Russe is, of waar hulle hul self deesdae bevind, hoef jy ook nie verder te lees nie. Dit is vir jou dan klinkklaar en eenvoudig. Moontlik net geografies. Die regte debat bied ongelukkig minder troos.

Die postmodernisme se Achilleshiel was altyd sy onseker relativisme. Alles is so deurmekaar ons weet nie meer nie. Iemand lig pal die ankers van die verlede onder ons uit of ondergrawe dinge waarvan ons eens so seker was. Maar beteken die feit dat jy onseker is ook dat jy seker kan wees van niks. Nee. Daarom vra hierdie debat vir eerlikheid, lankmoedigheid, erns en omsigtigheid.

Dit baat niemand as almal ophou definisies maak omdat begrippe vaer raak nie. Want as alle definiëring inklusief moes wees sou dit ook die einde wees van definisies as sodanig. Dan kon ek dadelik ophou skryf omdat dit dieselfde sou wees as poep. Miskien is almal dan faksmasjiene, dalk is motors fietse en Boeings voëls. Dan slaag die liberaal met sy rookskermpogings om ons almal as een homogene, konsensuele Suid-Afrikanergroep (ʼn nog vaer begrip) te skets.

En dit is wat die nuwe, goed-gefabriseerde transformasieprosesse in SA van ons verwag: ʼn Narratief waar ons een nasie sal wees, met een volkslied, in een taal, een kontinentale geldeenheid, een visie, een beleid, een vlag, een volkslied en sela, almal stap in een rigting. Dis eerbaar as dit goed bedoel is, maar in realiteit nie haalbaar nie. Dit peuter benewens met die liberaal-demokratiese reg dat jy mag staan, kies en dink waar en soos jy wil, solank jy wettig optree.

In die geselskap van twee swart joernaliste en een wit denker, het ek eenkeer gevra: Watter demografie voel jy altyd eerste? Die antwoorde was Suid-Afrikaner (Amanda), Rooms-Katoliek (Mondli), Swart (Fred) en Afrikaner (Steve). En ons was vrinne! Die opvolgplekke is gevul met vader, Christen, Boer, vrou, ensovoorts.

Beteken dit dat hierdie teoretiese eenheid in praksis nie doenbaar is omdat dit nog nooit geslaag het nie? Nee. Dit is ʼn wonderlike ideaal, wat kan werk, maar omdat dit nog nie gebeur het nie, vertrou ons hier op wensdenkery eerder as die fondasie van ʼn verlede waaruit ons, sonder om vas te val, iets tasbaar kan haal en leer. Saamwerk, saamstaan en eenheid is ʼn hersenskim, omdat die reg om nie te wil behoort nie so fundamenteel is as die reg om te wil assosieer. Om enigiets anders af te dwing, is sosiale ingenieurswese en oukerkse fascisme.

En hier begin die verhaal van die wêreldsielkunde. Grade van versigtigheid. Beide bogenoemde stanings het waarde en is geldig; hoe ons projekteer, aan die eenkant, en waarvandaan ons kom, aan die anderkant. Die demokratiese versus die republikeinse. Die vrydenker teenoor die verkrampte.

Só demoniseer Links en Regs mekaar al eeue lank, maar Links en Regs is nie net verskillende mense nie, dit is ook ʼn struweling diep binne elke mens. Die liberaal in jou is die avonturier en moontlik daarom die ontdekker terwyl die behoudende meesal Jan Tuisbly se karretjie verkies. Meesal. Nie altyd nie. Soos die liberale geaardheid soms ook wil tuisbly is dit bog om die behoudende denker te sien as iemand teen verandering. Laasgenoemde bemoei homself deurgaans met verandering. Daarom is hy ook die persoon wat homself bemoei met die koers en pas daarvan. Is politieke versigtigheid en reëlmatige oordeel te veel gevra in hierdie tye, in hierdie land en in hierdie eksperiment?

Mens vra jou af of dit ooit anders was. Dit was seker makliker om as Voortrekker jouself ʼn Voortrekker te noem: jy en al die Hollanders om jou met ʼn touleier, osse en ʼn geelhout kakebeenwa. Omring met Calvinistiese plaasboere wat die Oos-Kaap verruil het vir selfbeskikking in die onbekende binneland, soos jy, moes ʼn samebindende faktor wees – soos ʼn gemeenskaplike vyand ook ʼn groep kan verenig. Tog sou selfs Louis Trichardt ʼn paar Franse moes teëkom wat saam trek. Hy moes enkele Protestante en Katolieke raakloop, ook in sy eie trekgeselskap. Of in Potgieter s’n. En skielik so ver as die Waterberge ʼn Joodse smous of twee raaktrek, en wie weet, twee geheime ateïste of een homoseksueel in Pretorius of Maritz se kommando. Vreemdelinge en volksvreemdes wie se Hollands nie so perfek was en geloof nie so groot was en wie se bloedlyn verder verwyder was as die van sy bruin trekarbeiders s’n. Hier sou die eenvoud van die Voortrekker-definisie moontlik self begin stoom verloor.

Daarom my eerste punt.

1. Ek sien nie in die nabye vooruitsig iemand met die gesag om Afrikaner-lidmaatskap eksklusief toe te ken nie. Dit is natuurlik enige groep se reg om enkele kenmerke uit te sonder, maar hulle sal tevrede moet bly met uiterste minderhede in ʼn reeds minuskule minderheidsgroep. En die hardekop-Afrikaner is nie minder hardekop as ander dinamiese nasies nie. As daar drie susterkerke is, sal daar vyf broers wees wat afstig. Afrikaners stig ook nie meer af as vele ander nasies nie. Ons maak dit net vreeslik maklik vir onsself om dit te doen. In ʼn demokrasie is dit ongesond. In ʼn ongesonde demokrasie, is dit fataal (om minderhede te wees). Ons leef en beef in ʼn bewind waar die vet, magsdronk, oorgewig meerdersheidsparty sy gat afvee aan minderheidspartye. Ons weet dat al sou elke Afrikaner in een party verenig, dit nie ʼn duik sou maak in verkiesings en politieke mag nie. Ons gaan mekaar kan vind in ʼn party hier en ʼn kerk daar, maar dit sal ook nooit dieselfde party of kerk wees nie.
Mens sou wou vra waarvoor ek dan staan en baklei.

2. Ek hou daarvan om kenmerke oorwegend toe te ken. Sover is dit duidelik dat ek oorwegend nie Sjinees is nie. Ek is ook nie Sjinees in geloof, geografie, taal, tradisie en gene nie. Ons weet ook ʼn volksdefinisie het ʼn meer spesifieke herkoms en minder spesifieke toekoms. Almal wat intussen daarby aansluit, die heil van sy erfenis en fondasies eerbiedig en in opgewondenheid die geheue en toekoms daarvan wil verseker, kan vir my part maar Afrikaner wees. Oorwegend sal daar seker ook nie meer as 8 swartes en 11 bruines wil aansluit nie. Aan hulle sê ek welkom (so omseil jy die rastaboe, as jy sou wou), maar om te maak of die Afrikaner gedefinieer moet word is geensins meer problematies as om Jode, Iere, Duitsers, Swede en Keniane te definieer nie. En selfs al lewer Google boggerol op, kan jy, as jy wil, ook deel voel van daardie minderheid wat die minste verseker is van die oorlewing van haar taal, haar geskiedenis, erfenis, skole en bates in Suid Afrika. Oorwegend is sy steeds die wat nie eintlik Eskimo is nie. (Nie amper so moeilik te definieer soos ‘Suid- Afrikaners’ nie, ʼn definisie wat oorwegend geografies is, soos tipes skulpe en bosluise.)

3. Enigiemand wat die konteks van sy pioniersgeskiedenis wil begryp, is ook ʼn Afrikaner. Afrikaner-kenmerke is legio. Hulle wat die son ken, en hoed dra, en selfs goed reis: ons is immigrante, in transito, vlugtelinge, Europeërs, Voortrekkers. Gee hom grond en hy bak vir jou ’n brood. Hulle is werkers, praktiese mense. Maar dit kan bloot geneties wees.

Afrikaner6Afrikaners of Boere is soveel meer. Die somtotaal van ons gees is saamgeflans uit oorwegend ander terme en definisies, soos Afrikaner, Boer, boer, Piet Retief, vooros, agteros, Bloedrivier, Gelofte, Afrikaans, God, Onse Vader wat in die Hemel is, kafferoorloë, kakies, son, stof, Anglo-Boereoorloë, Siembamba, verskroeide aarde, Bittereinders, rebellie, zijn, braaivleis, rugby, drieë en doelskoppe, Natte, Sappe, Ossewabrandwag, Duitsland, Broedertwis, Apartheid, omgewingsleer, erfenis, Die Vierkleur, verset, Ou Kraalliedjie, kommunisme, republiek, Paul Kruger, tjie, biltong, koeksisters, wyn, wingerd, hops, Die Vrede van Vereeniging, myne en minerale, Voortrekkermonument, arbeid, unies, Eybers, Breyten, Van Wyk Louw, arm blankes, Rembrandt, Santam, Sanlam, AVBOB, grond, 31 Mei, bantoe, soutie, army, troepies, Oranje-Blanje-Blou, museums, biblioteke, Siddy…Siddy, Esme & Jan, Springbokradio, Boetman, Mimi, Min, Die Stem, Verwoerd, Gé Korsblik, Agter Elke Man, Haas Das, Delarey, Gert, Sonja, Carike, Riaan Cruywagen, SAUK, Hennie Smit, Kurt Darren.

Die lys het natuurlik geen einde nie en hoewel elke Afrikaner anders sal prioritiseer tussen soveel metafore, feite, gebeure, abstraksies en helde, sal elke nasie, volk of stam só ʼn ellelang lys hê. En as jy genoeg items daaruit kan verander metamorfoseer jy jouself in ʼn ander definisie, kultuur, tradisie en erfenis in. Dit is vir my geen probleem dat kulture oorvleuelend is nie. Dit sal ook meer so raak. As Afrikaner-lewensvraat vier ek ander kulture se definisies, asook hul bydraes tot myne. Ek’s verheug oor hoe die Suid Afrikaanse diversiteit my Afrikanerskap aanvul en selfs verstewig. Ek weet nie presies hoe die Afrikaner daar uitsien nie, maar ek weet ek is meer as geneties, ook by keuse in hierdie groep tuis. Dit bly die groep waarin ek die minste hoef te verduidelik. Die groep wat my die meeste sal mis. Nie die groep tot wie ek spreek nie, maar die groep waaruit ek spreek, waaruit ek dig en sing en dink. Afrikanerskap is nie eerste iets wat jy doen nie. Dis iets wat jy kan doen omdat ander voor jou dit moontlik gemaak het vir jou. Afrikanerskap het alles te doen met dankbaarheid.

4. ʼn Sterk definisie van die Afrikaner is hoe maklik dit is om die vyand van die Afrikaner raak te sien. Vir my is hy enigiemand (gewoonlik ander Afrikaners) wat, sou ek alles in sy hande los, daar bitter min oor sou bly van ons; van wat ek my kinders kan belowe van die kollektiewe gewoontes wat ons wil uitleef; van ons moedertaal, haar skole en universiteite; van selfbeskikking vir my stam; van respek vir my herkoms en etnisiteit en van die geheue van my voorvaders en hul geloftes aan hul God. As die Boer of Afrikaner ʼn graad van weersin in jou wek, Wannie, Croucamp, Max, Johrne en Naspers, het jy darem soveel ander volke om van te kies. Jy kan selfs ’n neo-Afrikaner word of skaamteloos ʼn Afrikaner bly. Ons kan die trotse naam nie kaap nie. Gelukkig jy ook nie. Maar iemand uit hierdie groep sal aanhoudend afvra of jy dan die beste een is om hul saak namens hulle te stel en wat oor sal bly van hul identiteit en uitleef daarvan as almal soos jy gedink het, en wat die somtotaal is van wat hulle hul kinders deesdae oor die toekoms hier kan belowe.

Hoekom vir volke vra of hulle rassisties is eerder as hoekom hulle so min afguns toon in ander stamme se teenwoordigheid? Hoekom die Afrikaner terugskouend uitkryt as jy nie weet hoe om haar verlede in konteks te lees nie? Hoekom iets Afrosentries op haar afdwing as so min daarvan die Weste enigsins iets kon wysmaak? Hoekom die Afrikaner verdoem omdat hy nie sy land en soewereiniteit wou deel nie, terwyl hy met beide van sy uitdeelhande homself vir die soveelste keer uit ʼn graf moes grou? Hoekom aandring dat ons almal een vry nasie is as dit slegs mag beteken dat ons deur ander volke regeer moet word? Hoekom ʼn volk uitlag oor sy aweregsheid voordat jy net weer een keer sy kontrakte, opofferings en grafte uit die as gaan tel? Hoekom ʼn aversie toon vir jou volk wat die deugde van die nuwe Suid-Afrika opgewonde oorweeg het, sy soewereiniteit opgeoffer het en toe niks daarvoor gekry het behalwe minagting, paspoorte en moordsyfers nie?

Ek weet. Ek het min opgelos. Wie die Afrikaner spesifiek is, kon ek seker nie antwoord nie. Maar ek weet watter soort Afrikaner ek wil wees. Nie perfek nie. Net jaloers op sy lang tog, een wat ook deur elkeen loop. Vir my is daar bykans geen menslike kenmerk wat jy nie in die Afrikaner moet kan vind nie, behalwe een – die een waar jou denke en aksies sy einde kan beteken.

Die slimkous Popper was pa van die verdraagsaamheidsparadoks: moet ons verdraagsaam wees teenoor mense wat verdraagsames wil uitwis?

Antwoord soos jy wil, Afrikaner.

* Hierdie artikel is een in ‘n reeks oor die onderwerp. Twee ander bydraes is reeds deur prof. Wannie Carstens en Flip Buys gelewer en kan hier gelees word:

Kom ons herdefinieer Afrikanerdeur Wannie Carstens
Wie en wat is ‘n Afrikanerdeur Flip Buys

* Gaan lees ook ‘n onlangse bydrae op die Groot Debat deur Steve, My volk sterf soos vlieë, en sy blog met soortgelyke artikels.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Steve Hofmeyr

Steve Hofmeyr is onder meer skrywer, aktivis en geselsprogramaanbieder. Hy het meer as 2 miljoen CD's op sy kerfstok en is 'n driemalige SAMA-wenner (insluitende Besverkoopte Suid-Afrikaanse Kunstenaar 2004). www.stevehofmeyr.co.za

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.