Gaan Ramaphosa aan die einde van die jaar eenparig as ANC-leier by hulle vyfjaarlikse leierskonferensie herkies word? Gaan daar ’n kandidaat wees vir die faksie in die party téén Cyril Ramaphosa?
Dlamini-Zuma, Ramaphosa se vorige opponent, het in 2017 misluk. Dit lyk nie of sy weer belangstel nie. Ace Magashule is deur die ANC in die yskas geplaas en só na die aanklagte teen hom geneutraliseer. Tegnies sal hy nie die leierskapskonferensie mag bywoon nie.
Hierdie week verskyn daar skielik in die media oënskynlik onskuldige artikels van Lindiwe Sisulu, minister van toerisme, oor die Grondwet en die regbank. In die artikels vaar sy teen die Grondwet, die oppergesag van die reg, die regbank en die gebrek aan ekonomiese transformasie en grondhervorming uit wat sedert 1994 ’n see van armoede agtergelaat het.
Sisulu is ’n vriendelike persoon, maar sy was nog nooit bekend vir haar filosofiese denke, fyn formulerings en sterk standpunte nie. Toe Jakob in die Bybel sy blinde pa, Isak, wou mislei deur voor te gee dat hy eintlik Esau is, het hy Esau se klere aangetrek sodat hy soos Esau kon ruik en ook sy hande soos Esau sʼn harig gemaak. Isak het hierop gereageer: “Die stem is Jakob se stem, maar die hande is Esau se hande.”
Sisulu se meningsartikels laat my hieraan dink. Dit lyk of ’n spookskrywer uit die radikale ekonomiese transformasie (RET)-faksie binne die ANC agter die artikels is. Dit is Sisulu se hande, maar ’n RET-skrywer se stem. Die RET-faksie beskryf Ramaphosa gereeld as ’n “gevaarlike pion van wit kapitaal”. In die artikel skryf Sisulu dat die “gevaarlikste Afrikaan vandag die geestelik gekoloniseerde Afrikaan is. Wanneer hy in ’n leiersposisie kom, is hy erger as jou onderdrukker!”
Wie is volgens hulle geestelik deur die wittes gekoloniseer? Dis duidelik ’n RET-aanval op Ramaphosa. Sisulu het as minister toegang tot die kabinet en die ANC se nasionale uitvoerende komitee. Dit is die regte plekke om hierdie probleme aan te pak as jy ANC-beleid wil beïnvloed. As jy dit egter op hierdie wyse in die media doen, is die hoofdoel nie meer om beleid te beïnvloed nie, maar eerder om jou hand as kandidaat teen Ramaphosa op te steek. Sy klim duidelik in die kryt.
In ’n 800 m-wedloop is dit belangrik om nie te gou met jou eindpoging te begin nie. Bly in die bondel, hou die ander atlete dop en wag vir die regte oomblik. Ek het al te veel atlete gesien wat te gou hiermee begin en dan met lam bene in die pylvak terugsak terwyl die ander verbykom.
My voorspelling is dat presies dít met Sisulu gaan gebeur. Sy het nie genoeg ondersteuning om Ramaphosa te verslaan nie.
Dit beteken nie dat daar nie verskeie ander name in die bondel hardloop en dat Ramaphosa nie nog kan struikel nie.
Gewone kiesers sê: “Omdat dit my nie raak nie, stel ek nie in hierdie ANC-leierskapspeletjies belang nie.” Ongelukkig is dit nie waar nie. Ons is ’n gevange gehoor wat vir die volgende jaar gedwing gaan word om hierdie ANC-sirkus dop te hou.
Ramaphosa moet vanjaar dringend aan die Zondo-bevindings aandag gee, die ekonomie aan die groei kry, die werkloosheidsprobleem aanpak en die verswakkende infrastruktuur begin verbeter. Dit is maar enkele van ons probleme.
In hoeverre gaan sy herverkiesing aan die einde van die jaar maak dat hy van die ongewilde maar regte besluit oor hierdie sake wegskram?
As ek Sisulu se artikels lees en die ANC en ander se reaksie daarop sien, besef ek dat die ANC-leierskapsverkiesing hierdie jaar ’n groter prioriteit as die land se dringende probleme gaan word. Dit is kortsigtig en sleg vir Suid-Afrika. Maak gordels vas – dit kan ’n rowwe jaar word.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
5 Kommentare
Uitstekend gestel dr. Pieter. Ons gordels bly vas elke dag
Hier in die 1980s rond het vele in die anti-apartheidstryd vuriglik gehoop die KP stof die NP in ‘n verkiesing uit. Ten spyte daarvan dat die KP dan soveel verder regs was. Waarom dan? Omdat hulle geglo het dat ‘n KP-regering selfs vinniger sou instort as wat die NP besig was om te doen. Of hulle reg was weet ek nie, maar ons is in ‘n soortgelyke posisie met die ANC. Die gedrog kan nie hervorm word nie, en ons enigste hoop is dat hy instort. Onder die RET-faksie gaan dit veel vinniger gebeur. Ek wag en hoop nie vir… Lees meer »
Ja, dit gaan altyd om die ANC en nie die land nie.