Wie is die nuwe leiers van die Europese Unie?

david-sassoli

David Sassoli is die nuwe Europese Parlement se president. Foto: CC-BY-4.0: © Europese Unie 2019 – Bron: EP

Einde Mei vanjaar was die verkiesing vir die Europese Parlement, wat in Junie gekonstitueer het. Daarna is tussen die verteenwoordigers van die verskeie alliansies in die Europese Parlement, asook die 28 lidlande se leiers, wat in die Europese Raad vergader, oor die topposte vir die nuwe termyn onderhandel. Daarby is die balans tussen die verskillende politieke groeperinge, tussen geslagte en tussen die verskillende lande en streke van die Europese Unie (EU) belangriker as die bekwaamheid van die kandidate. Dit lei tot kompromieë en die keuse van meesal middelmatige kandidate wat niemand opgewonde maak nie, maar wat vir die meerderheid aanvaarbaar is.

Die grootste alliansie in die Europese Parlement is die Europese Volksparty (EVP) bestaande uit Christen-Demokrate en gematigde Konserwatiewes en dié alliansie het gewoonlik aanspraak op die belangrikste pos, die president van die Europese Kommissie. Die tweede grootste, die Alliansie van Sosialiste en Sosiaal-Demokrate (S & D), kry dan gewoonlik een of twee ander prominente poste, soos die parlementspresident en die verteenwoordiger vir buiteaangeleenthede. Die groot lidstate Duitsland, Frankryk, Italië en Spanje waak daaroor dat hulle by ten minste een van die topposisies verteenwoordig is. Daarby is die Europese Parlement, wat deur die burgers van die EU verkies word, net een van verskillende sentrums van mag. Belangrik is ook die Europese Raad, wat uit die onderskeie regeringshoofde van die lidstate saamgestel word.

Die rolspelers onderhandel agter geslote deure om kompromiskandidate te vind in ʼn proses van gee en neem. Met die verkiesing van die Europese Parlement is die verwagting geskep dat die burgers van die lidstate vir ʼn sogenaamde topkandidaat van die onderskeie partyalliansies stem en dat die proses sodoende meer demokraties word. Omdat die alliansies egter geen meerderhede vir hulle kandidate kon organiseer nie, het die staatsleiers in die Europese Raad op ʼn reeks kandidate ooreengekom. Die Europese Raad het dus die Europese Parlement uitoorlê, maar die parlement kan wraak neem deur teen die voorgestelde kandidate te stem.

Die enigste toppos wat bevestig is, is dié van die parlementspresident. Die Italianer David Sassoli is met ʼn meerderheid van 345 uit 667 stemme verkies. Hy behoort tot die Demokratiese Party, wat deel van die S & D-alliansie is. Sassoli is ʼn joernalis van opleiding en in Italië veral bekend as televisieaanbieder. Sedert 2009 is hy lid van die Europese Parlement en was in die vorige termyn sy visepresident. Hy het gewen teen kandidate van die Groenes, die Verlinkses en die Euroskeptiese Alliansie. Die EVP het geen eie kandidaat gestel nie omdat ooreengekom is dat Sassoli ná die helfte van sy termyn sal plek maak vir die Duitse Christen-Demokraat Manfred Weber, wat die posisie as troosprys kry nadat hy nie daarin kon slaag om presidentskandidaat van die Europese Kommissie te word nie.

Die belangrikste pos is dié van die president van die Europese Kommissie. Die aangewese kandidaat is Ursula von der Leyen, tans Duitse minister van verdediging en ʼn vertroueling van kansellier Merkel. Sy is tuis onder druk weens haar onbekwame hantering van haar portefeulje, met aantygings van korrupsie en swak finansiële bestuur. Sy is ook nie verkies tot die Europese Parlement nie en het geen spesifieke kennis van die Europese politiek nie. Sy lyk na ʼn vreemde keuse, maar is die kleinste gemene deler wat vir alle staatsleiers aanvaarbaar was. Sy is as Duitse Christen-Demokraat in ʼn sekere sin die plaasvervanger vir die eintlike kandidaat van die EVP, Manfred Weber, teen wie Frankryk se president Emanuel Macron beswaar gemaak het. Die S & D-alliansie se kandidaat Frans Timmermans was weer vir talle in die EVP en veral vir die Oos-Europese state onaanvaarbaar. Toe die parlement nie ʼn konsensuskandidaat kon kry nie, het die Europese Raad op aanbeveling van Merkel nou von der Leyen voorgestel. Of sy die nodige meerderheid in die parlement kry, is egter ʼn ope vraag.

Die pos van verteenwoordiger vir buiteaangeleenthede gaan na die Spanjaard Josep Borrell toe, wat tans sy land se minister van buitelandse sake is en tot die S & D-alliansie behoort.

President van die Europese Raad (wat die staats- en regeringsleiers verteenwoordig) word die Belgiese eerste minister Charles Michel, wat deel van die Liberale Alliansie is.

Laastens is daar nog die posisie van die president van die Europese Sentrale Bank, wat aan die Franse Christine Lagarde gaan. Sy was voorheen direkteur van die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) en in ʼn vroeëre stadium minister van ekonomie en finansies in die Franse regering.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Merkur ·

´n Lagwekkende redekawely oor EU poste deur die politieke toneelspelers.
Op die ander kant was die oorspronklike „keuse“ tussen Manfred Weber en Frans Timmermans maar ´n keuse tussen pes en cholera.
Daar word gehoop dat Ursula von der Leyen die EU net so vinnig sal ruineer soos sy die Duitse weermag ruineer het. Terwyl sy openlik van ´n EU-weermag fantaseer.
Miskien interessant om te weet dat in die EU verkiesingstelsel ´n stem uit Malta of Luxemburg baie meer gewig het as ´n stem uit byvoorbeeld Duitsland of Frankryk.

Jan ·

As die afrikaners maar net wil verstaan dat alle lande in die wereld dear dieselfde mense regeer word…die europese parlement is maar deel van die groter eenwereldregering…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.