Wie is die regte Ramaphosa?

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Elmond Jiyane.

Sal die regte Cyril Ramaphosa asseblief opstaan?

Daar was ʼn TV-program waar die gehoor tussen drie persone moes raai wie die regte mnr. Botha of Du Toit is. Die program eindig waar die aanbieder sê: “Sal die regte mnr. Botha opstaan.”

Suid-Afrika vra dieselfde vraag: “Sal die regte Ramaphosa asseblief opstaan.”

Is Ramaphosa ʼn baie ryk kapitalis sakeman wat in sy vrye tyd met beeste en wild boer? Is Ramaphosa ʼn oortuigde sosialis en goeie Cosatu vakbondman? Is Ramaphosa ʼn lojale ANC-kader wat die ANC en sy beleid bo alles stel?

Hoe is dit moontlik dat die sakewêreld en die SAKP albei in hulle skik is met sy verkiesing? Hoe kan Cosatu en die ANC vir Ramaphosa steun? In die Zuma-tyd het Cosatu ernstig met die ANC gebots.

Zuma is tydens sy staatsredes deur die EFF uitgejou. Vanjaar gee die EFF staande applous vir Ramaphosa ná sy staatsrede.

Al hierdie teenstrydighede is moontlik omdat Ramaphosa tot op datum alles vir almal was. Dit het hom president gemaak. Hy sal nie langer daarmee kan wegkom nie. Suid-Afrika is ekonomies in die moeilikheid. Daarom sal hy moet begin leiding gee. Watter kant toe hy ook al leiding gee, gaan hy van hierdie uiteenlopende groepe kwaad maak.

Natuurlik wil Ramaphosa ʼn sukses van sy presidentstermyn maak. Die sleutel tot sukses is dat hy die ekonomie moet regruk. Tans betaal Suid-Afrika R1 miljard elke 48 uur net om die rente op ons skuld te dek. Die ekonomie moet baie groei om ons uit die skuld te kry.

Werkloosheid en korrupsie is verdere ernstige probleme. Suid-Afrika kort buitelandse beleggings om hoë werkloosheid te verminder. Beleggers kyk na staatsdepartemente soos die tesourie, staatsondernemings, energie en minerale voor hulle besluite neem.

Vir sy aankondigings hieroor, moet Ramaphosa erkenning kry. Hy het nie gehuiwer om mense soos Nene en Gordhan, waarin die sakewêreld vertroue het, in hierdie kabinetsposte aan te stel nie. Deur hierdie ministers weer aan te stel, het hy ʼn streep deur Zuma se afdankings van die laaste jaar getrek.

Hy het verder nie gehuiwer om die Eskom-raad te vervang; om die appèl teen die Shaun Abrahams-hofbevel terug te trek nie terwyl lasbriewe vir die Guptas uitgereik is.

Ramaphosa was verder dapper genoeg om tien swak ministers af te dank.

Hierdie stappe stuur die regte boodskap. Is die regte Ramaphosa die een wat die ekonomie verstaan en dit sal kan herstel?

Maar net toe die vreugdevure aangesteek is en die buitelandse beleggers hulle somme begin maak, kondig hy in sy staatsrede grondonteiening sonder vergoeding aan en behou hy ʼn hopelose minister soos Bathabile-Dlamini in die kabinet. Is dit die ander Ramaphosa wat hier praat? Ramaphosa die groot sosialis en ANC-kader wat blindelings beleid uitvoer al vernietig dit die land?

Grondonteiening sonder vergoeding is grondsteel. Dit is wat die Zimbabwiese ekonomie vernietig het. Dit skrik alle beleggers af, blus die vreugdevure en vernietig die hoop wat in die eerste paar dae ná sy staatsrede opgeflikker het.

Die 2016-verkiesing het gewys dat die ANC se steun daal. Ramaphosa kan nie bekostig om voor die 2019-verkiesing enige ongelukkige leiers daar buite te hê nie. Die swak pro-Zuma-ministers wat in die kabinet behou is, kan as kompromieë met die oog op die verkiesing verduidelik word. Ramaphosa het die nuwe ministers telefonies van hulle aanstelling ingelig deur te sê: “Ek en die sekretaris-generaal (Magashule) is hier. Ons het besluit om jou aan te stel as so-en-so se minister.” Duidelik nie ʼn “Ramaphosa alleen”-aanstelling nie maar ʼn onderhandelde “ons”-aanstelling. Oor die langer termyn sal hy van hierdie kompromie-ministers ontslae raak, terwyl hulle nou nie veel skade kan doen nie.

Grondonteiening sonder vergoeding kan egter nie as ʼn kompromie verduidelik word nie. Die ekonomiese skade wat die parlementmosie aangerig het, sal nie so maklik oor die langer termyn herstel nie. Die toekoms sal wys hoeveel van die positiewe kapitaal waarmee Ramaphosa begin het, hy hierdeur verloor het.

Gerugte doen die ronde dat Ramaphosa die skade van die kongres se onteieningsbesluit besef, maar dit nie kon keer nie. Sy ondersteuners het wel die voorwaardes bygesit dat die besluit nie voedselsekuriteit of finansiële skade mag aanrig nie om die besluit tot ʼn mate te neutraliseer.

Ramaphosa was duidelik nie voorbereid om so gou die werklikhede van die kongresbesluit in die parlement te moes hanteer nie. Hier het Malema hom uitoorlê met sy binne-inligting van die ANC se interne verdeeldheid. Met hierdie binne-inligting druk Malema die regte knoppies en maak ʼn verleentheid vir Ramaphosa.

Verder was dit ʼn fout om Nkwinti die debat te laat hanteer. Hy het dit uiters lomp gedoen en verleë oor sy voete geval om die EFF te bedank vir die mosie. Enkele maande gelede nog het die ANC ʼn soortgelyke EFF-mosie met hand en tand beveg. Met Nkwinti se toespraak was dit onmoontlik om enige verskille tussen die EFF en die ANC se standpunte te kon insien, al was daar ʼn ANC-amendement. Die gevolg is dat die radikale anti-wit sentimente, wat nog altyd deel was van die ANC se jonger lede en agterbankers, deurgekom het as die enigste ANC-siening.

As die EFF en die radikale Zuma-faksie in die ANC die oorhand kry in die grondonteieningsdebat, verdwyn Ramaphosa se hoop op ekonomiese groei en buitelandse beleggings. Sy “new dawn” word vinnig ʼn sonsondergang waarna hy in die donker vir die res van sy termyn spartel om Suid-Afrika se skuld te betaal sonder noemenswaardige ekonomiese groei met verdere afgraderings.

Ná die grondwetlike onderhandeling in die negentigerjare sê Ramaphosa in ʼn BBC-dokumentêr die volgende oor FW De Klerk: “In his speech on the second of February 1990 he thought that by unbanning the ANC, he would be able to control political events in our country. I don’t believe that he knew that he was actually unleasing a force, which he would find far, far, far beyond his own political imagination and control.”

Is Ramaphosa rondom grondonteiening nie presies in so ʼn posisie met magte los wat hy nie sal kan beheer nie? Oor die kort termyn wou hy eers die 2019-verkiesing wen om daarna die ekonomie reg te ruk. Om die verkiesing te kan wen was hy bereid om oë toe te knyp vir die wilde uitsprake van sy Zuma-vleuel. Hy hoop ook die skade wat die EFF en Nkwinti met die grondonteieningsmosie veroorsaak het, sal deur die sakewêreld en buitelandse beleggers vergeet word.

Sal die regte Ramaphosa asseblief opstaan?

Daar is te min tyd om tot met die verkiesing alles vir almal te wees en te hoop dat hy daarna die ekonomiese skade sal kan red.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Pieter Mulder

Dr Pieter Mulder is ’n voormalige VF Plus-leier, voormalige parlementslid en professor.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Genieve ·

Ja ek stem dat die regte CR navore moet kom en SA belange op sy hart moet dra daar is teveel binnegevegte en hoe gaan hy as die president hom kan bewys dat SA en sy mense nie net wit of swart nie maar kleurlinge ook ingesleut want ek oor net hulle noem Black and white in die parlement hom kan vertrou.

Gerhard ·

Miskien moet die vraag eerder wees, maak dit saak wie die regte Ramaphosa is? Kan hy regtig wat aan die kom is stop al wou hy? Dan ook, besef hy nie maar net wat gaan gebeur nie en bestuur dit maar net tot sy eie gewin? Dit is immers wat Robert Mugabe gedoen het.

Eish ·

Soos altyd is Mnr. Mulder se pennevrug iets om na uit te sien.
Ek is bevrees ek het nie veel meer moed vir die helhool nie.
Afrika is besig om ons uit te spuug.
Ons, wat by verre in die minderheid is, is ek bevrees, uit n menslike oogpunt, is voor n keuse van ” Adapt or die”
Slegs op ons knieë voor die Skepper van die heelal, is ons uitkoms te vinde.
Van wat nou plaasvind, is ons net toeskouers.

Pietman ·

In die geval gaan die nuwe besem nie alles dadelik skoonvee nie. Ramaphosa sit in ‘n onbenydenswaardige posisie waar hy balanseertoertjies moet uitvoer tussen belange wat nie met mekaar vereenselwig kan word nie. Wat ookal sy werklike intensies sou wees gesien teen die realiteit van die heersende belangekonflik gaan dit nie noodwendig so kristaliseer as wat ons sou wou gehad het nie. Dit is letterlik soos ‘n trapsuutjie wat hier trap en daar trap sonder om daadwerklike vordering te maak.

Cherokee ·

Die werklike Ramaphosa was vir sowat twee termyne in die tweede hoogste posisie in die land. As adjunk staatshoof het hy hom geensins gesteur aan wat Zuma doen nie. Geen rede om te dink hy gaan nou anders wees nie.

Jerry ·

CR en die ANC gematigdes het hulle intensies duidellik gemaak toe hulle Zupta gestop het en SA kort van die afgrond van anargie gered het. CR en sy lojaliste het reeds dit duidellik laat blyk deur uitsprake en optredes dat geen, maar geen onwettige optredes en grondgrype geduld sal word en gewaarsku dat wetstoepassers sal optree, wat dan ook al die geval was, alhoewel miskien nie heeltemal effektief en oortuigend nie. CR het ook duidellik gewys dat politieke stabiliteit sy nommer 1 prioriteit is ten einde beleggersvertroue te herstel. 2 de prioriteit was beleidsrigtings wat vertroue skep vir ekonomiese groei en werkskepping. 3 de prioriteit die uitroei van korrupte amptenary. Die ware CR is n geduldige mens met goeie intensies teenoor alle Suid Afrikaners wat SA n beter plek wil maak vir almal. Diegene wat egter daarop uit is om politieke stabiliteit in die land te bedreig deur hulle belange bo ander Suid Afrikaners se belange te plaas sal soos paddatjies stadig maar seker braai!

Denise ·

Ek is bevrees hy het te veel MASKERS wat hy agter skuil so dit gan vir hom moeilik wees om homself te wil wys !!!!!! Tragies ????

V ·

Oscar Wilde het gesê: “Give a man a mask and he will show his true face”

Gerhard ·

CR sit met die selfde probleem as wat enige Afrika leier sit en dit is die onmoontlike verwagting om die swart werkersklas op te hef tot op n standard soortgelyk aan dit wat blankes geniet. Dit is iets wat geen Afrika leier nog ooit kon regkry nie en om te dink CR kan so iets regkry is bloot wensdenkery. ‘n Groter waarskynlikheid is dat die groepe wat bloot blanke welvaart wil vat en herverdeel sal groei todat dit nie gestuit kan word, soos wat dit in die res van Afrika gebeur het.

Paul Schultz ·

Moenie luister na wat hy sê nie. Kyk na wat hy doen. So byvoorbeeld het hy gesê grondgryp sal nie geduld word nie. Dit gebeur nou op grootskaal. Word dit enigsins op grootskaal stopgesit?

Gerhard ·

Klaarblyklik net as die howe gebruik word om hulle te dwing om dit te doen.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.