Wie is die ware Ubuntuniers?

Du Preez de Villiers

Deur Du Preez de Villiers 

Hoe lank moet ons nog voete was?

Hoe lank moet ons nog voete was?

Hoe lank moet ons nog voete was my baas?

Totdat die government vergeet van ras

Totdat die budget almal se sakke pas

Totdat die struggle eendag klaar is, ja my baas

Hoe lank moet ons nog voete was?

Koos Kombuis – “Hoe lank moet ons nog sorry sê”, uit sy Bloedrivier-album

Die apartheidsangel was weer uit ná FW de Klerk se onlangse uitlating en het links en regs na al wat ’n wit mens gesteek wat ná ’n kwarteeu steeds nie boetvaardig genoeg klink nie. Dit is inderwaarheid ’n algemene verskynsel. Met elke voorval waar ’n wit persoon so effens van die hoofstroommening afwyk, word die verlede met hernude ywer afgestof en argumente gehersirkuleer. Die heftige reaksie op hierdie klein minderheidsgroepie van 8% se uitlatings is verstommend, maar dit spreek boekdele…

Dit is ook uiters vreemd dat hierdie reaksies al hoe feller word hoe verder ons van apartheid wegbeweeg. Mens sou sweer dat hierdie broederskap wat steeds die droom van multikulturalisme najaag en besef dat dit nou ineenstort, angstiger word en nou na enige strooihalm gryp om hulself te regverdig en hul verleentheid te verberg. Vae, valse en ontoetsbare beskuldigings van bevoorregting, gronddiefstal, ongelykheid, strukturele rassisme en witmonopoliekapitaal doen die rondte in hoofstroommedia. Hierdie “duiwel” agter die klip moet lewendig gehou word en sigbaar bly, anders val hul hele politieke diskoers plat op sy gesig.

Om balans in hierdie gesprek te bring, sal dit insiggewend wees om ’n draai in die onlangse verlede te maak om te sien wat wit leiers en wit mense as ’n kollektief gedoen, toegelaat en opgeoffer het om nasiebou in hierdie land te bevorder.

Met die val van Kommunisme in 1989 het die wêreld met afgryse verneem van die ellende wat hierdie ideologie veroorsaak het. Ten spyte daarvan en ter wille van versoening is die SAKP (Suid-Afrikaanse Kommuniste Party) saam met die ANC ’n jaar later ontban. Die SAKP is ook toegelaat om saam met die ANC en Cosatu die drieparty-alliansie te vorm wat die lot van Suid-Afrika in hul hande geneem het.

Die Kodesa-onderhandelings het in 1991 afgeskop. Altesaam 19 partye en groepe wat die meerderheid Suid-Afrikaners en die destydse tuislande verteenwoordig het bymekaargekom om hul insae te gee. In Maart 1992 het ’n oorweldigende 68,7% van wit mense in ’n referendum gestem dat daar verder met die ANC onderhandel moet word en om ’n einde aan apartheid te bring.

Ten spyte van gewelddadige konflik tussen die ANC en IVP, wat in ’n aparte stryd gewikkel was oor wie in die nuwe bedeling sou regeer, het die NP-regering dit reggekry dat al die partye mekaar in September 1992 rondom ’n memorandum van verstandhouding vind.

Aanvanklik was daar heelwat onderlinge verskille, maar hierdie onderhandelinge was die aanloop tot die eerste demokratiese verkiesing op 27 April 1994. Alhoewel regse groepe aanvanklik gemobiliseer het vir ’n gewapende konflik en enkele terroristiese dade gepleeg het, het die meerderheid uiteindelik hul wapens neergelê om vreedsaam onder die Vryheidsfront aan die verkiesing deelgeneem.

Die ANC het die 1994-verkiesing met ’n oorweldigende meerderheid gewen en Suid-Afrika is as die bakermat van vreedsame, demokratiese hervorming geloof. Die nuwe vlag is deur wit mense met oorgawe vertoon en gewaai. Die euforie en optimisme was tasbaar.

In 1994 is die Heropbou- en Ontwikkelingsprogram geïmplementeer om huise, skoon water, elektrisiteit, grond, gesondheidsorg, paaie en rioolwerke vir voorheen benadeeldes te voorsien. ’n Onberekenbare hoeveelheid geld is daarin gestort en wit mense het sonder teëstribbeling van hul belastinggeld daarvoor opgeoffer.

In 1996 het die Waarheids-en-Versoeningskommissie (WVK) se verhore begin. Die hooffokus was op wit regeringsamptenare, politici, aktiviste en polisie- en weermaglede wat aan uitgerekte en deurtastende verhore onderwerp is om hul aandeel aan apartheid te verduidelik en om jammer te sê. Dit was hul kaartjie vir amnestie. Voorheen benadeeldes is die geleentheid gebied om hul saak te stel en verskoning te eis en kon selfs aansoek doen vir herstelbetalings uit die Presidensiële Fonds. Studente kan vandag nog aansoek doen vir WVK-beurse as hulle kan aandui dat hulle weens apartheid benadeel is. Ten spyte van beperkte plaaslike kritiek, is die WVK wêreldwyd geloof as een van die mees suksesvolle versoeningsaksies en die model is as basis gebruik vir soortgelyke toekomstige prosesse elders.

Die hersetknoppie was uiteindelik gedruk en konsensus is bereik (deur, onder andere, Nelson Mandela) dat Suid-Afrika se voorland nou slegs versoening, samewerking, vrede, geluk, nasiebou, groei en vooruitgang is.

In 1996 is ’n inklusiewe, liberale grondwet gepromulgeer en in 1997 is “Nkosi Sikelel‘ iAfrika” as die nuwe volkslied aanvaar en is uit volle bors by sportbyeenkomste gesing. Ons moet in gedagte hou dat daar onder wit regse groepe baie teëgestribbel is, maar in die wêreld van politiek beoordeel mens ’n groep aan wat die demokratiese meerderheid sê. Dit is dus ontoepaslik om die randfigure en -groepe as verteenwoordigend te sien.

In 1997 het Thabo Mbeki regstellende aksie ingestel en wit mense was bereid om vir ’n wyle aan die agterspeen te suig sodat gelykheid spoedig bereik kon word.

Grondhervorming het in 2000 gevolg en baie wit boere het hul familieplase waarop eise ingestel is, net so aan die staat verkoop sodat die restitusieprosesse vinnig en suksesvol kon verloop. Wit kommersiële boere en georganiseerde landbou het ontsaglik baie moeite en geld ingesit om swart mense te help en te konsulteer en mentorprogramme van stapel te stuur en te bestuur.

In 2003 is daar besluit dat regstellende aksie onvoldoende is en swart ekonomiese bemagtiging is afgekondig. Hierdie diskriminerende wetgewing word tot vandag toe steeds uitgebrei en in ander wette ingeweef om dit meer doeltreffend af te dwing. Straat- en dorpsname word steeds verander en ook sonder noemenswaardige teëstand aanvaar.

Die ekonomie het tussen 2001 en 2008 enorm gegroei en wit mense is geprys vir hul bydrae tot ekonomiese stabiliteit omdat so baie van hulle wat uit die staatsdiens gesit is, private ondernemings begin het en baie werk geskep het.

In 2010 het wit mense die Wêreldbeker-sokkertoernooi ywerig ondersteun – ʼn sport wat redelik vreemd onder Afrikaners is. ’n Gebeurtenis wat ons almal onthou, is toe die Bul-ondersteuners op Soweto toegesak het om die Super14-einstryd tussen die Bulle en die Stormers op Orlando-stadion te sien. Dié wit mense het ywerig saam met die plaaslike bevolking gekuier en bande gebou terwyl nasieboudoemprofete en skeptici deur die wit kollektief uitgejou en afgelag is. Die ganse Suid-Afrika was dit eens dat rasseverhoudinge gedurende daardie tydperk ’n piek bereik het.

Sedert die ekonomie in die Zuma-jare begin verswak het en omstandighede vir Suid-Afrikaners moeiliker geword het, het heelwat prominente swart leiers met geweldig baie invloed, hulself aan verdelende of ernstige haatspraak teen wit mense skuldig gemaak. Ons bespeur ’n toename in sulke insidente, maar die oorgrote aantal wit mense wat nog in Suid-Afrika agterbly, marsjeer steeds voort om die ideaal van ’n multirassige Suid-Afrika te laat gedy.

Die paar wit aktiviste wat hul misnoeë dalk te sterk verwoord, word deesdae hardhandig deur die media in die bek geruk en die Menseregtekommissie doen alles in hul vermoë om sulkes sommer uit eie inisiatief te vervolg.

Ten spyte van die skielike opkoms van die populistiese en antiwit EFF, wat subtiel volksmoord propageer en steeds toe gelaat word om aan parlementere debatte deel te naam, sien wit mense dit nie as ’n ooreenkomsbrekernie. Die meeste stem steeds getrou in die munisipale en nasionale verkiesings. Soveel so dat 68% van wit mense in 2019 vir die DA met ’n swart leier gestem het, wat as die offisiële opposisie, die grootste kans het om die ANC volgens aanvaarbare en demokratiese prosesse te vervang. Ironies genoeg het ’n meningsopname voor die 2019-verkiesing getoon dat ’n groep wit mense bereid was om vir die ANC te stem as Cyril Ramaphosa president word, op voorwaarde dat hy die ekonomie en staatsverval sal regruk. Daarteenoor word ’n verskoning aangevoer dat wit mense apartheid sal terugbring as daar nie vir die ANC gestem word nie. Uit ’n demografiese oogpunt is dit bloot lagwekkend.

Die jongste krisis wat getrotseer moet word, nadat grootskaalse grondhervorming toegepas en klaaglik misluk het, is grondonteiening sonder vergoeding.

Die kersie op die koek is ongetwyfeld die Solidariteit/AfriForum-groep en hul filiale wat uit sogenaamde regse geledere tot stand gekom het. Hulle gebruik geld uit eie geledere en fondsinsamelings om die aftakeling van Suid-Afrika te beveg sonder ’n sweempie van rassisme, terwyl ’n boodskap van opbou en hoop verkondig word. Die daadwerklikheid en geennonsens-optredes en uitlatings van AfriForum word ongelukkig soms as verdelend en polities inkorrek gesien, maar in ’n hiperverdraagsame land, waar geweld en verval genormaliseer word, kan mens dit te wagte wees.

Steeds word wit mense en apartheid beskuldig vir ’n noemenswaardige hoeveelheid ou en nuwe dinge wat verkeerd loop sonder hul toedoen, maar wit mense is oor die algemeen nie lief om ander te blameer vir sake wat verkeerd loop nie. Die redes kan wees dat ons witskuldkompleks na jare van demonisering té verlammend is, dat ons bloot net té trots is en dat dit onbeleef is om ander kultuurgroepe te kritiseer.

Maar die blywende vraag is steeds: Wat moet die 8% witmense nóg doen om te bewys dat hulle alles in hul vermoë gedoen het om die Suid-Afrikaanse droom te laat verwesenlik?

  • Du Preez de Villiers is ‘n landboujoernalis wat ook graag sy neus in politieke sake steek. 

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Annatjie

Geen kommentaar?…………. Ja ons skuldgevoel is so groot dat ons selfs as ons die waarheid hoor maar net swyg.

Johan Venter

Hoe verlang ek nou na Casper the friendly ghost en vriende Fatso, Stretch and Stinkie, maar vir die Afrikaner en die wit mense was dit te veel gevra dat die ANC drie, Mbeki, Zuma en Ramaphosa, die Nelson Mandela era blymoedig sou opvolg met vooruitgang en voorspoed vir ALLE inwoners van die land.

Frans

Hoekom is ons waar ons vandag is? Die antwoord moet gesoek word by wie by die Kodesaonderhandelinge betrokke was.As kommunis en Christen om een tafel vergader,kan jy net sowel ‘n vergadering tussen skaap en wolf reël en ky wie kom anderkant heelhuids uit. Daar moes nooit sulke ondehandelinge plaasgevind het nie,maar wel tussen leiers van verskillende bevolkingsgroepe ,wat hoe klein ook al ‘n gelyke stem in alle besluite het en met ‘n vetoreg oor dit wat hul eie is. Dit is nou eenmaal sou dat as jy ,soos F W de Klerk,alles vir almal wil wees,is jy op die ou… Lees meer »

SomeOne

“Maar Petrus sê vir Hom: “U sal in alle ewigheid nooit my voete was nie!” Daarop sê Jesus vir hom: “As Ek jou nie was nie, het jy nie deel aan My nie.””

waarom moet die lirieke ‘n bespotting van Jesus gemaak word waar Hy Sy Dissipels se voete gewas het, toegelaat word

Johan Venter

Ja, en mens kan byvoeg soos Dr Pieter Mulder tereg sê, die ANC se ekonomies ongeletterde leiers is ook die probleem.