Wie maak die Koue Oorlog warm?

akademia3

Flip Buys, uitvoerende hoof van die Solidariteit Beweging. Foto: Reint Dykema

Die een Verskriklike wat ons moet vrees, is die stilte wat oor die wêreld sal neersak wanneer daar nie meer binne die volke gepraat sal word nie, gestry, geredeneer nie; en die volke self teenoor mekaar nors en stil en sonder gesprek soos groot roofdiere sal lê.

~ N.P. van Wyk Louw

Daar is weer ʼn Koue Oorlog tussen die Weste en die Russe en hierdie oorlog word al hoe warmer. Een oordeelsfout in die konflik in Sirië of die Oekraine kan die lont vir ʼn veel warmer ‘regte’ oorlog aan die brand steek. Die vraag is watter kant moet die grootste skuld vir hierdie oplaaiende konflik dra.

Natuurlik beskuldig die Amerikaners en die Russe mekaar oor en weer. Die Weste voer aan die Russe se anneksasie van die Krim-skiereiland en hul agressiewe militêre hulp aan die diktatoriale Assad-regime in Sirië is voldoende bewys dat dit die Russe se skuld is. Daarby versterk President Vladimir Putin van Rusland se ondemokratiese bewind hul siening dat die Russe weereens ʼn bedreiging vir wêreldvrede is. Daarom het die VSA en Europa omvattende sanksies teen Rusland ingestel, om Putin te probeer dwing om terug te staan in die Oekraine en die Krim.

Maar is die saak so eenvoudig, dat ʼn ondemokratiese Russiese president weer die Russiese Ryk wil laat herleef deur ander lande kwaadwillig te onderwerp? Kom ons kyk vir ʼn slag daarna vanuit die Russiese oogpunt. Daarvoor is dit nodig om te weet hoe die wêreld gelyk het aan die einde van die vorige Koue Oorlog in 1990. Die destydse verswakking van Rusland het daartoe gelei dat die Weste en in besonder die VSA, na 1990 ʼn dominerende rol in Oos-Europa begin speel het. Hul doel was om demokrasie en kapitalisme in daardie lande te bevorder, na dekades van Kommunistiese wanbestuur en verdrukking.

Verwesters die Ooste

Maar in werklikheid het die eerste “skote” in die tweede Koue Oorlog reeds in 1995 geklap, met Navo se bombardering van Serwië, die Russe se bloedverwante en tradisionele bondgenoot. Rusland se destydse president, Boris Jeltsin, het woedend opgemerk dit is ʼn voorteken van wat kan gebeur as Navo tot teen die Russiese Federasie se grense uitbrei. Hy het skerp gewaarsku dat dit die “vlamme van oorlog regoor Europa kan laat uitbars”.

Maar ongelukkig het Westerse beleidmakers nie sy waarskuwing ernstig opgeneem nie en die Europese unie en die militêre Noord Atlantiese Verdragsorganisasie (Navo) het ooswaarts begin uitbrei. Dit het tot ʼn diplomatieke kettingreaksie gelei en by die Russe en hul bondgenote die indruk geskep dat die Weste met die miltêre uitbreiding van Navo in werklikheid die Koue Oorlog aggressief wou voortsit.

Die vet was in die vuur toe Westerse lande Rusland se buurman, die Oekraïne, by die Europese unie en Navo wou betrek.  Dit het gevolg op Navo se insluiting van talle ander lande wat tradisioneel in die Russiese invloedsfeer was, soos Hongarye, Pole en die Tsjeggiese Republiek in 1999. Die tweede ronde Navo-uitbreidings na voormalige Oosblok-lande vyf jaar later, het Bulgarye, Roemenië, Letland, Estland, Litaue, Slowakye en Slowenië ingesluit. Dit het destyds tot groot ontsteltenis in Rusland gelei, wat weens sy verswakking na die val van die Sowjetunie niks daaraan kon doen nie.

Bestaansbedreiging

Maar dit het die Russe ernstig laat waarsku dat hulle enige verdere ooswaartse uitbreiding van Navo as ʼn regstreekse bedreiging vir Russiese veiligheid sou sien. Russiese leiers het daarop gewys Amerika sou nooit toelaat dat enige ander moondheid Amerikaanse buurlande in ʼn militêre alliansie teen die VSA betrek nie. Dink byvoorbeeld hoe Amerika sou reageer as China ʼn sterk militêre alliansie sou opbou en Kanada en Mexiko daarby wil betrek!

Dit was nie net Russiese leiers wat teen die Navo-uitbreiding gekant was nie. Die VSA se veteraan diplomaat, George Kennan, het self gewaarsku die ondeurdagte uitbreiding van Navo in die Russiese invloedsgebied sou Rusland tot vyandskap dryf. Frankryk en Duitsland het self bekommerd begin raak dat die intrek van tradisioneel Russiese bondgenote in ʼn Westerse militêre alliansie Rusland ernstig kan vervreem. Hierdie waarskuwings het egter op dowe ore geval en in 2008 het Navo verder oos begin kyk en planne begin maak om Georgië en die Oekraïne ook in te lyf.

Dit was die finale strooi wat die kameel se rug gebreek het en Rusland het Georgië in 2008 ingeval om te keer dat dit deel van Navo word. Die Weste het nie hierdie waarskuwing ernstig opgeneem nie en in 2009 het Navo Albanië en Kroasië ook as lede toegelaat.

Die Weste het deurlopend die geurige wortel van ekonomiese voordele gebruik om die verarmde eertydse Russiese bondgenote na die Weste te lok. Die ironie van die Westerse strategie om Navo in 2014, as die honderdste herdenkingsjaar van die Eerste Wêreldoorlog te vergroot, is dat hierdie oorlog juis ontstaan het weens die uitgebreide alliansiestelsels wat ʼn globale oorlog onafwendbaar gemaak het toe konflik met net een lidland uitgebreek het.

Westerse waardes

Maar die Russe was nie net ontsteld oor die Westerse politieke- en militêre inmenging in hul tradisionele invloedsfeer nie. Die Westerse pogings om hul waardes en stelsels na die Oosblok uit te voer, is deur die Russe vertolk as ʼn veldtog om die “ooste te verwesters”.

Die VSA het sedert 1991 byvoorbeeld meer as $5 miljard bestee om die politiek in die Oekraïne te beïnvloed, deur onder meer Westersgesinde partye en leiers te befonds om Westerse “demokrasie te bevorder”. Nadat die pro-Russiese president, Yanukovych, in 2010 demokraties in die Oekraïne aan bewind gekom het, het Amerikaanse “pro-demokrasie”-organisasies, wat deur die VSA befonds is, teen hom gedraai en die opposisie begin steun, wat uiteindelik tot sy ondemokratiese omverwerping gelei het. Dit het nie die Russe gepaai dat hy ʼn swak en korrupte president was nie.

Terselfdertyd het Amerikaanse leiers, wat in die Oekraïnse bewindsverandering betrokke was, soos Carl Gershman, die president van die Stigting vir Demokrasie, begin uitsprake maak dat hulle Rusland en die Poetin-bewind self in die oog het. Westerse liberale sien Westerse liberale stelsels as die algemene wêreldstandaard waaraan alle lande moet voldoen. Hulle wil nie daarvan hoor dat die afdwing van Westerse stelsels tot ʼn teenreaksie onder nie-Westerse moondhede, soos Rusland en China, kan lei, wat dan weer tot nadeel van die Weste en liberalisme kan strek nie.

Napoleon en Hitler

Die omverwerping van die Oekraïnse president vroeg in 2014 het die Russe laat optree en Russiese magte het die Krim-skiereiland binnegeval. Die Krim was vir eeue lank deel van Rusland, maar is in die laat vyftigerjare deur die Sowjetunie se president Khrushchev na die Oekraïne oorgedra om sy lojaliteit aan die USSR te verseker. Die Krim se bevolking is oorwegend Russe, wat na die verbrokkeling van die USSR deurlopend gevra het om weer deel van Rusland te word. Daarby is die Krim van strategiese militêre belang vir Rusland, soos die hawe van Sewastopol, wat die tuiste van die Russiese Swartseevloot is en die enigste vlootbasis van die land wat nooit vasvries nie.

Die Oekraïne is histories ʼn belangrike buffer vir die Russe teen invallers uit die Weste.

Napoleon se soldate het in die vroeë 1800’s daardeur ingeval en die Duitsers in die Eerste- én die Tweede Wêreldoorlog. Daarom het Poetin met ʼn aggressiewe teenstrategie in die Oekraïne begin, veral in die ooste van die land, waar etniese Russe ʼn groot meerderheid van die bevolking vorm.

Die optrede van die VSA het die Russiese vrees bevestig dat die Weste besig is om Rusland self te bedreig, toe die Amerikaanse vise-president Joseph Biden en die direkteur van die CIA, John Brennan, tydens besoeke aan die Oekraïne steun beloof het teen die Russe. Die president van die Europese Unie, Manuel Barroso en Navo se sekretaris-generaal Anders Rasmussen, het die Russe ook die harnas ingejaag met hul aanbod om die Oekraïne se militêre vermoë te help uitbou.

China en die Islam

Die Weste se vervreemding van Rusland is hoogs waarskynlik musiek in die Chinese-, Islam- en Indiese ore. China en die Moslem-wêreld word gewoonlik gesien as die twee belangrikste magsblokke wat die Weste moontlik kan bedreig. Daarom is daar allerweë verwag dat die Weste strategies nader sou beweeg aan Rusland en Indië, omdat hierdie lande self vir China en Moslemlande  as moontlike teenstanders sien. ʼn Internasionale bondgenootskap tussen die Weste, Rusland, Indië en Japan sou die globale magsbalans beslissend in die Westerse guns laat swaai, en vir dekades vrede en die Westerse oorheersing van die wêreld verskans. Maar die Westerse strategiese fout om Rusland te vervreem, het tot ʼn historiese herskikking van die globale magsbalans gelei, presies ʼn eeu na die Eerste Wêreldoorlog. Die belangrikste magsverskuiwing was dat dit Rusland, China en Indië in mekaar se arms gedryf het, en die Weste gelyktydig isoleer het. Indien die Weste nie dramatiese stappe doen om hierdie magsverskuiwing om te keer nie, kan dit onomkeerbare gevolge hê vir Westerse waardes soos demokrasie, menseregte en die markekonomie. Die ironie is dat die Weste se groeiende isolasie juis spruit uit hulle projek om hierdie waardes op die ander magsblokke af te dwing.

Die Sjanghai Samewerkingsorganisasie (SCO)

Die Chinese het nie op hulle laat wag nie, en besluit op ʼn strategie om nie net die bestaande Westers-oorheersde wêreldorde uit te daag nie, maar om ʼn nuwe orde onder Chinese leiding te bou. Die SCO is die Oosterse weergawe van Navo, en het net na Navo se bekende beraad in Wallis hulle beraad gehou, met gesamentlike militêre oefeninge in China. Die SCO sluit onder meer reeds China en Rusland in, met Indië en selfs Pakistan wat graag lede wil word. Maar dis nie die enigste anti-Westerse blok wat gevorm is nie. Die Chinese, Russe, Indiërs en Brasiliërs se “Brics” het Suid-Afrika ook betrek, met die waarskynlike doel om Afrika verder uit die Westerse invloed te kry. Daarby het die Russe ook ʼn teenvoeter vir die Europese unie en Navo gestig, saam met lande soos Belarus en Kazakstan.

Herleef in plaas van oorheers

Die globale magsbalans het in 2014 dramaties verander – en gelei tot ʼn nuwe Koue Oorlog tussen die groot moondhede. Dit maak die wêreld ʼn gevaarliker plek, omdat wêreldvrede grootliks deur die magsbalans tussen groot lande bepaal word – hoewel die nuwe Koue Oorlog nog nie met die vorige een vergelyk kan word nie. Die grootste verloorder in hierdie herskikking van die globale magsbalans is die Weste, met China as die grootse wenner.

Dit is natuurlik nog te vroeg om te voorspel waar al hierdie internasionale skuiwe gaan eindig, maar die Weste behoort die Harvard professor Sameul Huntington se raad te volg. Hy het met verwysing na globale ontwikkeling en die internasionale demografiese veranderings, gesê dat die Weste nie verder moet probeer om die wêreld te oorheers nie, maar eerder om hulself te laat herleef.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

33 Kommentare

Therese van Schalkwyk ·

En na die lees van hierdie briljante stuk kan die vraag met reg gevra word of daardie ‘bespotlike, ploerterige’ Donald Trump regtig so verkeerd is om eerder ‘n vriend as ‘n vyand van Vladimir Putin te maak?

Magaretha. ·

Theresa Ek wonder net of jy nie skaam kry om n mens so sleg te maak in jou beskrywing van Donald Trump. Ken jy hom? Het jy hom ontmoet? Of glo jy alles wat die media aan jou voorhou. Ten minste het hy om verskoning gevra vir wat hy verkeerd gedoen het maar dit lyk my almal eien hulle die reg toe om vry te spreek of dinge teen hom te hou. Ons woon in UK en dink hy sal n fantastiese president uitmaak aangesien hy eerder vrede soek in n tyd van oorloglustige mense. Daar is groot geld in oorlog maak Al die wapens moet erens gekoop word en dis gewoonlik van USA of UK wat nie omgee wat met die wapens gemaak word nie.
Wat Putin aanbetref Niemand wil dit weet nie maar hy is n Christen en al die dinge wat aan hom toegedig word is nie die waarheid nie Vandag kan jy nie vertrou wat jy in die media hoor nie. Hulle gee net deur wat hulle wil he jy moet hoor. Pasop dit kos n ploert om n ploert uit te ken Ek hoop nie dis van toepassing nie maar dat jy maar net verlei is om so te praat. My Bybel se salig is die vredemakers. So ek soek ook nie onvrede met jou nie.

Therese van Schalkwyk ·

Ontspan, die woorde is in komma’s om aan te dui dat dit nie my mening is nie. Meer noukeurig lees, Magaretha!

Magaretha ·

Therese
Dankie vir die regstelling. Ek is so gewoond aan mense wat Trump en Putin slegse sonder enige bewyse.

John ·

Mnr Buys jou kop is reg aangeskroef. Moet nie daarmee laat peuter nie. Hou selfs jou tandarts en haarkapper fyn dop…

Nico K ·

Ek moet net byvoeg. Die lande wat by Navo aansluit doen dit uit vrye wil. Die teenvoeter van Rusland is om Georgië binne te val. Dit is ‘n groot verskil. Navo sukkel nie eintlik om sy invloed uit te brei nie. Die lande val oor hul voete om dit te doen. En is daar regtig ‘n verskil tusssen Oos- Europa en Wes- Europa. Histories was daar geen. Rusland, Hongarye, Pole ens. was al die jare bondgenote van lande in Wes Europa. Dit is kommunistiese Rusland wat hierdie verskil met militêre mag afgedwing het. En dit is Rusland wat probeer vasklou aan mag omdat hy nie ekonomies met Wes Europa kan kompeteer nie.

Tiaan ·

Nico, daar is verseker invloed vanaf die Weste om lande by NAVO betrokke te maak. Dit is ook opmerklik dat NAVO die Russe uitdaag, deur gereelde militere oefeninge naby die Russiese grens. ‘Kommunistiese Rusland’ opmerking is onwaar aangesien Rusland ‘n demokratiese land is waar heelwat gelowe vrylik beoeven word.

Elisabeth ·

Nico is korrek. Verder wat in Oekriäne en in Sirië plaasvind was dat die plaaslike bevolking meer na die Weste wou beweeg. Sirië wil ‘n demokrasie implementeer maar dit was Al-Assad wat teen die UN se reëls die mense begin bom het. Navo tree op meer oor wat in die see aan die gebeur is. Daar is verskillende punte wat nie eindelik met mekaar te doene het nie maar op dieselfde tyd en met hoë tempo gebeur. Russe is nie vertroubaar nie.

Hein ·

Twee baie belangrike punte moet genoem word.
Ten eerste het Rusland nie Georgië binnegeval nie. Georgië het 2 wegbreek streke, Suid-Ossetië en Abkhazia wat na die burgeroorlog in die vroeë 90’s tot stand gekom het. Die burgeroorlog het gespruit uit die verbrokkeling van die USSR, met die 2 streke wat deel van die Russiese Federasie wou bly instede van om deel van Georgië te word. Sedertdien is Russiese, Georgiese en Suid-Ossetiese vredesmagte daar gestasioneer. In 2008 het Georgië die vrede verbreek deur Tshkinval, die hoofstad van Suid-Ossetië binne te val, juis toe spanning tussen Rusland en Navo hoogty gevier het oor Georgië. Die Russe het natuurlik daarop gereageer. Die inval was onder Pres Saakashvili, wat interessant genoeg na die Maidan Revolusie in die nuwe regering van die Oekraïene ingesluit is.

Ten tweede was daar ‘n referendum in die Krim gehou na die sg Maidan Revolusie, wat openlik deur die Weste gesteun is, waar die oorweldigende meerderheid van die Krim se bevolking gestem het vir onafhanklikheid, en insluiting by die Russiese Federasie. Rusland het dus nie die Krim geannekseer soos in die hoofstroom media beweer word nie.

Theuns ·

Flip dis ‘n uitstekende ontrafeling van die omstandighede ten gunste van die Russe en ten nadele van die Weste. Maar ‘n mens moet dieper kyk. Onthou die Russiese Komunistiese Stelsel voel niks vir sy mense nie of ander lande se mense nie en mense is baie laag op hulle priorteits vlak. Soos in Suid Afrika is daar net “usefull Idiots” wat by die trog vreet! Vir die ander wat nie so bevoorreg is nie is daar uiterste armoede en mense-regteskendings. Indoktroneering speel ook ‘n groot rol sodat mense in die russies sfeer moet glo hulle stelsel is die beste. Sodra mense vir hulle self begin dink is hulle in groot moeilikheid! Vir die Russe gaan dit oor eindom en oorheersing en selfs Hospitale en kinders sal nie in hulle pad staan nie. Dink jy regtig die Russe is beter as ISIS? Ek glo nie. Die probleem is dat ISIS in die Russe se invloedsfeer in beweeg het! Ek persoonlik bly liewer onder ‘n Westerse Demokrasie as onder ‘n komunistiese stelsel! Groete Flip! Julle doen goeie werk!

DewaldS ·

Om iets nuttigs van jou skrywe (wat sonder enige feite en propvol propaganda en narratiewe gelaai is) te maak , kan mens telkens Rusland en Russies met VSA en Amerikaans vervang. Behalwe nou vir die stukkie van Isis – ek dink jy kan daarna verwys as ‘n Amerikaanse skepping. Dan lees dit nie te sleg nie – steeds sonder feite, maar baie meet verteerbaar.

Magaretha ·

Theuns jy klink nie asof jy mooi weet wat aangaan nie, Rusland is nie kommunisties nie en jy kan nie se hulle gee nie om vir mense nie. Ons woon in UK en kan duidelik sien jy weet niks van die sg Westerse demokrasie nie Kyk bv net wat gebeur nou in UK Die referendum het met meer as n miljoen stemme gewen maar die “demokratiese” regering probeer alles in hul vermoe om dit te verander want dit is nie wat hulle wou he nie Nee man jy het nie n idee van wat aangaan nie. Ons het baie tyd en volg al vir jare die verskillende politieke “moves” van wat hier in Europa aangaan. Niks is wat jy dink dit is nie so wees versigtig om sonder die nodige navorsing kommentaar te lewer. Ek glo jy bedoel dit goed maar heelaas jy is nie altyd korrek nie.

Pietman ·

Theuns en toe jy wakker word is jou koffie koud. Russe is al vir amper 3 dekades nie meer kommunisties nie.

Kobus ·

Hein, jy klink ingelig. Enige ervare man met kennis van wat gebeur in intelligensie kringe gaan vir jou sê jy moet in 3-D dink. Bedoelende dat jy moet soek na ‘n derde mag wat agter die skerms internasionale politiek of insidente manipuleer om finansiële gewin. Die koue oorlog wat nou warmer word is nie per se tussen westerse moonthede en Rusland nie. Dit is ‘n konflik tussen die Nuwe Wêreld Orde (wat westerse weermagte gebruik of eerder misbruik) en groeperings wat die NWO teenstaan. So het Putin sterk na vore getree as die prominente vyand van die NWO. Nes Adolf Hitler in die 1930’s/40’s. Die konflik in Sirië het absoluut niks met die sogenaamde brutale leierskap van dié land te doen nie maar gaan oor ‘n aardgas pyplyn wat die bankiers van Quatar oor Siriese grondgebied na Turkye wil bou. Hierdie bron sal Rusland se monopolie in die verskaffing van aardgas aan Europa ernstig benadeel met katastrofiese gevolge vir die Russiese ekonomie. Die geluide wat Trump in die presidensverkiesing maak is ook sterk teen die NWO. As Trump wen sit die Rotchilds, Rockefellers en Sorrosse met ‘n groot probleem. Dan bly feitlik nog net Merkel van Duitsland oor wat hul bose idiologieë kan ondersteun. Met die astronomiese groei in nasionalisme in Europa agv die moslem krises (klaarblyklik befonds deur George Soros) gaan die NWO nou oral die wind van voor kry.

Pietman ·

Kobus, ek vermoed sterk dat die NWO ‘n werklikheid is en sien ook die wêreldkonflik en politiek uit daardie konteks. Maar hoe bewys mens so iets? Dit klink so vêrgesog dat niemand dit sal glo nie.

Bert ·

Hoe verfrissend om neutrale, gebalanseerde menings te lees! Dankie Flip. Insake Georgie het die pennie vir my ‘gedrop’ toe die CIA se hoof asook John McCain destyds self ingegryp het in die onrus. En natuurlik Victoria Nuland se manewales. Ek kan realpolitik begryp en verstaan dat die EU/Amerika/NAVO nog heeltyd Rusland wil isoleer en Oos Europa buig na demokrasie en die Vrye Mark. Maar hul protestasies en napratery deur veral hul media surrogate is lagwekkend. Poetin is duidelik nie ‘n engeltjie nie maar op ‘n geo-politiese vlak het my volle ondersteuning, al is dat dan net omdat die Weste nooit sy historiese skuld aan Rusland kan terugbetaal nie, naamlik 20 miljoen Russiese siele wat Hitler vernietig het. Sien in hierdie verband [Georgie, Duitsland, EU en Poetin] ‘n fassinerende toespraak deur Peter Hitchens beskikbaar op Youtube. https://www.youtube.com/watch?v=3CNeDtZmpjU

chris ·

puik. weereens niks minder as wat ‘n mens kan verwag van een van suid-afrika se breedste, bes ingeligte en mees nugtere denkers nie.

DewaldS ·

Puik artikel, Mnr Buys. Tussen na-praters en buikspreker-poppe is jy ‘n blink ster. Dankie dat jy bereid is om genoeg informasie in te samel, regtig onafhanklik en diep daaroor te dink en dan op in netjies verwerkte vorm met ons te deel. Met leiers soos jy het ons dalk ‘n toekoms in hierdie land en in die wereld.

Piet ·

Jammer Magaretha, ek dink jy is te vinnig om Teuns te kruisig. Bo kom jy vir Trump op omdat hy skynbaar nie n ploert is nie en dan beweer jy dat jy nou meer moet weet omdat jy in die UK woon. Kan ek dan maar met jou idees wissel omdat ek 15 jaar gelede in die VSA gewoon het? Ek dink mens moet erken dat dit niks met die prys van eiers tedoen het nie. Trump is ‘n ou wat se enorme ego gemaak het dat hy nie kan sien wat se vark hy soms van homself maak nie. Hy met sy bespotlike haarstyl wat hy seker van st5 af nooit verander het nie. Dit pyn my om te se dat hy wel soms n punt beet het. Hy is 100 maal beter as Clinton, maar al sy geld sal nooit van hom n gentleman kan maak nie.

Magaretha ·

Jammer as dit oorgekom het dat ek dink ons weet meer net omdat ons in UK woon. Jy is reg maar hier kry mens net n effe ander perspektief want veral as jy tyd het om dinge te evalueer. Dit is net pynlik om te hoor dat iemand se haarstyl hom n slegter president sal maak. Het jy gehoor hoe Donald T met n sekuriteits wag gesels het en toe gehoor het hy het n kind wat nie by die wedstryd kon wees nie. Tydens die spel het dit hom gehinder en hy het toe vir die kind n brief gestuur om te se dat sy pa is die eintlike held. Trump gee meer om vir mense as wat baie weet. Hy blaas dit net nie op n trompet uit nie. Hy lyk maar net arrogant en dit is deel van sy besigheids persona in my mening. Ek sien nie veel daarmee verkeerd nie.
Nee jong gee die man n kans. Clinton lieg en bedrieg so ver as wat sy gaan Kyk op youtube na Fox news oor Trump en Clinton.

Henry ·

Ek het 32 jaar in Snor City – Pretoria – gewoon.

Daar sou niemand destyds ‘n tweedehandse kar van ‘n handelaar gekoop het, wat sy kuif soos Trump ge-djippo het nie. Nog minder sou iemand ‘n begrafnispolis by ‘n smous koop, wat soos antie Clinton smaail.

Wys jou net hoe ‘perspektiewe, evaluasies’ en al daai tiep van dinge van plek tot plek en van tyd tot tyd kan verskil. Wonder ek ook waarom al die ‘verskillende perspektiewe’ steeds voorkom.

Hier waar ek nou woon is die internet en sateliet tv vryelik beskikbaar en kan jy wat ookal oor wie ookal daagliks te lese en te siene kry. Blykbaar kan mens selfs in Boksburg en Snor City hierdie geriewe kry!!!

So kan almal deesdae na hartelus perspektifiseer*, evalueer en wat ookal tot al oom Daantjie se kallers binne in die mirril van die kraal is. Mens hoeffie meer so ver te ry om by al daai niewwe perspektiewe uit te kom nie!

*niewwe woord

Piet ·

Dankie Kobus, nou doen ek eers die moeite om jou insette te lees – Jy is in die kol. Pietman is eintlik ook reg as hy se die NWO klink vergesog. Die titel van die boek “none dare call it conspiracy” som dit mooi op, want wie wil nou ‘n fool van homself maak voor almal? Dis jammer dat Trump homself so soboteer met sy eie gedrag.

DewaldS ·

Die VSA het baie pop-sterre en akteurs met mooi haarstyltjies en cute glimlaggies. Maar hulle het nou (en baie gou ook) ‘n President nodig – een wat omgee vir die land en die mense – selfs al is hy bietjie rof om die kante. Daai man is Donald Trump.

Rian ·

Flip ek stem nogal met jou saam. Die grootste gevaar vir ons huidige samelewing is die Demokrate (Lees kommuniste) in die VSA.

Christiaan Potgieter ·

Die skrywer laat dit klink of die Weste aktief ekspansionisties opgetree het deur die Oos-Bloklande in te palm. Dis egter nie waar nie. Daardie lande het agv kommunisme se nadelige houvas ‘n groot afkeer teenoor Russiese dominasie ontwikkel. Hulle het toetrede tot die EU as hulle “get out of jail” kaart gesien. Enige iemand wat daar gereis het, sal weet hoe armoedig daardie lande was. Toenadering tot NAVO was die noodwendig volgende stap. Al daardie lande het ‘n geskiefenis van verslawing deur groot magte gehad en hulle het NAVO gesien as hulle versekeringspolis tot vryheid uiteindelik. Putin is ‘n nasionalistiese ou met te veel ambisie wat nie net Rusland wil sterk maak nie, maar dink hy moet die ou invloedsfeer herstel. Hy dreig die Weste af met kernwapens. Mense wat hom idealiseer maak ‘n groot fout.

Theuns ·

Christiaan Potgieter. Die pro Poetin en Trump mense is heelwaarskynlik ook mense wat vir FW DE Klerk en sy kronies gestem het in 1994. Nou huil hulle maar wag todat hulle Putin se juk voel ,dan gaan dit omtrent ‘ n tranedal wees. En die dametjie wat nou in Engeland woon! Hoekom is jy daar? En die ou wat se dat Rusland is nie meer Kommunisties is nie is een van daardie geheime wat nog ontrafel moet word? Christaan ek stem volkome saam met jou laaste sin. Groete aan julle almal!

Herman G ·

Ja ‘n saak het 2 kante, en soos in SA se geval 30 jaar gelede is die westerse media baie eensydig. Poeten is geen engel nie, maar hy het ‘n saak, en hy is nie ‘n tweede Hitler nie.
Die kern, vir my, is weereens die westerse “elite” wat vir mense en lande wil voorskryf hoe hulle moet lewe. Mens sien dit met Brexit, enige iemand (soos Wilders) wat teen immigrasie is en nou mense wat Trump ondersteun. Rusland het nog nooit ‘n geskiedenis van demokrasie (soos ons dit ken). Ek stem nie saam dat Pole en Hongarye tradisioneel in Rusland se invloedsgebied was nie. Inteendeel ek dink hulle haat Rusland, maar die Russe is paranoid (a.g.v. hulle geskiedenis) en dis die realiteit.
Ek persoonlik is bly iemand staan op teen die westerse elite. Terloops, Poetin is ‘n vriend van Israel.

gatiep ·

Dankie vir die berig Flip kan sien jy weet waarvan jy praat.
Nooit gedink ek sal so iets op Maroela lees nie want hulle was nog heeltyd teen Putin en wou nie sien wat die waarheid is nie.
Ek soek vir Trump of Putin by ons as eerste minister hulle kan met liefde die klomp ministers van ons kom wegjaag tot in Syria.

DewaldS ·

Hahaha – mooi gestel en eintlik baie snaaks, gatiep!!

Ek hoop nie die Gestapo vee jou kommentaar uit nie .

Nardus ·

Hier is die waarheid wat almal miskyk. Ek het die stuk van Flip Buys gelees……uiters uiters interessant. En hoekom dink julle sal Zuma loop hy word daar agter die skerms geback up deur Rusland , China Brazilië en Indië onthou ons is deel van die BRICS lande en die Guptas is van Indië. Rusland sal nie ook ons verloor soos hy die Oos Europese lande aan NAVO moes afstaan nie. Putin sal van ons ‘n tweede Sirië maak. Hulle gaan Zuma daar hou of net een van hulle pionne insit.

Nardus ·

Baie mense hier probeer baie slim wees maar kyk die realiteite mis. Gaan kyk bietjie op Youtube hoe prysenwaardig Putin is oor sosialisme asook kommunisme. Hy is mal oor hul idees. Die hele “val” van die kommunisme hoe lank ookal gelede is maar alles deel van n groter agter die skerms plan van die illuminatie wêreldwyd. Hoe meer daar skaakmat skuiwe gemaak word agter die skerms deur die illuminatie hoe meer sien ek God se Woord in aksie en sy absulute waarheid daarin. Maak nie saak of Verwoerd , Smuts of Eugene Terreblanche vandag ons leier sou wees of Ronald Reagan in Amerika of Winston Churchill hul sou meegesleur word deur die massa of die die rolspelers agter die skerms. Maar maak nie saak wie wat hier sê nie. Dit moet alles in vervulling kom. Dis n stryd tussen God en satan en ons is ongelukkig die pionne en die wêreld die skaakbord.

Maria Woodcraft ·

Lanklaas so interresante artikel gelees. Baie insigewend.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.