Wie of wat hang óns aan die kruis op?

mcdonalds-boikot

Die ‘McJesus-kunswerk’ van die Finse kunstenaar Jani Leinonen. Foto: Incontextinternational.org

Deur ds. Schalk Strauss

Die afgelope paar weke was daar groot ontsteltenis oor ’n foto van die sogenaamde “McJesus-kunswerk”. Die Finse kunstenaar, Jani Leinonen, se kunswerk waarin die McDonalds-figuur, Ronald McDonald, as Jesus aan die kruis uitgebeeld word, was deel van ’n uitstalling in die Haifa-kunsmuseum in Israel. Die uitstalling getiteld “Sacred Goods”, het ten doel gehad om geloof en godsdiens binne ’n verbruikerskultuur uit te beeld.

Die verspreiding van die foto op sosiale media het duisende Christene hewig ontstel en tot betogings voor die museum gelei. Daar is aangedring op die verwydering van die kunswerk weens die aanstootlike en beledigende aard daarvan. Die museum se oplossing vir die probleem was egter nie om die kunswerk te verwyder nie, maar eerder om ’n bordjie by die ingang tot die uitstalling aan te bring waarop besoekers gewaarsku word dat van die uitstallings moontlik aanstoot kan gee.

Dié kunswerk het in Suid-Afrika ook opslae gemaak toe ’n foto daarvan wyd op sosiale platforms versprei is met die versoek om die kitskosreus, McDonald’s, te boikot. Intussen het McDonald’s Suid-Afrika hulle egter van die kunswerk gedistansieer.

Uit die staanspoor moet dit duidelik gestel word dat, ongeag die beweerde bedoeling van die kunswerk, dit van swak smaak getuig en uiters onsensitief teenoor Christene is. Christene is met reg ontsteld. Selfs erger as die feit dat die beeld ’n bespotting van Christelike simbole en historiese gebeure soos die kruisiging van Christus maak, stroop dit Jesus Christus van sy unieke karakter as enigste Verlosser van die wêreld deur Hom te verlaag tot die vlak van en gelyk te stel aan ’n afgod soos “verbruikersmentaliteit”. Hy sal nooit maar net nóg ’n verlossingsfiguur tussen ander verlossingsfigure wees nie, aangesien die saligheid in niemand anders is nie en daar geen ander naam is waardeur ons gered kan word nie (vgl. Hand. 4:12).

Ten spyte van ’n mens se weersin in die kunswerk, kan jy nie help om te wonder of ons nie maar dieselfde doen nie? Het Leinonen nie in ’n sekere sin baie goed daarin geslaag om baie van ons se geestelike ingesteldheid uit te beeld nie? As flukse kuberkrygers kon ons nie wag om hierdie foto en ons ontsteltenis daaroor met ander te deel en hulle tot aksie op te roep nie. Die vraag is egter of ons bereid is om konsekwent te wees? Word ons net so ontsteld en kook ons bloed teen dieselfde temperatuur wanneer ons of ons samelewing iets of iemand anders in die plek van Jesus aan die kruis vasspyker?

Is die oorverdowende stilte hieroor nie dalk ’n bewys van ons eie skynheiligheid nie?

Die motief agter Leinonen se kunswerk druk beslis op ’n gevoelige senuwee. In die moderne samelewing waarin ’n verbruikerskultuur hoogty vier, speel baie Christene se Christenskap tweede viool. Ons waardes en beginsels word bepaal deur ons begeerte om altyd meer en beter te hê. Daarom oortuig ons onsself dat dit “nodig” is om ons besighede ook op Sondae oop te maak, anders gaan ons te veel verloor. Luister jy na die treurmares van die inwoners van Suid-Afrika dan het selfs die rykes áltyd te min! Soms is ons selfs bereid om valse getuienis af te lê en onskuldige mense se lewens te vernietig net omdat die belofte van “meer” soos ’n geelwortel voor ons neuse geswaai word.

Party van ons afgode is darem bietjie meer “eerbaar”, of so reken ons. Dit is egter ’n hartseer dag wanneer ons ons hoogste waarde in ons lewensmaats of ons kinders se liefde en aanvaarding vind. Wanneer my man of my vrou of my gesin die belangrikste rede vir my bestaan is, of die grootste impak op my optrede het of as ek selfs bereid is om sekere Christelike waardes, soos byvoorbeeld huisgodsdiens, prys te gee ter wille daarvan om niemand in my huis te verontrief nie, is dit ’n kwade dag. Die Here Jesus het ons juis hierteen gewaarsku toe Hy gesê het: Wie vader of moeder bo My liefhet, is My nie waardig nie; en wie seun of dogter bo my liefhet, is My nie waardig nie (Mt. 10:37).

Dan is daar natuurlik nog die kwessie van eiesinnigheid – ’n afgod wat die mens en sy eie begeertes in die middelpunt plaas. Ook genoem liberalisme. Dit is wanneer hierdie afgod aan die kruis vasgespyker word, dat ’n stad soos New York die vreugdevure aansteek en verskeie landmerke in pienk laat verlig ter viering van die goedkeuring van ’n nuwe wet wat aborsie tot met geboorte goedkeur. Die voordeel van hierdie afgod is dat dit jou toelaat om trots te wees op jou Afrikanerskap sonder om skuldig te voel oor iets soos jou seksuele losbandigheid. Dit laat jou besef dat Samuel se waarskuwing aan koning Saul dat eiesinnigheid afgodery is (1 Sam. 15:23), nog nooit aktualiteit verloor het nie.

In Suid-Afrika roep ons mekaar gereeld op om na God terug te keer, maar is ons regtig bereid om meer te doen as om maar net vir Hom ’n ereplekkie tussen ons ander gode te gee? Die Here onse God is ’n jaloerse God wat onverdeelde trou eis. “Hoor, Israel, die Here onse God is ’n enige Here (Deut. 6:4).

Nie net is Hy die enigste ware God nie, maar Hy is ook uniek. Sy uniekheid is ten diepste te vinde in die feit dat Hy sy geliefde Seun gestuur het om ons uit die slawerny van ons afgode te bevry. Ons mag dalk vir Ronald McDonald of enige van ons geliefde afgode aan die kruis vasspyker, maar uiteindelik is daar net Een wat namens ons kan sterf en uit die dood opstaan: Jesus Christus. Hý is ons hoogste vreugde en die diepste sin vir ons bestaan sodat ons geen ander gode voor God se aangesig wíl dien nie. Op grond van hierdie uniekheid roep Moses ons in Deuteronomium 6:5 op: “Daarom moet jy die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag.”

  • Hierdie artikel is met die vergunning van die AP Kerk geplaas.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

19 Kommentare

John ·

Ja, en dadelik is ons terug by die ‘verste’. Gee… gee jou hart vir Hillbrow… Sodra ‘n Afrikaner van sy taal en kultuur hou, is hy ‘n rassis en sondig. En ons dominees staan steeds op die hogere preekstoele en skree iets onhoorbaars na die gemeente… en nou sal die kollekte opgeneem word… dink tog aan ons welsynswerk en ons seegemeente se werkers…. en my ou merci is ok maar klaar… ons moet maar bid oor die sakie… Dankie vir die oranje noot, broer Gertjie… o, is dit twee?… Amen.

Stephan ·

John,
Ek ken nie die man persoonlik nie, maar ek vermoed dat dit wat hy geskryf het nie dieselfde probeer regkry het as wat jy ervaar in die kerk nie.
Ek is self trots Afrikaner en dit maak my nie outomaties ‘n rassis en sondig nie, dit is die uitlewing daarvan wat die verskil maak.
Die man probeer ons net bewus maak dat ons so maklik ander goed bo God stel, en ek het self al hoeveel maal dit oorgekom, sodat ons werk kan maak daarvan om weer op God se skoot en teen Sy bors te kom. Dit gaan oor ons persoonlike verhouding wat ons met God kweek in ons stilte tyd asook deur ons allerdaagse handelinge. Deur soveel tyd moontlik in gebed te spaandeer saam God, ons afhanklikheid van Hom te besef en ophou skaam wees om te leef wie Hy is en wat Christus, Sy seun, vir ons kom doen het.

Ek probeer regtig nie om jou aan te kla nie, ek wil dit net stel, maar eerder te help om die Liefde van God in die berig raak te lees, want dit gaan tog nie oor dade nie, want dit kan ons nooit red nie, maar alleenlik oor Jesus Christus wat vir ons kom sterf het. Die dade volg ‘outomaties’ nadat Hy ons harte kom verander.

Ek hoop regtig dat my kommentaar kan waarde toevoeg en of net iets klein kan beteken in jou lewe.

Liefde.

Suzette ·

Ek is skynbaar die enigste Christen wat nie ontsteld is oor die kunswerk nie.
Jesus was nie die enigste persoon wat aan ‘n kruis gesterf het nie. Die kruis is nie heilig nie. Inteendeel, Jesus het die kruis oorwin.
Kuns is vir my wonderlik as dit mense aan die praat kry. Elke persoon se interpretasie van ‘n kunswerk is anders. My eerste gedagte by die aanskoue van die werk was: Die kruisiging van gemorskos. Om gesond te lewe.
Daar is ook ‘n beweging op sosiale media wat die Olimpiese spele in Japan boikot agv Japan se beleid oor walvis en dolfynjag. Die embleem wat gebruik word is ‘n dolfyn aan ‘n kruis vas gespyker. Dit dra ‘n baie sterk boodskap uit.
Vir my as Christen het Jesus die dood klaar oorwin en ons kan aanbeweeg van die kruis af.

Abe ·

Baie goeie kommentaar, Suzette. Goeie standpunte wat goed verantwoord is!

Piet ·

Stem saam met jou. Die kruis is leeg. Jesus het opgevaar na die hemel en sit aan die regterhand van ons Vader.

Ek stem saam met die DS. Ons almal is huigelaars op die een of ander manier. Wat ek wel nie met hom kan saamstem nie, is dat sondae ‘n heilige dag is. Sondag is nie die Sabbat dag nie maar wel Saterdag. God sal weier om Hom by die mens aantepas. Die mens moet weer leer om hom by God aantepas. Sy reêls verander nooit nie, tot in ewigheid.

Kruis sterfte is wel uniek ·

Jesus se kruisdood was WEL UNIEKS. Die Jode het hulle eie mense ter dood veroordeel deur hulle te laat stenig (lees ou Testament) Deur Jesus te stenig, sou die Sanhedrin dus indirek erken het, dat Jesus die Messias was
Kruisiging was ‘n Romeinse doodstraf . . . hulle het die alleenreg gehad op dié straf. (Moes eers toestemming by hulle kry) Daarom is Jesus voor die Romeinse Goewerneur – Pontius Pilatus -gedaag om gekruisig te word . . . . want;
Galasiërs 3:13 Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons ‘n vloek te word—want daar is geskrywe: VERVLOEK IS ELKEEN WAT AAN ‘N HOUT HANG—
Die Sanhedrin het gedink dat as hulle Jesus aan ‘n hout laat hang, sal die Jode hom nie aanvaar as die Messias nie (want Hy is dan mos vervloek) . . . . wat hulle egter nie besef het nie, is dat Jesus sodoende ‘n vloek kón word & ONS dus verlos van die vloeke wat in die Ou Testament vervat is.

Gemengde gevoel ·

Ek moet saam met Suzette stem. Christenskap gaan nie oor Jesus aan die kruis nie, maar eerder DIE OOP GRAF!
Mens kan seker probeer om n positiewe boodskap uit die “kunswerk” te kry….
Tog is ek ongelukkig ook. Waarom moet Jesus se lyding gwbruik word as “grap” vir ander ?
Ons leef in n tyd waar jy niemand mag slegsê of verneder nie. Jy mag niemand se REGTE aantas nie, tog moet Christene maar hierdie misbruik aanvaar!?
Al wat ons kan doen is om op tw staan vir ons geloof. Onthou, as jy staan vir NIKS val jy vir ALS….
Mag die kunstenaar gou berou vind en om vergifnes vra, want mens tart nie die Heilige Gees nie….

Veritas ·

Elke gelowige het seker die reg om oor die ‘kunswerk’ te voel soos hy/sy goeddink. Vir my is dit ‘n bespotting van die Seun se lyding en behoort ‘n naald in die oog van enige Christen te wees.

Jerry ·

N gelowige Christen glo dat die waarheid opgeskryf staan in die bybel van Genesis tot Openbaring. As jy enige regverdiging in die bybel kan vind vir die Mcjesus-kunswerk dan is dit reg en goed anders is dit verkeerd en sleg. Die vraag wat n gelowige mens dan ook jouself behoort te vra, is wat Jesus van so n kunswerk sou se!

Frans C ·

Dit is verstommend dat so baie mense Christene nie die simboliek van die kruis verstaan nie.
In Gal.3 vers 12 tot 14 lees ‘n mens.12Die wet het niks met geloof te make nie, maar met dit wat ’n mens doen. Dit is presies soos daar in die Bybel staan: “Elkeen wat alles doen wat die wet sê, sal daardeur lewe.” Gelukkig hoef ons nie meer alles self te probeer doen nie.
13Christus het ons daarvan kom vrymaak. Hy het God se vloek wat rus op almal wat nie stiptelik doen wat die wet vra nie, op sy eie skouers geneem. Dit het aan die kruis gebeur. Daar het Christus in ons plek ’n vervloekte geword. Die Bybel sê mos: “God vervloek elkeen wat aan ’n houtpaal hang.”

14Maar die goeie nuus is dat Christus Jesus se dood vir mense uit ander volke die kans bied om nou ook deel te hê aan die seëninge wat God vroeër oor Abraham uitgestort het. Maar dis nie al nie. Ons wat in Christus glo, het ook die Heilige Gees ontvang, presies net soos God ons belowe het.”
As jy hang aan ‘n krruis,is die boodskap duidelik.”Jy is nie welkom in die hemel of op die aarde nie’.

Jacques ·

Jesus het gekom om jou van sonde te verlos. M.a.w. die feeste en brandoffers val nou weg. Maar God se 10 gebooie staan. God het nie van gedagte verander nie. Die mens het. Jy sal meer daarvan in Openbaring kry.

Conrad ·

Wat hang ons aan die kruis op? Gesonde kritiese oordeel. Medemenslikheid. Liefde.

JAN ·

Dankie Ds Strauss vir hierdie juweel artikel.
MM kan gerus gereeld u Boodskappe aflewer – die lig in ons duisternis.

Paul ·

En dan is ons weer vandag by die realiteit waar elke “verlosser” aan die kruis opeindig, die een wat jou pas, die mense wat beduie dat hulle Christene is.

Soos in Afrika-Demokrasie, is dit seker Afrika Christene. Party se verlossers is ‘n messias, ‘n ander ‘n kalf van goud, Mandela kom by my op, sekeres is met rooi geklee (EFF), ander in geel (ANC). My lewe is in twee geskeur, die een geestelik vir Christus, die ander een soos dit op aarde gaan, dan wonder ek waarom al die moeilikheid?

Stoffel ·

Maar is kitskosrestaurante dan nie almal, nie net Christene nie, se swakheid, was die kunstenaar dan nou so verkeerd?

Dit laat my aan die man dink wat Zuma met sy spies geskilder het. Of mens hierdie kunstenaars se werke met ‘n knippe sout moet neem of nie, dis vir jou om die skoen aan te trek, maar ek persoonlik glo dit is nogal dikwels nodig om mense van hul tekortkominge ens bewus te maak.

Dit is nou veral as hulle nie self ‘n kompas het, of hulle net weer so ‘n slag attent te maak.

jaco ·

vreemde boodskap vanuit die AP Kerk. dis nie hoe ek hulle ken nie

Dries du Toit ·

Jaco lees weer. Ek dink nie jy verstaan dit mooi nie

Rudolf ·

Elkeen in sy eie orde. I Kor. 15: 23.

n Uitreksel uit die Koninkreiks Evangelie.

Wat verstaan die mens van die natuurlike mens tot die Geestelike mens?

Die Kruis wird nêrens uitgebeeld in die getuienis geskrufte as n kruisigings evangelie nie…

Lees gerus I Kor. hoofstuk 15 deeglik, selfs in die 33, is dit 52 vertaling. Gaan ook in op die verwysings…

Die mens is veronderstel om n nuwe hemele en aarde mee te maak, nie wanneer ons in die 2 de dood is nie..

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.