Wie se plig is dit?

Toekomspad

Argieffoto: Gopixpic.com

Menige Suid-Afrikaner sit en wag vir beter dae, vir die een of ander buitengewone ingryping om ons uit ons nasionale dilemma te red. Wie sal ons soos ʼn Moses kan lei na die beloofde land?

Die ANC het die verkiesing heel gemaklik gewen, maar wat beteken dit vir ons land? Het hierdie oorwinning die president die nodige mandaat gegee om sy visie vir Suid-Afrika duidelik te stel? Dit sal ons maar mettertyd moet uitvind, want die onlangse gekibbel in die ANC oor die mandaat van die Reserwebank asook die netelige kwessie van grondhervorming wys hoe erg verdeeld die ANC in werklikheid is.

Met die uitsondering van ʼn paar kritieke portefeuljes is die president se samestelling van sy kabinet ʼn duidelike teken dat hy nie kan maak en breek soos hy wil nie. Aangesien die ANC nie juis ʼn sterk opposisie het nie, het hy sy eie teenparty geword. Derhalwe moet die president nie slegs Suid-Afrika na ʼn beter toekoms stuur nie, maar ook verhoed dat daar ʼn oorlog binne ANC-geledere ontstaan.

ʼn Groot meulsteen om die nek is natuurlik Eskom. Hoewel daar dikwels gesê word dat Eskom te groot is om te misluk, waarsku die graderingsagentskap Standard & Poor’s dat dit waarskynlik “té groot is om te onderhou”. Dieselfde geld natuurlik ook vir die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL). Trouens, alle staatsbeheerde ondernemings (hoewel daar hier en daar ʼn uitsondering mag wees) is ewe disfunksioneel.

Graderingsagentskappe waarsku teen verdere afgraderings tensy drastiese stappe gedoen word om die ekonomie ʼn hupstoot te gee. Ek is daarvan oortuig dat die president – en waarskynlik ander politieke leiers – hierdie waarskuwing ernstig neem, maar is daar voldoende politieke wilskrag en leierskap om iets daaraan te doen? Ja, die president het tyd nodig, maar kan Suid-Afrika dit bekostig om langer te wag?

Die snelle agteruitgang is reeds met die Zondo-kommissie aan die lig gebring, maar reg en geregtigheid moet deur die regte kanale geskied – en dit was nog nooit ʼn vinnige proses nie. Die president het wel die voormalige hoof van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) afgedank en ʼn nuwe hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) aangestel. Dit is egter nie genoeg nie: Veel meer moet gedoen word en langer kan daar ook nie uitgestel word nie. Die feit dat die president ʼn onbenydenswaardige taak het, is nie ons probleem nie.

Ons sê: Ons sal weer begin belê en kanse waag, maar eers sodra sakevertroue herstel is, sodra ons weer welkom voel in ons eie land, sodra die moorde op ons mense stop en Suid-Afrika van rassisme bevry is, sodra misdaad in die algemeen onder beheer is, sodra die huidige selfvernietigende swartbemagtigingsbeleid gewysig word, sodra ons arbeidswetswette sakevriendelik word, daar minder burokratiese rompslomp is en dit makliker is om sakeondernemings te bedryf.

Die vraag wat gestel moet word: Wat gaan ons doen indien hierdie ideale omgewing – die voorwaardes wat ons aan “hulle” gestel het voordat “ons” ons bes doen – nie realiseer nie? En hier is die slegte nuus: Dit sal na alle waarskynlikheid nie gou gebeur nie, indien ooit.

Die werklikheid is, terwyl ons vir “hulle” sit en wag om die omstandighede te verander, wag die omstandighede vir “ons” om dit te verander.

Hierdie lewe bied ons twee opsies: Ons kan sit en wag vir ander om ons wêreld te verander volgens ons eie behoeftes en “hulle” dan blameer indien dit nie gedoen word nie. Ons kan voet by stuk hou dat dit wel “hulle” verantwoordelikheid is en dat dit ons benadeel indien hulle dit nie regkry nie. En intussen voel ons dit is nie regverdig dat “ons” alles in die stryd werp terwyl dinge nog nie reg is nie – “reg” word hier gemeet aan ons kriteria vir ʼn perfekte wêreld. Hou egter in gedagte dat indien ons hierdie opsie kies, ons die lewe van ʼn slagoffer kies.

Die alternatief is om nie te wag nie, om eienaarskap te neem ten opsigte van my invloed, net hier waar ek my bevind, om verantwoordelikheid te aanvaar vir die taak waarvoor ek geroep is, om self die oplossing te wees – die antwoord waarna ek hunker. En om te besef dat hierdie lewe ʼn geskenk is, en dat ek die speelkaarte wat aan my uitgedeel is, moet gebruik. Ek moet die lewe koester en dit nie deur my vingers laat glip as gevolg van misplaaste verwagtings van wat die lewe my skuld of as gevolg van my vrese en/of aarseling nie.

Indien ek dit nie doen nie, sal ek eendag terugkyk na hierdie geleentheid en wens dat ek weer ʼn kans gegun kan word en besef dat ek ʼn fout gemaak het, dat ek verskonings gebruik het, en dat dít wat ek as hindernisse gesien het, alles eintlik geleenthede was.

Ons kan onsself gelukkig ag dat ons ons nie reeds in die toekoms is waar ons met spyt terugkyk nie, maar dat ons hier en nou leef, en dat die lewe met al sy hindernisse vir ons wink – hindernisse wat ons as geleenthede kan inspan. Daarom kan ek kies hoe ek my lewe sien, my omstandighede en selfs die ongunstige situasie wat tans in my land heers. Ek het die keuse om dit as probleem of as ʼn groot geleentheid te sien, al is teenspoed en selfs rampspoed deel daarvan.

Ek kan kies. En as ek ʼn verskil wil maak met my voorbeeld, dan kies ek hierdie lewe van my. Nie met die gedagte dat die lewe mý iets skuld nie, maar omdat ék hierdie eenmalige geleentheid kan gebruik om al my talente, vermoëns en hulpbronne in te span. Ek kies bínne die konteks van omstandighede soos dit aan my gegee word, en nie soos ek dit verkies nie.

Psalm 37 roep ons op om die aarde te bewoon en te doen wat goed is, onder alle omstandighede. In Engels word die woord dwell (wat letterlik beteken om by iets stil te staan) in die plek van “bewoon” gebruik. Dus is die boodskap duidelik dat ons nie moet stilstaan of talm by negatiewe gedagtes en ons bekommer of vererg oor boosdoeners nie, “want soos gras verlep hulle gou … die goddeloses sal vergaan”.

Waar dit lyk asof boosheid regeer, is daar soveel te meer rede om goed te doen, om te bou, te plant, in diens te neem, uit te brei, skoon te maak – sonder ophou.

Bevoorreg en uitgedaag om Suid-Afrikaans te wees. Ons is saam hierin verenig.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Gerhard Papenfus

Gerhard Papenfus is die uitvoerende hoof van NEASA.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Dirk ·

Uitstekende skrywe! Ek glo dat elke Afrikaner wat nie kan emigreer of wil emigreer nie teen die tyd behoort te besef dat die ideale wat gekoester word nie bereikbaar sal wees nie in SA tensy n wonderwerk vorentoe gebeur. Dit is dus elkeen se plig om die veiligheid en oorlewing van sy gesin eerste te stel aangesien ieder en elk kan sien dat burgerregte organisasies wie dit op hulself geneem het as hulle plig en wie se paralelle struktuur vir plaasbeveiliging die vermoorde boere liederlik gefaal het. Net soos die DA selfondersoek moet doen oor hoekom hulle die kiesers gefaal het, net so sal burgerregte moet selfondersoek doen om te bepaal hoekom hulle die vermoorde boere gefaal het! Die Afrikaner sal een of ander tyd begin besef dat hy vrede en veiligheid eerste moes gestel het ten einde n vriendelike en veilige klimaat te geskep het waarin alle Afrikaners wel gelyke behandeling en ook deelname aan werkskepping en werk vir die bou van sakeryke kon gehad het. Dit het nie gebeur nie omrede die bou van n sakeryk bo die bewerkstelligging van vrede en veiligheid gestel was. Veiligheid was maar net gesien en gereken as nog n geleentheid om geld te maak. Die bou van n Afrikanersakeryk deur doelbewuste uitlokking van die ANC/eff om Afrikanerregte uit te sluit en te isoleer was dus die hoofmotief, ongeag die gevolge!

John ·

Die meeste Afrikaners doen reeds wat die skrywer aanbeveel… die beste maak van die saak en in hul kring vrede en vriendskap en hulp uitleef en verskaf. Om telkens by die handevat en gee, gee, gee te stop is soos die slang wat sy stert begin insluk. Daar is diegene wat nou Afrikaans as wapen wil inspan om ons weer in die beheerposisie te stel… om die minderhede te dra as die meerderhede ons dan nie wil dra nie. Daar is ‘n woord soos selfmoord.

Hercules Boshoff ·

Wanneer ‘n teks tegelyk relevant en tydloos is, moet mens maar weer en weer lees en seker maak jy begryp die omvang van wat gesê word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.